Federer, tennis se grootmeester

Dit gebeur min dat ‘n groot sportman se uiteindelike nalatenskap in een sekonde – een hou of tree of hekkie of skoot – bepaal word. Maar vir Roger Federer hét daar so ‘n oomblik aangebreek. Daar was twee moontlike uitslae: Is hy suksesvol in daardie sekonde, sal hy voortgaan om uiteindelik sy status as die beste speler om ooit ‘n tennisraket op te neem, beklink. Misluk hy, sal hy in alle waarskynlikheid wegsink in die kronkels van sy eie innerlike worstelinge en die gety van geskiedenis, gedoem om bloot ‘n besprekingspunt in ‘n debat oor grootsheid te wees.

Vir Federer om aanspraak te maak op die toppunt van die grootsheidspiramide was dit nog altyd onontbeerlik om die Franse Ope te wen. Sedert die eerste helfte van die dekade was hy die onbetwiste grootmeester op hardebane en gras; en ook die tweede beste speler op die klei van Roland Garros. Hy sou, was dit nie vir Rafael Nadal nie, ook daar die primêre speler van sy era gewees het.

Sy groot kans, die geleentheid wat so selde kom, het in 2009 aangebreek. Die een kleispesialis na die ander het gebuig en die verhoog verlaat. Nadal self het in die perfekte wedstryd gespeel deur ‘n Sweedse orkaan – brutaal, rou, vol skerp kante en verwoestende grondkartetse – met die naam Robin Soderlingh uitgeval. Federer het nooit voorheen so ‘n oop roete na die Franse kroon gehad nie. Maar toe duik Tommy Haas in die kwarteindrondte op.

Federer was in ‘n speldeining, nie ‘n ongewone gebeurtenis nie. Gewoonlik het hy dit bestuur deur een of ander wapen in sy arsenaal te vind waarop hy kon vertrou, sy spel daarom te konstrueer en sy teenstaander af te takel. Maar dié keer wou weinig werk – nie sy sjirurgiese rughand nie, en ook nie die voorhand wat as die gevaarlikste wapen in manstennis beskou is nie. Sy voetwerk was onseker, sy voorgevoel dof. Dit alles in ‘n stryd met die uitspattig begaafde Haas, ‘n deurgaanse onderpresteerder wat gespeel het asof die noodlot hom geroep het.

Haas het, toe hy eers vasgestel het dat Federer se wapens dowwerds skiet, begin om ware swakpunte in die Switser se pantser te soek – en te vind. Federer was naderhand soos ‘n slagskip wat al sy wapenstelsels verloor het, met die uitsondering van een. Sy afslaan het so presies en dodelik soos altyd gevuur. Maar net soos ‘n skip nie op een hoofwapen vir oorlewing kan staatmaak nie, was Federer besig om as’t ware in die klei van die Stadion Phillipe Chatrier weg te sink. In die aangesig van Haas se dwarsbaan-, middelbaan-, agterbaanwenners, het Federer se afslaan geknal en knal en knal, uiteindelik met ‘n desperate, verwese noot.

Haas het die eerste twee stelle maklik gebank en in die derde stel het hy ‘n enkele punt op Federer se afslaan nodig gehad om hom noodlottig te breek vir ‘n oorwinning. Hy het die diens ontvang en die bal in Federer se rughandkant ingedruk.

As jy een van die beste spelers in die wêreld is, kerf jy die bal met jou rughand terug in desperate vertroue dat elke hou wat jy suksesvol terugstuur vir jou opponent die geleentheid gee om ‘n fout te maak; ‘n soort van ‘n gelate werp van brood op wispelturige waters. Maar as jy Roger Federer is, is dít nie wat jy doen nie. Dán hardloop jy om die invalsrigting van die bal, vind daardie volmaakte oomblik van balans en, al het jy ‘n honderd sulke balle herwaarts en derwaarts in die wedstryd gesprei, werp jy jou raket met volle uitgelatenheid, volle oorgawe, in ‘n vlietende kring sodat daar ‘n plofknars op die snare is en die bal van die raket af sis, oor die net suis en die buitestreep tref en wegskroei van jou teenstander af.

Daardie een hou van Federer kan dien as opsommend van sy loopbaan, ’n oomblik van verbysterende meesterskap, ’n blitsige passie saamgestel uit al sy kenmerke van balans, fokus, grasie en dodelike venyn.

En net daar, so skielik asof ‘n foutiewe stroombreker vervang is, skakel Federer aan. Dis alle stelsels aan! Die wapentorings zoem met hernude lewe. Die slagskip stoom volspoed.

Die een voorhand na die ander donder deur Haas se verdediging. Rughandlasers tref die diepste hoeke, valhoutjies huppel skalks oor die net, sierlike booghoue laat Haas lyk asof hy in homself vashardloop. Federer wen die derde stel, die vierde stel, die vyfde stel, die halfeindrondte en, nou met ‘n sekere onafwendbaarheid, die eindstryd teen Robin Soderlingh wat hy tot ‘n briesie eerder as ‘n orkaan reduseer, en dan majestueus uitdoof.

Met die Franse Ope-titel in die Federer-vertoonkas, is die debat vir alle praktiese doeleindes oor. Dit sal OJ Simpson-se-jurie gehalte vooroordeel verg om vir Roger Federer sy plek as die beste tennisspeler ooit te ontsê.

Daar is die onbestrybare, koel feite: Sestien Grand Slam-titels versamel in al vier die hooftoernooie, op gras, op hardeblad, op klei. Miskien nog meer veelduidend is die ononderbroke rits van 23 Grand Slam-halfeindrondtes waarop hy trek – die volgende beste reeks was Ivan Lendl se tien.

