Afrikanerlinkses en Afrikanerondergang

Twaalf jaar gelede het ek in ‘n bydrae op LitNet, geargumenteer dat die links-regsverdeling in Suid-Afrika en selfs elders ter wêreld nie meer van toepassing is nie. In 2003 het ek tydens ‘n praatjie, Is die globale ryk wenslik?, iets van ‘n kritiek gelewer op die neo-Marxistiese denke van Hardt en Negri se boek Empire wat in globalisering die verwesenliking van proletariese internasionalisme sien.

Suid-Afrika mag as anargiese, amorele samelewing jenseits von Gute und Böse wees, maar ons is nog lank nie jenseits von die Linke und die Rechte nie. Gereeld word daar deur akademici of in die Nasperskoerante teen “die regses” uitgevaar, dermate dat ‘n mens soms die indruk kry dat ons in ‘n soort Oos-Duitsland woon waar enige vorm van konserwatiewe, liberale of regse denke per se gestigmatiseer is. Slegs sosialisme, verkieslik Marxisme, is legitiem.

Ferdi Greyling van Beeld is byvoorbeeld ‘n volgeling van die voormalige sosialistiese Franse president, François Mitterand, wat op ‘n stadium gesê het: Le nationalisme, c’est la guerre. Volgens Greyling lei “regse denke” noodwendig tot geweld. Nietemin bestaan daar in vele demokratiese lande regse partye – selfs die Republikeinse Party in die VSA – wat dit regkry om aan verkiesings deel te neem sonder om hul opponente met koeëls of bomme te bestook.

Soos ek, tesame met Raymond Aron en Paul Johnson, al voorheen geargumenteer het, is daar veel eerder ‘n element van apokaliptiese geweld wat linkse denke onderlê. Die aangrypende sjarme van die revolusie is juis dat alle maatskaplike probleme – ja, selfs die  bestaan van maatskaplike klasse – meteens tydens ‘n staatsgreep van Links uitgewis kan word. Dink maar aan die kultus rondom Lenin, Ché Guevara, Fidel Castro en vele ander. Ook Mandela word as ‘n linkse revolusionêr beskou wat self baie versigtig was om nooit enige kritiek op die kommunisme uit te spreek nie. Terwyl die onlangse Russiese leiers hul telkens in die openbaar van Stalin se vergrype gedistansieer het, het Mandela nog nooit negatief na Stalin, Mao of selfs Pol Pot verwys nie.

Is daar egter iets soos ‘n Afrikanerlinkse of linkse Afrikaner wat oor spesifieke eienskappe of neigings beskik wat hom van ander linkses onderskei? Op die Engelse kampus waar ek gestudeer het, is daar destyds gepraat van “the Left” en almal had ‘n baie spesifieke idee oor die betekenis daarvan. In dié opsig was die Afrikanerlinkses, afgesien van “renegaat”-figure soos Bram Fischer en Beyers Naudé, afwesig van die Brits-geïnspireerde “Left” in Suid-Afrika. Die deelname van Afrikaners aan die mitiese “struggle”, wat vanuit Brittanje, Swede en Noorweë gefinansier is, was insgelyks beperk. Trouens, die sogenaamde “struggle” was juis ‘n etniese alliansie wat téén Afrikaners gemonster is.

As ‘n mens deesdae die uitsprake van Afrikaanse akademici en joernaliste lees, wil dit voorkom asof hulle eintlik part en deel van die ANC en SAKP se stryd en uiteindelike oorwinning oor die reaksionêre magte van apartheid was. Soms is daar ‘n bepaalde frustrasie by Afrikanerlinkses en veral die Nasperskommentators te bespeur dat hulle die laaste tien minute van die revolusie toe hulle vanuit ‘n voorheen “regse” standpunt daartoe bekeer is, misgeloop het.

Reeds baie gou ná 1994 het Afrikanerlinkses daarin geslaag om aan die universiteite en in die media ‘n hegemonie te bewerkstellig, waardeur die diskoers in Afrikaans feitlik van alle teengeluide gesuiwer is. Soortgelyk aan die situasie in vele ander lande waar suksesvolle linkse revolusies tydens die twintigste eeu plaasgevind het, is dissidente reeds vroeg ná 1994 en toenemend as “reaksionêr”, “fascisties”, “regs”, “verregs” en meer bepaald binne die Suid-Afrikaanse konteks, as “rassiste” getipeer en selfs gestigmatiseer.

Eintlik is dit ‘n fassinerende en histories onverwagse wending wat hier by ons ingetree het, waar die leidende Afrikanerintellektuele, -joernaliste en -politieke denkers hulle binne slegs enkele jare volledig vanaf ‘n soort volks- of nasionalistiese projek tot dié van linkse transformasie bekeer het. Skadu’s van Weimar toe soveel Duitsers tussen die “swart” en “rooi” pole geweifel het en van een dag tot die volgende vanaf die hamer en sekel tot die hakekruis, of andersom, oorgehaal kon word?

