TPB – AFK beeld stryd tussen Hollywood en internetkontrakultuur uit

The Pirate Bay-stigters
Deel op

The Pirate Bay-stigtersTPB – AFK (The Pirate Bay – Away From Keyboard), dokumentêre rolprent oor die Sweedse webwerf “The Pirate Bay” en sy drie stigters
Regisseur: Simon Klose
Produksie: Martin Persson
Draaiboek: Simon Klose
Met: Gottfrid Svartholm, Fredrik Neij en Peter Sunde
Vrystellingsdatum: 8 Februarie 2013 (wêreldwyd)
Looptyd: 82 minute
Land: Swede
Taal: Sweeds, met Engelse onderskrifte

Hoe is dit moontlik dat drie jong Swede wat volgens hulle oor “geen organisasie beskik nie” en bloot op ‘n kletskamer op die internet gesels, die magtige Hollywood kon laat bewe? In so ‘n mate dat die hofsaak in Stockholm tussen die Hollywood-ateljees en Peter Sunde, Fredrik Neij en Gottfrid Svartholm, die internasionale nuus gehaal het? Binne enkele dae het een miljoen mense reeds hierdie film bekyk deur dit gratis van die internet af te laai.

TPB – AFK staan vir “The Pirate Bay – Away From Keyboard” en vertel die ongewone verhaal van die drie Swede wat die wêreld se grootste webwerf met die meeste verkeer wou bou, op die oog af om individue in staat te stel om roofkopieë van films en musiek met mekaar te deel. Plek-plek is die film skreeusnaaks, veral die Swede se lakoniese antwoorde tydens kruisverhoor in die hof.

Dis ook duidelik dat so iets net in Swede kon gebeur. Aan die een kant beskik dié Skandinawiese land oor genoeg goedkoop bandwydte om enige Jap Rap en sy maat ‘n groot speler op die internet te maak en aan die ander kant kry mens die indruk dat niemand in Swede ooit werklik hardhandig deur die gereg behandel word nie. Voortdurend in die film verseker Peter Sunde sy ma dat hy nie “regtig tronk toe sal gaan nie”, asof hy glo dat niks slegs eintlik ooit in dié sosiaal-demokratiese paradys sal gebeur nie.

Die minagtende manier waarop die Pirate Bay die dreigbriewe beantwoord wat hulle van Hollywood-ateljees se prokureurs ontvang, verklap ook iets van ‘n Sweedse arrogansie, wat miskien teruggevoer kan word tot ‘n paar eeue gelede toe Swede onder hul illustere koning Gustavus Adolphus die hele Noord-Europa oorheers het.

The Pirate Bay of TPB soos dit algemeen bekendstaan, is die wêreld se grootste deelstroomblad (my vertaling van ‘n “torrent site”). Volgens die film hanteer dit vyftig persent van die wêreld se deelstroomverkeer, wat astronomies moet wees. Presies hoeveel geld aan advertensies TPB gemaak het, is nie in die film duidelik nie. Volgens die advokaat vir die Hollywood-ateljees moet dit agt miljoen dollar wees, maar die drie musketiers van TBP beskryf dié syfer as belaglik. In elk geval sê Fredrik Neij dat hy nooit belanggestel het om geld uit die webwerf te maak nie, maar eerder opgewonde was om ‘n “baie groot webwerf” te bou.

Soos wat die hofsake en hofbevele teen die drie opgestapel het, het hulle al meer geheimsinnig oor die presiese ligging van hul bediener geraak. Steeds bly TPB egter op die lug, in weerwil van die woede van korporatiewe Amerika en selfs vonnisse vir tronkstraf teen die eienaars. Soos wat hofsake vermeerder het, het die Pirate-Bay-manne al hoe meer vindingryk begin raak om hul bediener vir die owerheid weg te steek.

In ‘n toneel naby aan die einde van die film toon Fredrik Neij aan ons die bediener wat iewers ondergronds in ‘n onbekende datasentrum gehuisves word. Dit bestaan uit verskeie SVE’s (sentrale verwerkingseenhede) wat aanmekaargekoppel is. Verbasend genoeg, is dit nie veel groter as ‘n gewone tafelmodelrekenaar nie. Dit bring ‘n mens onder die indruk van hoe tegnologie besig is om, ongeag wetgewing, kopiereg en die mag van globale mediamaatskappye, besig is om die bordjies te verhang. Met hulle weggesteekte bediener bereik The Pirate Bay 30 miljoen mense.

