Naspers-gorilla sit Afrikaners plat

Deel op

Die debat rondom Naspers en Afrikaanse media wat Alpegro in Net één Afrikaanse koerantstem aanroer, mag nie sonder reaksie verbygaan nie.

Saam met Alpegro smag ek ook na ‘n “verskeidenheid van insigte en menings” soos in die dae toe daar twee groot persgroepe in Afrikaans was. Laat niemand daaroor twyfel nie: daar was destyds veel meer spraakvryheid as vandag en ek het as bloedjong student in die 1970s artikels en resensies in Rapport, Oggendblad en selfs Beeld kon publiseer wat heeltemal teen die heersende ideologie van destyds ingedruis het.

Dit was ‘n tyd toe ‘n mens sowel dissident as Afrikaner mog wees. Dit wil voorkom asof ‘n mens vandag nie meer een van die twee mag wees nie: tans word ons oorheers deur die “Afrikaanses”, ‘n term wat blykbaar in die kantore van Naspers uitgedink is, wat bepaal dat ‘n mens kleurloos moet wees en moet konformeer sover dit die heersende Anglo-Amerikaanse denkpatrone betref.

Die mag en finansiële sukses van Naspers veroorsaak ook dat sy joernaliste en bestuurders hul eie posisie in Afrikaans as vanselfsprekend belangrik beskou. By gebrek aan politieke leiers of invloedryke denkers/skrywers, het die Naspers-”executive” of -redaksielid hom of haar tot arbiter uitgeroep.

Omdat dié mense meermale in die Kaap woonagtig is, word die hele Afrikaanse wêreld vandag voorgestel as ‘n soort spieël waarin die “mooi mense” van die media hulle selwers narcisties beskou, dikwels teen die agtergrond van Tafel- of Helderberg gefotografeer. Vanuit Constantia en Rondebosch kom insgelyks ‘n hele Brits-koloniale geurtjie aangewalm wat Afrikaners as die antihelde in poniekoerante voorstel.

Ons is tog meer as rugby- of krieketspelers wat inkopies of binneversiering doen, as hulle nie skandes maak nie? Dan is daar die alewige gesanik oor “die regses” waarmee blykbaar almal wat nie vir mev. Zille stem of hul kinders na Engelse skole stuur nie, bedoel word. En volgens die riemtelegram sit soveel van die Naspers-elite se bloedjies reeds op Engelse skole…

Omdat daar ‘n sogenaamde “variant” van Afrikaans vol Engelse woorde in die Kaap gepraat word, dink Naspers-media dit goed om ons dikwels aan dié Kreools bloot te stel. In die vorige uitgawe van Rapport het Kerneels Breytenbach selfs ‘n loempenproletariese kortverhaal – of wat dit ook al veronderstel was om te wees – in Kreools gepubliseer.

Daar word selfs dikke boeke uitgegee wat van Kreools en onafrikaanse uitdrukkings wemel.

As Naspers die “gorilla in die vertrek” geword het, soos prof. Anton Harber geskryf het, wonder ‘n mens of hy nie besig is om Afrikaans en veral die groot aantal Afrikaners in die Noorde heeltemal plat te sit nie.

александр лобановский харьков класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.