Sekerlik bestaan daar skakerings van linkse radikalisme, met Pol Pot en Mao tydens die Kulturele Revolusie wat ‘n soort ekstreme “transformasie” definieer waardeur miljoene menselewens verlore gegaan het. Die tergende vraag is: hoe radikaal is die Afrikanerlinkses?

In dié verband het ek met belangstelling geluister na prof. André Brink wat tydens die dokumentêre TV-program, André Brink, the African/l’Africain, verklaar het dat “my volk verdien om te verdwyn”. Die presiese sin waarin Afrikaners behoort te verdwyn, sal hy hopelik self kan beantwoord. Ook het dr. Leopold Scholtz reeds by verskeie geleenthede die assimilasie van Afrikaners bepleit. Die algemene gevoel is een van: Afrikaners as groep of die Afrikaneridentiteit as sodanig hoort nie meer in Suid-Afrika nie.

Dan is daar die hele debat rondom Standaardafrikaans wat reeds deur RSG as ‘n soort “apartheidsdialek” verklaar is en daarom “geherstandaardiseer” moet word. Soos ek reeds onlangs in Taalkundige Lisenkoïsme: Standaardafrikaans in die spervuur uitgewys het, was selfs Stalin nie so radikaal dat hy klassieke (Tsaristiese) Russies wou verander nie en het daarom sy teenkanting teen ‘n “marxistiese taalkunde” uitgespreek. Hier by ons lyk dit egter asof die revolusie ook nie die standaardtaal ontsien nie.

Die internasionale of globale kapitalisme, tesame met die oorheersing van die Amerikaanse kultuur, word dikwels deur minderheidskulture as ‘n vorm van “regse oorheersing” getipeer – anders as Hardt en Negri byvoorbeeld. Daarom definieer vele nasionalistiese bewegings onder minderheidsvolkere (dinke maar aan die Baske, Katalane en Noord-Iere) hulle insgelyks as “links” en anti-kapitalisties. Waar hulle van kapitalistiese metodes gebruik maak, word dit dikwels meer sosialisties gestruktureer, by wyse van koöperasies byvoorbeeld. In Baskeland bestaan die Mondragon-koöperasie wat aan 100 000 mense werk verskaf en tot die voordeel van die gemeenskap bedryf word.

Blykbaar word daar op Orania ook na die koöperatiewe model van ekonomiese ontwikkeling gekyk, soos in die volgende artikel: Koöperatiewe ekonomie: middeweg tussen kapitalisme en kommunisme. Waarskynlik sou ‘n hele horde Afrikanerlinkses egter die oprigting van Afrikanerkoöperasies as “regs-reaksionêr” beskryf, terwyl soortgelyke Baskiese inisiatiewe in Spanje weer as “links” gesien sou word.

Die vreemde verskynsel onder Afrikanerlinkses is juis dat hulle in Afrikanerondergang iets positiefs of voortrefliks gewaar. Waarskynlik is dit ‘n unieke eienskap van die linkse beweging hier by ons dat hulle die kulturele en selfs ekonomiese grond waaruit hulle put of in die verlede geput het, wil vernietig. Hoewel Naspers hom toenemend van die Afrikaanse mediamark losgemaak het en deesdae sy heil in China, Pole, Rusland en Indië sien, is die mediagroep oor jare aktief en lojaal deur Afrikaners ondersteun. Die woord “Afrikaner” het egter onder linkse “Afrikaanses” soos hulle verkieslik na hulself verwys, ‘n vloekwoord geword. Om Afrikaner te wees, is per se “regs”, selfs “verregs”, skyn die indruk te wees wat ‘n mens by Afrikanerlinkses kry.

My kennis van Europese tale is maar taamlik beroerd, want afgesien van Frans en ‘n leeskennis van Duits en natuurlik Nederlands, “kan” ek nie eintlik enige Europese tale nie, soos die Nederlanders sê. Italiaans, Russies en die Skandinawiese tale fassineer my egter reeds geruime tyd en met die internet deesdae is dit moontlik om nie net ‘n taal aanlyn aan te leer nie, maar ook blootstelling aan films, TV, koerante en tydskrifte te bekom. Dus: die hoop beskaam nie.

Darem het ek op skool en universiteit Latyn gehad, waarvan ek nie veel onthou nie, helaas. Nietemin word ek sedert my eerste kennismaking met Latyn in standerd ses geboei oor die vraag waarom mense dié eens hoogstaande kultuurtaal moes ophou praat het? En natuurlik die groot vraag: waarom het die Romeinse Ryk, wat eeue lank die hele Europa en die Midde-Ooste oorheers het, ondergegaan?

Arnold Toynbee, Oswald Spengler en ander skrywers het al breedvoerig oor Rome en ander groot beskawings geskryf waarvan daar intussen net ‘n paar ruïnes oorgbly het. Veral Toynbee beskryf dit as ‘n proses van “beskawingselfmoord”. Volgens hom gaan ‘n beskawing of kultuur byna nooit ten gronde weens eksterne militêre geweld of nadelige omstandighede, maar weens onderlinge verdeeldheid en ‘n soort lewensmoegheid.

