Grondwetlike vorme van Selfbeskikking en Konfederalisme as raamwerk vir territoriale selfbeskikking

Die oogmerk van hierdie analise is om te fokus op verskillende moontlikhede vir die realisering van selfbekikking binne die konteks van die Grondwet van SA 1996. Daar is waarskynlik ook buite-grondwetlike moontlikhede, waarop nie ingegaan word nie. Ander sal dit doen!

Tesestelling:                                                                                                                                       As tese word aangebied dat daar verskillende vorme van selfbeskikking  vir taal-, kultuur- en godsdiens- en ander gemeenskappe in die Grondwet van SA (1996) vervat is, wat komplementerend tot en vir mekaar kan wees en dat die Grondwet self territoriale selfbeskikking in artikel 235 beperk tot interne selfbeskikking, vanwee die segskrag van die Aanhef en van artikel 1.

Grondwetlike beperkinge:

Die Grondwet van SA is die hoogste reg en enige optrede wat daarmee onbestaanbaar is, is ongeldig[1].

Die Aanhef tot die Grondwet asook die grondliggende bepalinge kan alleen met ‘n vyf-en-sewentig persent meerderheid in die parlement gewysig word. Die Aanhef bepaal dat SA “behoort aan almal wat daarin woon”, verenig in die “verskeidenheid daarvan”. Die Republiek van SA word verder gekwalifiseer as “een, soewereine, demokratiese staat”[2]. “Een … staat” beteken waarskynlik onverdeelbaar.Terwyl erkenning aan die volkeregtelike gewoontereg in die RSA gegee word, het dit net regskrag in die mate waarin dit met die grondwet bestaanbaar is[3]

Sommige artikels van die Handves van Regte van die Grondwet word deur die beperking-van-regte-artikel[4] beperk, maar in ander gevalle word ‘n bepaalde artikel in ‘n artikel self beperk[5] .

Die reg van ‘n taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskap op territoriale selfbeskikking[6] word onderhewig gemaak aan die reg op selfbeskikking van die “bevolking in die geheel”. Dit beteken waarskynlik dat die bevolking in die geheel by wyse van ‘n  referendum sy instemming sal moet verleen vir enige selfbeskikking buite die territoriale ruimte van die RSA.

‘n Ander beperking is dat nasionale wetgewing ‘n voorwaarde is vir die realisering van selfbeskikking binne ‘n territoriale entiteit in die RSA of op “enige ander wyse”.

Vir die doeleindes van hierdie voordrag word selfbeskikking dus gedefinieer as die reg van ‘n gemeenskap – wat na taal, kultuur,  beskawing en lewens- en wereldbeskouing –  anders is as die res van die gemeenskap (of gemeenskappe) om oor sy eie interne lot te beskik,  maar desondanks in breer verband met ander op ‘n regionale verband sal saamwerk vir die realisering van gemeenskaplike (regionale) belange.

In hierdie dokument word ‘n konfederale staatsbestel van die SACU-lande as raamwerk vir territoriale selfbeskikking vir alle etniese gemeenskappe binne die regio gesien. Van hierdie lande – soos Botswana, Lesotho en Swaziland – is reeds etniese volkstate, wat sekerlik nie hulle interne etniese samestelling sal prysgee nie.

Die implikasie is dat territoriale selfbeskikking binne ‘n ander groter politieke konteks – genaamd konfederalisme –  as tans  realiseerbaar is. Dit beteken dat volkere in RSA – soos die TBVC-gemeenskappe – asook die Afrikaner, die opsie kan uitoefen om uit die RSA te tree, maar tog binne die konfederale staat te bly. Die implikasie is verder dat binne hierdie voorsiende konfederale staat die reg op sesessie in die grondwet daarvan ingeskryf sal moet word. In hierdie verband is die grondwet van die ou USSR (Unie van Sowjet Sosialistiese Republieke) ‘n goeie voorbeeld.

Wat RSA betref word – binne die Grondwet 1996 – tussen die volgende selfbeskikkingsmodelle onderskei:

1.               Kulturele selfbeskikking[7] vir kultuurgemeenskappe waar hulle woon.

2.               Territoriale selfbeskikking[8] binne die grondgebied van die RSA .

3.               Kantons in terme van opgegradeerde gemeenskapsrade[9].

Dit is nie die een of die ander nie, maar modelle wat in samehang met mekaar bevorder kan word. Waarom: omdat etniese gemeenskappe – soos die Afrikaner –  wyd verspreid leef binne die grondgebied van die RSA. Selfs al sou territoriale selfbeskikking bekom kan word, bly kulturele selfbeskikking ‘n opsie vir diegene wat buite ‘n vermeende volkstaat sal leef en hulle brood daar waar hulle woon vernied.

