Botman en Nzimande se akademiese losbandigheid

Blade Nzimande roem daarop dat hy die biblioteek van die Universiteit Zoeloeland afgebrand het. Volgens persberigte beskou hy dit as sy hoofbydrae tot die “bevrydingstryd”. Myns insiens behoort enigeen wat ‘n biblioteek vernietig het nie los op straat te loop nie. In enige beskaafde samelewing behoort so iemand lewenslank dwangarbeid te verrig, sodat hy ten minste in ‘n mate die skade vergoed.

Omdat ons ons in ‘n eienaardige samelewing bevind, loop Nzimande nie net los rond nie, maar bevind hy hom in die kabinet van die ANC-regering. Hy is ‘n minister en boonop die minister van hoër onderwys. In sekere opsigte word hy deesdae nie net met die heil van die Universiteit Zoeloeland vertrou nie, maar kan hy sy invloed op al die plaaslike universiteite en ander tersiêre onderwysinrigtings laat geld. Op hierdie manier beïnvloed hy die gehalte van alle onderwys in Suid-Afrika, want aan hierdie inrigtings word die dosente en onderwysers opgelei.

‘n Verdere probleem eie aan Nzimande is dat hy nie net lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party is nie, maar aan die hoof daarvan staan. Voor die algehele oorgawe van die NP aan die ANC in 1990/1994 was dit ondenkbaar dat ‘n kommunis toegelaat sou word om die land se onderwysheil te bepaal. Nzimande se aanstelling het egter geen hoorbare protes ontlok nie. Daar is ook geen sterk weerstand teen sy voortgesette onvanpaste uitsprake en ander aktiwiteite op onderwysgebied nie.

Die ANC spreek hom deesdae ewe skynheilig teen geweld in enige vorm uit. Geweld hoort glo nie in ‘n demokratiese samelewing tuis nie. Met ander woorde, die geweld van die UDF/ANC en hulle meelopers in die “apartheidsera” word as geregverdig beskou; asof die regering toe niks anders gedoen het as om apartheid te bedryf nie. Ingelyks het Nzimande sy deuntjie verander: “Destruction of property … is totally unacceptable and should never be tolerated” (politicsweb, 1 deser).

In die geledere van die plaaslike kommuniste word kort-kort beweer dat tersiêre onderwys gratis moet wees. Dit sou ongetwyfeld ‘n nog groter toestroming van onbekwame kandidate en ‘n nog groter uitsaksyfer tot gevolg hê, asook ‘n verdere verlaging van akademiese standaarde. Ook is dit ironies dat vir gratis tersiêre onderwys gepleit word, terwyl primêre en sekondêre onderwys vir veral wit kinders glad nie meer gratis is nie.

Onlangs het RSG berig dat Nzimande ‘n taakspan gaan aanstel wat al die universiteite moet besoek om die vordering met “transformasie” te monitor. Uit ‘n akademiese oogpunt klink dit na ernstige owerheidsingryping, naamlik afdreiging. Ek het egter nog geen koerantberig hieroor onder oë gehad nie. Blykbaar is dit volgens die insig van ons joernaliste nie danig nuuswaardig nie.

Waaroor wel berig is (bv Die Burger, 12 deser, p 4), is dat Nzimande sy departement ‘n klaringshuis vir alle aansoeke om kollege- en universiteitstoelating wil maak. Aangesien die regering se gebrekkige dienslewering algemeen bekend is, is dit hoogs onwaarskynlik dat hierdie klaring doeltreffend gedoen sal word. Dit sou klaarblyklik enorme addisionele onkoste meebring (vir die eerste fase is R35 miljoen beskikbaar), maar dit word glo as noodsaaklik geag omdat ‘n swarte die vorige rondte in ‘n stormloop om laat registrasie dood is. Bekwame amptenare is noodsaaklik om voorligting en toelating doeltreffend te laat verloop, terwyl die regering waarskynlik geen jota of titel van sy rasgebaseerde indiensnemingsbeleid sal afsien nie.

Hoe die voorgestelde stelsel gaan voorkom dat laatslapers hulle tradisionele gedrag voortsit, word nie gesê nie. Die rektor van Unisa het verwys na die “uitdagings” (‘n kenmerkende ANC-woord) “waar studente nie ‘n kultuur het om vooruit te beplan en vroegtydig by instellings aansoek te doen nie” (Die Burger, 13 deser, p 4). Hy verwys klaarblyklik na swartes. In dieselfde berig wys van die universiteitswoordvoerders daarop dat wat Nzimande beoog nie bloot ‘n gesentraliseerde aansoeksentrum is nie, maar dat hy beheer wil uitoefen oor wie waar studeer. Die topuniversiteite mag volgens Nzimande nie al die topmatrikulante trek nie; hulle moet oor verskillende universiteite versprei word. Dit kom neer op die ANC se bekende voorliefde vir sosiale ingenieurswese.

