Die stryd om voortbestaan

Deel op

Iewers het iemand gesê dat “intelligensie bloot die vermoë is om verbande tussen verskillende elemente raak te sien”. Dis hoe die wetenskap immers vordering gemaak het, deur ‘n verband tussen weerlig en elektrisiteit te eien, of tussen die feit dat mense siek word nadat hulle besmette voedsel geëet of gedrink het. Só het Louis Pasteur reeds in 1862 sy eerste eksperimente op melk en wyn uitgevoer deur mikro-organismes daarbinne met verhitting te vernietig.

In ‘n moderne, gespesialiseerde wêreld is dit egter maklik om as “vakidioot” op te tree en niks buite jou eie veld raak te sien nie. Sommige skrywers en veral professionele letterkundiges verbeel hulle dat letterkunde of selfs ‘n taal soos Afrikaans buite enige ander stelsel soos die politieke, die maatskaplike, die ekonomiese, die skool en die gesin kan bestaan.

Jan Smuts het met sy idee van holisme ‘n belangrike eienskap van die biologie, maar ook vele ander dissiplines, raakgesien, naamlik dat “gehele” ewe of selfs meer bepalend as samestellende elemente kan wees.

Een van die boeke wat ek van my pa gekry het, is ‘n bundel essays deur C.M. van den Heever, een van die belangrikste Afrikaanse skrywers van die eerste helfte van die twintigste eeu. Dit heet Die stryd om ewewig. Vandaar dan ook my titel, wat wil aandui dat ons van ‘n stryd om ewewig, wat eintlik iewers ná 1948 oënskynlik gewen is, tot ‘n nuwe stryd om oorlewing en voortbestaan gevorder het. Die Afrikaner en sy taal, Afrikaans, kan vandag ewe maklik vanuit Afrika verdwyn as wat die blanke Rhodesiër uit Rhodesië verdwyn het.

Pretoria-PEN is tans besig om insgelyks ‘n stryd om voortbestaan te voer teen die aanslag wat daar vanuit Stellenbosch en die Kaap teen ons geloods is. Weereens, as ons ‘n meer intelligente ontleding daarvan doen, moet ons die verbande met ‘n groter politieke en maatskaplike stryd raaksien. Dit is nie maar ‘n blote “twis tussen skrywers” soos die godsdiensverslaggewer van Beeld, Neels Jackson, en ander dit aangebied het nie.

Onderliggend aan ons huidige stryd is beheer oor die Afrikaanse letterkunde. Tans word die Afrikaanse letterkunde byna volledig uit die Kaap beheer. Al die groot uitgewerye, wat insgelyks deur ‘n enkele maatskappy, Naspers, besit word, is daar gesetel. U mag nou vra: waarom is beheer oor die Arikaanse letterkunde so danig belangrik? Immers word daar skaars oor die Afrikaanse letterkunde in die pers berig, die meeste Afrikaners stel meer in rugby as in Afrikaanse romans of poësie belang en Afrikaans as taal is reeds in Suid-Afrika so gemarginaliseer dat mense jou skeef aankyk as jy in winkels of staatsdiensgeboue daarop aandring. Britse sienings oorheers in Suid-Afrika vry algemeen. ‘n Mens kan selfs Britse stereotipes van Afrikaners in Afrikaans lees. Eintlik verteenwoordig die Nasperskoerante Brittanje in vertaling.

Ons weet egter dat letterkunde, soos ook musiek, tydens die afgelope 200 jaar ‘n geweldige belangrike rol tydens alle nasionalismes gespeel het. Afgesien van geskiedenis – en eintlik is geskiedenis maar net ‘n onderdeel van “geskrewe letterkunde” – het letterkunde nog altyd ‘n vername rol in die skepping van nasionale identiteite vervul. Só was dit ook tydens die hele reeks Afrikaanse bewegings van die afgelope anderhalf eeu.

Die Afrikanergeskiedenis is reeds so te sê geheel en al vanuit die openbare skoolstelsel, die hoofstroommedia en die universiteite geweer. Maar steeds word die Afrikaanse letterkunde as deel van die vak Afrikaans op skool bestudeer. Vir die Afrikanerfobiese spotprentkunstenaar Zapiro verteenwoordig alles wat Afrikaans is iets uit ‘n oertydperk, ‘n “Jurassic Park”, soos die Hollywood-rolprent met dinosourusse heet. “Iets het egter oorgebly”, soos Zapiro en vele ander vrees en dit is die Afrikaanse letterkunde. Daar bestaan nog Afrikaanse onderwysers en van die slimmer kinders in hul klasse kom onder die betowering van alles wat ons voorouers geskryf het. Daar is al baie daaroor gefilosofeer, maar omdat romans ‘n verbeelde wêreld voorstel, raak dit ewe maklik om jou ‘n nuwe politieke wêreld te verbeel, ‘n wêreld sonder regstellende aksie, sonder geweldsmisdaad en sonder polities korrekte Engels.

