Clinton verkoop ‘Oorlog teen Terreur’ aan Afrika

Deel op
Afrika, die wêreld se stowwerige agterplaas, is die jongste afsetgebied vir konflik. Alhoewel Hillary Clinton sê sy is hier om demokratiese instellings te versterk, vertel haar reisplan ‘n ander storie. Clinton sal tien dae deur Afrika toer om Amerika se gevolmagtigde oorlog teen terrorisme in Afrika te ondersteun.

Sy het eerste in Senegal aangedoen, Amerika se beste vriend in die Franssprekende wêreld, om nuutverkose president Macky Sall te gaan gelukwens.

Daarna sal sy in Suid-Soedan, Oeganda, Kenia, Malawi, Suid-Afrika en Ghana, aandoen, almal op die voorpunt van die stryd teen Moslemterreur.

Die Amerikaners sê hulle soek “verantwoordelike vennote vir ontwikkeling”, ‘n bedekte maar onmiskenbare waarskuwing aan Afrika-leiers om hul verhouding met China te heroorweeg. 

Soos die Washington Post in Junie berig het, het Amerika se geheime intelligensie-operasies in Afrika snel toegeneem. ‘n Netwerk van klein, ongemerkte vliegtuie monitor reeds militante organisasies in Mali, Nigerië, Somalië en Oeganda.

Sommige amptenare van Clinton se departement het egter hul voorbehoude oor die militarisering van die Amerikaanse buitelandse beleid op die vasteland uitgespreek, sê die verslaggewer Craig Whitlock in sy artikel. “Hulle het aangevoer dat die meeste terroristeselle in Afrika besig is om plaaslike doelwitte, nie globale nie, na te streef en dit hou nie ‘n direkte bedreiging vir die Verenigde State in nie.”

Die potensiaal vir ‘n gewilde teenreaksie teen die VSA is daar soos in die Midde-Ooste en erger nog, dit sal die potensiaal vir geweld in Afrika verhoog. Grense is reeds wankelrig, en eise en aansprake neem oral toe soos mededinging dit toelaat.

Die Los Angeles Times van 29 Julie, het ook intussen ‘n insiggewende berig oor Amerika se rol in die Somaliese konflik gepubliseer. Ná die Black Hawk-fiasco, het Washington besluit om byna alles anders te doen, en verskaf toerusting en opleiding vir duisende swart soldate om oorlog te voer teen die Shabaab, ‘n sogenaamde Al Kaida-bondgenoot.

Amptelik veg die troepe onder die vaandel van die Afrika-Unie. Maar in der waarheid is die 15.000 soldate uit vyf Afrika-lande grootliks ‘n skepping van die State Department en die Pentagon, wat opgelei word deur die Amerikaanse regering en afgetrede militêre personeel wat aangewend word deur privaatkontrakteurs.

Die Afrika-Unie se ingryping in Somalië is ‘n Afrika-oplossing vir ‘n Afrika-probleem, maar met Amerikaanse steun. Oeganda en Kenia het die grootste deel van die troepe in Somalië voorsien wat die VSA ‘n nuwe verleentheid bespaar het. Afrika is egter goed geskool in anti-Amerikaanse retoriek wat binnekort goed uitgebuit sal word.

Clinton se besoek aan Nairobi en Kampala val saam met gewapende mans wat ‘n bekende komediant wat gekskeer met Al-Kaida se insurgente in die Somaliese hoofstad Mogadisjoe, doodgeskiet het.

Abdi Jeylani Malaq Marshale, in sy laat dertigs of vroeë veertigerjare, is Dinsdag doodgeskiet minute nadat hy Kulmiye-radiostasie, waar hy gewerk het as produsent en gewilde uitsaaier, verlaat het. Die polisie woordvoerder Mohamed Gaal, sê: “Ongelukkig het die aanvallers ontsnap.”

Clinton het glo ‘n persoonlike ontmoeting met Nelson Mandela in Qunu gereël, en sal John Atta Mills se begrafnis in Ghana bywoon. Wat sy met die voormalige Suid-Afrikaanse president wil bespreek, is nie duidelik nie, want klaarblyklik is Madiba se verstand nie meer te helder nie, om dit sagkens te stel.

‘n Fotosessie om Amerika se verbintenis tot pan-Afrikanisme te verkoop? Hou hierdie spasie dop.

 

topcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.