Onderweg na globale finansiële ineenstorting

Deel op

Terwyl die media dikwels oor die politiek van die huidige globale finansiële krisis verslag doen, word daar min oor die besonderhede daarvan berig. Slegs enkele waagmoedige verslaggewers en TV-programme gaan dieper op al die implikasies van Amerika se skuld van 16 triljoen dollar en die EU se hulppakket aan Griekeland in.

Kortom, die VSA, Brittanje, die suide van Europa, maar ook Ierland, staar bankrotskap in die gesig. Wanneer die proses tot sy logiese uiteinde gevolg gaan word, sal sommige lande ‘n verlaging in lewenstandaard van tot 40% moet aanvaar. Daar sal onluste uitbreek en selfs demokrasie, die slagspreuk van die twintigste eeu, sal onder skoot kom. Die feit dat Duitsland tans aan Griekeland voorskryf hoe om sy ekonomie te bestuur, beteken reeds die einde van Griekse demokrasie en soewereiniteit omdat dié land se burgers voortaan aan eksterne beheer onderworpe gaan wees.

Die uitgesproke TV-aanbieder Max Keiser beskryf diegene wat in beheer van die New Yorkse en Londense finansiële bedrywe verkeer, as “bedrieërs en misdadigers”. Trouens, wat ons oor die afgelope vier jaar of meer gesien het, is dat die banke hul private verliese van honderde miljarde dollar na die belastingbetaler oorgedra het. Intussen het bankiers aangehou om aan hulself groot salarispakkette en veral bonusse te betaal.

Weens al die finansiële skandale wat in die Londense bankbedryf woed, geniet geen bankier meer die geloofwaardigheid om as goewerneur van die Bank van Engeland aangestel te word nie. Daarom het die Britse regering besluit om die huidige Kanadese sentrale bankier, Mark Carney, te werf in ‘n poging om die land se finansiële probleme uit te stryk.

Tydens die sogenaamde LIBOR-skandaal, is bevind dat Barclays en ander Londense banke die daaglikse vasstelling van rentekoerse tot hul eie voordeel gemanipuleer het. LIBOR, oftewel die “London Interbank Offered Rate” bepaal die koerse waarteen triljoene dollar se afgeleide en ander transaksies wêreldwyd betaal word, ook in die VSA.

Die krisis wat Brittanje egter in die gesig staar, is veel groter as die aanvanklike bankrotskap van banke wat deur die regering staande gehou moes word. Deels vanweë die bankkrisis, maar ook omdat die Britte al jare lank bokant hul vermoëns leef, skuld die Verenigde Koninkryk meer as 900% van haar eie Bruto Nasionale Produk. Dit is min of meer dieselfde skuldvlak as dié van Duitsland in die dae van die Weimarrepubliek tydens die 1920s toe daar hiperinflasie geheers het en dit goedkoper was om jou huis se mure met banknote te versier as om muurpapier te gebruik.

Die logiese vraag is: waarom breek daar nie vandag hiperinflasie in Brittanje of selfs die VSA uit nie, gegewe die hoë skuldvlakke van beide lande? Die antwoord is dat die regerings en veral die sentrale banke tans rentekoerse met ‘n ysterhand beheer. Op die oomblik is korttermynrentekoerse in die meeste ontwikkelde lande so te sê gelyk aan nul persent en langtermynkoerse die laagste in 300 jaar!

Hier volg die 3-maandekoerse (LIBOR) vir die vernaamste geldeenhede:

USD 0.30950 %

EUR 0.12357 %

GBP 0.51938 %

JPY 0.18143 %

CHF 0.01400 %

ZAR 5.13% (JIBAR)

Die Switserse frank (CHF) “betaal” of vereis reeds negatiewe rentekoerse vir enigiets vanaf oornagdeposito’s tot en met 2 maande. Dit wissel van -0.02200 % tot -0.00600 %. Die rede hiervoor is dat die Switserse frank vanweë die wêreldwye finansiële krisis soveel in waarde gestyg het dat die Switserse Nasionale Bank besluit het om buitelanders met lae of negatiewe rentekoerse te “straf” as hulle net hul geld in Switserland wil kom “parkeer”. Verdere stygings in die Switserse frank sou die mededingendheid van Switserse maatskappye nog verder knou.

As ‘n mens dink dat soveel lande en instellings deesdae nie hul lenings kan terugbetaal met sulke uiters lae rentekoerse nie, stel jou voor indien rentekoerse na die meer normale vlakke sou styg waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is! Indien die Amerikaanse rentekoerse môre tot 5% sou styg, sou die hele Amerikaanse ekonomie waarskynlik tot stilstand kom en sou die banke weereens min of meer bankrot wees.