Kulturele selfbeskikking: 31(1)(b)

1.               Die Afrikaner is ‘n kultuurgemeenskap van ‘n besondere aard.

2.               Vanweë ondertrouery en saambly oor tyd het die Afrikaner ‘n min of meer gemeenskaplike      genepoel bekom, analoog aan bv. Duiters in Duitsland of Hollanders in Nederland.

3.               Die individu asook die gemeenskap reflekteer in sy wyse van bestaan die  verworwe           genepoel, want die genepoel maak moontlikhede oop maar plaas ook beperking op.

4.               Antropologies gesproke is die mens (m) die produk van siel (s) maal liggaam (l):   m = sl.

5.       Daar  moet egter gewaak word teen beide ‘n sosiale of ook biologiese determinisme.

6.               Alhoewel die sosio-kulturele omgewing belangrik is, is dit nie deurslaggewend nie.

7.               Die kollektiewe identiteit van die Afrikaner vind sy neerslag in sy instellinge: huwelik, gesin, kerk, politieke organisasie, bedryfslewe, en  onderwysinstellinge, onder meer.

8.               Ingevolge van die Grondwet van SA het die Afrikaner die reg om kulturele instellinge te           skep, in stand te hou, en om daarby aan te sluit[10].

9.               Die Afrikaner sal in sy verhouding tot die owerheid van die dag in georganiseerde verband  moet aandring op die interne outonomie/selfbeskikking vir sy instellinge: vrye instellinge wat verstaatliking uitsluit.

10.   Die Afrikaner sal moet oorgaan tot die daarstelling van ‘n handves van taal- en kultuurregte[11]. So bv. bestaan daar reeds ‘n burgerlike Godsdiensraad vir die beskerming        en bevordering van godsdiensregte[12] volgens ‘n handves van regte.

11.   Hierdie handves van kultuurregte vir outonome kultuurinstellinge sal deur ‘n Raad[13] (Council) beskerm en bevorder moet word — wat ook  met die owerheid in onderhandeling kan gaan.

12.     Bg veronderstel aansluitende samewerking tussen alle instellinge wat selfbeskikking in al sy vorme najaag.

 

Gemeenskapsrade (185) en Kantons vir Gemeenskapsrade met ‘n spesifieke        Afrikaner etniese karakter

Vyftig beskermhere het op 12 November 2011 oorgegaan tot die aanvaarding van (a) ‘n Handves van Regte op die derde vlak van regering en (b) formasie van ‘n Raad vir die bevordering en beskerming van die Handves van Regte.

Die opstelling van die handves word moontlik gemaak deur a.234 van die Grondwet van SA, wat alternatiewe handveste naas hoofstuk 2 legitimeer.

Die raad vir die bevordering en beskerming van die handves hou verband met artikel 185 waar voorsiening gemaak word vir taal-, godsdiens-, kultuur- en ander rade wat by die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van Regte om registrasie kan aansoek doen.[14]

 

Dit is die grondwetlike reg van organe van die burgerlike samelewing om hulle grondwetlik as rade[15] te struktureer, ten einde die demokrasie[16] te versterk.

Die grondwet wil graag toestande skep vir die lewensgehalte[17] van die burgery wat op sodanige regte geregtig is[18] . lkeen het die reg op ‘n omgewing deur wetgewende en ander maatreels [19] wat nie skadelik is nie.

Die National Environmental Act [20] definieer omgewing as die omwereld van die mens wat die landskap, water en lug insluit, asook mikro-organismes en plante wat nodig is vir die bestaan van  water- en landsdiere.

Die handves 1996 verwerp praktyke en situasies wat ekologiese agteruitgang in die hand werk [21].

Inmiddels word die plig op die staat geplaas om gesondheidsorg, skoon water en gesonde voedsel vir die bevolking te voorsien[22].

Ook die reg op sanitasie is begrepe in die reg op behuising [23] en deel van die reg op ‘n gesonde omgewing.

Hierbenewens het elkeen die reg op regverdige administratiewe optredes wat regmatig, redelik en prosedureel billik[24] is, asook op inligting[25] wat nodig is vir die beskerming van regte.

