‘n Uitgekontrakteerde buitelandse beleid

Afrikaners se rol en posisie binne Suid-Afrika is ten minste die laaste 20 jaar doelgerig ondergrawe deur die onderhandelaars van Kodesa – met die hulp van die monopolistiese media – in die naïewe geloof dat ‘n swart “demokraties verkose” regering in toom gehou sal word deur ‘n uitgekontrakteerde buitelandse beleid, en dat ons op een of ander manier baie daarby sal kan baat.

Dr. Leopold Scholtz en sy base het veral die taak op hulself geneem om Afrikaanse lesers popelend onder die indruk te hou van hoe Suid-Afrika se internasionale rol na oorgawe ten goede verander het omdat Afrikaners hul “Nazi”-verlede, net soos die Duitsers, bely het. Die hele oefening om ons groot morele oorwinning uit te basuin, is ‘n rookskerm vir die feit dat Afrikaners geen invloed uitoefen in besluite wat ons raak sover dit buitelandse betrekkinge aangaan nie, en in die slawejuk van belasting moet bly trek.

Die netto-resultaat van dr. Scholtz se onbaatsugtige arbeid is kennelik ten behoewe van Duitse motorvervaardigers – die oorspronklike Nazi’s – wat steeds nie kan voorbly om tenderpreneurs van die nuutste modelle te voorsien op die rug van die “skuldige” wit belastingbetaler nie.

Dis maar een voorbeeld. Nie eens in landbou-aangeleenthede het Afrikaners inspraak nie. Daarvoor sorg die DA wat die olifant van plaasmoorde in die vertrek met mag en mening probeer miskyk, met die hulp natuurlik van Afrikaners wat te hopeloos of te oningelig is om te verstaan dat hulle belange onder ‘n spreekwoordelike trekkerwiel vertrap word.

Die DA steun op organisasies soos PLAAS om landboubeleid te formuleer, wat uit die buiteland met buitelandse fondse bedryf word en die hele agenda vir grondherverdeling in Suid-Afrika dryf. Dit is skrikwekkend dat landbouers wat op hul eie grond, gekoop en betaal, ‘n land van 50 miljoen mense voed nie geken word in belangrike besluite wat hul toekoms in ink, of liewer bloed, giet nie.

Natuurlik sal hulle soos die myne kan saamstaan en ‘n paar politici en swart sakemanne kan omkoop, ekskuus, “help”, om in die nuwe Suid-Afrika in te pas, maar omdat landbou ‘n kollektief van individue is, gaan dit seker nie eersdaags van die grond (sic) af kom nie.

Hoe langer ons in die nuwe, gewelddadige Suid-Afrika woon, hoe meer kom ons onder die besef wat die buiteland se siening van ons beteken. Afrikaners baat nie noodwendig by wat die buiteland pas nie. Dit het tewens daarvoor gesorg dat ons mense geweldig verarm het en nou na plakkerskampe stroom waar hulle nie eens op staatsuitkerings kan staatmaak nie. En danksy dr. Scholtz en sy Nazi-problematiek wat hy onophoudelik op Afrikaners van toepassing maak, sal Duitsland en wie ook al, bly voordeel trek uit die volskaalse korrupsie wat hier heers, selfs al is hulle oënskynlik daarteen gekant.

Kwessies wat dikwels die politieke toneel oorheers, waarby gewone Suid-Afrikaners, wit én swart, geen belang het nie, word befonds deur buitelandse nie-regeringsorganisasies en ryk individue, en net deur die media as belangrik voorgehou. Die jongste voorbeeld waar die buiteland blykbaar ons beleid bepaal, is die herrie rondom MTN, ‘n gedugte mededinger vir die Britse Vodacom.

Om MTN, ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy, by te kom, is hulle dié week ingesleep by ‘n internasionale politieke kwessie wat duidelik ‘n Britse problematiek verteenwoordig, naamlik Iran.

Ons kan in komende konflikte betrek word waarby Suid-Afrikaners absoluut geen belang het nie, soos die twis in die Midde-Ooste, as die DA hul sin kry.

Om die waarheid te sê, sal ons binnekort midde in die brandpunt daarvan staan. Die DA het ‘n beroep gedoen vir die opskorting van ‘n senior diplomaat oor bewerings van MTN se bedrywighede in Iran. Dit alles om die Britse Vodacom ‘n voordeel in die mark te gee.

Abdul Minty, Suid-Afrika se ambassadeur by die Internasionale Atoomenergie-agentskap in Wene, het glo ‘n stok in die wiel van Turkcell, ‘n Turkse mededinger in Iran gesteek. Daar is geen bewyse teen Minty nie, maar volgens die DA, sal MTN eersdaags moet opdok omdat hulle heul met die vyand, of liewer ‘n mededinger. As Turkcell egter met Iran wil sake doen, is dit skynbaar nie vir die DA ‘n morele kwelling nie.

Die taal van die verklaring lyk soos die soort verklarings wat ten alle koste ‘n volskaalse oorlog teen Iran wil bevorder en diplomasie wil vermy. Dis met retoriese warm lug sonder enige gronde gevul. In Washington self word sulke verklarings deesdae nie sonder die nodige knippie sout geneem nie. Die Amerikaanse intelligensiegeenskap het reeds verklaar dat Iran nie ‘n kernbedreiging inhou nie.

Die DA gebruik die internasionale kwessie rondom Iran se kernaanlegte wat ‘n steen des aanstoots vir sekere groepe in Brittanje en die VSA verteenwoordig, om MTN se kontrak met Iran te ondergrawe. Iran, terloops, word deurlopend nog deur die IAEA, die internasionale kernwaghond, ook gemonitor.

In die Suid-Afrikaanse media, word die indruk geskep dat Iran se kernaptyt tot ‘n grootskaalse destabilisering van die streek kan lei. Maar in die VSA is menings oor of ‘n kernbewapende Iran werklik ‘n bedreiging inhou, nie soseer in beton gegiet nie.

Daar is gesiene Amerikaanse strategiese ontleders wat beweer dat ‘n kernbewapende Iran tot vrede in die Midde-Ooste sal lei, aangesien kernwapens wapens van vrede is, vanweë hul vermoë om as afskrikmiddel te dien.

Die Koue Oorlog het sy naam te danke aan ‘n stryd wat nooit warm geraak het nie, danksy “MAD”, die afkorting vir “Mutually Assured Destruction”, die doktrine wat die defensiewe aard van kernwapens beklemtoon.

Sal ‘n konvensionele oorlog tussen Indië en Pakistan byvoorbeeld kan eskaleer tot ‘n kernkonflik? Gegewe die spanning tussen die twee, moes dit reeds, maar die ewewig hou. Dieselfde logika kan natuurlik op die Midde-Ooste van toepassing wees.

Daar was vandeesweek nog ‘n ander histeriese DA-verklaring oor ‘n kernaangeleentheid. Vroeër het die party teen die “ernstige” veiligheidsgebreke by ‘n kernaanleg wat ‘n paar “kenners” in die VSA raakgesien het, te kere gegaan asof hulle nie weet dat Suid-Afrika hul kernprogram vrywillig laat vaar het nie. Die gebreke was natuurlik ongespesifiseer.

Wat egter seker blyk is dat die DA soos ‘n gekontrakteerde party vir Turkcell teen ‘n Suid-Afrikaanse mededinger wil optree, met dieselfde ywer as wat hulle mynbelange beskerm wat winste uit die land neem.

Данильченко Юрий отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.