Minderwaardigheid katalisator vir etniese geweld

Deel op

ImageIn sy boek The Deadly Ethnic Riot bespreek Donald Horowitz die oorsake van etniese konflik. Dit bied 'n interessante perspektief op die gebeure in Zimbabwe.

Volgens Horowitz tree meerderhede soms op asof hulle minderhede is: hulle oordryf die bedreiging wat 'n getalleminderheid inhou en onderskat hul eie vermoë om 'n bedreiging die hoof te bied.

Dikwels tree meerderhede op asof die bedreiging van 'n minderheid nie net binnelands bestaan nie, maar asof daar groot buitelandse affiniteit met 'n sekere etniese groep is.

Anti-Moslemgevoelens in Indië is tydens die 1992-onluste só gedramatiseer dat soekligte ter see ingespan is om die (nie-bestaande) Pakistanse invallers vroegtydig te kon afweer.

In Zimbabwe word Brittanje betrek by die krisis. Armoede, wat deur die regering van pres. Robert Mugabe gesien word as uitsluitlik die gevolg van kolonialisme, en 'n dreigende hongersnood vanweë die voedselkrisis, word 'n aanklag teen wit boere. Boere moet dus vergoeding vir grondonteiening van die "koloniale uitbuiter" eis en nie van die Zimbabwiese regering nie.

In albei gevalle lê die probleem elders en die teikengroep word daaraan gekoppel.

Deel op

Die tese dat etniese groepe “agente'' van 'n buitelandse mag verteenwoordig, kom voor in die meeste verslae oor etniese onluste. Van 1780 af, toe Katolieke in Londen aangeval is omdat mense geglo het hulle is pouslike samesweerders wat deur die weermagte van Frankryk en Spanje gesteun is, tot die laat 19de eeu, toe Armeniërs in Turkye daarvan verdink is dat hulle die Russe goedgesind is, is etniese teikengroepe só voorgestel.

In Zimbabwe word die boere ook as "agente'" voorgestel, ongeag hul burgerskap. Die teikenidentifikasie vind slegs in rasseterme neerslag. Die regerende party se retoriek klink daarom asof dit teen die Weste as geheel gemik is en nie teen 'n minderheid binne eie landsgrense nie.

Etniese geweld is deur dieselfde retoriek in Kambodja, Mianmar en Uganda gekenmerk.

Michael Ignatieff, in sy boek Blood and Belonging, en Horowitz voer albei aan dat daar 'n psigologiese dimensie aan antagonisme is.

Wat betref kenmerke van botsende groepe, moet in gedagte gehou word dat dit betrekking het op twee antagoniste (oftewel groepe). In dié verband is psigologiese jukstaposisie handig om die antagonistiese verhouding beter te verstaan.

Met verwysing na kommer in 1992 oor die opkoms van neo-Nazigeweld in Oos-Duitsland teenoor die Turkse minderheid ná die val van die Berlynse Muur, het die meningsnavorser Elisabeth Noelle-Naumann gesê: "Die sleuteltaak is om selfvertroue te herwin. Hierdie (Oos-Duitse) bevolking is 'n gewonde nasie . . . Ek meen mense sal net gemaklik wees as hulle hul natuurlike selfrespek as volk kan herwin. 'n Individu wie se selfrespek weggevat word, ly erg skade. Dit geld ook volke.''

Horowitz toon met voorbeelde uit veral Asië en Afrika die ooreenkomste in antagonisme tussen individue en groepe in voorvalle van etniese geweld.

Hy onderskei tussen sogenaamde mededingende agterlike en vooruitstrewende groepe. Met enkele uitsonderings is dit altyd die groep wat as vooruitstrewend gesien word, wat aangeval word.

Só het die Lulua die Luba in die destydse Zaïre aangeval, het die Hutu's die Tutsi's in Rwanda vermoor omdat hulle minderwaardig teenoor laasgenoemde gevoel het, het die Mbochi die Lari in die Kongo geteister en het die Maleiers Chinese minderhede in Maleisië en Singapoer uitgesonder.

Hoe meer verskille ter sprake is, hoe groter is die potensiaal vir konflik. Die Lari is byvoorbeeld beskryf as "gevorderd'' en "ondernemend'' en daarom as gevaarlik vir die Mbochi.

Die Luba is beskou as "hooghartig, arrogant en nepotisties'' en die Lulua was dus “bang vir onderdrukking'' en wou graag "byhou''.

In Zimbabwe word die boere, wat meen hulle is noodsaaklik vir die ekonomie, as 'n struikelblok gesien omdat hulle gelyke geleenthede met hul "koloniale grondhonger'' strem.

Die eise om die speelveld gelyk te maak, gaan nie sonder 'n groot mate van selfverwyt en selftwyfel gepaard nie. Die ondergeskikte groep wat wil sien dat die oop aspek van mededinging ingeperk word en wat spesiale behandeling vra, soos regstellende maatreëls, laat die gevoel van onsekerheid in die groep verhoog.

Die psigoanalis Ernest Jones verduidelik die psigodinamika van hoe dié soort konflik (wat intern is en nie ekstern nie) tot aggressie kan lei.

Jones sien haat as die normale reaksie op selfvertwyfeling. Indien die haatgevoelens tot skuld lei, is die enigste manier om verligting te kry eenvoudig om méér te haat. 'n Oordrewe bedreiging word in die teikengroep uitgewys en die haatgevoelens op hulle geprojekteer.

Ironies is dat indien die teikengroep heftig op sulke haat reageer, hulle só onwetend die gewaande “redelikheid'' van die haatgevoelens teenoor hul groep bevestig. En só maak hulle dit makliker vir die inisieerders om oor te gaan tot geweld as die geleentheid hom voordoen.

Die teorie van frustrasie-aggressie volg 'n ander roete, maar kom tot dieselfde gevolgtrekking.

Indien daar geen ander uitlaatkleppe vir opbouende frustrasie is nie, neem die waarskynlikheid van geweld toe.

As agterlikheid beteken dat doelwitte buite bereik sal bly, is geweld al manier om verskille uit die weg te ruim om uiteindelik weer 'n posisie van mag teenoor die ander groep te beklee.

Geweld word gekenmerk deur onderliggende selfvertwyfeling en 'n verbale onvermoë, meen Hans Toch in sy boek Violent Men.

Die verloorder wil nie net die spel opbreek nie, hy wil sy opponent vernietig. Horowitz sien dié ooreenkoms in byna elke geval van etniese geweld.

En die teikengroep deel sonder uitsondering dieselfde kenmerke: ondernemendheid, ambisie, energie, arrogansie en sukses.

коляскі дитячіОлександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.