Eurokaners en Ameri-kaners

Deel op

Soos twee dae gelede op Praag berig is, word daar tans ‘n Europese weermag op die been gebring wat net nog ‘n spyker in die doodskis van NAVO en die Amerikaanse oorheersing van Europa ná die Tweede Wêreldoorlog verteenwoordig.

Soos Jan Smuts gesê het, word die lotgevalle van Suid-Afrika altyd buite sy eie grense bepaal. Maar ek sou verder gaan en sê: die lotgevalle van die Afrikaner word altyd van elders af bepaal. Waarskynlik geld dié beginsel vir alle kleiner volkere op aarde: Nederland, Finland, die Baltiese state, Lesotho of Swaziland. Tydens die Napoleontiese oorloë het Nederland en België binne enkele jare verskyn en verdwyn, na gelang van veldslae en onderhandelinge tussen Oostenryk, Pruise, Frankryk en Engeland.

Iewers tydens die tagtigerjare is daar in ‘n Britse komiteekamer besluit dat Afrikaners nie meer soewerein behoort te wees nie en is ons ons vryheid ontneem. FW de Klerk en sy broer Willem, die man wat “verlig” en “verkramp” uitgedink het, was maar net marionette in die hande van Brittanje en Amerika wie se nuwe ideologie van “diversiteit”, multikulturalisme en rasvermenging op Suid-Afrika afgedwing moes word. Nelson Mandela was so min of meer die laaste swart leier van die Amerikaanse Burgerregtebeweging. Trouens, voor sy vrylating in 1990 was hy baie meer in die VSA bekend as in Suid-Afrika.

Terloops, gepraat van verlig en verkramp: die “verligtes” had net so min met die Europese Verligting te make as die man in die maan. Willem de Klerk was ‘n Gereformeerde (Dopper-)teoloog van Potchefstroom. Eintlik was die Afrikaner-verligtes fundamentaliste binne die Amerikaanse dampkring wat Nelson Mandela as hul nuwe Christus wou uitroep.

Soos ek vandeesweek in ‘n brief aan Beeld geskryf het, in reakse op die FAK se optimistiese siening van ‘n “blomtyd vir Afrikaans”:

“Onder Afrikaners swaai die NP-zombies egter steeds die septer! Die gewaande laer is deur ’n soort geestelike goelag vervang waar die dwangbuis van kulturele Marxisme en politieke korrektheid rasionele denke verhoed.

’n Aansienlike deel van die Afrikaner-elite is vandag groter konformiste as ooit in die verlede.

Die tegnologiese, politieke en veral demografiese veranderinge wat ons beleef, word nie ontleed en verstaan nie.”

Die nie-denke van die fundamentalistiese De Klerks wat van die ware betekenis van “verligtheid” onbewus was, het op die ramp uitgeloop wat ons vandag in die land beleef. Met antiblanke wetgewing wat ons ekonomies knel en marginaliseer, is die grense boonop oopgegooi. Volgens die jongste sensus staan die bevolking tans op 52 miljoen. En nog is’t einde niet.

Insgelyks in my Beeld-brief, herinner ek mense daaraan dat die bevolking wéér binne die volgende vyftien tot twintig jaar gaan verdubbel om op 100 miljoen te staan te kom. Die implikasies daarvan vir misdaad, water, riolering, skole, universiteite en ander infrastruktuur is natuurlik voor die hand liggend. Saam met die Amerikaanse fundamentalisme gaan die Afrikaner-elite egter aanhou om die voordele van “diversiteit”, regstellende aksie en grondhervorming te predik, terwyl die land al verder in die afgrond versink.

Terloops, terwyl Mandela op Qunu in die vergetelheid verdwyn, het die “Atlantiese Afrikaners” (die oud-verligtes) ‘n nuwe halfgod in Bloemfontein geskep: Jonathan Jansen. Laasgenoemde het ook ‘n draai in Amerika gemaak waar hy die Afro-Amerikaanse ressentiment jeens blankes verinnerlik het, maar ingesien hoe die blanke skuldgevoelens tot sy eie finansiële voordeel gemanipuleer kan word. In sy toespraak vandeesweek by die Helen Suzman-stigting blameer “Djênsen”, soos hy sy van uitspreek, Verwoerd vir die gemors in SA onderwys. Arme Verwoerd.