Hierdie woordvoerders het hulle (glad te) omsigtig teen staatsinmenging uitgespreek. Tereg word beweer dat dit universitêre outonomie aantas. Die troefkaart wat Nzimande hou, is die beheer wat hy oor universiteite se staatssubsidies uitoefen. Hy misbruik hierdie subsidies as hefboom om universiteite te verplig om ooreenkomstig die ANC se wense te verander, te “transformeer”; kortom, om al hoe meer te verswart wat betref studente en personeel. In die proses word Afrikaans as voertaal afgeskaf (soos aan die Universiteit Port Elizabeth en die Universiteit van Wes-Kaapland) of afgeskaal (soos aan die universiteite in Bloemfontein, Johannesburg, Potchefstroom, Pretoria, Stellenbosch, asook Unisa).

Universitêre onderwys in die “apartheidsera” word deesdae graag negatief voorgestel; uitsluitlik om politieke redes. In werklikheid was die akademiese standaarde toe baie hoër as tans. Hierdie feit is teen wil en dank wêreldwyd erken. Die NP-owerheid het toe ook nie befondsing in dieselfde mate as die ANC misbruik om sy ideologie te bevorder nie. Byvoorbeeld, toe Jakes Gerwel die rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland was, het die UWK die reg van die “apartheidsregime” om die universiteit te befonds erken, maar ontken dat die regering matriek en etnisiteit as toelatingsvereistes mag stel. Wat deesdae broodnodig is, is dat al die plaaslike universiteite op hulle universitêre outonomie en op akademiese vryheid moet aandring, minstens in dieselfde mate as tydens apartheid.

Die probleem is dat daar ‘n papbroekige houding teenoor ANC-voorskrifte en -inmenging by al die plaaslike universiteite te bespeur is. Die gevolg is dat sodanige inmenging nie opgehef sal word nie, maar gaan vererger. Daar word toegelaat dat ANC-aktiviste eerder as deurwinterde akademici in sleutelposte (bv as rektore en dekane) aan universiteite aangestel word. Politiek kry voorkeur bo akademiese oorwegings. Daarom verklaar geen universiteit meer dat hy hom uitsluitlik deur akademiese oorwegings laat lei by studentetoelating en die aanstelling en bevordering van dosente nie. Dit verduidelik ook die drastiese verlaging in akademiese standaarde die afgelope twee dekades.

‘n Aantal jare gelede was daar groot beroering in uitsaaigeledere toe bekend geword het dat die BBC se afdelingshoofde primêr beoordeel word nie ingevolge die gehalte van uitsendings nie, maar ingevolge die mate waarin hulle die belange van nie-wittes bevorder. Suid-Afrikaanse universiteite het in ‘n soortgelyke toestand verval. Hulle arbei nie om kompromisloos akademies voortreflik te wees nie, maar om transformasiedoelwitte te bereik. Hulle word daarvolgens deur die ANC-regering beoordeel.

Op 7 September het ek op Praag geskryf oor “die koninkryk van transformasie”, naamlik Russel Botman, die rektor, se Universiteit Stellenbosch (US). Sedertdien is daar ‘n US-transformasieforum gestig om transformasie, dus die toepassing van ANC-beleid, te versnel (Die Burger, 18 deser, p 8). Kortom kom dit daarop neer dat wat tradisioneel eie aan of kenmerkend van die US was of is (bv wittes, Afrikaans) vinniger plek moet maak vir wat vreemd aan die US was of is (bv nie-wittes, Engels).

Al die fakulteite aan die US het opdrag gekry om verslag te doen oor hulle transformasieplanne. Botman: “Hoe divers hulle is – en wat hulle doen om meer divers te raak – gaan hul begrotingstoedeling beïnvloed.” Wat Botman hier mee besig is, is presies dieselfde as wat Nzimande doen. Geld word toegeken ooreenkomstig politieke oogmerke ten koste van akademiese oorwegings. Universitêre outonomie of akademiese integriteit word dus nie net deur die regering gesaboteer nie, maar ook intern deur aktiviste in akademiese poste. Hierteen sal ware akademici hulle rug styf moet maak om te voorkom dat groter en onherstelbare akademiese skade aangerig word.

Александр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.