Skuldstilte bevry niemand nie

Deel op

Die deelnemers aan die sogenaamde “debat” wat in 2011 afgeskop het onder leiding van Samantha Vice en Pierre De Vos (en onlangs ‘n nuwe inspuiting verkry het deur Gillian Schutte se tirade) bevind hulself in ‘n onbenydenswaardige posisie. Met elke blanke wat op die openbare verhoog spring om aan te dring dat blankes hulle plek moet ken, word die ruimte vir ‘n opregte gesprek tussen beide wit- en swartmense wat die reëls van ‘n regverdige gesprek respekteer, kleiner. Dit is egter nie al wat opvallend is van die linkse aanmaning tot ‘n “witskuldstilte” nie.

‘n Mens kan nie verhelp om te onthou dat dit amper twintig jaar is ná 1994 nie. Waarom is dit dan juis nóú dat daar soveel woedende stemme opgaan dat blankes eerder stil-stil van die openbare toneel moet verdwyn ? Waar was hierdie soort stemme in die Mandela-jare?

Soos met die meeste dinge in die komplekse land wat Suid-Afrika nou eenmaal is, steek daar meer daaragter as blote gewetenswroeging. Die vraag na groter blanke boetedoening vorm ook deel van ‘n algemener oproep tot “dekolonisering van die bewusssyn”, die bevryding van die voormalige slagoffer van die denkpatrone en standaarde wat deur die onderdrukker aan hom/haar opgelê is. Die term kom oorspronklik van die antikoloniale aktiviste Franz Fanon en Paulo Freire af, wat betoog dat daar slegs sprake van ware vryheid kan wees as die slagoffers van kolonialisme die koloniale greep op hulle verbeelding kan verbreek. Fanon se beroemde frase vir die koloniale slagoffer is The Wretched of the Earth, die vervloektes van die aarde (oorspronklike titel: Les damnés de la terre). Niemand kan egter vry of gelukkig wees as hy of sy nie ook in hulle koppe vry is nie, en die koloniale tydperk is gou gevolg deur die die allesomvattende, VSA-gedrewe ideologie van die vrye mark. Die agressiewe kapitalisme van hierdie era, veral ná die ineenstorting van sy enigste ideologiese mededinger, kommunisme, het tot ‘n hernieude greep op die Afrika-bewussyn gelei, asook ‘n groter gaping tussen ryk en arm as ooit tevore. Met die krisis waarin kapitalisme sigself tans bevind ná die groot skokke van 2008, het dinge ook nie juis vir die armes verbeter nie. Inteendeel. Om daardie rede is dit nie verrassend dat ‘n mens weer woorde soos “dekolonisering” en “sosialisme” hoor nie. (Ek het vroeër vanjaar ‘n T-hemp by ‘n linkse boekfees in Londen gesien met die uitdagende slagspreuk “Marx was Right!”)

Een van die onrusbarendste elemente van ons tyd is dat die Groot Oplossings wat mense altyd summier as Reg beskou het– die triomf van kapitalisme internasionaal, die oorwinning van die ANC by die stembus in 1994 plaaslik – nou self krake begin toon. Wat nou? Hoe kan ‘n mens meer regverdigheid as die triomf van die Regverdiges self verwag?

Gedurende die apartheidsjare het anti-apartheidsaktiviste emosioneel en intellektueel baie belê in die sogenaamde “struggle”. Diegene wat nie kommuniste was nie, het ‘n moderne liberale staat geskoei op die klassieke Westerse model van individuele regte en ‘n regstaat ondersteun. Volgens hierdie model sou toevallige feite soos ras, kleur, geslag, seksuele oriëntasie, religieuse of kultuurbande ondergeskik wees aan die aansprake van die individu. Alhoewel ons Grondwet natuurlik baie meer kompleks is as die meeste soortgelyke geskrifte, is dit basies die gees waarin dit geskryf is. Vir die meeste wit anti-apartheidsaktiviste, soos Nadine Gordimer, Max du Preez en André P. Brink is dit vanselfsprekende, voor-die-hand-liggende beginsels wat net stommerike soos die apartheidsregering nie kon insien nie.

