Die mite van die mite van die Goeie Ou Suid-Afrika

Hierdie week het Ivo Vegter soos ’n hedendaagse, sekulêre Savonarola ingegee voor die aanklagte van die heersende politieke godsdiens – pseudo-liberalisme – en sy skuld in die openbaar bely. Hy het nou nie juis in die openbaar sy klere geskeur, op sy bors getimmer en getjank oor sy politieke kettery nie. Sy belydenis is eerder skalks vervat in ’n politieke internetrubriek op Daily Maverick waarin hy die voortreflikhede van die ANC besing het deur die NP van ouds te beswadder.

Die ANC het baie flaters gemaak, erken hy, en om daarop te wys is nie rassisties nie. Maar om te sê dat die NP die land beter bestuur het, nou kyk, dié is ’n onvergeeflike sonde. Dít is ongebreidelde rassisme. Dit is ’n mite, reken Vegter, dat die Nasionale Party die land beter as die ANC regeer het.

Hy bou sy betoog uit met die aantyging dat die NP en die ANC identiese ekonomiese beleide het en dit is, as jy dit kan glo, Nasionaal-Sosialisme. Dis reg. Soos in Nazisme. Daaronder verstaan hy ’n stelsel waarin die regering entrepreneurskap versmoor deur regstreekse inmenging vanuit ’n sentrale hoogte. Hy bied vir die leser se voorligting aanhalings van Emile Lederer (1937) en Ludwig von Mises (1949) oor die aard van Nasionaal-Sosialisme aan, sonder om te verduidelik hoekom hy dink dat die NP van dié besondere politieke geveerdes was.

Die NP, skryf Vegter, was nie minder korrup as die ANC nie – hy voel nie gelei om dié stelling te staaf nie – en die ANC is ook nie minder bevoeg as die NP nie, die bewyse voor oë ten spyt.

Die ANC, sê hy, het ’n groot agterstand teenoor die NP want hulle sien om na die welstand van 50-miljoen mense en nie net 5-miljoen nie. Die ekonomie onder die NP het traag gegroei, voer hy aan, en uiteindelik het dit getaan. Die beleid van Afsonderlike Ontwikkeling, soos Vegter dit sien, het aan die Apartheidsregering ’n onregverdige ekonomiese voordeel gegee. Desnieteenstaande het die ekonomie gestagneer en was die “rykdomskeppende private vervaardigingsektor” eintlik piepklein.

Om hom in sy hoek koud te waai en sy standpunte te ondersteun, reik hy uit na ’n paar liberale, Afrikaner-veragtende akademici uit Brittanje en Kanada.

Vegter het ’n naam vir homself gemaak as ’n stroomopmeningskrywer, wat byvoorbeeld die groenies laat sidder en skuim oor sy skeptisisme jeens aardverwarmingsteorieë en sy goedkeuring van potensiële hidrokraking in die Karoo. Hy is ’n gedugte debatsteenstander, bereid om dit op die ken te vat en om dit met statistieke en stawing te uit te deel. Hy is ’n oorspronklike denker en beskik oor ’n verfrissende nugterheid. Daarom is hierdie verstandsinploffing so ontstellend  om te aanskou; soos dié van ’n afvallige wat sy moed verloor en in ’n intellektuele kleed van baie dun linne in die sneeu op nerfafknieë kruip voor die Pous van politieke korrektheid.

Vegter se sentrale swakheid in hierdie redenasie is dat hy as’t ware ’n kiekie van ’n regeringstelsel op ’n bepaalde oomblik wil neem, gevolgtrekkings daaruit maak en om dit dan met ’n ander stelsel te vergelyk. Hy maak geen ruimte vir herkoms of ontwikkeling nie.

Die prentjie van die NP-regering wat hy skets, dateer blykbaar iewers uit die sewentigs. Werksreservering dra swaar by hom in sy beoordeling van die NP. Maar teen die laat sewentigs was dit reeds ’n uitgediende en uitgeworpe stelsel. Werksreservering was aanvanklik ’n beleidspilaar van die NP, en dit vir ’n swak rede: Blanke werkers het gevrees dat swart kompetisie vir werk net te straf sou wees. Teen die sewentigerjare het hierdie vrese verdamp. Blankes was versekerd genoeg in hulle eie vermoëns en swartmense het niemand met hulle skranderheid beïndruk nie.

