Che en JFK: Bloedbroers van Varkensbaai

Die een was ‘n liggewig-, owerspelige, agterbakse liberalis, die ander ‘n moorddadige, brutale lafaard en tog is hulle beslaan deur die populêre media as die ikone van hulle tyd; eersgenoemde as verligte martelaar; laasgenoemde as die algehele vergestalting van waagmoed, medemenslikheid en edele rebelsheid, deur en deur die gegoede en kragtige wat intree vir die onderdrukte, die swakke. Beide was goed onderrig, welsprekend en sjarmant, maar die grootste ooreenkoms tussen hulle was hulle deurlopende wrewel in die Westerse beskawing en die grootsheid van die Eisenhower-era Verenigde State. Dis tyd om weer te kyk na die ware J.F. Kennedy en sy Latyns-Amerikaanse bondgenoot, Che Guevara, gestroop van die glans van die neonstralekrans.

Dit kón gewerk het, dit móés gewerk het. Ja, daar was net 1,500 invallers om 44,000 ingegrawe, goedtoegeruste soldate met algehele lugheerskappy te pak, maar as alles volgens plan verloop het – as hulle Amerikaanse borge net hulle deel van die plan geïmplementeer het – sou die heldhaftige Kubaanse rebelle hulle eilandstaat bevry het van die bloedverkwistende, onderdrukkende, vernietigende regime van Fidel Castro. Weens die koelbloedige ongeërgdheid van die Amerikaanse president, egter, is die vryheidsvegters in die slag gewerp, nie vir ‘n vryheidstryd nie, maar vir ‘n selfmoordsending. En niemand het meer genot uit die verraad geput as Castro se laksman, Che Guevara nie.

Che se verrysing tot ‘n soort Don Quixote op ‘n motorfiets –  ‘n sigaarsuigende kryger teen onreg, die arm man se laaste kampvegter –  begin met ‘n onbeduidende, lustelose klein opstand in Guatemala. Che, ‘n jong dokter, was teen hierdie tyd dwarsdeur ‘n kommunis, en hoewel hy ‘n Argentyn was, het hy homself met die Marxis se arrogansie aangematig om onrus in enige demokratiese land in die wêreld te stook.  Hy het ‘n intense, meesleurende persoonlikheid gehad en dit geen moeite gevind om die arm plattelanders tot revolusie aan te hits nie. Hierdie was egter in die Amerikaanse dampkring en die Sentrale Inligtingsagentskap (CIA) het die opstand met die minste moeite onderdruk en Guevara se naam neergeskryf.

Che, nadat hy sy kamerade agtergelaat het om die regering se gramskap te sluk, het uitgewyk Meksiko toe waar hy alle kans gestaan het om ‘n gelate kroegvlieg wat teer op vrouens te word. Toe ontmoet hy ‘n jong, uitgesproke Kubaan, Fidel Castro, self ‘n opstandige lid met ‘n obsessie om die diktator, Fulgencio Batista, te gronde te bring. Die twee nuwe beste vriende sluip Kuba toe, versamel ‘n roerpotjie ondersteuners en gaan soek skoor met die Kubaanse weermag deur wie hulle aanvanklik goed en maklik afgeransel word. Castro en Guevara se plek in geskiedenis is egter vir hulle ingerig deur die algehele ontnugtering van die landelike arbeidersklas in die ongebreidelde korrupsie van die Batista-regering. Die kleinboere en werkers stroom agter die Castro-Guevara vennootskap aan en op die 8ste Januarie 1959 stoom hulle ongehinderd die hoofstad, Havana, binne, die regeringsleër se mag finaal gebroke.

Castro bewys homself en sy nuwe regering in ‘n ommesientjie nog meer baasspelerig en wreed as dié een wat hy vervang het. Wat Che betref, sy pel Castro het vir hom ‘n spesiale werkie uitgesoek en hom in beheer geplaas van teregstellings in die sombere Cabana-tronk. Praat van werksatisfaksie. Duisende burgers is op sterkte van die wasigste – of geen – aanklag aangekeer en in die binnehof van die gevangenis geskiet. Guevara was in ekstase en het elke moontlike sekonde in die slagplaas deurgebring en dikwels, met onverdunde opgewondenheid, self die genadeskoot gevuur. Geen moord was te veel of te onregverdig vir Guevara nie. Dit het sy stokperdjie, sy kruisvaart, sy obsessie geword.

