Riana Scheepers en die afgod van politieke korrektheid

Deel op

Die eerste reaksie wat die skryfster Riana Scheepers had toe haar ouers in ‘n plaasaanval beseer is, is om te verklaar: “My ma en pa was nie twee rassiste wat in ’n wit toring gesit het nie.”

Dit herinner so effens aan die uitroep van die Engelse vrou wat in 1976 in Soweto aangeval is en uitgeroep het: “I’m English! I’m English!” Asof daar tydens rasgemotiveerde aanvalle na die taalgroep of graad van politieke korrektheid van die slagoffer gekyk word.

Tereg het haar medeskryfster, Fransi Phillips die vraag gevra of dit beteken dat alle rassiste dan die doodstraf verdien?

Ongeag wat Scheepers se bedoeling met haar uitspraak was, of dit onnadenkend of berekend gemaak is, weet ons dat blanke en veral Afrikanerslagoffers van plaasaanvalle nie soveel simpatie by joernaliste en openbare figure geniet soos byvoorbeeld bruin of swart slagoffers nie. Tans is daar ‘n hele veldtog rondom die bendeverkragting en moord op Anene Booysen van Bredasdorp aan die gang. Selfs die spotprentkunstenaar Zapiro, wat die Nuwe Suid-Afrika gewoonlik as ‘n utopie voorstel, het tot die stryd toegetree.

Indien Anene Booysen wit was, sou dit geensins soveel emosie gaande gemaak het nie. Ongelukkig is dit so dat daar vandag ‘n gees in die wêreld vaardig is wat mense van Europese afkoms as “moreel gebreklik” voorstel. Vir my word hierdie vooroordeel jeens blankes die beste opgesom deur die Amerikaans-Joodse skryfster Susan Sontag se berugte woorde:

“Mozart, Pascal, Boolean algebra, Shakespeare, parliamentary government, baroque churches, Newton, the emancipation of women, Kant, Balanchine ballets, et al. don’t redeem what this particular civilization has wrought upon the world. The white race is the cancer of human history.”

Daarom, toe Riana Scheepers kommentaar op haar ouers se plaasaanvoel moes lewer, het sy instinktief aangevoel dat sy dit as “moreel gebreklike” – as blanke – moes doen. Vandaar haar belydenis dat haar ouers nie skuldig aan die moderne melaatsheid, wit rassisme, is nie.

Dit is altyd makliker en meer gerieflik – selfs meer winsgewend! – om die heersende ideologie van jou tyd en van jou land klakkeloos te aanvaar as om dit te bevraagteken. Soveel Afrikaanse skrywers wat in 1987 by Dakar as nuttige idiote deur die ANC gebruik of misbruik is om die politieke mag in ons land te bekom, is vandag tjoepstil oor geweld. Nog minder skryf hulle oor die taal- en rassediskriminasie wat soveel van ons mense vandag kasty. Want uiteindelik word sulke skrywers nie deur hul eie gewete aangespreek nie, maar deur die bemarkingsbehoeftes van hul volgende boek en deur die stel antiblanke vooroordele van die Naspersgroep en veral van die Britse joernaliste in ons land wat steeds hul holruggeryde propaganda teen Afrikaners produseer en ons oral waar hulle kan, swartsmeer.

George Orwell, die skrywer van 1984 en Animal Farm, het gesê: “Om in ‘n tyd van universele leuens die waarheid te praat, is ‘n revolusionêre daad.” Waarskynlik was daar nog nooit ‘n land ter wêreld waar die Leuen hom so diep ingegrawe het as juis die hedendaagse Suid-Afrika nie. Vandaar ons groot behoefte aan ‘n paar waarhede, al word ons in die proses skerp aangeval deur al wat professionele leuenaar is.

Darem is Riana Scheepers van mening dat “Die land… in ’n gat van morele verrotting (is).” Dit mag so wees, maar is dit nie juis die alternatiewe moraliteit van wit skuld wat ons hier gebring het nie? Want om ‘n polities onkorrekte stelling te maak, word dikwels as ‘n groter misdaad as moord of verkragting gesien. Die skuim-om-die-mond-joernaliste en -meningsvormers kan nog die onbevlekte deeltjie van die moordenaar se hart raaksien, maar enigeen wat dit durf waag om te sê dat onderwys vóór 1994 beter was as nou, word as ‘n ketter of Middeleeuse heks gehoon.

Nie verniet nie het die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach onlangs hierdie waar woorde gespreek: “Die politieke korrektheid dwarsoor die wêreld is sieklik, multikultarisme is erger as die swart pes in die Middeleeue!”

‘n Vrou op Facebook skryf sowaar vir my dat my “pogings om ‘intellektueel’ voor te kom neem ongelukkig niks weg van die feit dat die wyse waarop Riana en haar ouers hierdie aangeleentheid hanteer hulle plaas in ‘n klas waar jy ongelukkig nooit sal pas nie”. Verstaan ek dit reg dat sy bedoel dat politieke korrektheid ook ‘n vorm van snobisme is?

In dié opsig het die ouers van Amy Biehl seker die meeste “klas” van almal gehad deur nie net die jong, swart moordenaars van hul dogter in die openbaar te vergewe nie, maar ook vir hulle deur hul stigting werk te skep en as’t ware vir hul misdaad te beloon. Die Biehls verteenwoordig die patologiese sy van wit skuld en masochisme wat swartes van alle morele aanspreeklikheid onthef.

Wat vir my verstommend is, is dat mense die geweld en onreg in ons land met soveel traak-my-nie-agtigheid verduur, dieselfde gelatendheid waarmee Linda en Peter Biehl die moord op hul dogter aanvaar het en dit selfs op ‘n perverse manier “vier”. In ou Fenisië het ouers menslike offerandes van hul eersgeborenes aan die god Baäl gebring.

Is politieke korrektheid die Baäl van ons tyd en hoeveel menselewens moet nog grusaam aan dié wrede afgod geoffer word?

Doen jou deel in die stryd teen politieke korrektheid en geweld. Dra by tot PRAAG.

Данильченко Юрий отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.