ANC verwelkom begroting

Deel op

Pravin Gordhan, die minister van finansies, se begrotingstoespraak het Woensdag goed by die regering se ontwikkelingsplanne ingeskakel, het die ANC gesê.

“Ek is baie bly dat ons nou begin om syfers te sien wat toegeken word aan ‘n program wat oor ‘n periode van tyd ontwikkel het,” het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gesê.

Gordhan het gesê sy 2013-begroting is deel van die implementering van die nasionale ontwikkelingsplan.

Mantashe het gesê die bestedingsyfers vir onderwys, behuising en gesondheid skakel goed in by die regerende party se planne om die ekonomie te laat groei.

Hy het bygevoeg dat dit verblydend is dat die regering nie op verbruik spandeer nie, maar eerder op beleggings vir die toekoms.

Burgers moenie bekommerd wees dat die begrotingstekort verby die 40% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) is nie. Gordhan het in sy begrotingsrede gesê dat die begrotingstekort tot 4,6% van die BBP sal verbreed.

“As jy in infrastruktuur belê, neem die tekort toe. Jy mors nie daardie geld nie. Jy sit dit in om die kapasiteit van die ekonomie te laat toeneem en om die enjin van die ekonomie te vergroot vir die toekoms,” het hy gesê.

Oor die regering se poging om korrupsie te beveg, het Mantashe gesê: “Julle sal resultate sien wanneer julle dit wil sien. Die probleem met ons in Suid-Afrika is dat ons soms nie vooruitgang raaksien nie. Ons is altyd op die uitkyk vir die negatiewe.”

Terwyl motoriste hulle reeds staal vir ‘n skerp verhoging in die brandstofprys wat in Maart verwag word, het minister Pravin Gordhan in sy begrotingsrede aangekondig dat petrolprysheffings ook verhoog sal word.

Die algemene brandstofheffing sal van 3 April af met 15c per liter styg, terwyl die Padongelukfondsheffing met 8c per liter sal styg.

Die nuus sou selfs slegter gewees het: Die staat sou die brandstofheffing met 22,5c verhoog, maar ‘n heffing van 7,5c wat in 2010 ingestel is om te help betaal aan die nuwe brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng, sal van 2 April af nie meer van krag wees nie.

Die staat se inkomste uit brandstof word jaarliks in April aangepas, terwyl die kleinhandelprys van petrol en die groothandelprys van diesel op ‘n maandelikse basis verander na gelang van internasionale marktendense.

Soos verwag sal onderwys die grootste deel van hierdie jaar se begroting kry.

Byna een kwart van die totale 2013/14-begroting van R1,15 biljoen sal op onderwys spandeer word.

Altesaam R232,5 miljard is opsy gesit vir die departemente van basiese onderwys, hoër onderwys en opleiding en kuns en kultuur.

Die besteding vir die 2013/14 finansiële jaar word as volg verdeel:

– R164 miljard vir basiese onderwys;

– R28,7 miljard tersiêre onderwys;

– R20,1 miljard vir beroeps-en voortgesette onderwys

– R10,6 miljard vir onderwysadministrasie; en

– R9,1 miljard vir ontspanning en kultuur.

Die toename in besteding op onderwys sal 5% hoër wees as verlede jaar.

Kenners het vroeër voorspel dat Gordhan moontlik die hoogste marginale koers na 42% sou verhoog, maar dié koers bly op 40% vir mense met ‘n belasbare inkomste van meer as R638 601 per jaar.

Kategorieë vir persoonlike inkomstebelasting en kortings is egter gedeeltelik aangepas om onder andere inflasie in ag te neem.

Die primêre korting is van R11 440 na R12 080 verhoog. Die drempel wanneer ‘n persoon aanspreeklik is vir inkomstebelasting word dus verhoog van R63 556 tot R67 111 vir individue onder 65 jaar.

‘n Drempel van R104 611 geld vir mense tussen 65 en 74, terwyl die drempel vir belastingbetalers ouer as 74 nou R117 111 is.

Belasting op toegevoegde waarde (BTW) sal nie verhoog word nie, en maatskappybelasting bly op 28%.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.