Ons sien dus hoe die globale ekonomie tans deur kunsmatige, lae of nulrentekoerse drywend gehou word. In die regte wêreld is daar egter skommelinge in die waarde van goedere en bates. Veral goud en silwer het sedert 2008 toe die krisis begin het, drasties gestyg. Wat tans besig is om te gebeur, is dat omtrent al die geldeenhede waarde verloor, net soos tydens klassieke inflasie en dis net ‘n kwessie van tyd voor mense dit agterkom en desperaat gaan probeer om ander bates as papiergeld te bekom.

Vanweë die waardevermindering van geld, het aandele ook die afgelope tyd ietwat gestyg. Maar die Amerikaanse aandelebeurs is nou so afhanklik van hierdie lae rentekoerse dat enige styging in rentekoerse, soos byvoorbeeld om die waarde van die dollar te probeer beskerm, tot ‘n ineenstorting van die beurs mag lei, iets wat baie maklik ‘n Groot Depressie mag ontketen.

Ook die stryd tussen die Demokrate en die Republikeine in die VSA rondom die sogenaamde fiskale afgrond (“fiscal cliff”) gaan oor ‘n keuse tussen twee moontlik fatale opsies vir Amerika: die verhoging van belasting of die verlaging van staatsbesteding. Ongeag die dosisse waarin hulle toegedien word, gaan beide ‘n uiters negatiewe uitwerking op die Amerikaanse ekonomie hê. Indien die belastingbetaler meer moet betaal, gaan hy minder verbruik en word die ekonomie verder in ‘n resessie gedompel. Net so kan ‘n afname in staatsbesteding ook die ekonomie laat krimp, met min of meer dieselfde resultaat.

Die groot vraag is hoe die voortslepende internasionale geld- en bankkrisis Suid-Afrika gaan raak? Vanweë valutabeheer en ander faktore is Suid-Afrikaanse banke nie regstreeks deur die internasionale finansiële krisis geraak nie, maar hier by ons is die politieke probleem besig om al hoe meer ondoeltreffendheid in die ekonomie te veroorsaak. ‘n Groter wordende deel van die swart elite plunder eenvoudig die staat, die munisipaliteite en groot maatskappye sonder dat hulle enigiets tot die ekonomie bydra. Hoewel ons nie met die enorme staatskuld van ‘n Brittanje, ‘n Griekeland of ‘n VSA te kampe het nie, neem die vertroue in ons ekonomiese stelsel weens korrupsie, onbekwaamheid, asook stakings en geweldpleging, insgelyks af.

Die ander probleem is dat ons ekonomie en veral ons finansiële stelsel sterk aan dié van Engeland gekoppel is. Onder andere besit Barclays reeds vir ABSA en ons banke dryf elke dag handel met die groot Britse banke in Londen. Die komende ineenstorting van Londen sal dus nie Johannesburg ongeskonde laat nie.

In globale terme is die rand ‘n baie klein geldeenheid. Trouens, in Londen word dit as ‘n sogenaamde “eksotiese geldeenheid” gesien wat slegs in klein hoeveelhede verhandel word, anders as die euro of die jen wat byna in miljarde per minuut verhandel word. Daarom kan die waarde van die rand baie maklik deur ‘n groot buitelandse bank gemanipuleer word, net soos wat die LIBOR-koerse deur Barclays gemanipuleer is. Indien die rand drasties sou verswak, sou al ons spaargeld vernietig word en ‘n golf van hiperinflasie soos in Zimbabwe oor ons land spoel.

Een ding wat egter in die rand se guns tel, is die hoeveelheid minerale wat steeds onder ons grondoppervlak verkeer en dus potensiële goud- of platinumreserwes verteenwoordig. Indien mynproduksie egter weens arbeidsonrus soos by Marikana en elders permanent ontwrig word, kan die rand insgelyks binne ‘n ommesientjie verswak, terwyl petrol- en voedselpryse die hoogte inskiet.

