Mbeki-Zumastryd verhewig

ImageNelson Mandela het destyds al vir Mbeki gewaarsku om nie vir Zuma as adjunkpresident aan te stel nie, maar Mbeki het geglo sy vriend koester geen presidensiële ambisies nie. Daarom het hy voortdurend gesorg vir heelwat van die politieke aanstellings van Zuma. Vandag is dit duidelik hoe kortsigtig Mbeki nog al die tyd was.

Zuma het in 1962 op 20-jarige ouderdom by Umkonto weSizwe aangesluit. Een jaar later is hy tot tien jaar tronkstraf gevonnis en na Robbeneiland verban waar ander ANC-lede hom onder hande gekry het.  Nadat hy vrygelaat is, het Zuma in KwaZulu-Natal begin om ondergrondse netwerke vir die ANC te vestig.

Mbeki het Zuma in 1974 in Swaziland ontmoet nadat Zuma daarheen moes vlug om van die veiligheidspolisie te ontkom. Zuma het ʼn kort tydjie in Mosambiek as ANC-hoof gewerk voordat hy met Mbeki se hulp, as hoof van die ANC se intelligensieafdeling aangestel is. Reeds toe het Zuma al die reputasie as straatvegter verkry.

Zuma was van groot waarde vir Mbeki in die 1980’s toe geheime gesprekke met die intelligensiedienste in die apartheidsjare gevoer moes word. Daarom het Mbeki gesorg dat Zuma in 1991 adjunksekretaris-generaal van die ANC word as teenwig van Mbeki se grootste politieke teenstander destyds, Cyril Ramaphosa.

Zuma is net na 1994 se oorname in die KwaZulu-Natalse kabinet aangestel waar hy in opdrag van Mbeki ʼn samesmelting tussen die ANC en die IVP moes bewerkstellig.

Twee jaar nadat Mandela vir Mbeki in 1994 aangestel het as adjunkpresident, het Mbeki by Mandela begin aandring om toe te sien dat Zuma ANC-onderleier word. Mandela en Mbeki het vroeg in 1997 saam vir Zuma gaan vra om sy bande met verdagte vriende te verbreek waartydens Mandela ook R2 miljoen aan Zuma gegee het om “nuut te kan begin”.

Slegs drie maande nadat Mbeki vir Zuma in 1999 as adjunkpresident aangestel het, het hul verhouding begin versuur. Zuma was veral omgekrap omdat Mbeki dit op een tydstip oorweeg het om Nkosazana Dlamini-Zuma, Zuma se vervreemde vrou, as adjunkpresident aan te stel, terwyl Mbeki glo vir Zuma en sommige ander ministers “met minagting behandel het”.

Toe die destydse hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Bulelani Ngcuka, in Augustus 2003 bekend gemaak het dat Zuma nie van omkopery en korrupsie aangekla sal word nie, was Zuma al twee jaar lank die onderwerp van ʼn ondersoek, met Mbeki se volle medewete.

Sommige ANC-leiers het ontevrede geraak met Mbeki se beleid oor MIV/vigs asook oor Zimbabwe, en planne begin maak om Zuma as ANC-leier te laat verkies op die nasionale kongres in 2002. Mandela self het hierdie revolusie gestuit. Mbeki het Zuma gedwing om in die openbaar te verklaar dat hy nie president wil word nie, en maande lank hierna het die twee nie met mekaar gepraat nie.

Te midde van Mbeki se kortsigtigheid, het Zuma al sedert sy aanstelling as adjunkpresident hard gewerk aan sy beeld as staatsman. Daarom het hy ook in 1999 tydens ʼn uitval tussen Mbeki en Cosatu, namens die ANC met die vakverbond onderhandel, en was hy onder andere ook tussen die SAKP en Mbeki die bemiddelaar toe alliansiegemoedere warm begin raak het. Daarbenewens het Zuma ʼn sleutelrol tussen die ANC en IVP in KwaZulu-Natal gespeel en ook die Nie-Regering-Organisasies te woord gestaan, iets wat Mbeki nie graag wou doen nie.

Dit was nie vir Zuma moeilik om in die nasionale vergadering die rol van ANC-leier oor te neem nie want Mbeki kom nie baie in die parlement nie. So het hy ook as internasionale staatsman heelwat kere vir Mbeki ingestaan.

 

ʼn Brief van Winnie Mandela aan Zuma waarin sy ontken dat sy gerugte oor Mbeki se beweerde rokjagtery versprei het, was een van die sake wat die twee “vriende” vir mekaar laat tande wys het omdat Mbeki geglo het dat Zuma dié brief se inhoud aan die media uitgelap het. Hierna het Mbeki probeer om Zuma in 2004 as adjunkpresident te vervang maar die sekretaris-generaal van die ANC, Kgalema Motlanthe, het gekeer dat dit gebeur.

Mbeki is grootliks self verantwoordelik vir sy val in Pietersburg by die ANC-kongres in Desember. Daar het die afgevaardigdes ook ʼn reeks besluite geneem om hom en toekomstige presidente in toom te hou. Mbeki moet onder andere voortaan die ANC se uitvoerende komitee raadpleeg oor aanstellings en skommelings in sy kabinet. Hy en die premiers van provinsies sal selfs sekere besluite aan die ANC-leierskorps moet voorlê. Hierdie poging deur sy teenstanders in die ANC, sal die stryd tussen Zuma en Mbeki verder laat verhewig.

Die spanning tussen Mbeki en Zuma sal op die korttermyn lei tot desentralisering van die magte wat Mbeki onder hom gehad het, maar uiteindelik sal dit tot totale verlamming van die hele landsbestuur lei. Zuma, wat groot steun geniet onder baie radikale faksies soos Cosatu en die ANC-jeugliga, sal nie probeer om die chaos in die land te voorkom nie. Tans is hy besig om in die openbare oog sogenaamd die opstandigheid van sy aanhangers te kalmeer, maar Cosatu het reeds gedreig om indien die hofsaak in Augustus voortgaan, die hele land onregeerbaar te maak. Zuma is saam met sy ondersteuners woedend omdat hy nou weer vervolg gaan word op aanklagte van swendelary, geldwassery, korrupsie en omkopery, en gee voor dat dit ʼn politieke vete is wat teen hom gevoer word met aantygings dat Mbeki self agter hierdie samesweerdery sit.

Intussen smee Zuma planne teen Mbeki in die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Daar is selfs sprake van ʼn poging om Mbeki en sy vertrouelinge by wyse van ʼn parlementêre mosie van wantroue uit regeringsposisies te forseer.

In ʼn nuwe resolusie wat by Pietersburg in Desember aanvaar is oor die saak dat die ANC-leier ook landspresident moet wees, is die woord “verkieslik” verwyder. Die ou resolusie wat tydens die ANC-beleidskonferensie in Julie as kompromis tussen Zuma en Mbeki aanvaar is, is dus nie meer van toepassing nie. Mbeki gee nou voor dat hy nie met die inhoud van die nuwe resolusie vertroud was nie, maar is baie stellig daaroor dat daar nie so iets bestaan dat die president van die ANC, president van die land kan word nie. Hierdie saak sal die hitte van die stryd tussen Mbeki en Zuma spoedig laat verhewig en dit sal in die volgende maande tot groter konflik met bloedige gevegte lei tussen die aanhangers van beide hierdie populistiese “staatsmanne”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.