Daar is twee maniere waarop daardie “oorblyfsel uit die verlede”, die Afrikaanse letterkunde en die identiteit wat dit steeds definieer, vernietig sou kon word. Die eerste is doodgewone uitwissing, etniese suiwering, sensuur, kultuurmoord en alles wat daarmee saamhang. Tydens die negentiende en vroeë twintigste eeue, het Brittanje alles in haar vermoë gedoen om sodoende van die halsstarrige inheemse Afrikaneridentiteit ontslae te raak en alle blankes voor die voet te verengels. Sekerlik poog die ANC – wat vir ‘n geruime tyd eintlik ‘n Britse surrogaatmag, gesetel in Londen, was – om hierdie beleid toe te pas.

Maar daar is ook ‘n tweede manier om die Afrikaanse letterkunde te hanteer: dit sou behels, nie om dit sonder meer uit te wis nie, maar om dit sogenaamd te “transformeer”. Noem dit die “Kaapse” visie. Daarvolgens moet die inhoud, die interpretasie en die funksie van ons letterkunde revolusionêr verander word om dit as mindere onderdeel van die “Suid-Afrikaanse identiteit” te verdra.

Vandaar dus die “gevaar” wat die voortbestaan van ‘n vereniging soos Pretoria-PEN sou verteenwoordig. Nie omdat dit hoegenaamd deur enige nasionalistiese ideologie – hoewel om skrywers in jou eie taal te hê, is vir globaliste en imperialiste seker iewers ‘n aanduiding van “nasionalisme” – aangevuur word nie, maar omdat ons outonoom optree. Soos Fanie Olivier dit op Stellenbosch gestel het, ons “loop rond in Kaïro se strate en filosofeer met Afrika-skrywers”. Ons ken nie ons plek nie. Dit was dan ook die oorspronklike beswaar van die Engelstalige skryfster Nadine Gordimer teen enige vorm van Afrikaanse skrywersorganisasie, dat ons op ‘n sekere manier ons “neerlaag moes aanvaar”. Die nuwe hegemonie van Engels in Suid-Afrika het volgens Gordimer beteken dat ons ons by Engelse reëls moes neerlê en selfs die meerderwaardigheid van die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde moes aanvaar.

Nou is dit so dat die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde, hoewel dit twee Nobelpryse opgelewer het, glad nie oor die rykdom en verskeidenheid van die Afrikaanse letterkunde beskik nie. Toe ek aan die Engelse universiteit in Johannesburg gestudeer het, het meeste van die Engelssprekende studente wat Afrikaans geneem het, dit geredelik erken. Wat hulle van die Afrikaanse letterkunde geboei het, was ons modernisme (met so ‘n geurtjie van Frankryk), ons direkte, onopgesmukte styl, ons plaaslike geworteldheid. Anders as in Nadine Gordimer of J.M. Coetzee, word ‘n “koppie” nie gewalifiseer as “one of those typical cup-shaped hillocks found on the South African plateau known as the Highveld” nie, maar word die woord net gebruik en ons almal verstaan onmiddellik waarvan die skrywer praat.

Sommige mense meen dat letterkunde, soos rekenaarjargon, ‘n “unversele taal” is wat bloot in sekere dialekte vertaal word. Letterkunde behoef geen tradisie en geen verbintenis met ‘n volk nie. ‘n Speurroman wat in New York, die wêreld se bekendste stad, afspeel, sou seker die mees universele aanklank kon vind. Hiermee moet ons egter verskil. Een van die grootste literêre teoretici van die twintigste eeu, wat ook in die VSA in vertaling baie gewild geraak het, was die Fransman, Roland Barthes. Een van sy mees fassinerende idees was dat ‘n boek of ‘n teks “‘n bietjie lyf moes wys”.

As student het ek ‘n jaar of twee van my lewe bestee om te verstaan wat hy daarmee bedoel en in die proses ook ‘n Meestersgraad in Vergelykende Letterkunde verwerf. Soos vele van sy tydgenote, het Barthes van woordspel gehou. In Frans is die woord “corps” baie algemeen, afgelei van die Latyn “corpus” wat “lyf” of “liggaam” beteken; selfs in Engels word daar mos gepraat van “a body of literature”. Elke letterkunde in elke taal is so ‘n “corpus”, maar dit word ook onderskei deur die nasionale eienaardighede, die hebbelikhede, asook die vreemde simbiose tussen klimaat, landskap en taal wat so ‘n letterkunde kenmerk. Elke individuele skrywer is nie maar net die produk van sy tyd, omstandighede en opvoeding nie, maar beskik ook oor ‘n unieke styl en persoonlikheid wat neerslag in sy werke vind. Ook daarop het Barthes gesinspeel met die metafoor “lyf” en om “lyf te wys”.

