Gustav Venter se ‘Alrina Smal’ beeld ons ondraaglike situasie uit

Deel op

Die Amigdala van Alrina Smal, roman deur Gustav Venter. Uitgewer: Praag. Prys: R180. ISBN-nr.: 9781920128128. As eboek beskikbaar in die volgende formate: PDF, Epub en Kindle/Mobi.

‘n Uitgewer van my is tydens Mandela se bewind, in die tyd toe ons nog almal mooi drome gedroom het oor die land, deur ‘n swart bende  verkrag  terwyl sy in Magnoliadal besig was om selfmoord te pleeg. Ek is nooit gekonfronteer met hoe sy die verkragting beleef het nie, omdat sy die geheim daarvan na haar graf saamgeneem het. Net soos wat ons, tot met die onlangse verkyning van Die Amigdala van Alrina Smal, genadiglik nooit gekonfronteer is met die laaste belewenisse van soveel geweldslagoffers in die onlangse geskiedenis van ons land nie.

Alrina Smal, ‘n saggeaarde klein meisie met ligte oë en vel en die gewone Afrikanerskuldgevoelens oor die Afrikanererfsonde, wat op die gewone Afrikanermanier reageer deur haar gewig in te gooi  by die opheffing van voorheen benadeeldes in die Nuwe Suid-Afrika, word in die veiligheid van haar huis aangerand. Alrina is ‘n karakter met wie enige welwillende Afrikaner, en daar is baie van hulle, sou kon identifiseer. Dis iemand vir wie ‘n mens net die beste gun, en die spanning in die verhaal hang nou saam met die leser se onwillekeurige betrokkenheid by die goeie, intelligente, sensitiewe vrou met ‘n desperate drang om polities korrek op te tree. Alrina se man betrap die skuldige ‘n oomblik voor dat hy haar fisies sou verkrag, wat “Dít wat met haar gebeur het” statisties klassifiseer as ‘n vlak-twee-aanranding. Die ergste wat haar van “Dít wat met haar gebeur het” bybly, is nie die feit dat sy haar privaatheid en veiligheid inboet na die ondervinding nie, maar dat sy ‘n onverwagse fobie vir alle swart mense ontwikkel. Die skuldgevoelens wat hiermee saamgaan, bring die vraag na vore:“In watter mate het ‘n mens ‘n reg op jou eie subjektiewe maar gegronde vrese?”  En ook: “In watter mate het iemand wat binne ‘n gewelddadige samwelewing leef en nie sy of haar eie vrese gegun word nie, hoegenaamd enige regte?” Dit sou natuurlik beantwoord kon word met die teenvraag: “In watter mate kan iemand met die erfsonde van ‘n Afrikaner hoegenaamd op enige regte aanspraak maak?”

Die pogings om Alrina van haar vrese te genees, is so talryk as wat hulle lagwekkend is:  sy beweeg deur ‘n hele lys van beraders, ontvang  skietlesse, word  deur dikvellige en bemoeisieke omgeegroepies en herbore Christene bepreek en geestelik vermink en ontmoet uiteindelik vir dr. Ters van  Jaarsveld wat, ten spyte van haar heelhartige samewerking, tevergeefs probeer om haar met konfrontasieterapie van haar vrees te genees. Uiteindelike “verlossing” kom op die dag nadat sy aan die einde van ‘n radikale behandelingsmetode uit die kliniek ontslaan word, en die verlossing word terloops toegedien deur Righteous Khumalo  in die uitvoering van sy daaglikse “besigheid”.  

Die karakters in die boek kon my bure in Suid-Afrika gewees het: Die a-politiese, ambisieuse en opportunistiese Ters van Jaarsveld wat die genesing van Alrina Smal sien as ‘n kans om groot naam te maak in ‘n politieke bestel waar haar polities inkorrekte siekte, ‘n onvermoë om haar swart medemens te vertrou en as gelyke te behandel,  as die nr. 1-siekte in die samelewing gereken word. Die vraag of dit ‘n siekte of net ‘n normale reaksie sou wees, kom wel ter sprake in sy kantoor, maar weens die ongerief en gewetenswroeging  wat vrees vir ‘n swart mens in Suid-Afrika tot gevolg het, is dit duidelik dat Ters van Jaarsveld goeie werk doen deur sy radikale ingryping in haar lewe.

Nog ‘n karakter is Alrina se geniale broer wat in Amerika sy doktorsgraad in argitektuur behaal het: ‘n kunssinnige man wat pragtig skilder en klavier speel, maar tot Alrina se teleurstelling die pad byster raak na ‘n onderneming waartydens sy swart vennote hom uitgebuit en sy vrou hom gevolglik verlaat het.  Hy gaan bly in die Koue Bokkeveld waar hy in die aande Rachmaninof speel by die vuur en ‘n Afrikanerstad ontwerp.

Dan is daar die groepie gelowige vroue wat Alrina se fobie aan die sonde toeskryf en haar daarvan probeer verlos op ‘n manier wat haar verder geestelik vermink, en die groepsterapie waartydens sy ‘n gomgatrassis ontmoet wat vir ‘n nag lank deur ‘n bende verkrag is en op wie se opmerkings Alrina tevergeefs sukkel om antwoorde te vind.        

Die boek is uitgegee deur PRAAG, wat dit by voorbaat in sekere literêre kringe “verdag” maak. Net ‘n ideologies oneerlike resensent sou egter kans sien om die aangrypende en uitmergelende vertelstyl, deeglike, fyn gedetailleerde analises van die protagonis se sielkundige belewenisse en emosionele motiverings en die ontstellende eerlikheid waarmee veral die misdaadsituasie in die land bekyk word, te misken. Daarby is die slot, aan die einde van ‘n boek waarin ‘n mens voortdurend op jou tande moet kners om die situasie wat in der waarheid ‘n weerspieëling van ons eie werklikheid is,  te hanteer.  Ten spyte van wat dit voorafgaan, verteenwoordig die vernuftige slot ‘n totale en duiselingwekkende skok op die sisteem.

Die feit dat ’n mens teen jou eie wil erkenning moet gee aan die uitgewer se stelling dat hierdie waarskynlik ideologies een van die mees gewaagde boeke in die 21ste eeu mag wees, terwyl dit in werklikheid maar net  ‘n ingryping op die mees basiese reg op lewe bevraagteken, is ‘n verdere bewys van die absoluut ondraaglike situasie waarna die boek verwys.

Fransi Phillips is die skryfster van elf boeke en beskik oor honneursgrade in filosofie en kunsgeskiedenis. Tans is sy visepresident van die skrywersvereniging Pretoria-PEN en woon in Moskou.

Данильченко Юрий Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.