Sampie Terreblanche se distopie

Deel op

Koeranttitels word deur sinici gestereotipeer as “Die Waarheid”. In werklikheid word iedere koerant gekenmerk deur sy voor- en afkeure. Eerstens vind dit uitdrukking in wat gepubliseer word en ook in wat nie gepubliseer word nie. Tweedens blyk voor- en afkeure uit die manier waarop ‘n berig gepubliseer word: die prominensie (plek en omvang), opskrif, aanbiedingstyl, ens. Die sug na politieke korrektheid is deesdae kenmerkend van plaaslike koerante; ook hulle onwilligheid om enige kritiek op hulleself te publiseer, al kritiseer hulle self graag op ‘n selektiewe manier.

Die plek waar ‘n koerant se rou senuwees die maklikste vir die kritiese leser sigbaar is, is die briewekolom; deesdae aangevul met webkommentaar en selfoonteksboodskappe. Wat hier gepubliseer word en die omvang van die ruimte wat vir die publiek se insette toegelaat word, gee ‘n aanduiding van die koerant se mate van verdraagsaamheid teenoor andersdenkendes. Daar is gevalle waar die keuringsnorme so streng toegepas word dat die koerant, om die ruimte te vul, eerder skrywes van eendersdenkendes uit susterkoerante publiseer as om publisiteit aan sy eie lesers se andersdenkende menings te gee.

Wanneer iemand met ‘n bekende naam skryf, is daar egter die neiging om die mening te publiseer, selfs wanneer die mededeling kwalik sinvol of die ruimte werd is. Dit is myns insiens die geval met Sampie Terreblanche se kritiek op die Universiteit Stellenbosch se Woordfees (Die Burger, 29 Jan, p 13). Wat hy te sê het, moet beoordeel word teen die agtergrond van sy Broederbond-verlede. Terreblanche is sekerlik nie die enigste bekende wat deesdae te hard probeer om hom van sy eie verlede te distansieer nie.

Terreblanche “was verbaas en geskok” oor die “hemels”-tema van vanjaar se Woordfees. Hy gaan nie heeltemal sover om die teenoorgestelde, ‘n hel-tema, voor te stel nie, maar hy kom naby daaraan. “Hoe kon die reëlingskomitee van die Woordfees so ongevoelig wees om ‘hemels’ as tema te kies, terwyl die meerderheid van die inwoners van die groter Skiereiland aan helse armoede en ontbering blootgestel is?”

Hy vaar vervolgens uit teen die dorp Stellenbosch, waar hyself reeds 48 jaar knus woon, as ‘n “rykmansdorp”, met “superryk inwoners”, wat hulle skuldig maak aan ‘n “rykmanskultus met ‘n rykmansmentaliteit”. Hierdie rykes bou “monsteragtige huise” en ry rond in groot, blink motors. “Nou gaan die reëlingskomitee van die Woordfees heen en bevestig (en kondoneer?) hierdie (wan)beeld van Stellenbosch as ‘n hemel-op-aarde sonder om ‘n oog te knip.” Hieruit lei Terreblanche af dat “die bevoorregte minderheid [nie] die nodige morele wroeging en simpatie openbaar met die sware lewenslot van die verarmde meerderheid” nie. “Solank so baie Suid-Afrikaners in ‘n hel-op-aarde leef, praat ‘n mens nie van feesgangers wat ‘n ‘hemelse ervaring’ op Stellenbosch gaan beleef nie.”

Hiermee erken Terreblanche ondubbelsinnig dat die nuwe Suid-Afrika, waarvoor hy hom eers in sy latere lewe so entoesiasties beywer het, nie so utopies is as wat hy in die vooruitsig gestel het nie. Hy kan hom troos met die wete dat hy nie die enigste mens is wat in die aandgloed van sy lewe in die nuus wil bly terwyl hy naarstiglik probeer om ‘n politiek-korrekte beeld van homself by die publiek te vestig nie. Daar is van sy oud-kolleges op Stellenbosch wat op ‘n soortgelyke manier hulle oorblywende tydjie benut.

As ekonoom ken Terreblanche sekerlik die Bybelse waarheid dat die armes altyd met ons sal wees. Oor die eeue heen en in alle lande was dit die geval. Dit sou dwaas wees as die aanwesigheid van armes in ‘n samelewing ‘n verbod op feesviering noodsaak. Dan sou so ‘n viering nooit en nêrens kon plaasvind nie. Dit is waar dat die nuwe Suid-Afrika waarskynlik (veral op die lange duur) die verarming van almal tot gevolg sal hê. Maar dit beteken myns insiens nie dat daar nie fees gevier mag word deur diegene wat dit darem nog moontlik vind nie.

‘n Enkele kenmerk van die nuwe Suid-Afrika, die omstandighede van armes, word deur Terreblanche uitgekies en op die Woordfees geprojekteer. Gestel sy voorkeur word ook op ander gebiede toegepas. Duisende eerstejaarstudente is pas op Stellenbosch verwelkom. Aan hulle word ‘n skaflike universiteitsomgewing, akademiese leer- en lewenservaring en ‘n suksesvolle (seker ook elitistiese) toekoms in die vooruitsig gestel. Realisties kan daar nie ‘n verbod hierop wees nie. Ook kan nie verwag word dat die studente hierdie Stellenbosch-omstandighede moet verruil vir die “township”-omstandighede van moontlik die meerderheid Suid-Afrikaners nie. Die omgewing (en tema) wat vir ‘n aktiwiteit geskik is, hang (grootliks) af van die aard van die aktiwiteit.

Terreblanche dink sosialisties en die etiket wat hy blykbaar vir homself soek, is dié van ‘n ou heer met empatie; dus dat hy tot oorlopens toe vol van meelewing met ‘n enkele nie-portuurgroep, die armes, is. Naas sosialisme is daar egter ander benaderings wat deur talle eerbare mense aangehang word. Dalk moet Terreblanche eerder verdraagsaam wees en andersdenkendes toelaat om hulle ding op hulle manier te doen. Dit mag maar feesviering met hemels as tema insluit.

лобановский александр жена

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.