Toe Afrikaanse skrywers leuenaars geword het

Deel op

Een van die mees fassinerende maniere waarop Europese volkere oor die afgelope paar eeue tot stand gekom het, is deur die skepping van nasionale letterkundes. Frankryk in die sestiende eeu was blykbaar van die res van Europa afgesonder. In daardie tyd het die Franse letterkunde en identiteit sy beslag gekry, sonder enige hulp of invloed van buite.

Van die oomblik dat die G.R.A. gestig is, het die gedagte van ‘n nasionale letterkunde sy beslag gekry wat die identiteit van die nuwe groep moes uitdruk wat hom anders as koloniale Nederlanders of Engelse gevoel het. In dié opsig het Afrikaners die Europese model van nasiewording feitlik tot op die letter nagevolg.

Teen die middel van die twintigste eeu het sowel N.P. van Wyk Louw as C.M. van den Heever, onder andere, aanhoudend oor die Afrikaanse letterkunde geskryf en gefilosofeer. In een van sy opstelle in Mens en woord, skryf Van den Heever: “Die mens is en word soos die beskouings wat hy aanhang en die volk bly net so belangrik as die kultuurwaardes wat dit eerbiedig. Die kultuurlose het geen strewe na iets hoërs nie; die aap in die oerwoud bou niks op nie, maar verniel en breek net af.”

Elders in dieselfde bundel opstelle (bl. 91) haal Van den Heever vir Spengler aan wat verklaar het: “Die staat is as vorm, as moontlikheid wat die geskiedenis van ‘n volk as werklikheid is. Geskiedenis is egter oorlogsgeskiedenis, toé net soos nou. Politiek is slegs die verbygaande vervanging van die oorlog deur die stryd met meer geestelike wapens.”

Ek dink ons kan met vrymoedigheid sê dat die Afrikaner daardie “stryd met meer geestelike wapens” oor die afgelope paar dekades liederlik verloor het. Iewers in die sestigerjare het daar ‘n wending in Afrikaans ingetree waar die intellektuele en skrywers wat veronderstel was om die Afrikaanse tradisie te vernuwe, ‘n ander lojaliteit ontwikkel het.

Fransi Phillips verwys in haar mees onlangse roman, Net ‘n lewe, na die hebbelikheid van “oulik” te wees deur kritiek op jou eie mense te lewer. Nie dat selfkritiek onnodig is nie, maar iewers in die veelbewoë sestigerjare het ‘n vorm van nihilisme hom by Afrikaanse skrywers tuisgemaak, wat op ‘n versugting na verraad uitgeloop het.

In my roman Moltrein is daar allerlei toespelings op die groteske stereotipe, selfs mite, wat daar rondom apartheid ontstaan het. Apartheid as Nazisme, apartheid as unieke vorm van wit skuld wat aan die Afrikaner kleef. Onlangs het daar in Nederland heelwat kritiek op die denke van die sestigjare in die Weste gekom, want dit is in daardie dekade wat die saad van die huidige afgang gesaai is.

Die mees vertaalde Franse romansier van ons tyd, Michel Houellebecq, het in sy blitsverkoperroman Elementêre deeltjies (Les particules élémentaires) ‘n sombere prentjie geskilder van die nagevolge van die sorgelose sestigerjare met sy hippiekultuur, asook identifikasie met die derde wêreld en die Oosterse mistieke.

In Afrikaans het Breyten Breytenbach ons insgelyks voorgestel aan die Zen-Boeddhisme en teen die laat sestigerjare in een digbundel na die ander ‘n soort aanklag teen die blankedom gelewer. Ek onthou dat ons as studente in Afrikaans en Nederlands moes leer dat hy die Westerse ikonografie in sy poësie omkeer waardeur swart die positiewe kleur word en wit die negatiewe kleur, die kleur van die dood en alles wat sleg is.

Onlangs het ek ‘n byna vergete roman van Elsa Joubert uit die vroeë sestigerjare gelees: Ons wag op die kaptein. Joubert sou heelwat later as liberale skryfster opgang maak toe haar roman met ‘n swart heldin, Die swerfjare van Poppie Nongena, met ‘n hele paar pryse bekroon sou word.