Vandag word oud-aktiviste en linkse denkers egter met ‘n werklikheid gekonfronteer wat nie mág wees nie: ‘n regering wat al hoe meer ongeërg staan ten opsigte van waardes wat hy veronderstel is om te onderskryf (bv. persvryheid) en ‘n onontkenbare staatsverval.

Wat die ergste van alles is, is die ooreenkomste tussen die huidige situasie en die voëlverskrikker wat deur die vorige regering geskep is om die wit bevolking mee bang te maak: die verval van die pad- en elektrisiteitsnetwerke, grootskaalse korrupsie en wegholmisdaad. As ‘n mens ter wille van balans en regverdigheid nog die persoonlike gedrag van president Jacob Zuma probeer verskoon, kan die beste wil ter wêreld nie die belaglikheid van byvoorbeeld die skoolboekverbrandingskandaal rasionaliseer nie. Die ergste daarvan is dat laasgenoemde nie eers spreek van die boosheid van die Nazi’s nie, maar van pure onbeholpenheid. Voltaire het reeds geweet dat as mens iemand werklik wil vernietig moet jy hom nie net opponeer nie, jy moet hom belaglik maak.

Die tragedie vir swartmense in Suid-Afrika ná 1994 is nie net die dodelike gaping tussen ryk en arm nie – wat reeds ernstig genoeg is nie – maar die groeiende kiem van ‘n ewe dodelike minderwaardigheidskompleks. ‘n Mens kan baie dinge rasionaliseer, wegpraat of herinterpreteer, maar dinge soos die verval van Zimbabwe – eens Afrika se broodmandjie – die onderwyskrisis en die korrupsie van mense wat veronderstel is om die beginsels van ubuntu toe te pas, laat tog ‘n merk op die Afrika-psige. En nie net op swartmense nie, ook op diegene wat nog altyd vir hulle baklei het.

Daar is geen groter woede as dié van ‘n teleurgestelde rewolusionêr nie. Daarom, eerder as om ten minste ván die oorsake van die groeiende vervreemding tussen wit en swart in die optrede van die regerende party te soek, móét die skuldige die ou sondebok, blanke eiegeregtigheid wees. Die blanke Suid-Afrikaner, veral die Afrikaner, is ‘n steeds “aanvaarbare” vyand, nie net binne die Suid-Afrikaanse verband nie, maar ook internasionaal: die rassistiese blanke maak ‘n ideale skurk vir Nordiese misdaadskrywers.  

Wat die anti-wit aktiviste egter nie besef nie, is dat die blanke greep op die swart bewussyn nie verbreek sal word al sou alle blankes môre selfmoord pleeg nie. Die voortgesette aandrang op skuldbekentenis deur witmense versterk eerder die impak wat witmense op die swart bewussyn het: alles wat swartmense ís, is totaal en al gekoppel aan wat blankes doen. Afrika sal egter eers finaal die koloniale juk afgooi as hy ophou om te reageer en begin handel (optree). Dit wil sê, om werklik oordeelkundige besluite te neem wat gerespekteer kan word sonder dat dit nodig is om as teenvoeter blankes verdag te maak. Nietzsche het reeds daarop gewys dat die kleingeestige optrede van diegene wat minderwaardig of gegriefd voel, eerder hulle minderwaardigheid bewys as om dit uit te daag.

Die ware uitdaging aan linkse en swart bevrydingsdenkers is om ontslae te raak van hulle afhanklikheid van die “bose blanke”, en ‘n werklike bewonderenswaardige bestel te skep deur waardige optrede. Daar moet lewe wees ná Mandela. Slegs dan kan daar sprake van ware dekolonisering wees. Sou hierdie pogings faal, sal Afrika met die ergste moontlike lot gekonfronteer word: die moontlikheid dat sy onderdrukkers en uitbuiters ‘n punt beet gehad het.

Dr. Louise Mabille is dosent in die Departement Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Hierdie opstel verteenwoordig haar eie standpunt en nie dié van die Department Filosofie, of enige ander liggaam van die Universiteit van Pretoria nie.

Александр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.