Ontmoet Thabo, die DA se jongste mislukking

Deel op

Ontmoet Thabo. Wie is Thabo? Hy is die DA se idee van ‘n reënboogmens en die party se jongste mislukking om swart steun te werf.

“Dit is ‘n spotprent wat ons gebruik om die boodskap van anti-tol op innoverende maniere oor te dra. Spotprente is pret en maak ‘n ernstige punt. Tolgeld gaan ‘n enorme invloed op Gauteng en alle soorte mense hê,” sê Jack Bloom, die DA se leier in die Gautengse wetgewer.

Volgens die jongste aanduidings gaan dit witmense ten seerste tref en dit is seker net ‘n bestiering dat Cosatu ook gekant is teen e-tol.

Thabo praat glo vir die “vergete” Suid-Afrika. “Hy is die stem van ons siekes in Alex, depressiewes in Diepsloot, swetendes in Sebokeng, ongelukkiges in Mamelodi, en hongeres in Hammanskraal,” sê sy Facebook-profiel.

Die DA se lomp internetveldtog – wat inderhaas weer verwyder is – is oudergewoonte die patroniserende boodskap van wit Engelssprekende Suid-Afrikaners wat nie net geen aanklank vind by swartes nie, maar hulle op die koop toe vervreem.

Thabo se uitroep “Eish Thabo!”  is blykbaar ook grammatikaal verkeerd en ‘n onsamehangende uitdrukking vir inheemse taal sprekers, sê ‘n swart joernalis Osiame Molefe.

Vir hom, sê hy, lyk dit na ‘n bemarkingsveldtog waar geen swart persoon moontlik in die nabyheid kon gewees het toe hulle dit vir ‘n swart teikenmark uitgedink het nie.

Bloom dink anders: “Die veldtog is om ondersteuning vir die wettige veldtog teen tol te monster. Ons het protes in die straat, maar regstappe teen die tol is die beste manier om dit te stop. Ons wou ondersteuning sodoende vergroot.”

Bloom, bekend daarvoor dat hy spog omdat hy oorslaap in lokasies rondom Gauteng, het saamgespan met illustreerder Tim Mostert om Thabo te skep. Mostert is die skepper van die “Speedy” spotprente wat in die Daily Sun verskyn.

“Ek is betrokke by ‘n groot nie-blanke demografie en ek wou iets doen sodat die nie-blanke demografie in Gauteng ‘n stem kon hê, en ek wou dit op ‘n humoristiese manier doen,” het Mostert gesê. Bloom was gaande oor sy idee.

Voordat die Facebookblad verwyder is, het Thabo se Facebook-biografie gelees, “Eish! Ek leer nog om te tik, en ek het al my eie Facebook!”

Dit is blitsig afgehaal nadat dit ‘n opskudding op Twitter veroorsaak het. Maar die biogafie was nie die enigste probleem nie.

“Wel, dit kom oor as so neerbuigend dat jou mond oophang, vir een ding, en dit wys weer op die persepsies dat die DA net nie die subtiliteite van tonaliteit kan regkry wanneer dit kom by die hantering van swart kiesers nie,” sê die bemarkingstrateeg Sarah Britten.

Niemand bevraagteken die impak van die uiters ongewilde tol op Gauteng se pendelaars nie en om openbare steun vir ‘n hofsaak te werf, moet maklik wees.

Die probleem is dat die Thabo-veldtog glad nie spreek tot hetsy die gemiddelde lokasiebewoner of middelinkomstegroep nie.

Maar ‘n veldtog wat fokus op een ras spesifiek, “van ‘n omstrede handelsmerk soos die DA, op ‘n platform waartoe almal teoreties toegang het, is redelik ontstellend om te sien”, sê Britten.

Die DA se nasionale kommunikasie-kantoor is eers Maandag oor die veldtog ingelig.

“Die party is gewaarsku deur die negatiewe sentiment op Twitter, en ons hersien die webwerf. Terwyl dit duidelik ‘n goeie inisiatief is in die sin dat dit bedoel is om ondersteuning vir ‘n regsaksie teen die tolpaaie te werf, was dit te maklik vir mense op sosiale netwerke om verkeerd te interpreteer,” sê Gavin Davis, nasionale hoof van die DA se kommunikasie.

Hy was onverstoord oor die ondeurdagte “Eish, Thabo” veldtog. Hy het gesê die party is “baie meer bekommerd oor die substantiewe kwessies wat die lewens van die alledaagse Suid-Afrikaners raak”.

Gegewe dat Thabo potensieel veral die swart middelklas aanstoot kan gee, moet die DA begin wonder oor hul grootse ambisies om die ANC uit die kussings te lig. Kennelik vaar hulle tans swakker as die NNP om buite hul tradisionele kiesersbasis te beweeg.

александр лобановский харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.