Feit is egter dat Ons wag op die kaptein allermins polities korrek is. Dit is gebaseer op ‘n ware verhaal wat sy in ‘n berig in Die Transvaler raakgelees het, van ‘n groepie Portugese wat deur gewapende swartes tydens die bosoorlog in Angola aangehou word. Die roman kan selfs Afropessimisties genoem word. Dit beeld beskawingskonflik uit en kyk veral ook na die rasseproblematiek van Angola en die dilemma van diegene wat die skryfster “mulatte” noem.

Hoe het dit gebeur dat heelwat Afrikaanse skrywers met hul geworteldheid in, en kennis van, Afrika, skielik so verskriklik polities korrek geraak het? Tydens die veelbesproke ontmoeting met die ANC-leiers in Dakar, het Afrikaanse skrywers eintlik heeltemal die “bruikbare idiote” van die ANC-revolusie geword.

Dan praat ‘n mens nie eens van iemand soos André P. Brink wat onlangs tydens ‘n TV-program verklaar het dat “Afrikaners verdien om te verdwyn” nie. Dis seker ‘n kort tree van daardie standpunt af om letterlik volksmoord oor Afrikaners af te roep, soos wat Malema en ander reeds gedoen het.

Ook die huidige konflik tussen Afrikaanse skrywers rondom die Pretoria-PEN-skrywersvereniging staan in die teken van hierdie “stryd met geestelike wapens” waarna Spengler en C.M. van den Heever verwys. Aan die een kant is daar ‘n groep skrywers – in vandag se Rapport noem hulle ons ‘n “klein Gautengse groepie” – wat nie meer die soort “estetiek van verraad” wat hom kennelik in dele van die Wes-Kaap tuisgemaak het, wil beoefen nie. Ons ervaring van die Suid-Afrikaanse werklikheid met sy sadistiese geweld, rasseoorheersing deur die swart nomenklatoera, asook die naderende “tweede fase van die revolusie” is van so ‘n aard dat ons nie meer daardie “sestigermodel” kan navolg nie.

Skrywers is natuurlik by uitstek in staat tot oneerlikheid en kwade wil. Skeppende letterkunde is nie gegrond op die waarheid of werklikheid nie, maar op ‘n bepaalde fiksionele voorstelling daarvan. Toevallig lees ek nou die dag iets raak oor kwade wil, die mala fides. Die hele absurde magstryd rondom die Pretoria-PEN-vereniging is natuurlik omgewe van mala fides. Maar die Franse filosoof Jean-Paul Sartre, wat insgelyks op sy dag ‘n erge bydraer tot sestigerradikalisme was, het in sy beroemde Syn en die niet ‘n hele hoofstuk aan kwade wil en die leuen gewy.

‘n Klomp Afrikaners –  en ander mense in hierdie land – lieg elke dag vir hulleself. Soos Sartre dit stel: “Ons sê sonder enige onderskeid oor iemand dat hy tekens van kwade wil toon of dat hy vir homself lieg. Ons sal gewillig wees om toe te gee dat kwade wil ‘n leuen teenoor ‘n mens self is, op voorwaarde dat ons die leuen aan jouself van leuens in die algemeen onderskei… Die wese van die leuen impliseer trouens dat die leuenaar geheel en al oor die waarheid beskik wat hy besig is om te verberg. ‘n Mens lieg nie oor iets waaroor jy onkundig is nie…”

Suid-Afrika is seker een van die lande ter wêreld waar ons hele geopenbaarde werklikheid op een groot leuen neerkom. Ons verlede is op ‘n verwronge wyse herskryf om Afrikaners in die rol van boosdoeners voor te stel en swartes as engelagtige heiliges soos Mandela. Tussen geskiedenis en fiksie is daar bloedweinig verskil; albei weergawes is deurtrek van kwade wil.