Hierdie handves steun swaar op artikel 31(1)(b) wat bepaal dat persone of kategoriee van persone kultuur-, godsdiens-, en taalvereniginge en ander organe van die burgerlike samelewing mag vorm, in stand mag hou en daarby mag aansluit.

Gevolglik is oorgegaan tot die formulering van ‘n raad vir die bevordering en beskerming van bg. regte.

Die raad is ‘n grondwetlike liggaam van die burgerlike samelewing [26].

‘n Aantal stigterslede is beskermhere van die raad [27]. Die raad desentraliseer homself in plaaslike gemeenskapsrade en in die geval waar ‘n raad ‘n eksklusiewe etniese karakter het, kan sodanige raad homself as kanton struktureer. Kantonne kan federaal met mekaar skakel en ook met ‘n volkstaat as dit sou bestaan.

Die raad vestig elf koukusse[28], wat onder meer regsaangeleenthede[29] , watervoorsiening[30] en die omgewing[31] insluit.

Die doelwitte van die raad is om gemeenskapsrade op soveel dorpe en stede as moontlik tot stand te bring[32] waarby ander instellinge van die burgerlike samelewing, soos belastingbetalersvereniginge kan affilieer, onder meer.

 

Territoriale Selfbeskikking 235

1.                          Bewese steun is onontbeerlik vir territoriale selfbeskikking vir die                      Afrikaner (vgl die VF-akkoord tussen die VF, die ANC en die NP).

2.               Sodanige selfbeskikking sal met die owerheid beding moet word.

3.               ‘n Afgebakende gebied – analoog aan Orania – is ‘n sine quo non.

4.               De facto konsolidasie van getalle en maksimalisering van vermoëns is               waarskynlik ‘n voorwaarde vir de jure erkenning.

5.               Omdat die Grondwet sesessie in beginsel in die Aanhef van die                        Grondwet en in artikel 1 uitsluit sal selfs territoriale selfbeskikking                           intern wees .

6.               Die formulering van ‘n interne Grondwet vir die territoriale                                entiteit/volkstaat behoort  geformuleer te word.

Daar is reeds daarop gewys dat territoriale selfbeskikking, vanwee die betrokke grondliggende[33] en grondwetlike[34] bepalinge van die grondwet (1996), net binne die grondgebied van die RSA realiseerbaar is.

J. D. van der Vyver[35], die bekende grondwetkenner en staatsregsgeleerde, steun op ander deskundiges[36] en skryf dat die reg van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe nie ‘n onbeperkte reg is nie en nie die reg op politieke onafhanklikheid insluit nie. Ook die reg op sesessie is uitgesluit, want die reg op selfbeskikking “is invariably linked to the territorial integrity of states”. Van der Vyver  wys daarop dat die VN se dokument oor “limitation of self-determination” [37] selfbeskikking voorwaardelik (conditional) maak en nie inbreuk maak op die territoriale integriteit of politieke eenheid van soewereine en onafhanklike state nie. Ook die hoogste hof in Kanada maak ‘n duidelike verskil tussen die reg op selfbeskikking en sessie.

Om dus onafhanklike selfbeskikking te verkry sal die grondliggende bepalinge van die grondwet deur ‘n vyf-en-sewentig persentasie stemme gewysig moet word, plus ‘n referendum om die reg op selfbeskikking van die bevolking in die geheel daaroor te toets.

Die ander alternatief is dat binne die politieke bestel van SA ‘n konfederale staatsbedeling bevorder moet word.

Dit kom neer op die konfederalisering van Suider Afrika, baie soos die Oos-Afrika Unie wat in 2006 tot stand gekom het, met ‘n nuwe oorkoepelende parlement. Nog ‘n voorbeeld is Noord Ierland se selfbeskikking wat alleen kon plaasvind met die herstrukturering van Skotland, Wallis en Noord Ierland se onderskeie vlakke van selfbeskikking en binnelandse outonomie.

Die totstandkoming van ‘n Konfederale Suider Afrikaanse Gemeenskap van State is derhalwe ‘n geskikte grondwetlike raamwerk  vir die realisering van 235 en ander vorms van selfbeskikking as dit nie as apartheid gesien moet word nie.

So ‘n staat moet dus aktief bevorder word deur ‘n politieke partry, asook drukgroepe plaaslik en in die buiteland. Die RSA as ‘n federasie sal ruimte moet maak vir groter outonomie vir territoriale volkstate soos alle Suider-Afrikaanse etniese volkstate soos die BLS-lande:  Botswana, Lesotho, Swaziland.

