Georgië? Boere moet hul koppe laat lees!

Niko Buri (Niko die Boer), is glo wyd bekend in Georgië skryf ‘n joernalis van Landbouweekblad. Dié anekdotiese juweeltjie is blykbaar genoeg om Afrikanerboere te oorreed om sak-en-pak na ‘n onstabiele land in Oos-Europa te trek, glo die TLU en Media24.

Dié landbou-organisasie en Media24 se antwoord op grondonteiening en plaasmoorde in Suid-Afrika is dus om boere aan te moedig om te vlug en betrokke te raak by ‘n veel groter stryd, naamlik dié tussen NAVO en Rusland.

Die regering van Georgië, met die hulp van die TLU, is druk besig om Afrikaners van hul grond af te lok deur ‘n hervestigingsinisiatief, om “weg te kom van plaasmoorde”. Hulle gaan ‘n ou murasie restoureer om as “volwaardige museum” en inligtingsentrum te dien vir Niko die Boer en die Anglo-Boereoorlog.

Media24 se verslaggewer was ‘n gas by die opening van ‘n “voorlopige” Anglo-Boereoorlog-museum in Tbilisi, hoofstad van Georgië, hoofsaaklik gewy aan Nico Bagrationi.

Georgië is pas getref deur ‘n verwoestende skandaal nadat dit aan die lig gekom het dat die model-gevangenis wat deur die EU opgerig en betaal is, sodomie met besems en foltering op ‘n daaglikse basis toelaat. Elders in Georgië se tronke gaan dit glo ook ewe beroerd wat menseregteskendings betref.

Nadat Australië weens druk op die tuisfront besluit het om hul magte uit Afghanistan te onttrek, het Georgië aangekondig dat hulle die troepe sal voorsien wat nodig is om die Amerikaanse magte by te staan. Georgië is gretig om deel te word van NAVO, en het daarom dié stap aangekondig.

‘n Magnaat wie se rykdom gelyk is aan byna die helfte van Georgië se ekonomiese uitset, Ivanishvili, het verlede jaar sy politieke beweging van stapel gestuur met oproepe vir Michael Saakashvili, die huidige leier, om te bedank.

Saakashvili het die Weste se politieke liefling geword toe hy met die bloedlose “Rose Revolusie” in 2003 aan die bewind gekom het, gefinansier deur George Soros.

Sakaashvili het in 2010 ‘n neofiet as Georgië se nuwe ekonomieminister aangestel. Vera Kobalia, is deur die Georgiese president in ‘n Vancouver se ontkleeklub opgemerk. Kobalia, ‘n Kanadese burger,  was toe 28 jaar oud, met geen politieke ervaring nie. Dit was nie die enigste uitdaging in haar nuwe werk nie: Sy moes die bestuur van ‘n ​​ekonomie behartig wat gekrimp het met ‘n yslike sewe persent in een jaar.

Teenstanders beskuldig Saakashvili dat hy geen politieke vryheid toelaat in ‘n land met 4,7 miljoen mense wat ‘n belangrike transitoroete vir olie en gas oor die onvoorspelbare Kaukasus is nie. In 2008 was Georgië in ‘n kort, maar rampspoedige oorlog met Rusland gewikkel.

President Medwedef het in ‘n openhartige gesprek met lede van die Valdai Besprekingsklub ‘n paar jaar gelede kommentaar gelewer op die “dwelmverslaafde president Saakashvili”. 

“Die Georgiese hoof van die staat is net nie ‘n man met wie ons sake doen nie. Hy is ‘n onvoorspelbare, patologiese en geestelik onstabiele dwelmgebruiker. Westerse joernaliste, wat met hom onderhoude voer, weet dit! ‘n Twee-uur-lange onderhoud in ‘n bedwelmde toestand. Dit is te erg vir ‘n hoof van die staat. As NAVO so ‘n leier wil hê, moet hulle maar voortgaan.”

Die werwing van Afrikanerboere om Georgië te gaan beset, kan dus net tot hulle nadeel wees, aangesien selfs die korttermyntoekoms van die land nie rooskleurig lyk nie.

Die selfloosheid van die Georgiese regering drup van onegte belangstelling. Praag kon intussen vasstel dat talle Georgiese burgers geen idee van Afrikaners het nie en ook nie weet waar die Boere vandaan kom nie.

‘n Gedenkplaat met inskripsies in Georgies en Engels is met die samewerking van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) by die murasie aangebring. Dit lui: “Nico Bagrationi (Nico the Boer) was born and lived in this house. The memorial board was put up with the support of South African Boer farmers to honour the memory of Nico Bagrationi, Georgian patriot fighting for their freedom in 1899-1902.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie, lei die uittog na NAVO se jongste poging om spanning in die Kaukasus te skep.

Dit is egter duidelik dat boere nie begryp in watter geopolitieke byenes hulle hulself in begewe nie

Vir die TLU en Media24 is dit “interessant en betekenisvol dat juis die regering van Georgië die TLU verlede Mei gekontak het om kundige Afrikaanse landbouers te werf”.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.