Hoggenheimerslawe en Godwin se wet

Vir verkrampte linkse apparatsjieks wat danksy ‘n hongerloon ons Hoggenheimermediabase gelukkig hou, was die Marikana-massamoord gelukkig geen intellektuele uitdaging nie.

Danksy Godwin se wet wat lui Reductio ad Apartheidum, is hulle gevrywaar van enige iets wat nie op ‘n emosionele analogie staatmaak nie. “Denke” deur analogie is weliswaar ‘n ou Engelse kwaal, maar die siekte floreer skynbaar in Afrika waar logika al eeue lank met meer as gesonde wantroue begroet word.

Dis weer ‘n Sondag op die analogiefront wat nie teleurstel nie. Van Pierre de Vos tot Ferial Haffajee en Mandy de Waal, het almal Godwin fluks afgestof om ‘n identiteitskrisis wat soos ‘n karbonkel tussen die reëls uitstaan, te salf.

Daar is seismiese internasionale verwikkelinge wat uiteindelik hierdie intellektuele eensellige diere self onder die indruk sal bring van hoe ver onder in die voedselketting hulle verkeer, maar hulle tik en twiet nog lustig uit die spysverteringstelsel van hul opperwese.

Daar in die krimpende beskerming van die modderpoeletjie van verbete linksheid, is die stryd om suurstof fel.

Mandy de Waal lewer weer uitmuntende bewys van die vermoë om geen behoorlike navorsing te doen nie, of dalk die navorsing wat gedoen is te begryp nie. Sy het darem die Grondwetter De Vos om na te volg op sy blinde weg na ‘n stamregstelsel.

Dié twee het uitgewyk na die linkerlinksheid van digte modder, te wete Daily Maverick, wat slagspreuke soos “brein-porno” by hul artikels plaas. Inderdaad.

Haffajee in Citypress weer, sien Cyril Ramaphosa in kakieklere in haar geestesoog, terwyl sy teks laat fabriseer oor Malema se haat teenoor die “Boere-mynbase”.

Regtig? Boere-mynbase? Vergesigte van Cyril in kakie kan seker nog deug, aangesien die kode nie heeltemal net AWB impliseer nie.

Dis ook die kleur van die welaf kolonialis se uitrusting wat oor sy gealkoholiseerde gemmerlim die kim van sy plundertog bewonder. Dus, die Engelsman se bosuitrusting, asook sy Afrikaanse troetelnaam, is kakie par excellence, as’t ware aan die AWB bemaak.

As sy nog geskryf het oor die “two-tone”-hemp, sou sy seker meer in die kol gewees het. Maar ek wil nie tot haar verwarring bydra nie.

En hier sou ‘n analogie helaas nie oorbodig wees nie: Haffajee se kulturele kodes is so deurmekaar soos groentebrei in ‘n tuimeldroër. Waar haar identiteitskrisis haar in die steek laat, het sy darem ‘n klank van uiterste verontwaardiging behou, musiek in die eensellige wese se oor.

Terug na De Waal wat geen snars omtrent wette en hul oorsprong verstaan nie. Om haar daarop te wys dat die een “apartheidswet”, die een oor “gemeenskaplike doel”, nie die enigste een uit die verlede is nie, sal net tot haar ontnugtering lei, aangesien sy blykbaar nie verstaan dat dit vir die meeste wette in Suid-Afrika geld nie.

Die “gemeenskaplikedoel”-leerstelling dateer eeue terug na die Engelse reg, terloops. Maar vir iemand wat reeds só ‘n gebrekkige begrip van ons regstelsel het, sal dié feit net ‘n onnodige uitdaging stel.

Selfs De Vos is nie so dom nie. Dis net sy logiese agterstand wat hom lelik in die steek laat as hy ons omtrent die “pre-demokratiese era” inlig. As De Vos eendag wakkerskrik in ons post-demokratiese era, en die kompos ruik, moet hy tog sy besware of nie, teen ‘n stamregstelsel lug. Wat is sy beswaar teen die NVA (Nasionale Vervolgingsgesag) wat die myners aankla nou eintlik? Dat wette op die wetboek toegepas word, of dat swartes dom is? Want wat op aarde beteken “uit-hulle-diepte-aanklaers”? Is dit die nuwe beskrywing vir “swart”?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.