Le Cordeur en Jeffreys oor Afrikaans

Deel op
Michael le Cordeur is tans die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Onlangs was hy saam met Henry Jeffreys, oudredakteur van Die Burger, in Nederland om Afrikaans se saak aan die politici te stel. Nog twee Suid-Afrikaners, Flip Buys en Koos Malan, was om dieselfde rede daar. In Die Burger (18 Des, p 15) is die eersgenoemde twee bruines die outeurs van ‘n artikel oor hierdie onderwerp. Voorspelbaar bepleit hulle inklusiwiteit, maar by hulle keuse van outeurs vir hierdie artikel is daar geen sprake van inklusiwiteit nie. Voorspelbaar bepleit hulle ook versoening, die vat van hande, die erkenning van diversiteit, ‘n kwantitatiewe benadering, ens, – almal kenmerke van hedendaagse ANC-retoriek. Daarmee gee hulle ‘n duidelike aanduiding van waar hulle politieke tuiste is.

Le Cordeur is ‘n dosent in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het voorheen ongekwalifiseerde bewondering uitgespreek vir die wangedrag van sy medeskoliere wat in 1976 die Hoërskool Bergrivier in Wellington afgebrand het. Wat daaruit afgelei kan word, is dat politiek by hom swaarder as opgevoedheid weeg. Dit is soos sy mede-opvoedkundige, Richard van der Ross, wat daarop roem dat, toe hy die rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was, hy nooit enige samewerking aan die polisie verleen het as dié gekom het om misdaad (bv brandstigting) op die kampus te ondersoek nie. Dit is vir my moeilik om agting vir sulke “opvoedkundiges” te hê.

Onlangs het Le Cordeur dit nodig gevind om ‘n lofrede vir Jakes Gerwel te publiseer (Rapport, Weekliks, 2 Des, p 1). Daarin noem hy dat hy in 1977 ‘n UWK-student geword het; dus onmiddellik na die glorieryke jaar wat deur grootskaalse skoolvandalisme en erger gekenmerk is. Wat my dwars in die krop steek, is dat hy sy lesers doelbewus mislei deur die indruk te wek dat die kampus toe na 17 jaar steeds uit opslaangeboue bestaan het. In daardie stadium was daar jare lank reeds baie en pragtige geboue, opgerig deur die doeltreffende “apartheidsregime”. Daar was net twee opslaangeboue, een by die fakulteit handel en een by die fakulteit lettere. Die studente was nie tevrede voordat albei afgebrand is nie. Het Le Cordeur hierdie misdade veroordeel? Weet hy dalk van iemand wat vir hierdie vergrype verskoning gevra het? Weet hy van enige van hierdie misdadigers wat later, nadat hulle met geil poste op ‘n nie-meriete grondslag vergoed is, pogings aangewend het om uit hulle eie sakke die skade te vergoed?

Die “apartheidsregime” het aan feitlik al die studente studiebeurse gegee. Ek wag steeds dat oud-UWK-studente wat hulle met Afrikaans bemoei (Le Cordeur, Russel Botman, Jonathan Jansen, Nico Koopman, Danny Titus, Christo van der Rheede, ens), dit openlik erken indien hulle sodanige beursgeld ontvang het. Hoeveel van hulle het al dankie gesê vir die hoogs gesubsidieerde en dikwels uitstekende akademiese onderrig wat hulle danksy die “apartheidsregime” aan die UWK ontvang het? Waaroor hulle graag uitwei, is hoe lekker dit was om linkse politiek, wat ten onregte deur ANC-aktiviste soos Jakes Gerwel op die kampus versprei is, onkrities te verorber.

Maar dan is dit juis hierdie elemente wat graag as dik spykers gereken wil wees wanneer Afrikaans ter sprake kom. Van hulle dien in die bestuur van die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Taalmuseum en die Afrikaanse Taalmonument. Van die minimum vereistes waaraan hierdie bestuurslede myns insiens moet voldoen, is dat hulle ononderhandelbaar lojaal teenoor Standaardafrikaans moet wees en dat hulle kinders in Afrikaans skoolonderrig moet ontvang. Gewoonlik faal hierdie mense in albei opsigte. Daaroor het Jeffreys nogal in Nederland die waarheid gepraat: “Bruin Afrikaanssprekendes [het] nie dieselfde emosie en verknogtheid aan die taal as die wit Afrikaners nie” (Die Burger, 5 Des, p 9). Hieruit volg: Bruin dislojales behoort nie in dieselfde mate as wit taalgetroues inspraak in die heil van Afrikaans te hê nie.

Jeffreys is op uiters kort kennisgewing, naamlik binne ‘n dag, uit die redakteurstoel van Die Burger. Die redes daarvoor word politiek-korrek verswyg, maar daar was groot ontevredenheid by die beskaafde, Westersgeöriënteerde, tradisionele lesers van Die Burger oor die soort koerant wat Jeffreys en sy “senior adjunk-redakteur”, Zelda Jongbloed, daagliks opgedis het. Waarop dit neergekom het, is dat die Ekstra-Burger Die Burger oorgeneem het, met rampspoedige gevolge. Jeffreys het bv onomwonde Botman se afskaling van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch gesteun. Le Cordeur en Jeffreys het pas geskryf oor “die Universiteit Stellenbosch … wat … onregverdig belas [!] word met verantwoordelikheid vir die taal se hoër funksies.”

