Die verbeelde swart inbreker in Oscar se huis

Suid-Afrika is ‘n gewelddadige plek. Ons verkragting en huishoudelike geweld maak dit een van die mees gevaarlike lande ter wêreld, veral om ‘n wit vrou te wees.

Verlede jaar alleen is daar 15 609 moorde gepleeg, maar die sensasionele gebeure rondom die moordaanklagte teen Oscar Pistorius het hierdie ongelukkige toedrag van sake eerder onder sensasie toegegooi as om die nodige soeklig daarop te skyn. Die antagonis in hierdie geval, is nie ‘n swart inbreker nie, maar het die seldsame onderskeid om ook die groot protagonis te wees.

Dus is die protagonis se verweer dat sy optrede voortspruit uit die verbeelde teenwoordigheid van ‘n “inbreker”, waarskynlik swart, baie nader aan die werklikheid waarin Suid-Afrikaners leef.

Ten minste kan ons uitsien na ‘n skouspelagtige, sensasionele moordverhoor, waar Valentynsdag, krieketkolwe, geweld en verbeelde swart inbrekers sal aansny by kritiek teen ons regstelsel, wit skuld, vroueregte, rasvooroordele, wapenbeheer en les bes, apartheid. Wat Oscar Pistorius ook al in sy huis aangevang het, het hy ten minste die ondergang van die gedrukte media vertraag.

In die Oscarverhaal wat internasionaal ontvou, is ras natuurlik totaal afwesig soos per afspraak in die gedrukte pers, behalwe waar enige boosheid verbind aan Afrikaners kan word. En met daardie van is hy blykbaar Afrikaans, al is hy Engels. Sy vermoorde meisie, ten spyte van haar Afrikaanse van, is heeltemal Engels, vreemd genoeg.

Vir buitelandse koerante is dit opnuut weer die geleentheid om hul gestereotipeerde en oningeligte indrukke te gee van hoe die land se psige inmekaar pas. Die lustelose dik ousies van die ANC se Vroueliga was gelukkig teenwoordig om die prentjie van rasseharmonie te voltooi met hul besware oor geweld teen raslose vroue.

Een onwelkome newe-effek hier ter plaatse is dat die DA en Britsgesindes se verwarde reaksies op Ramphele se Agang en haar strooistooisel minder sotlik lyk, maar dit sal seker nie vir ewig duur nie, aangesien kiesers een of ander tyd sal moet gaan toustaan om te stem.

Van die ander interessante kwessies oor die Pistorius-saak is hoe die sosiale media reageer. Joernaliste by die borgverhoor kon via Twitter laat weet as die aangeklaagde sy oë knip. “Gevestigde nuusbronne”, maw koerante, kon dus opvolg met die ietwat meer gedetailleerde analise om die diskoers van “Ons is almal kleurloos” met ‘n dik toepaslike laag politoer te bedek. Die menslike drama wat sekonde per sekonde uitgetwiet word, is uitsonderlik goed hiervoor.

Dit blyk ‘n ideale simbiotiese verhouding te wees om alles binne 140 karakters en minder sekondes te weet, gevolg deur die uitgebreide “verklaring” op ‘n webwerf en in ‘n koerant. Hoe sneller hoe beter, aangesien allerlei onwaarhede ewe gemaklik neffens die feite staan.

Afgesien van die onversadigbare vraag na meer inligting, bied Twitter ook ‘n skrikwekkend akkurate termometer van die openbare mening se koors. Donderdagoggend was daar groot simpatie vir Pistorius wat binne ‘n paar uur verdamp het toe die polisie aangekondig het dat hulle ‘n moord ondersoek.

Tans lyk dit asof die openbare mening in die guns van die vermoorde meisie swaai, teen die gestremde atleet, danksy die negatiewe en foutiewe berigte in Britse dagblaaie.

As Oscar daarin slaag om uit die tronk te bly, ongeag of hy skuldig is of nie, sal dit te wyte aan die denkbeeldige swart inbreker by sy toilet wees. Daardie einste inbreker wat ons almal vrees, en wat alte dikwels ongenooid en met funeste gevolge aanmeld.

As hy tronk toe gaan, sal sy atletiekprestasies vergete wees. Hy sal net nog ‘n mislukte Afrikaner word, al was hy Engels. Die Britse koerante sal hom met oorgawe in hul ou gunstelingstereotipe toespit. Die werklikheid maak nie meer saak nie. Oscar se verhoor is reeds die bewys dat die leuen sal seëvier.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.