Vele Afrikanerkonserwatiewes koester ‘n intense afkeer jeens mnr. FW de Klerk weens sy verraad jeens die Afrikaner. Feit is egter dat die graad van verraad jeens hul voorouers en hul vryheidsideaal wat Afrikaners aanhou pleeg, veel erger as FW s’n is. Hulle stuur vrywillig hul kinders na Engelse skole en werk saam om die huidige stelsel te onderhou, dank selfs ander Afrikaners op grond van hul ras en taal af om by die ANC se “gelykheidswette” te hou. Volgens Jan-Jan Joubert, “stem 96% van Afrikaners trots DA” en daarom vir ‘n Engelstalige party wat die multikulturele ideaal, regstellende aksie en selfs grondhervorming voorhou. Naas die heel linkse Helen Zille wat in die verlede die ANC onomwonde ondersteun het, is FW de Klerk eintlik ‘n “regse”.

Dis waarom dit myns insiens toenemend futiel is om Brittanje, Swede, Noorweë en die ANC vir Afrikanerondergang te blameer. Die afgang van Afrikaners is ‘n daaglikse proses wat deur ons mense gewíl word, of liewer: daar is blykbaar geen wil om dit te stuit nie.

Watter geheimsinnige proses het ons by hierdie punt van volkselfmoord gebring, net soos wat Rome in sy doodsnikke verkies het om geen weerstand teen Alarik die Wesgoot te bied nie?

‘n Mens kan seker antwoord dat die Afrikaner te vinnig opgebloei het, oor ‘n tydperk van 200 jaar of so, met ons taal wat maar bietjie meer as ‘n eeu gelede gestandaardiseer is. Weens ons vinnige opgang, beleef ons tans ‘n ewe snelle afgang.

Soos Toynbee, Nietzsche en vele ander egter argumenteer, is dit altyd “skeppende minderhede” wat die lotgevalle van nasies bepaal. Oor die algemeen val die meerderheid bloot by die huidige sosiopolitieke toestand in, tensy hulle deur ‘n minderheid opgeroep word om hul daarteen te verset.

Daarom meen ek dat die opkoms van ‘n sterk linkse beweging onder Afrikaners sedert die laat tagtigerjare bepalend vir ons onlangse verlede was en ook vir ons toekoms gaan wees. Die revolusie in Afrikaans was eintlik baie meer intens as in Suid-Afrika self. Binne ‘n baie kort tyd – ‘n paar jaar – het ‘n klein groepie linkse denkers ‘n hegemonie in die media en aan die universiteite bereik van waar hulle met ‘n suiweringsveldtog teen alle dissidente – die gehate “regses” – begin het.

Van die meer prominente woordvoerders van die linkse beweging onder Afrikaners – hoewel sommige nie van die etiket “links” hou nie – is die volgende:

Amanda Gouws

André P. Brink

Max du Preez

Pierre de Vos

Antjie Krog

Neels Jackson

Christi van der Westhuizen

Leopold Scholtz

Anton van Niekerk

Willie Esterhuyse

Tim du Plessis

In volgende rubrieke, of dalk ‘n kort e-boek, wil ek verder ingaan op die rol wat die genoemde figure speel om via hul magsposisies aan die universiteite en in die media enige opflikkeringe van ‘n Afrikanerwil tot oorlewing uit te doof. Ek het ook persoonlik aan elkeen van dié mense geskryf om hul idees oor ‘n aantal onderwerpe te toets, maar die meeste het soveel minagting vir enigeen wat hom of haar ‘n Afrikaner noem, dat hulle nie geantwoord het nie.

As daar egter een ding is wat my hoop gee, is dit ons oeroue Westerse kapasiteit vir skeppende en rasionele denke. Die “ideologiese stryd” waarvan die ANC in sy marxistiese retoriek praat, woed vandag feller as ooit in Afrikaans self waar ons moet poog om ons van die totalitêre denkbeelde van Afrikanerlinkses te bevry. Ons het iets soos die Franse “nuwe filosofie” van die 1970’s nodig, toe ‘n groep onverskrokke woordvoerders in Parys dit durf waag het om ná Solsjinitsin se boeke die heilige koeie van die Marxisme en die revolusie te slag.

Om te begryp wat op die spel is, sal ons ook die vraag moet vra: Wie en wat is ‘n Afrikaner? Anders as wat daardie ander pro-Engelse en linkse idioot, Van Zyl Slabbert, gedink het, gaan dit nie vir my daaroor om mense volgens ‘n “binnegroep” en “buitegroep” te definieer nie, maar om ‘n veel meer grondliggende vraag.

Ons moet verstaan dat die “totale aanslag” waarvan PW Botha gepraat het, juis nou in Afrikaans aan die gang is. As ek die radikaal-linkse denkers, die “Afrikaanses”, reg verstaan, gaan dit nie net om die vernietiging van Afrikanerskap as sodanig nie, maar ook om die verwerping van die waardes van die Europese Verligting wat ons reeds drie honderd jaar lank definieer.

Фильчаков прокурор отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.