Alle sport vaar op die stroom van statistieke, maar die getalle vertel nie die ware verhaal van Roger Federer nie. Dit is nie net die “wat” nie, maar eerder die “hoe” wat tel. Hy slaan die bal hard, ja, so hard soos omtrent enige ander speler – sy voorhand is deur John McEnroe beskryf as die gevaarlikste wapen in manstennis – en ja, hy het die voetwerk van ‘n klopdanser en luiperdagtige atletiese vermoëns. Sy afslaan is dodelik, dit is so, onmoontlik om te voorspel omdat hy soveel variasies daarvan het alhoewel hy die bal elke keer op presies dieselfde plek in die lug gooi.

Maar daar is ook ‘n sekere oudmodiese element aan sy spel, ‘n elegansie en taktiese sofistikase wat die kenmerk in die spel van ‘n vorige geslag spelers was. In vrye vlug het hy die grasie van ‘n Bariesjnikof, die swier van ‘n matador en die ingestudeerde dodelikheid van ‘n skaakgrootmeester. Niemand is beter met die ontleding van teenstand as Federer nie en dit is altyd vasnaelend om te sien hoe hy ‘n opponent sal toets-toets-toets totdat hy ‘n swakplek gevind het, en hoe meedoënloos en akkuraat hy dié pantsergleuf dan uitbuit.

Dis ook asof hy die driehoeks- en meetkunde van ‘n bewegende bal beter as enige iemand anders verstaan, wat hom die vermoë gee om ‘n gevaarlike bal nie net terug te slaan nie, maar om inderdaad ‘n wenner daarvan te maak. (Later die jaar in sy VSA-Ope-halfeindstryd teen Novak Djokovic het hy ‘n bal tot anderkant die afslaanstreep agterna gesit en dit van vooraf teruggekrap, tussen sy bene deur, ‘n hou wat al deur ander spelers uitgevoer is, maar met die verskil dat syne ‘n volmaak gekorrelde verbyhou vir ‘n wenner was.)

Tennis se verbintenis met die massamedia, het van dit nie net ’n sport nie, maar ’n skouspel gemaak, en daar word van ’n ster verwag om meer te wees as net ’n sukses op die baan. Vir die nuusnetwerke en die sterrepers is Federer ‘n gawe reguit uit die hemel. Hy is sjarmant, hoflik en veelbesproke in drie tale – Duits, Frans en Engels. Sy geduld met die pers is legendaries. (Nadat ‘n joernalis ‘n lang onderhoud met Federer gevoer het en toe tot sy afgryse uitgevind het sy stemopnemer was nie aan nie, het die tennisster ewe gemoedelik voorgestel dat hulle die onderhoud van vooraf voer.) Hy is modebewus en kan altyd deur ‘n ring getrek word, mees roemryk op Wimbledon in sy glanswit opwarmuitrusting wat meer aandpak as sweetpak was.

Tog was die Federer op die kruin van sy loopbaan amper onherkenbaar as die briljantbegaafde maar opvlieënde speler van vroeër. Hy was eers ‘n regte raketkraker met ‘n poniestert. Waarnemers het gereken sy emosionele broosheid sou hom van ware grootsheid beroof. Maar hy het homself herontwerp en hoewel hy nou nog uiters emosioneel op die baan kan wees, is sy psigiese onwrikbaarheid een van die sleutels tot sy langdurige sukses.

Grootsheid bestaan egter nooit in afsondering nie. ‘n Sportman se status word deur sy teenstaanders bepaal. ‘n Mike Tyson, byvoorbeeld, het nooit die ware legendehoogtes behaal nie, juis omdat hy in ‘n tyd geboks het waar daar weinig hoë-gehalte teenstand was. Federer daarenteen is goed gedien met sy teenstand. Borg het sy Connors gehad, McEnroe sy Lendl en Sampras sy Agassi, maar Federer se primêre nemesis sou die jong Spanjaard, Rafael Nadal, word, ‘n monster van ‘n speler wie se onverbiddelike, brute krag en baanspoed uiteindelik Federer se vermoëns dungeskuur het, hoofsaaklik in die Franse Ope, maar ook in 2008 se klassieke Wimbledon-stryd en 2009 se epiese Australiese Ope.

Nadal het selfs vir ‘n tydperk Federer se nommer-een posisie afgeneem, maar voordat ‘n Nadal-era kon aanbreek, was dit die Spanjaard wat momentum verloor het en Federer het drie van die volgende vier Grand Slams gewen. En verlede jaar het ’n nuwe maarskalk uiteindelik die slagveld verower. Novak Djokovic, op sy beste, was duidelik beter as Nadal op sý beste. Federer het sy Nadal gehad, maar Nadal het nou sy Djokovic.

Hoe lank Federer nog sal aanhou, is ‘n ope vraag. Hy is reeds deur die ouderdomsgrens van 30, ‘n gevorderde ouderdom vir ‘n tennisspeler. (Bjorn Borg, onthou, het op 26 uitgetree.) Hy het goed afgeskop in die jaar en Djokovic hét effens teruggedaal uit die stratosfeer van verlede jaar, maar hy weet nou hoe goed hy kan wees. Nadal bly so gevaarlik soos altyd, en dan is daar nog Andy Murray ook. Tog sal dit niemand verbyster as Federer nóg ’n Grand Slam of twee by sy oes voeg nie.

Daar is ‘n gevoel van ‘n grootsheid wat verbygaan elke keer as Federer speel. Maar tot daardie dag aanbreek, het ons die voorreg om sekerlik die grootste tennisspeler van alle tye, die ware kunstenaar van die baan te sien, as hy nogmaals in posisie sweef, nogmaals die sekondebreuk van volmaakte balans vind, en die bal slaan soos niemand anders nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.