Teenoor die Atlantiese Afrikaners (Ameri-kaners) en hul Amerikaanse gedweep met diversiteit, staan die Europese Afrikaners (Eurokaners), die ware Verligtes (met ‘n hoofletter) en Patriotte wat hulle op Europa rig. Potjiesdorp, wat glo vandeesweek ‘n DA-munisipaliteit gekry het, is nie ons intellektuele sentrum nie, maar Amsterdam, Parys en Berlyn, die hoofstede van ons stamlande.

Paul Kruger, hoewel ‘n eenvoudige man wat nie veel boeke benewens die Bybel gelees het nie, was nietemin ‘n bewonderaar van die Dietse kultuur wat selfs Transvaalse goud vir die maak van die groot Nederlandse woordeboek geskenk het. In een van die hoogtepunte van ons geskiedenis, het hy en Bismarck mekaar ontmoet, met Paul Kruger wat Afrikaans praat en Bismarck Platduits. Eintlik is Afrikaans en Platduits ewe na aan mekaar as Nederlands en Afrikaans.

Die afgelope tyd ervaar ek ‘n henieude belangstelling in die Afrikaanse taalkunde. In die eerste plek is dit uit noodsaak gebore, want uit die Kaap en veral Stellenbosch is daar tans ‘n intense aanval op ons taal, Standaardafrikaans. Soos ek reeds vroeër verduidelik het, word daar gepoog om Afrikaans as ‘n Derdewêreldse Kreools, ‘n mengeltaal van slawe en Khoikhoi, voor te stel. Enkele jare gelede het die Potchefstroomse taalkundige, prof. Hans du Plessis, by die Voortrekkermonument ons taal as ‘n “gemorstaal” beskryf, waarmee hy wou aandui dat ons eintlik Kreools praat.

Daarmee saam wil die Universiteit van Stellenbosch en die radiostasie RSG Afrikaans “herstandaardiseer” sodat ons almal ‘n gemengde Engfrikaans soos die bruinmense van die Wes-Kaap kan praat en skryf. Soos Leopold Scholtz van Die Burger gesê het, moet ons en die bruinmense “versmelt”.

Soos ek al voorheen hier geargumenteer het, verkeer Standaardafrikaans in die spervuur. Vandeesweek het ek deelgeneem aan ‘n gesprek by Radio Pretoria oor dié kwessie, tesame met André Alkema en Meinhard Peters, met Marianne Roos as die programleier. Dit sal môre-aand om 19.45 uitgesaai sal word, per internet by www.radiopretoria.co.za of FM by 104.2MHertz of 106.6MHertz  indien u in Pretoria of Johannesburg woon.

Ons, die Eurokaners, het ‘n heel ander projek as om te verkreoliseer. Ten eerste gaan ons bewys dat Afrikaans geen Kreools is nie, maar ‘n Wes-Germaanse taal wat naas Algemeen Beskaafde Nederlands en Hoog-Duits een van drie standaardtale is wat vanuit Duitsland en die Lae Lande ontstaan het. Al is ons taal in Afrika gestandaardiseer, is dit volgens Europese norme gedoen en is ons taal steeds verstaanbaar vir 22 miljoen Nederlanders en Vlaminge, asook omtrent 20 miljoen Noord-Duitsers wat almal Platduitse of Nederduitse dialekte praat.

Die meeste Afrikaners behoort mos aan die “Nederduitse” Gereformeerde Kerk. Soos iemand vandeesweek aan my uitwys, is dit nie toevallig nie en strek ons wortels ten minste ewe diep in Noord-Duitsland as in Nederland of Vlaandere.