John Miles, een van die Kaapse skrywers wat tans teen Pretoria-PEN agiteer, het niks van Roland Barthes gehou nie en het gemeen hy is “te moeilik of abstruis om te verstaan”.

Ons taal is egter so naby aan ons dat dit as’t ware deel van ons lyf is. Die aanslag op Afrikaans en op die Afrikaanse letterkunde verteenwoordig daarom ‘n intieme besering, wat as’t ware met ‘n vuishou toegedien word.

Gedagtig aan waar ek begin het, met die soms ongesiene verbintenisse tussen dinge, is daar nog ‘n verdere rede waarom Afrikaanse skrywers, of dan sommige van ons, tans in die spervuur staan. Dit is omdat die Anglo-Amerikaanse multikulturele model in Suid-Afrika misluk het. Jare lank is die korrupsie, anti-wit rassisme, ekonomiese plundery en onbekwaamheid van die ANC weggesteek omdat dit nie die Britse joernaliste en hul plaaslike sikofante gepas het om daaroor te praat nie. Maar toenemend vind daar ‘n revolusie in die kleine plaas soos wat die hopeloosheid van die Suid-Afrikaanse politiek tot in Brittanje en die Britse media deursyfer. So pas het die invloedryke Britse tydskrif, The Economist, ‘n verdoemende artikel oor die agteruitgang in Suid-Afrika geskryf. Ons vaar glo nou “slegter as die res van Afrika” en Nigerië gaan ons ekonomies verbysteek.

Die morele, politieke en ideologiese bankrotskap van die Suid-Afrikaanse bestel, maak Afrikaanse skrywers soveel te meer “gevaarlik”. Omdat ons werke so ‘n intieme plaaslike inhoud het, mag lesers net verder onder die indruk van die maatskaplike verval onder “postapartheid” kom.

Vandaar dus die behoefte aan groter beheer, dat ons onder geen omstandighede outonoom mag optree en aansluiting by buitelandse skrywers moet soek nie. ‘n Skrywer wat in meer as een sin van die woord “soewerein” begin dink, sonder om deur die heersende ideologie ingehok te wees, verteenwoordig inderdaad ‘n gevaar vir die samelewing. Veral ‘n samelewing soos dié van Suid-Afrika wat kunsmatig en met druk en ingryping vanuit die buiteland tot stand gekom het.

Die argitekte van dié bankrot bestel (Brittanje, Swede, Noorweë), asook die spulletjie Afrikaanse skrywers wat in 1989 as “bruikbare idiote” Dakar toe gereis het om daar aan die voete van Thabo Mbeki oor “‘n gedeelde Suid-Afrikaanse kultuuridentiteit” te gaan swymel, sal alles in hul vermoë doen om hul mislukking te verdoesel of te ontken. Pleks dat die bruikbare idiote hulself blameer, soek hulle na sondebokke by die nugter denkendes en val ons op allerlei onderduimse en agterbakse maniere aan, terwyl hulle aan Moeder Brittanje se rokspante vasklou.

Trouens, die wyse waarop die “Stellenbosch-PEN”, soos sommige reeds daarna verwys, hulle op ingryping deur enkele Britse amptenare verlaat op wie se etniese vooroordele jeens ons hulle kan reken, is eintlik lagwekkend. Dis amper die verhaal van die hensoppers en die National Scouts weer oor.

Onlangs kom ek in Die groot aanhalingsboek op die volgende weermaggesegde af: “Wenners hou nooit op nie; ophouers wen nooit nie.”

Gistermiddag toe ek in die gange van die Johannesburgse Hoë Hof rondgedwaal het op soek na die dringende regter, het ek soms gewonder of dít alles die moeite werd is, die rompslomp en tyd wat ‘n mens moet afstaan om die Kaapse aanslag op ons af te weer. Maar dan word ek weer herinner aan daardie gesegde.

Al moet ons nou appelleer tot by die House of Lords in Engeland, gaan ons hierdie stryd nóg gewonne gee, nóg verloor. Aangaande die House of Lords: as Statebondland, staan die House of Lords bokant ons Grondwethof, dus is dit teoreties moontlik om ‘n hofsaak wat in die Grondwethof verloor word, op appèl na die House of Lords te neem.

Anders as wat Gordimer dink, aanvaar ons nie die neerlaag nie. En lank voor ons by die House of Lords kom, sal die waarheid wel seëvier en sal ons gelyk gegee word.

Фильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.