Tans beheer die groot banke en versekeringsmaatskappye feitlik al ons finansiële bates, soos aandele, effekte en kontant. Synde sterk onder Britse invloed, is Suid-Afrikaanse banke feitlik deurgaans baie anti-Afrikaans en sou niks daarvan dink om hierdie bates op een of ander manier op te veil en in die bodemlose “swart gat” van die internasionale finansiële stelsel te stort nie. Oor die afgelope paar jaar was daar allerlei onrusbarende maniere waarop gewetenlose bankiers onskuldige middelklasmense se pensioene en spaargeld vir hul eie doeleindes toegeëien het. Ons banke is reeds ten dele betrokke by regeringskorrupsie en die soort “wettige plundery” wat as “swart ekonomiese bemagtiging” bekendstaan. Hulle sou dus niks daarvan dink om ons huidige spaargeld en kapitaal vir hul eie doeleindes aan te wend, met die volle samewerking van Gill Marcus en die Reserwebank nie. In al die vernaamste nywerheidslande het ons onlangs gesien hoe die banke en die regerings saamspan om die gewone man met reuseverliese en belastings op te saal. Selfs mev. Angela Merkel wat hoog en laag gesweer het dat die spaarsamige Duitsers geensins vir die Grieke sal betaal nie, het onlangs daartoe ingestem dat die Duitse belastingsbetaler wel ‘n gedeelte van die Griekse staatskuld sal vereffen.

Dis so goed die Suid-Afrikaanse belastingbetaler word gedwing om Zimbabwe of Swaziland se staatskuld te delg. Uiteraard gebeur dit reeds, want die ANC het al skenkings aan beide lande gemaak, hoewel dit nie van dieselfde omvang is as wat Duitsland aan Griekeland sal moet betaal nie.

Die Afrikaner het reeds alle politieke invloed in die land verloor en loop gevaar om ook sy vasstrapplek in die Suid-Afrikaanse ekonomie kwyt te raak soos wat ons Londen-georiënteerde banke en versekeringsmaatskappye die belang van hul Britse moederland nastreef en nie die belang van hul eie kliënte nie. Ook gaan pensioenfondse gedwing word om in bepaalde regeringsprojekte te belê wat die opbrengs van sulke fondse drasties gaan beïnvloed.

Myns insiens moet Afrikaners met oplossings kom om ons afhanklikheid van die Britse finansiële stelsel en sy gevaarlike, astronomiese skuldlas te verminder. Ons moet ons meer op Switserland rig waar daar groter stabiliteit is. Maar ons moet ook begin om ons eie bates te bestuur, pleks van op die verraderlike bankiers te vertrou. SANLAM en ander instellings wat Afrikaners in die verlede geskep het, is lankal deel van die soort Britse kartel wat Johannesburg, die finansiële sentrum van Suid-Afrika, beheer. Op sy minste moet daar weer ‘n eg inheemse versekeringsmaatskappy gestig word sodat ons nie verder uitgebuit word nie. Op die duur moet Afrikanerkapitaal aangewend word om vir ons mense werk te skep, buite die regstellende-aksie-ekonomie wat ewe groot risiko’s in hom ronddra as dié van Griekeland, Ierland of Brittanje.

Hier vanuit Suid-Afrika gaan ons heel moontlik die finale afgang van Groot Brittanje aanskou, hoe dié land finaal onder ‘n skuldtsoenami in duie stort. Daar mag weer onluste in die strate van Londen uitbreek soos wat mense al hul spaargeld en pensioene verloor en werkloosheid drasties toeneem.

As ons slim is, sal ons verhoed dat ons saam oor die afgrond stort en hierdie moeilike tye eerder as ‘n geleentheid sien om ‘n nuwe ekonomie in Suid-Afrika tot stand te bring. Ons moenie meer afhanklik van Britse banke en mynhuise wees nie, want in die tagtigerjare was dit die manier waarop Suid-Afrika finansieel afgepers is om ons mense uiteindelik tweedeklasburgers in hul eie land te maak.

Indien ons oor die verbeelding en inisiatief beskik om, noudat Brittanje al hoe swakker raak, ons eie finansiële sektor op die been te bring en ‘n Afrikaanse kennisekonomie soortgelyk aan dié van die huidige Duitsland tot stand te bring, kan ons weer in Suid-Afrika koning kraai.

Soos George Osborne, die huidige Britse minister van finansies, vandeesweek tydens sy sogenaamde Herfstoespraak gesê het: “Hulle (die Duitsers) het vele dinge gedoen soos om in opvoeding te belê, wat ons moes gedoen het.”

Hoewel Afrikaners oor die afgelope tyd alle politieke invloed in Suid-Afrika verloor het en ook ekonomies gemarginaliseer is, het ons tog ‘n paar dinge reg gedoen, soos om in ons kinders se opvoeding te belê. As volk is ons verreweg die beste opgevoed en opgelei in Afrika, gemiddeld ook veel beter as die Britte. Ons opvoedingsvlak kan enige tyd met dié van Duitsland of die Skandinawiese lande vergelyk word. Dat van ons mense in armoede moet leef, is ‘n absolute skande.

Dis hoog tyd dat ons daardie Afrikanerkundigheid wat oor geslagte opgebou is tot ons eie voordeel begin aanwend en dit nie in diens van ons oorheersers verkwis nie.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.