Dit bring my by die eintlike punt waarmee ek aanvanklik begin het: daar is ‘n groot geopolitieke verskuiwing besig om in die wêreld plaas te vind. Vele Britte vrees ‘n sogenaamde “Vierde Duitse Ryk” of die terugkeer van die “Heilige Romeinse Ryk” waarmee die Duitse oorheersing van Wes-Europa bedoel word. Agter die Griekse skuldkrisis en die gestoei rondom die euro, skuil Britse en Amerikaanse vrese. Wat Duitsland nie op die slagveld tydens die Tweede Wêreldoorlog kon vermag nie, het hy in die sestig jaar sedertdien met harde werk en goeie finansiële bestuur reggekry. Vandag klap die sweep vanuit Berlyn en die Grieke, Spanjaarde, Iere, Portugese en ander staan mooi in die ry.

Die Britse Financial Times, mondstuk van die Londense Stad, die magtige finansiële sentrum van Europa en selfs van Suid-Afrika, raak al hoe meer histeries oor die toenemende Duitse mag en invloed. Die son is besig om vir ‘n tweede keer oor die Britse Ryk onder te gaan, ook oor die Brittanje wat hom oor die afgelope aantal dekades as vassalstaat van die VSA in Europa aangebied het. Die Atlantiese moondhede (die VSA en Brittanje) is besig om te taan en die plat stuk aarde in Noord-Europa (die Platteland!) waar ons voorouers vandaan kom, tel weer kop op.

Sowel Frankryk as die Benelux (Nederland, België en Luxemburg) is reeds in die Duitse kamp. Oostenryk en Wene, die vorige setel van die Habsburg-ryk, is uiteraard deel van dié Europese magsblok. So ook die kleiner lande soos Tsjeggië en Hongarye wat tradisioneel onder Duitse invloed was. Die nuutgevonde entente tussen Duitsland en Rusland tel ook in die guns van Berlyn. Die kombinasie van Duitsland en Rusland troef ‘n VSA wat reeds ideologies, etnies en talig verdeel is, tussen “blou state” en “rooi state”, met Spaans wat vanuit die suide Engels as spreektaal vervang.

Vir ons Afrikaners, Eurokaners, is dit ‘n baie opwindende verwikkeling. Binnekort vind nog ‘n vergadering van die Vlaams-Nederlanse interparlementêre komitee van die Nederlandse Taalunie in Den Haag plaas waar Afrikaans die onderwerp gaan wees.

Met China wat insgelyks ‘n wêreldmoondheid raak, word die Europese konsolidasie al hoe dringender. Ons moet deel word daarvan.

Daarom voel ek baie sterk dat dit belangrik is om diplomatieke kanale met Noord-Europa oop te maak en te bevorder. Daar moet ook veel meer kulturele wisselwerking met Duitsland en Nederland wees, soos daar al by tye in ons geskiedenis was. Kort ná die verwoesting van die ABO, het vele jong Afrikaners in Duitsland en Oostenryk gaan studeer. Verwoerd het ‘n Rhodes-beurs gekry om Oxford toe te gaan, maar hy het verkies om aan die Universiteite van Hamburg, Leipzig en Berlyn te gaan studeer. Hy was ook die eerste student aan die Universiteit van Stellenbosch wat  – voor sy vertrek na Duitsland – sy doktorale proefskrif volledig in Afrikaans geskryf het.

Omtrent alle Afrikaanse letterkundiges, filosowe en leiers van enige betekenis, het op ‘n stadium in Nederland, Duitsland of Frankryk gewoon of gestudeer. Dis tyd dat ons ons van die Engelse wêreld en sy gekke idees oor die multikulturele samelewing wegkeer. Soos ons voorouers moet ons weer aansluiting by die opkomende Middel-Europa vind.

Op Potchefstroom waar hulle tans feesvier omdat hulle nou gedeeltelik onder die gesag van ‘n baie liberale, Engelse vrou in die eertydse koloniale hoofstad, Kaapstad, staan, is dit seker nie ‘n gewilde boodskap nie.

Ons moet egter na die groter prentjie kyk. Ons oorlewing hang daarvan af.

Олександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.