Uiteindelik het Castro, waarskynlik self verbaas en effens geskok deur Che se bloedlus, die Argentyn uitgeskuif na ‘n ministerie wat toesig moes hou oor die transformasie van plase en nywerhede. Teen hierdie tyd was Castro se grootheidswaan so ‘n innerlike orkaan dat hy selfs die Verenigde State se nywerhede en plase begin nasionaliseer het. Amerika, na ‘n kortstondige infatuasie met Castro en Guevara waarin veral die liberale pers ‘n blos op die wange gekry het oor dié tweespan, was nou hartlik keelvol vir wat in Kuba gebeur. Die CIA het ‘n plan opgetrek om ‘n einde aan die opgeskote Castro-regime te bring.

Die plan om Castro uit te skop, het ‘n gewillige stewel nodig gehad, en daar was een wat voor die hand gelê het: Die uitgeweke Kubaanse gemeenskap in Amerika, hoofsaaklik Florida, mense wat gewalg is deur die brutaliteit van Castro en sy Che, ontsteld oor die verlies van hulle lewenstrukture en vasberade om iets daaromtrent te doen.

Die CIA het ‘n span militêre adviseurs – geharde Wêreld- en Koreaanse Oorlogveterane – het die 1,500 mees wraakgierige Kubane versamel en hulle deur intensiewe basiese en infanterie-opleiding gestoot. Indien President Generaal Dwight Eisenhower nie persoonlik aan die beplanning deelgeneem het nie, was hierdie dan ‘n soort huldeblyk aan hom. Dit het die Eisenhower-gevoel van dag een tot Dag D gehad: ‘n Misleidingsaanval wat ‘n amfibiese aanslag verbloem het, lugmeerderwaardigheid, vernietiging deur die lugmag van die vyand se vliegtuie en ander verdedigingsbates en ‘n blitsige aanslag op die kop van die dier. Die invallers is bewapen met oorskot- Amerikaanse wapentuig en selfs ‘n paar verouderde B26 Marauder-bomwerpers wat onder ‘n valse vlag sou vlieg.

Die Rebelle, waarvan heelwat voor hierdie opleiding nog nooit ‘n geweer gevoel het nie, was as instrument gereed verklaar vir ‘n inval in laat April 1961. Die fanatiese invallers is per see verskuif na Nicaragua en vandaar gelanseer op hulle veldtog om hulle land te bevry. Hulle doelwit was ‘n sanderige baai wat genoeg skuinsruimte gehad het om die guerrillas aan land te bring: Bahia De Cochinos – Die Baai van Varke.

Die aanval is deur ‘n skynoffensief vooraf gegaan aan die anderkant van Kuba by Pinar Del Rio. Che Guevara, knus omring deur duisende regeringsoldate, het manmoedig afgesit daarna, waar hy en sy troepe ingegrawe het en hulle koppe laag gehou het, diep beïndruk deur die knalle en ontploffings en rook en flitse in die donker op die see, onwetend dat dit alles veroorsaak is deur klanktoerusting, klappers, Romeinse kerse en rookopwekkers in leë roeibootjies.

By die Baai van Varke was die opstandelinge in posisie om te land. Myle terug aan hulle rugkant was Amerikaanse vliegdekskepe, gereed om in te gryp as die rebelle sou vasval. En, inderdaad, aangesien die sending se program uitgelek en die Kubane geweet het wanneer die inval sou plaasvind, het die invallers binne die eerste oomblikke in die tande van ‘n vuurstorm vasgeloop. Opgerig teen hulle was 40,000 regeringstroepe toegerus met T34 slagveldtenks en gesteun deur straalvegvliegtuie.

Die CIA-waarnemer het die radiofoon opgeneem, die stuurknoppie in gedruk en Plan B geaktiveer. Die agentskap was gewoond daaraan om die president te bel wanneer een van hulle operasies vasval, soos die geval in Guatemala was. Maar die President wat dié keer die foon geantwoord het, was nie die vasberade, ervare Ike nie… ‘n splinternuwe, sjarmante jong president was nou die opperbevelvoerder van alle Amerikaanse magte.

John F. Kennedy het die Amerikaanse pers, en dus die bevolking, se verbeelding aangegryp. Hy was ‘n jong oorlogsheld uit ‘n gegoede en gerespekteerde familie. In die volksoog was hy die dinamiese jong ridder wat die volk sou losskeur uit die greep van ‘n uitgediende garde wat die VSA drie maal in een eeu in ‘n oorlog ver van hulle eie grondgebied gesleep het. Sosiale rewolusie was in die lug en JFK was die oorgang na die tyd van die anti-held. Hy het ‘n briljante verkiesingsveldtog bedryf om die regering los te wikkel uit die verstokte Republikeine se mag.

