Oosthuyzen en die onoorbrugbare net-net

So hier is die plan: Vat ’n groot lap aarde, boor 18 gate, wyd van mekaar versprei, daarin, gee vir ’n paar jongmanne elkeen ’n paar stokke van verskillende groottes en laat hulle kyk wie kan ’n bal met die minste houe in al die gate kry. Dis gekkigheid. Dis gholf. Wat ek ook al betaal word om sport namens Praag se gewaardeerde lesers dop te hou, dis nie genoeg nie, nie wanneer die betrokke sport die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi is nie. En nie wanneer ’n jong, innemende Afrikaner ’n kans het om die wêreld se bestes ore aan te sit nie. Dán word gholfkyk uitmergelend, ’n marathon van senuweeuitputting, ’n uittorring van die siel wat vir g’n mens goed kan wees nie. Vergeet van rugby, moet krieket nie eens noem nie: Wanneer dit by spanning kom, is daar niks soos gholf nie.

Ek wil nie eers dink waardeur die spelers gaan nie. Wat gholf so spannend maak, is die mikroskopiese speling tussen stratoferiese sukses en verpletterende neerlaag. Louis Oosthuyzen, is daar nou in die rekordboeke opgeteken, het uiteindelik tweede gekom nadat ’n Amerikaner met die Amerikaansste van name, Bubba Watson, hom in die tweede putjie van ’n valbylstryd geklop het. Saterdag, op een van die putjies, het ’n sethou van Oosthuyzen tot op die nippertjie van die koppie gerol. As dit ’n minuut van ’n graad verder gerol het, ’n enkele gholfbaldimpel verder, het Oosthuyzen ’n dag later die toernooi gewen. As ’n vlinder op daardie bal op die nippertjie gaan sit het, het die bal geval. In gholf kan die streling van ’n vlinder op ’n bal ’n ewige verskil maak.

Nie dat Oosthuyzen sy vuis teen die noodlot moet skud nie. Hy het vroeër gister ’n massiewe skep geluk gehad. Op die tweede putjie was hy nog ’n hou agter die voorlopers. Hy het ’n naderhou van 160 meter in die nou bek van die setperk ingeslaan, die bal het teen die helling afgeswenk en aanhou rol totdat die putjie dit gesluk het. Dit was ’n albatros wat hom in een oomblik van -7 tot -10 versnel het. Hy sou die voorloper tot na die 18de putjie bly. Ongelukkig was hy toe nie meer die enigste voorloper nie. Watson het hom ingehaal.

Oosthuyzen sal ook weet dat hy genoeg kanse gehad het om die toernooi te bêre. Hy was meer ontspanne as sy onmiddellike teenstanders wat die gesoute Phil Mickelson ingesluit het. De jonge Louis – Shrek, soos hy in gholfkringe bekend staan – het gemaklike gholf gespeel, sonder enige uitwendige tekens van spanning. Maar miskien was hy net té ontspanne, want op kritieke tye het hy die bal onnodig kort geslaan en het dit ysterkonsentrasie en ’n onwrikbare wil geverg om die situasie te beredder.

Selfs in die uitspelery kon hy toegeslaan het. Met die tweede uitspeelputjie het Watson, wat die voorreg van eerstespeel gehad het, die bal tussen die dennebome ingehaak. Al wat die onverstoorbare Oosthuyzen moes doen, was om die bal in die skoonveld te kry, maar hy het óók gehaak en toe sy naderhou fataal kort geslaan.

Watson, ’n speler wat op natuurlike flair staatmaak, het ’n verbluffende hou tussen die bome deurgeslaan en die bal tot twee-en-’n–halfmeter van die vlag gerol. Oosthuyzen het ’n finale set gehad, van ’n goeie vyf meter af en dit pynlik naby die kommetjie verby gerol. Watson het twee houe gehad om die toernooi te wen en het toe so gemaak.

Wat gholf vir die speler so uitdagend en vreesaanjaend maak, is dat hy vir spitsoomblikke self nie veel meer as ’n toeskouer is nie. Die gholfswaai is ’n komplekse meganisme met ’n rits fynontwerpte en ingeoefende bewegings wat haarfyn aaneen moet skakel. Wanneer ’n speler sy hou beplan en aangetree het, wag hy vir ’n oomblik bo die bal en dan trek hy as’t ware die sneller. Van daardie oomblik af, gaan sy liggaam in ’n soort outomatiese beheer in. As één onderdeel van sy swaai, daardie gewelddadige aanvalsboog, uit fase spring, is die gevolg ’n katastrofe. Die speler is as’t ware ’n veer wat hy self opwen. Die oomblik wat die swaai begin, kan hy niks doen om die verloop daarvan te verander nie. Soos die res van die mensdom, moet hy maar wag om te sien wat hy gedoen het. Dit is die speler wat óf vir die grootste deel van die toernooi beheer oor sy swaai kan hou, óf, nog skaarser, in nood sy swaai nóg gladder, harder en presieser kan maak, wat die sterre van die spel word.

Daarom kan ons vir Oosthuyzen maar in sig hou. Hy het reeds die grootste prys in gholf – die Britse Ope – op die wêreld se beroemdste gholfveld – die Ou Baan by St. Andrews in Skotland – gewen. Hy is onverstoorbaar en dit gee sy swaai die beste kans om keer op keer te doen wat nodig is.

As Oosthuyzen hiérdie Amerikaanse Meesters gewen het, was hy die derde boerseun in vyf jaar wat dit kon doen, en dit sou ’n verstommende prestasie gewees het. Hy het net-net nie daarin geslaag nie.

Maar in gholf is net-net ’n massiewe, ewige, onoorbrugbare kloof. Dit laat die speler verbyster. En die sportskrywer uitgeput.

лобановский александр интервью

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.