Prestigio-e-leser is teen sy prys ‘n wenner

Prestigio PER3172B

Prestigio PER3172BDie afgelope paar dae het ek Prestigio se basiese e-leser, die PER3172B, onder oë gehad en so twee, drie e-boeke daarop gelees. Omdat ek reeds baie met die Amazon Kindle vertroud is, kon ek die twee goed met mekaar vergelyk.

Die Prestigio PER3172B is ‘n veeldoelige leser wat eintlik teen die prys van R1199 (Praag-lede ontvang dit teen ‘n reuse-afslag en kan so min as R599 daarvoor betaal) meer vermaak as ‘n tradisionele TV en videokassetspeler insluit. Die Prestigio-e-leser kan die volgende dinge doen:

  • E-boeke in ‘n verskeidenheid formate vertoon
  • Musiek speel
  • Video’s speel
  • Foto’s vertoon

Hoewel ek ook hier en daar musiek daarop geluister en ‘n advertensievideo of twee op die volkleurskermpie van 17,8 cm (7 duim) gekyk het, het ek dit hoofsaaklik as e-leser gebruik. Ná alles is dit die belangrikste beweegrede om ‘n e-leser aan te skaf, maar die feit dat dit ook musiek, video en foto’s kan hanteer, is ‘n bonus. Veral ook in die lig van die poort vir ‘n mikro-SD-skyfie waarmee ‘n mens die aanboordgeheue van 2 Gigagrepe na 34 Gigagrepe (genoeg vir 70 000 boeke of 10 000 musieksnitte) kan opstoot!

Trouens, as ‘n mens dink wat een van Apple se basiese Ipods met slegs 2 of 4 Gig geheue kos, is die veeldoelige Prestigio amper verniet. ‘n Mens sou rustig daarmee op vakansie kon gaan, gewapen met ‘n paar honderd boeke en ‘n duisend CD’s of wat en jouself gate uit kon geniet.

Boonop kom die Prestigio, anders as ‘n Kindle byvoorbeeld, saam met ‘n leerhouertjie wat dit baie gemaklik maak om rond te dra. ‘n Leerhouer vir die Kindle kan maklik soveel kos soos die Prestigio mét sy gratis houer! Dan praat ‘n mens nie eens van ‘n laaier vir die Kindle wat jou sommer R200 kan terugsit nie. Hoewel ‘n mens die Kindle, soos ook die Prestigio, via jou rekenaar se USB-poort kan laai, is dit geriefliker om ‘n aparte laaier te hê, iets wat insgelyks gratis saam met die Prestigio versprei word.

Trouens, die hele Prestigio-pakket is uiters aantreklik, van die swart kartondoos waarin die instrument saam met leerhouer, laaier, handleiding en die nodige kabels verpak word tot die matswart plastiek van die leser self. Dit pas gerieflik in ‘n mens se hand as jy lees en die bladsye word aan die regterkant met ‘n stafie vorentoe of agtertoe geblaai, baie soortgelyk aan die Kindle en ander lesers.

Die Kindle is natuurlik ‘n sogenaamde e-ink-leser sonder enige agterlig wat die skerm laat gloei. Dis baie gemaklik op die oë, selfs in helder sonlig en ek sou sê ek verkies dit as e-leser. Prestigio maak selfs ‘n e-ink-leser of wat oor ‘n sogenaamde “Pearl”-skerm beskik, maar dis heelwat duurder as die basiese Prestigio – omtrent dubbel die prys om die waarheid te sê. Vir e-ink-lesers het ‘n mens saans ook kunsmatige lig – soos vir ‘n tradisionele boek – nodig en daarom is dit vir my minder nuttig. As ek saans vir my dogter by haar hoërskoolkooroefening moet wag, kan ek dus nie vinnige in die donker my e-leser aanskakel en lees nie. Die PER3172B is besonder nuttig as laat saans wil lees en nie jou vrou met ‘n bedlampie wil wakker hou nie, want hy beskik soos ‘n gewone rekenaarskerm wel oor ‘n agterlig wat die boek in die donker leesbaar maak. Wat dit verder gerieflik maak, is dat die helderheid van die skerm verstelbaar is. Ek het gevind dat ‘n mens bedags gerieflik op 50 tot 60 persent helderheid kan lees, terwyl so 30 persent in die donker gerieflik is, want dan is die letters net mooi sigbaar sonder dat die skerm te veel by jou oë inskyn.

Veral vir ouer persone wat groter letters verkies, is die Prestigio ‘n seën, want ‘n mens kan die tipografie van enige boek van baie klein tot regtig baie groot verstel, afhangend wat vir jou die gemaklikste is. Omdat uitgewers van sogenaamde “massamarkslapbande” gewoonlik soveel inhoud op die minste aantal bladsye en papier wil inpas, is hulle gewoonlik heeltemal te klein gedruk en sonder ‘n bril haas onleesbaar. Die e-leser het ons daarvan bevry.

Die skerm van die Prestigio is “antiweerkaatsing”, dus kan mens dit ook in baie helder lig in die buitelug gebruik. Oor die algemeen het die aanpasbaarheid van die skerm my nogal verbaas en is dit ‘n vernuftige stukkie tegnologie wat oral – in die vliegtuig, in die bed, buite – gebruik kan word, solank mens net die skerm se helderheid by die hoeveelheid lig rondom jou aanpas.

Persoonlik dink ek die swart-en-wit e-ink-lesers is nog ‘n tikkie gemakliker om te lees: iets soos ‘n Kindle of Prestigio se PER5162. Maar dan boet ‘n mens effens aan veeldoeligheid in, want die veelsydige PER3172B kan nog vir jou volkleurvideo’s of foto’s ook vertoon. Boonop kan dit in enige lig gelees word. Dis net die ding om, gelaai met ‘n paar honderd of duisend boeke, oral byderhand te hê waar ‘n mens dalk moet wag, toustaan, reis of ‘n ledige uurtjie wil verwyl. Of sommer net vir ontspanning wil lees. Teen die prys is dit eenvoudig onverbeterlik!

Koop dit aanlyn by die Praagwinkel.

Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.