Nadat hy by Die Burger weg is, was Jeffreys enkele maande lank die redakteur van die ANC-koerant, The New Age, waar hy met sy politiek meer tuis gevoel het, maar ook daar kon hy nie volhou nie. Eintlik was dit ook nie nodig nie, want na hulle uit- of afrede word Jeffreys en Jongbloed se bydraes steeds deur die Naspers-koerante as onontbeerlike “bruin stemme” vertroetel. ‘n Soortgelyke vergunning word nie aan wit oud-redakteurs verleen nie.

Die twee blanke afgevaardigdes na Nederland, Buys en Malan, koester nie die ANC en sy anti-Afrikaans-beleid nie. Hulle besef dat Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika van owerheidsweë soveel moontlik afgeskaal en benadeel word. Le Cordeur en Jeffreys, daarenteen, maak asof daar min (of niks nie) is om oor bekommerd te wees. Hulle erken, met verwysings na die twee ander voorleggings: “Ons dink en praat eenvoudig nie dieselfde oor die taal nie.” Hulle is optimisties: “Afrikaans is nie in ‘n krisis nie.” “Die taal is nie aan die kwyn nie.” “Afrikaans blom heldergeel.” Daar is wel “uitdagings” (‘n gewilde ANC-woord), maar dit geld ook die swart tale. Hulle stel waaragtig voor dat Afrikaans “in vennootskap met die staat” (dus die ANC) bevorder moet word.

Le Cordeur en Jeffreys speel die ANC se getalle-spel: Daar is baie sprekers van Afrikaans en hierdie sprekers sal die toekoms van Afrikaans bepaal. Afrikaans kom nog in die gedrukte media voor en oor die radio en televisie. Albei outeurs opper geen beswaar oor die gehalte van daardie Afrikaans nie. Hulle verwys na “die sogenaamde Standaardafrikaans” – net soos daar alewig na “die sogenaamde kleurlinge” verwys word. In werklikheid is daar iets soos Standaardafrikaans, waarop ons trots behoort te wees. Daar is ook werklike, konkrete bruin mense (soos Van der Ross erken) wat nie minder bruin is omdat baie van hulle hulle deesdae opportunisties swart noem nie.

Mense wat van “sogenaamde Standaardafrikaans” praat, behoort nie afgevaardig te word om oor Afrikaans in die buiteland te praat nie. Diesulkes behoort ook nie in bv die Afrikaanse Taalraad te dien nie. Botman en Koopman is bv al toegelaat om by die Afrikaanse Taalmonument te praat en dan Standaardafrikaans af te kraak en die mengeltaal Kaaps te verheerlik. Dit is in ooreenstemming met Koopman se hibriditeitsteorie, waarvolgens sy etniese hibriditeit as ideaal of model vir die nuwe Suid-Afrika voorgehou word, insluitende Kaaps as ‘n kreoolse of hibridiese taal. Dit is ‘n doeltreffende kortpad na die einde van die respektabele taal, Standaardafrikaans.

In hoe ‘n mate Le Cordeur en Jeffreys inklusief dink, blyk uit die feit dat hulle na Adam Small en Jakes Gerwel verwys, maar nie na ‘n enkele wit Afrikaanse taal- of letterkundige nie. CJ Langenhoven word afgekraak. Maar dan gee hulle hoog op oor versoening. Verder: “Afrikaans se beste opsie vir oorlewing en groei lê op die weg van meertaligheid [Botman het dus reg!] en ‘n onderlinge vennootskap tussen die taalsprekers om die taal en al sy variëteite te vestig as ‘n ‘soomlose taal’, soos wyle prof Jakes Gerwel dit konsekwent bepleit het.” Gerwel maak hom skuldig aan anglisistiese Afrikaans. Hy bedoel natuurlik “naatlose taal”. Dit word ten beste in Standaardafrikaans aangebied.

Wat Le Cordeur en Jeffreys beoog, is die demokratisering van Afrikaans sodat dit dieselfde chaotiese gevolge kan hê as wat demokratrisering in die owerheidsbestel en in die land in sy geheel het. Anders as in die geval van al die ander amptelike tale, moet Afrikaans, volgens hierdie twee, in al sy variëteite (hoe gevaarlik of sonder verdienste ook al, bv Kaaps) “gevestig” word. Die wittes (Engelse en daarna Afrikaners) word graag beskuldig van ‘n politieke beleid van verdeel-en-heers. Hier bepleit Le Cordeur en Jeffreys dit vir Afrikaans – talle klein, kragtelose variëteite pleks van ‘n dominante, respektabele Standaardafrikaans.

Diegene wat lojaal teenoor Afrikaans is, sal vir Afrikaans veg en nie, soos Le Cordeur en Jeffreys (en Botman), vir meertaligheid nie. Die outeurs vermaan die lesers om nie “enige eng belange” te bevorder nie, maar dit is presies wat hulle doen. Dit gaan vir hulle primêr nie om wittes en Afrikaans nie, maar om bruines en ANC-politiek. Ons moet glo “eers ons eie huis in orde kry.” Wat Afrikaans betref, is die Afrikaanse Taalraad die aangewese beginpunt.

Александр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.