‘n Briljante politikus, ja, en idealisties, maar geen leier nie.  En ware leierskap was wat die situasie by die Baai van Varke dringend nodig gehad het. Eisenhower sou die vliegtuie ingestuur het om die Kubaanse lugmag op die grond uit te wis en Castro se tenks te stuit. Die uiters mobiele invallers sou die statiese slagveld kon vermy en onmiddellik toegeslaan het op die hoofstad. Maar Kennedy was geen Eisenhower en hy het die versoek geweier.

Die CIA was geskok. Een geharde ou ramkat, veteraan van die Wêreldoorlog en Korea, Grayston Lynch, was in trane toe hy besef die invallers is vir die kommunistiese wolwe gegooi. Die uitgewekenes is vasgekeer en die oormag het ingerol. Vir drie dae het hulle ‘n onwenbare stryd geveg, tot die laaste patroon afgevuur is en honderde van hulle gesneuwel het. Hulle het waarskynlik dertig regeringsoldate doodgeskiet vir elkeen van hulle wat dood is. Maar die oormag was te groot. Die saamgeflanste lugmag is deur Castro se moderne Russiese vliegtuie uit die lug geklap.

Terwyl Kennedy in sy element was, gestrikdas en geaandpak by ‘n dinee, het seuns in die modder van Varkensbaai met vuurpylgranaatlanseerders T34 tenks bestorm en hulle heldhaftig bestook. En toe sterf hulle. Kennedy het geweet hulle gaan daar wees. Hy’t geweet wat vir hulle wag en hy het geweet dat hy hulle aan die genade van genadeloses sou oorlewer. Dat hy toegelaat het dat die aanval voortgaan sonder dat hy bereid was om vir hulle die redelike bystand te bied, is onvergeeflik. Dit is ‘n verdere klad op ‘n geensins onbesproke karakter.

Uiteindelik is die laaste skoot gevuur. Die invallers het hulle radiotoerusting vernietig en oorgegee.

By die Baai van Varke was dit uiteindelik tyd vir Che, nou dat die gevaar verby was, om die toneel te betree. Daar was vars vleis; teregstellings om te reël. Hy het, volgens ‘n ooggetuie, gebewe van opgewondenheid.

Daarmee is Kuba oorgelaat aan vyf dekades – en ons tel nog – se hardhandige, versmorende, verrottende verdrukking. Twee jaar later, regstreeks as gevolg van sy mislukking by Varkensbaai, het Kennedy ‘n haarbreedte daarvan gekom om die wêreld in ‘n kernoorlog te dompel tydens die Kubaanse Missielkrisis.

Hierdie twee toevallige bondgenote, Che en JFK, is beide jonk dood – albei deur die koeël van ‘n vyand – jonk genoeg vir hulle beelde om ingekleur te kon word as ikone wat geensins deur hulle nalatenskappe gestand gedoen is nie. Kennedy, die eens trae kryger, het die VSA teen die glibberige skuinste afgekantel tot die duur en verkleinerende neerlaag van Viëtnam. Sy beleidswortels het saad geskiet in die immigrasiedebakel wat Amerika nog gaan verslind en deur sy ondeurdagte welsynsfilosofie is die swart gemeenskap in die VSA gereduseer tot ‘n hulpbehoewende, gewelddadige gemeenskap van gebroke gesinne.

Che, nou weer, het bloed gelaat wat tot lank na sy dood nog sou vloei. Honderde duisende landwerkers en ander arm arbeiders het hulle lewens weggegooi in najaging van sy ideale. Hy het ‘n stowwerige dood gesterf in Bolivië aan die hand van ‘n tienersoldaat met ‘n FN.

Vir al Che se brutaliteit en agterbaksheid, en vir al Kennedy se onbeholpenheid en ruggraatloosheid, het die mitologie rondom hulle net groter en kragtiger geword. Che staar stip voor hom vanuit die beroemde foto wat van hom geneem is, lang hare en efferige snor en uitdagende oë en swart baret,  van ‘n miljoen slaapkamerplakkate en T-hemde af. En Kennedy word nog steeds so helder gehoor wanneer hy, effe besimpeld, sê:  “Ich bin ein Berliner.” Ons hoor om ook sê: “Moenie vra wat jou land vir jou kan doen nie…”

En ja, met ‘n Kennedy aan die stuur, moet net nie vra dat jou land sy verpligtinge teenoor sy vriende gestand doen nie. Wanneer ons aan hom dink, speel ons geheues vir ons die meisietjiestem van ‘n wulpse blondine wat koer: “Happy Birthday, Mister President,” terwyl wat ons behoort te hoor die ontstelde gille is van desperate mense wat sterf in ‘n koeëlbui omdat hulle in hulle nood verraai is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.