Fourie is onbevoeg om UV-rektor te wees

Deel op

Die wêreld word aan die brand gepraat oor rassisme op die Kovsie-kampus en oor die Reitzkoshuisinsident wat op video vasgelê is.

In die proses word op ‘n insident gefokus, maar die breër prentjie geïgnoreer. Anders gestel: deur te fokus op die enkele boom, gaan ‘n visie op die hele bos verlore.

Net oor die video dít: omdat ek die video nie gesien het nie, gaan ek my nie oor die insident daarin uitspreek nie. Vir my gaan dit oor die groter kwessies. Ek oordeel dat die meeste kritici van die video die video inderdaad nie gesien het nie!

Deel op

Ek het na die rektor, prof. Frederick Fourie, se gesprek op Radio RSG geluister. Uit die uitsprake van die Rektor is ‘n paar sake duidelik:

  • Die integrasiebeleid van die UVS is ‘n sosiale transformasiebeleid (die samestelling van ‘n koshuis moet ten minste uit een derde òf wit òf swart studente bestaan).
  • Die fokus van die universiteitsbeleid val op individuele menseregte (die rektor sien ‘n vreedsame samelewing as ‘n samelewing van individue).
  • Die rektor se beleid is gekoppel aan die beleid van die ANC as regerende party (die rol van die VF+ word deur die rektor verdag gemaak).

Laasgenoemde stelling verdien aandag. Onder die nasionale regering en nou onder ‘n ANC-regering gee die UVS sy interne vryheid op, deur duidelik soos ‘n orgaan van die regering op te tree. In wese behoort ‘n universiteit apolities as opvoedkundige instelling van die burgerlike samelewing te funksioneer.

Kortom, die politieke transformasiebeleid wat die Rektor toepas is die transformasiebeleid van die regerende party.

Die transformasiemodel van die ANC is kollektivisme wat die kulturele, religieuse en taalkundige diversiteit van die studentegemeenskap in die groter geheel wil laat opgaan. Interessant genoeg word hierdie kollektivisme aan die hand van individuele menseregte verdedig. ‘n Student – in hierdie geval ‘n swart student met ‘n andersoortige kultuur – het dus ‘n reg om die kulturele karakter van ‘n koshuis fundamenteel te wysig, deur sy/haar individuele wil op die koshuisgemeenskap as geheel af te dwing. In feite is dit ‘n Afrikaanstalige koshuis met ‘n Afrikaner-kultuur, volgens die Christelik-religieuse rigting, wat die identiteit daarvan moet verbreed om anderstaliges en anderskulturiges in die sosiale struktuur daarvan op te neem.

Gedrewe deur ‘n liberale model om ‘n kollektivistiese universiteit daar te stel, vergeet die rektor en die universiteitsraad dat die Grondwet van SA baie spesifiek is, naamlik dat die demokrasie verstewig moet word deur die bevordering en beskerming van die regte van godsdiens-, taal- en gemeenskapsregte. Let op die volgende:

  • Artikel 185 van die Grondwet maak voorsiening vir ‘n Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe.
  • Artikel 31(1)(a) van die Grondwet verklaar dat alle persone wat aan ‘n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort nie die reg ontsê mag word om saam met ander lede van daardie gemeenskap hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie.
  • Artikel 31(1)(b) verskans die reg om kultuur-, godsdiens- en taalverenigings of -organe te stig, in stand te hou en daarby te kan aansluit.

Dom soos die universiteitsraad se beleid is, word ‘n integrasiemodel op ‘n diverse gemeenskap gewoon afgeforseer.

Die skrywer van hierdie artikel het die rektor en die universiteitsraad drie jaar gelede reeds in vier verskillende briewe gewaarsku dat die beleid van die raad op ‘n ramp afstuur. Nodeloos om te sê, is my briewe nie een beantwoord nie. Wat dus op die UVS-kampus gebeur het, is die verdiende loon van die rektor.

Soos te wagte, is die resultaat rampspoedig, omdat die volgende beginsels gewoon geïgnoreer is. Dit is die beginsels van:

  • vrye assosiasie;
  • natuurlike seleksie;
  • progressiewe ingroeiing;
  • eenheid-in-verskeidenheid;
  • die integrasieparadoks.

Die beginsel van die integrasieparadoks is eenvoudig dat ‘n beleid wat vrye assosiasie verruil vir gedwonge integrasie en natuurlike progressiewe samegroeiing misken, die aweregse resultaat het dat segregasie bevorder word. Kortom: die rasseintegrasiemodel van die rektor het die studentesamelewing in kampe gepolariseer en rassehaat bevorder.

Dit is vir enige waarnemer duidelik dat talle Afrikaanstalige studente nie meer in universiteitskoshuise tuisgaan nie en van private akkommodasie gebruik maak. Private akkommodasiefasiliteite het soos paddastoele in woonwyke naby die UVS opgespring.

Die vraag is derhalwe wat sou ‘n verstandige benadering wees in beleid. Die volgende word aangestip:

  1. Maak voorsiennig vir die reg van bestaande koshuisgemeenskappe om oor die kultuurinslag, religieuse rigting en omgangstaal van ‘n koshuisgemeenskap te besluit.
  2. Skep ‘n nuwe fasiliteit (of fasiliteite) om vir kultuurgemengde studente voorsiening te maak (dit wil sê studente wat verkies om saam met studente van ‘n ander kultuur saam te leef!).
  3. Skep fasiliteite om vir andersoortige kultuurgemeenskappe voorsiening te maak (bv. ‘n koshuis met ‘n Moslem-insalg vir Moslems, ens.).
Enige regdenkende mens moet dus die sosiale transformasiemodel van die universiteit verwerp en die rektor as ‘n politieke pion van die owerheid afskryf. Die studente- en ouergemeenskap moet gewoon vir die rektor se afdanking vra. Hy is gewoon onbevoeg om die hoof van die UVS te wees.

промышленный светильникЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.