Die NP se werksreservering trek glad nie op die ANC se huidige regstellende aksie nie. Ja, sekere werke is deur die NP aan blankes, veral Afrikaners, toegewys, maar nie onvoorwaardelik nie. Onbevoegdheid is nie geduld nie. Loodswaaiers het nie lank in ’n pos gebly nie. Dit is so anders onder die ANC-regering. Regstellende aksie vind sonder kwalifikasie of voorwaarde plaas. Iemand in ’n  RA-pos kan nie swak genoeg presteer om ontslaan te word nie.

Die ou regering het toenemend kleinbesigheidsvriendelik geword. Vra vir enige iemand wat in die ou dae ’n besigheid begin het om dit te vergelyk met die ongelooflike rompslomp om een onder die nuwe stelsel te begin. Die burokratiese rooi linte versmoor entrepreneurskap deesdae, maar in die tagtigerjare, veral, het die kleinsakesektor in Suid-Afrika behoorlik geblom.

Die ou Suid-Afrikaanse ekonomie was, om die waarheid te sê, heel robuus. Onthou gerus hoe verstom Amerikaanse ontleders was oor die manier waarop die regering hulle skuld kon diens toe die buitelandse banke op ’n onetiese manier Suid-Afrikaanse krediet opgeskort het.

Vegter het sy argument oneindig belemmer deur dit te omhul met ’n vergelyking tussen die twee stelsels. As hy bloot kritiek op die NP-regering gehad het, het daar straks geldigheid in sy betoog gesteek. Nou egter hang hy die aansienlike karkas van die albatros van ANC-mislukking om sy nek. Die gevolge van hulle administratiewe onbeheptheid is die prominentste eienskap van die Nuwe Suid-Afrika. Deur die twintigste eeu het die Nasionale Party en hulle voorgangers ’n moderne staat gebou, met ’n uitgebreide spoor- en paaiestelsel, ’n sterk, florerende landbousektor, ’n wêreldleidende mynboubedryf, ’n groeiende industriële basis en effektiewe land-, provinsiale – en dorpsbestuurstelsel. Burgers van alle kleure het toegang tot voortreflike opvoeding en hospitaalsorg gehad. In minder as twintig jaar het die ANC dit alles gestroop, verniel en verteer.

Die Nasionale Party-regering het daarin geslaag om ’n groeiende ekonomie in stand te hou in weerwil van baie ongunstige omstandighede. Die Afsonderlike Ontwikkelingstelsel, anders as wat Vegter dit voorstel, was ’n ontsaglike drein waarin die Nasionale Party massiewe voorrade kapitaal gestort het. Voorts het hulle vir 23 jaar ’n baie duur oorlog bedryf. En net om dit alles net meer ingewikkeld te maak, moes hulle dit doen verstrengel in dekades se internasionale sanksies.

Die werklike vraag wat Vegter moes vra, is hoe die land oor twintig jaar van hede daarna sal uitsien. Vir die ANC om ’n algehele katastrofe te voorkom, is daar dinge wat baie vinnig in plek moet kom:

Infrastruktuur moet nie net bewaar word nie, maar drasties en omvattend uitgebrei word.

Landboukapasiteit moet verdubbel.

Mynboupotensiaal moet verwesenlik word om buitelandse beleggersvertroue te stimuleer.

En, belangrikste van alles, is die onderwysstelsel. Elke sogenaamde ekonomiese wonderwerk van die twintigste eeu is geloods vanaf die onderbou van ’n land se vermoë om sy jeug op te voed.

Die Nasionale Party – verfoeilike verraaiers wat hulle uiteindelik ook al was – was op al hierdie gebiede suksesvol. Die ANC het reeds op al hierdie – en baie ander – gebiede misluk. En ons hoef nie twintig jaar te wag om te weet watter ontsaglike katastrofe die landsadministrasie onder die ANC in vergelyking met die NP reeds is nie.

Al sidder Ivo Vegter hoe ook al in die koors van sy pseudo-liberale ongesteldheid. Dat dit ’n  mite is dat die Nasionale Party die land voortreflikbestuur het… is ’n mite.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.