Aanvanklik toe Pretoria-PEN gestig is, het Nadine Gordimer, nog ‘n sestiger-virago, daarteen beswaar gemaak dat Afrikaanse skrywers “op hul eie” aan ‘n vereniging mag behoort. In elk geval behoort ons slegs op grond van ons etniese en taalverwantskap van internasionale lidmaatskap van PEN uitgesluit te word, het sy in 2005 gemeen. Ironies het die dieselfde Nadine Gordimer vandeesweek insgelyks uitgevaar teen die onderwysdepartement van Limpopo wat nie skoolboeke aan swart leerlinge verskaf nie. Onder andere het sy oor die radio gesê: “Ons het so hard teen apartheid geveg, dat ons nie gedink het wat agterna sou kom nie.”

Hierdie verbasende erkenning en kritiek deur Gordimer op haar geliefde ANC, verteenwoordig egter ook iets van ‘n Freudiaanse verspreking. Dit verraai iets van haar eertydse kwade wil waarop haar hele oeuvre, soos dié van Brink en vele ander, gegrond is. Want “apartheid” was mos die boosheid self, al het kinders van alle rasse darem op skool geleer lees en skryf. Die grootste leuen van almal rondom apartheid was natuurlik dat Afrikaners net soos Duitsers ‘n volksmoord op Suid-Afrikaanse swartes gepleeg het. Eenkeer het Albie Sachs skalks teenoor my erken dat “apartheid en Nazisme nie eintlik vergelykbaar is” nie, maar ek twyfel of hy ooit so ‘n erkenning in die openbaar sou maak.

In een van haar destydse essays of onderhoude praat Gordimer van die “Manicheaanse gif” wat nodig is om haar revolusionêre doelwit, die omverwerping van die ou regering, te bewerkstellig. Die Manicheaanse voorstelling van Suid-Afrika in soveel sogenaamde literêre werke in die verlede het ‘n Groot Leuen geskep, gekonstrueer met behulp van die kwade wil van diegene wat geweet het wat die werklike situasie was.

Tot onlangs het ‘n mens in die Kaap nog hippies in ou Volkswagen kombi’s teëgekom wat steeds anachronisties die lewenstyl van die sestigerjare naboots, dagga en al. Daar is iets provinsialisties en argaïes aan die Kaap, wat egter geensins afbreuk doen aan die verbasende selfversekerdheid van sommige Kapenaars nie. Miskien is dit die geloof dat hulle op dieselfde golflengte as Londen, die metropool, verkeer; ek weet nie.

Die ander skreiende ironie is dat die Nasionale Pers, wat ‘n eeu gelede rondom Die Burger onder redaksie van D.F. Malan ontstaan het, vandag ‘n meer Britse perspektief op Suid-Afrika en die wêreld handhaaf as die Britse koerante self. Omdat Naspers, benewens sy monopolie op Afrikaanse media, ook oor die grootste uitgewerye beskik, het die Afrikaanse letterkunde in sy Kaapse gedaante ‘n soort afdruk van Britse letterkunde geword. Maar ook deelagtig in die kwade wil wat Brittanje nog altyd teenoor Suid-Afrika en veral teenoor Afrikaners geopenbaar het.

Van Wyk Louw het gepraat van “die skipbreuk van alle sekerhede”. Met Nadine Gordimer wat nie meer mooi weet wat ná apartheid “moes gekom het nie” en eens verwaande Kaapse kritikasters wat deesdae verkies om oor kos en wyn eerder as letterkunde of politiek te praat, kry ‘n mens die indruk dat ‘n klomp mense se sekerhede meedoënloos deur die NSA weggekalwe is. Behalwe dat hulle nie oor die moed beskik om dit te erken nie. Netnou word hulle van “regsheid” verdink.

Maar soos daardie bejaarde Kaapse hippies met lang hare in kombi’s, beleef die sestigerjare nog ‘n laaste stuiptrekking onder ‘n paar Afrikaanse skrywers wat terug verlang na die dae van “apartheid” toe dinge soveel eenvoudiger was.

Toe ‘n mens nog die Leuen op die markplein kon verkwansel. En, soos Van Wyk Louw dit gestel het, “‘n nuttige dollar” kon verdien.

topcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.