Polemiek in Europa rondom Franse essayis se ‘lof aan Anders Breivik’

Richard Millet

Richard Millet‘n Bekende Franse skrywer van 50 boeke, Richard Millet, het ‘n week gelede “losgetrek” en ‘n verdoemende kritiek op die nuwe wêreldorde, globalisering en die multikulturele samelewing gepubliseer waarin hy meen “Noorweë verdien Anders Breivik”.

Millet se opstel, “Letterkundige lof aan Anders Breivik” (Éloge littéraire d’Anders Breivik, op 24 Augustus uitgegee deur Editions Pierre de Roux), is saam met ‘n tweede stuk oor die agteruitgang van die Franse taal en invloed in die wêreld gebundel. Enkele dae tevore het hy nog ‘n lywige opstel oor “Antirassisme as letterkundige terreur” gepubliseer.

Tydens ‘n radio-onderhoud met die bekende Franse filosoof en openbare figuur, Alain Finkelkraut, het Millet gesê dat hy hom onlangs alleen op die voorstedelike moltrein as “enigste blanke” bevind het. Daarom het hy hom “uitgesluit gevoel… veral terwyl die bevolking waarin ek my bevind hoofsaaklik uit Noord-Afrikane bestaan”.

Maar dis veral vir sy opstel wat Anders Breivik se dodelike aanval op Noorweegse sosiaal-demokratiese tieners as ‘n “literêre gebaar” beskryf, waarvoor Millet onder kritiek in die pers deurloop. Daar is selfs oproepe dat hy by Gallimard, die prestigieuse Paryse uitgewershuis, afgedank moet word of dat die uitgewery se ander skrywers hul van hom moet distansieer.

In die gewraakte passasie van “Letterkundige lof aan Anders Breivik”, beskryf Millet die aanval van Breivik op die jeugdiges as ‘n vorm van “letterkundige volmaaktheid”:

“Ons wat elke dag die gebrek aan kultuur van ons inheemse Franse meet, net soos ‘n afgrond ons verwyder van die buite-Europese bevolkings wat hulle op ons grondgebied tuisgemaak het, ons weet dat ons taal bowenal daaronder ly, en tesame daarmee, ons geheue, ons bloed, ons identiteit. Behoort ons daarom Breivik gelyk te gee, onder die voorwendsel dat sy slagoffers bloot jong arbeiderondersteuners was, dus toekomstige meedoeners aan die multikulturele nihilisme? Nee: in die volmaaktheid van te skryf met ‘n aanvalsgeweer, is daar iets wat anderkant die regverdigbare lei…”

Hoewel Millet dit ten aanvang van sy opstel stel dat hy nie “die dade wat Anders Breivik op 22 Julie 2011 in Noorweë gepleeg het, goedkeur nie”, verkwalik sy kritici hom dat hy wel “geweld verestetiseer” en daarom op ‘n manier as apologeet vir Breivik optree. Die gesaghebbende linkse en intellektuele koerant Le Monde skryf op 27 Augustus:

“Waarvan praat Millet presies? Nadat hy die voorsorgmaatreël getref het deur te sê dat hy nie Breivik se gebaar goedkeur nie, roep die skrywer die ‘formele volmaaktheid’ van sy misdaad en die ‘literêre’ dimensie daarvan op. Die Noorweër sou op ‘n manier die voorhoede van Europese wanhoop verteenwoordig, in die aangesig van ‘n algemene verlies aan nasionale en kulturele identiteit. Binne agtien bladsye, resiteer Richard Millet met woede die litanie van haat wat hy reeds in ander geskrifte uitgeblaker het, veral sy boek Opprobre, wat in 2008 by Gallimard verskyn het. Millet se uitgangspunt is die verregse denke wat nie huiwer om geweld te verestetiseer nie; die skrywer maak hom geensins vir die eerste keer aan afkeer jeens ander skuldig nie.”

Hoewel krities, toon Le Monde ontsag vir die intellektuele en literêre denke wat Millet se ontleding van Breivik onderlê. Sy uitspraak oor Breivik se literêre gebaar of dan “die volmaaktheid van te skryf met ‘n aanvalsgeweer” word voorafgegaan deur ‘n beroemde aanhaling uit die surrealistiese skrywer André Breton, wat gesê dat die “eenvoudigste surrealistiese gebaar sou wees om met ‘n rewolwer in jou hand op straat te gaan en lukraak in die skare in te skiet”. Breton was polities links en ook ‘n lid van die Franse Kommunistiese Party, dus maak Le Monde insgelyks ‘n fout as die koerant die “verestetisering van geweld” as noodwendig “verregse denke” beskryf.

Van die meer konserwatiewe en liberale publikasies in Frankryk beskryf Millet se opstel oorwegend as “vreemd”. Volgens ‘n skrywer in Le Point, “moet ‘n mens jouself knyp… En ‘n mens kry hierdie man jammer wat styl het en dit op selfvernietigende uitsprake mors.”

Oorkant die Ryn in Duitsland waar die doen en late van Paryse intellektuele met voortdurende belangstelling gevolg word, het die groot nuustydskrif Der Spiegel met skok op dié jongste manifestasie van aweregse, Franse onverskrokkenheid gereageer. Benewens enkele aanhalings uit Millet se opstel, verwys die tydskrif sy lesers met ‘n skakel na die Taz-koerant wat praat van Millet se “verregse geestesverwantskap”.

Terwyl die Taz eintlik geen teenargument bied teenoor Millet se arsenaal argumente rondom multikulturalisme, wat met intense Franse intellektuele snobisme aangebied word nie, erken die koerant tog dat Millet oor ‘n bepaalde statuur in Frankyk beskik: “In weerwil van sy ongewone uitsprake, sou hierdie pamflet miskien ‘n stille dood in die Paryse boekhandel gesterf het, as die skrywer nie ‘n bekende romanskrywer en uitgewer was nie. Hy het self ongeveer vyftig boeke geskryf en wys met trots op sy vroeëre provokasies. Vandag sê hy dat hy die mees gehate skrywer in sy land is.”

Laasgenoemde uitspraak het Millet in ‘n ander, onlangs gepubliseerde opstel, “Oor antirassisme as letterkundige terreur”, gemaak waarin hy skryf: “Ek is een van die mees gehate Franse skrywers. ‘n Interessante plek om jou te bevind, wat van my iemand buitengewoon maak.”

Terwyl die aandag tans op Millet se oënskynlik vergoeiliking van Anders Breivik verkeer, laat hy hom ook sterk teen antirassisme uit. Op die reklameteks van “Oor antirassisme as letterkundige terreur”, is die volgende te lese:

“Antirassisme het die nuwe internasionale ideologie geword. In Frankryk verteenwoordig dit ‘n diktatuur van nuwe dwepers waarvan die inkwisiteuragtige drif, die skynheiligheid, die bedoeling om te verskuldig, veral in die sogenaamde literêre wêreld werksaam is en waar valsheid koning kraai. Die skrywer wat dit waag om na die werklikheid te verwys en hom op die integriteit van sy wese te beroep, asook op die Christelike voortreflikheid van die volk, word nie net in navolging van die kommunistiese propaganda as “regse” of “fascis” getipeer nie, maar hy word bowenal van “rassisme” beskuldig: die kriminalisering van denke, waarvoor hy sensuur, ostrasisme, vervolging in die hof moet verduur. Die meeste skrywers word gou stilgemaak, of oortuig om saam met die skape wat met die Goeie gepenetreer is te blêr.”

лобановский политик

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.