Google stoot tariewe sesvoudig op

Google, wie se gewilde gmail-diens allerweë deur individue gebruik word, het so pas met ‘n slenterslag hul aanlynbergingsdiens se prys sesvoudig verhoog.

Voorheen kon persoonlike gebruikers wie se gmail vol geraak het, vir slegs $5 per jaar ‘n ekstra 20 Gigagrepe se bergingskapasiteit per jaar bygekoop het.

Nou vra Google skielik $30 vir dieselfde diens. Weliswaar het die hoeveelheid gratis bergingsruimte van Gmail insgelyks gestyg vanaf omtrent 7 Gig na 10 Gig, wat vir die meeste mense seker genoeg is. Maar vir aktiewe gebruikers van e-pos wat graag hul ou e-pos bewaar sonder die moeite om rugsteune te maak, kan selfs 10 Gig ná ‘n paar jaar onvoldoende raak.

In April het Google ook sy bergingsdiens wat “Dokumente” heet, na Google “Drive” herdoop. Hiermee wil die maatskappy mededingers soos Dropbox en Apple die stryd aansê wat reeds suksesvolle aanlynberging aan gebruikers verskaf. Omdat mense deesdae inligting op soveel toestelle, vanaf persoonlike rekenaars tot selfone en tablette, beskikbaar wil hê, maar dit sin om alle belangrike lêers aanlyn te berg. Aanlynberging kan ook as rusteun vir plaaslike lêers gebruik word.

Volgense Google kan huidige gebruikers van die aanlynbergingsdiens wat op die ou, goedkoper skaal verkeer, steeds daarmee aanhou, solank hulle geensins daaraan verander deur byvoorbeeld die kapasiteit te verhoog nie.

Persoonlik maak ek reeds ‘n jaar lank van die $5-per-jaar-diens gebruik, nadat my gewone e-pos vol geraak het, maar om $30 per jaar betaal, lyk vir my ‘n bietjie dik vir ‘n daalder as ‘n mens in ag neem dat Yahoo se e-posdiens gratis is met onbeperkte ruimte. Dit sal my seker nog ‘n paar jaar neem om 30 Gig met e-pos vol te maak. Intussen maak ek egter ook gebruik van die aanlynberging en om dokumente aanlyn met kollegas of vriende te deel, sodat my bergingsruimte vinniger as net deur e-pos opgeneem word.

Dat Google egter hier ‘n manier raakgesien het, om ‘n slag te slaan, is gewis. As ‘n mens eers aan hierdie tipe diens verslaaf is, is dit moeilik om te verander, sonder dat jy jou aanlynlewe verder kompliseer. Daarom sal vele mense seker verplig wees om die sesvoudige prysverhoging te absorbeer.

Skielik is die internet nie meer gratis nie!

Google voer reeds ‘n verbete stryd om gebruikers van Google Apps te dwing om ten duurste vir e-pos te betaal, tot $50 per jaar. Google Apps is ‘n weergawe van Gmail waardeur ‘n mens jou eie domeinnaam vir e-pos kan gebruik. Aanvanklik toe die diens enkele jare gelede bekendgestel is, kon ‘n mens tot 100 of selfs meer gratis “posbusse” vir jou maatskappy of organisasie verkry. Nie-winsgewende organisasies en skole het selfs 500 of meer sulke posbusse gratis ontvang, teenoor die korporatiewe “Google Apps Premium” waarvoor ‘n mens $50 per jaar moet betaal.

Meer onlangs het Google egter die aantal gratis Google Apps-posbusse tot tien per domein beperk. Iemand wat elf posbusse wil hê, sou dus onmiddellik $550 per jaar moet betaal.

Dit laat ‘n mens weer met ander oë na Yahoo se e-posdiens kyk. Yahoo beskik nie oor al die funksionaliteit van Gmail nie, maar vir swaar gebruikers van e-pos kan dit ‘n opsie raak. Diegene wat bereid is om insgelyks $20 per jaar vir Yahoo se betalende diens te betaal, ontvang ‘n onbeperkte e-posdiens met min of meer die funksionaliteit van Gmail, behalwe vir die aanlynberging.

Terloops, PRAAG is ‘n gelisensieerde verskaffer van Google Apps, asook ‘n verskaffer van ADSL-verbindings teen baie billike tariewe. Ons basiese ADSL-diens beloop slegs R200 per maand (Telkom-verbinding ingesluit). Ons verkoop ook rekenaars, rekenaarkomponente, skootrekenaars, tablette en e-lesers teen uiters mededingende pryse. Kontak ons by inlig[by]praag.org vir meer inligting.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.