Die dokumentêr vra ook vrae oor die politiek agter The Pirate Bay. Die vierde persoon wat insgelyks tot vier maande korrektiewe toesig gevonnis is, die miljoenêrsakeman Carl Lundström, word dikwels deur die media as “regs” beskryf, vanweë sy steun vir politieke partye in Swede wat teen immigrasie gekant is. Lundström, wat die erfgenaam was van die Wasabröd-fortuin, het in 1982 sy aandeel in dié maatskappy aan Sandoz van Switserland verkoop en sedertdien in internetmaatskappye belê, veral Rix Telecom AB wat alternatiewelik as Port 80 bekendstaan. Volgens Tobias Andersson, ‘n medestigter van The Pirate Bay, het hulle aanvanklik die webwerf gehuisves by by PRQ HB, wat bedienergeriewe van Port Rix Telecom gehuur het. Hy het gesê: “Ons sou nie die webwerf sonder die steun van Carl Lundström kon begin nie.”

In TPB – AFK woon Peter Sunde ‘n betoging in Stockhom by en sê dat sy broer ‘n anargis is en dat niemand hom van rassisme moet beskuldig nie. Hierteenoor word Fredrik Neij verfilm waar hy teen immigrante uitvaar – hoewel hy met ‘n Kambodjaanse vrou getroud is.

Op ‘n sekere manier is die drie jong Swede egter moeilik te kategoriseer. Is hulle regs of links? Op ‘n manier is hulle self produkte van die multikulturele samelewing, maar wat dieselfde Hollywood wat die multikulturele idille aan ons voorhou, aktief ondermyn. Hulle verteenwoordig ‘n soort tegnologiese kontrakultuur wat nie meer die norme en wette van die tradisionele samelewing respekteer nie. Dat miljoene jongmense onder die ouderdom van dertig ook lankal nie meer vir musiek en films betaal nie, is ook gewis. Dus verkeer hulle op die voorpunt van ‘n maatskaplike, ekonomiese en media-tendens wat nog lank nie uitgespeel is nie.

Dit wil ook voorkom asof state en regerings toenemend bekommerd begin raak oor die invloed van die globale internet wat in ‘n groot mate aan amptelike beheer ontkom. Die Sweedse staat het aanvanklik belê in beter kommunikasie-infrastruktuur wat Swede en Sweedse maatskappye vername spelers in die aanlynwêreld gemaak het. Min kon hulle egter vermoed dat hulle hierdeur ook iets soos The Pirate Bay sou skep. Die pogings van die Sweedse regering en howe om, in opdrag van die VSA en die Hollywood-ateljees, ‘n greep  op The Pirate Bay en deelstrome te verkry, verteenwoordig iets van ‘n besef wat miskien te laat kom dat hulle letterlik ‘n seerowersparadys help skep het.

Vele van die argumente in die film gaan oor vryheid van spraak en toegang tot inligting. Die reg van die individu om sy data met ander op die net te deel, word deur die groot mediamaatskappye en globale kopiereghouers betwis. Kennelik staan ons nog maar aan die begin van die hele debat wat deur die internetrevolusie ontketen is.

Peter Sunde en sy kamerade van TPB sien die Hollywood-mense as ‘n vorige geslag wat “net een manier het om geld te maak” en nie kan insien dat IT-tegnologie hul hele model uitgedien gemaak het nie.

Telkens in die film herhaal die drie Swede dat kunstenaars wel die reg het om vir hul werk vergoed te word. Oor die wyse waarop dit moet geskied, is hulle egter vaag.

In ‘n arrogante brief wat ook aanlyn beskikbaar is, antwoord TPB ‘n prokureursbrief vanaf die Hollywood-ateljee Dreamworks deur te sê: “Swede is nie ‘n staat van die Verenigde State van Amerika nie. Swede is ‘n land in Noord-Europa…” Hierna volg nog erger beledigings vir die Amerikaners, wat ‘n mens onder die indruk bring dat die drie jong Swede óf naïef is óf onder die indruk verkeer van die opkomende mag wat hule verteenwoordig, dié van 30 miljoen mense wat hul rekenaars opkoppel om eenvoudig met inligting te maak wat hulle wil.

In weerwil van hul vonnisse en herhaalde beslagleggings op hul toerusting, is TPB meer as ooit op die lug. Iewers vanuit ‘n geheime bunker in Europa tussen honderde ander bedieners, sit die webwerf sy werk voort. Die dokumentêre film self is by die Berlynse filmfees vrygestel, wat neerkom op amptelike erkenning vir die soort aweregse argumente oor kopiereg wat TPB aanvoer.

‘n Paar maande in ‘n Sweedse tronk wat seker meer met ‘n Holiday Inn ooreenstem as ‘n Suid-Afrikaanse gevangenis, is seker ook nie genoeg van ‘n afskrikmiddel vir die helde van TPB nie.

Die stryd tussen die internetkontrakultuur en die VSA, asook die magtige Hollywood-maatskappye, gaan dus voort.

Фильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.