Die reg op sesessie sal in ‘n konfederale grondwet ingeskryf moet word, soos dit die geval was in die grondwet van die Unie van Sosialistiese Sowjet Republieke.

Alle TBVC-tuislande soos die Transkei, Bophuthatswana, Venda en  Ciskei asook  Zoeloeland, en KwaNdebele sal net soos ‘n Afrikaner volkstaat aan die te skepte konfederale staat wil behoort, in die realisering van gemeenskaplike doelwitte en ekonomiese belange.

Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap

Die bestaan van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap – hierna genoem SADC –  met sy vyftien lidlande, onderstreep die noodwendige noodsaak van sosio-ekonomiese integrasie. Die Lusaka Deklarasie van April 1980 van nege state is later uitgebrei na ‘n vrye mark sone in 2008.

Binne hierdie Ontwikkelingsgemeenskap vorm die sg. SACU-lande – RSA, Botswana, Lesotho, Namibie, Swaziland – ‘n hegter geografiese eenheid, wat nog om grondwetlike omlyning en staatkundige herdefiniering wag.

Die ontwikkeling van die idee van ‘n konfederale staat van die SACU-lande open die deur vir territoriale selfbeskikking vir verskillende etniese gemeenskappe wat desondanks op ‘n regionale basis met ander gemeenskappe wil saamwerk vir die realisering van ‘n gemeenskaplike doel.

Slotbeskouing

Dit is duidelik dat daar binne die konteks van die Grondwet verskillende aansluitend tot mekaar opsies is wat ‘n georganiseerde Afrikmanerdom kan gebruik om selfbeskikking in verskillende grade van outonomie.

Dit veronderstel egter ‘n volkswil en organisatoriese vaardigheid, wat, as beide ontbreek, eintlik die doodklok vir die Afrikaner laat  lui.

Die vraag is: wil u voortbestaan as ‘n vrye volk in ‘n veeletniese land?

Ek hoop u wil!



[1] Grondwet artikel 2.

[2] Grondwet artikel  1 (1996)

[3] Grondwet artikel 232 (1996).

[4] Grondwet artikel 36 (1996).

[5] So beperk die onderwysartikel die reg op onderwys volgens ‘n bepaalde religieuse rigting en volgens ‘n eie etos tot onafhanklike instellinge, wat op eie kostes opgerig en instand gehou moet word.

[6] Grondwet artikel 235 (1996).

[7] Grondwet artikel 31(1)(b).

[8] Grondwet artikel 235 (1996).

[9] Grondwet artilkel 185 en Wet 19 van 2002.

[10] Grondwet artikel 31(1)(b).

[11] Grondwet artikel 234: Ten einde die kultuur van demokrasie te versterk  kan die Parlement Handveste van Regte anneem.

[12] Grondwet artikel 15 (1996).

[13] Grondwet artikel 185 en Wet 19 van 2002.

[14] Sodanige aansoek is in November 2011 by die 185 Kommissie ingestuur, sonder sukses tot dusver.

[15] Grondwetlike artikel 185(1)(c).

[16] Hoofstuk 9 instellinge van die Grondwet van SA 1996.

[17] Aanhef van die Grondwet van SA 1996.

[18] Grondwet artikel 8(4).

[19] Grondwet artikel 24(a) en (b).

[20] Wet 107 van 1998.

[21] Grondwet artikel 24(b) (iii).

[22] Grondwet artikel 27.

[23] Grondwet artikel 26(1).

[24] Grondwet artikel 33.

[25] Grondwet artikel 32.

[26] Grondwet artikel 31(1)(b) en 185(1)(c).

[27] NBR Raad artikel 2.2.

[28] NBR Raad artikel 4.3.

[29] NBR Raad 4.3.1.

[30] NBR Raad 4.3.(2).

[31] NBR Raad 4.3(4).

[32] NBR Raad 4.5.1.

[33] Die RSA is een, soewereine, demokratiese staat (artikel 1).

[34] Selfbeskikking is (a) ondergeskik aan die reg van die bevolking as geheel en (b) onderhewig aan nasionale wetgewing (artikel 235).

[35] The Right to self-determination of cultural, religious and linguistic communities in SA. PU vir CHO.  ISSN 1727-3781.

[36] Van Dyke Human Rights 88; Berman 1998 Wisc Int’l L J 87; Emerson 1971 AJIL 464-65.

[37] 1993. World Conference on Human Rights.

Лобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.