Stormers hou die fort Doeroender

Deel op

Dit is ’n beproefde waarheid in voetbal dat ’n goeie offensief wedstryde wen, maar ’n hegte verdediging wen toernooie. In die wortel van dié twee benaderinge is daar uiteenlopende strydfilosofieë: Die aanvallende span reken daarop om te wen deur meer punte as die ander span te kry terwyl die verdedigingsgesinde span daarop ingestel is om te sorg dat die ander span minder punte as hulle kry. Die Reds het verlede jaar, in weerwil van bogenoemde aanname, die Super Rugby-toernooi aanvallenderwys gewen met ’n offensief wat om die oëverblindende hanteer- en voetwerk van Quade Cooper gekonstrueer was. Hy is tans op die kroklys, maar nog steeds probeer hulle die aanvallende voetbal van verlede jaar speel. Die lollery is wanneer hulle nou teen ’n goed-georganiseerde verdediging te staan kom en dis wat vroeër vandag in Australië teen die Stormers gebeur het.

Die Rooi wedstrydstrategie was ’n eenvoudige een: Kry die bal en hou aan daarmee dryf en hardloop totdat daar ’n bres in die verdediging verskyn. Wel, die Stormers-verdediging was ’n slot waarvoor die Reds nie ’n sleutel kon vind nie. Sodra die Reds in aanvalsformasie kom, vorm die Stormers se verdediging op, ongestoor, ongejaag, presies seker waar die brandpunte in die offensief is en hoe hulle dit gaan snuit. Hulle het so ’n goeie begrip van die ruimtes tussen hulle dat die lyn, of soms die kurwe, deurentyd heg bly. Dit is ’n plesier om hierdie verdedigers aan die werk te sien. Daar is nie een werklik verwoestende verdediger onder hulle nie – Juan de Jongh kom seker die naaste daaraan – maar die verstandhouding, vertroue en kommunikasie tussen die verdedigers is op die kop. Wanneer ’n aanvaller in die skootsvak kom, word daar oombliklik besluit wie sy pale gaan lig.

Daar is egter nóg ’n element in die verdediging en dit is die swerwende jagters. Selfs wanneer die verdedigingslinie faal, is dié verdedigers volspoed in posisie om die ontsnappende aanvaller neer te vel.

Die Stormers verstaan ook dat die werk nie klaar is wanneer die bal grond toe gaan nie. Die losbal word genadeloos gejag, nie net deur die losvoorspelers nie, maar deur elkeen binne trefafstand. Die Reds het net nooit die luuksheid gehad om ’n bal te laat rondlê nie en dit was veral Tiaan Liebenberg en Gio Aplon wat vinnig op los goed geteer het. Boonop het die Stormers die vermoë ontwikkel om rondom die losskrum met vinnige verdediging te verras. Telkemale is ’n Reds-speler afgehaal om te sien dat hy die bal afgestaan het omdat ’n verdediger opgeduik het net waar hy nie verwag of gewens was nie. Dit het alles veroorsaak dat die Reds se tyd om ’n aanval in te rig baie beperk was.

Einstein het gesê dat ’n kranksinnige mens iemand is wat ’n eksperiment oor en oor herhaal en elke keer ’n ander uitslag verwag. Om deurlopend aan te val met dieselfde resultaat – nóg ’n uitgedoofde aanval, nóg ’n verlore bal, nóg ’n bal wat skielik terug geskop word oor al daardie meters wat jy so duur gekoop het – laat ’n span naderhand effens mal voorkom en dis wanneer ’n speler wat normaalweg nugter dink, soos Will Genia, sotlikhede aanvang, soos om te reken hy kan die vlakopstormende Stormers-linie koudsit met ’n boogskoppie uit sy eie kwartgebied. Die gevolg was ’n teenaanval waarin Kitshof, die jong kerriekopstut fyntjies langs die kantlyn afgetrippel het, op een of ander manier binne gebly het en die bal aangestuur het na Aplon wat weer sy aangee te midde van ’n sweepslaglak nie vir iemand nie, maar na ’n algemene area, gegooi het waar dit tog opgeraap is en die ander aanvallers kon deurslaan. Uiteindelik was dit Peter Grant wat tussen oorhoopse Reds-verdedigers deurgedwaal het vir ’n drie.

Die Stormers se ander drie was ’n langafstandspanpoging wat uiteindelik voltooi is deur Gio Aplon. Grant se korrel was die hele aand in en na al die Reds se harde werk was dit die Stormers wat gaan lemoenskyfies eet het met ’n voorsprong van 17-3.

Toertamheid het die Stormers in die tweede helfte gevang en van teenaanvalle was daar nie sprake nie. Hulle is verrinneweer in die skrums en het net soms hulle eie lynstaanballe gewen. Maar die verdediging het steeds gehou. Die Reds se enigste drie was nie die vrug van volgehoue, deurpriemende aanvalle nie, maar van ’n lynstaanblaps deur die Stormers net buite hulle doelgebied. Deon Fourie het die bal eenvoudig oor sy slotte gegooi tot waar James Horwill losgestaan en die bal sonder ’n verdediger voor hom gevang het. Vyf maklike treë vir ’n drie.

Dit was die Reds se enigste punte in die tweede helfte en die Stormers kon self net twee strafskoppe se punte insamel vir ’n 23-10 oorwinning.

’n Mens sou wou sien dat die Stormers se gevaarlike agterlyn meer bestendig begin vuur. Maar selfs sonder trosse drieë, as dit bloot van hulle verdediging afhang, kan die Kapenaars hierdie jaar dwarsdeur druk en die hand aan die trofee slaan.

лобановский александр дочь

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.