Swart rassebewussyn, deel 2

Deel op

Een van die allesbepalende reëls van blanke rasse-etiket is om aan te neem dat kultuur onafhanklik staan van ras, dat enige iemand van enige kleur enige plek in die wêreld 'n volwaardige deelnemer aan enige beskawing kan wees. Baie Swartes sal

hiermee stry; hulle blyk te glo dat kultuur onafskeibaar is van biologie. Camille Hernandez-Ramdawar se ma is wit en haar pa was 'n swarte van Trinidad. Haar ouers is geskei en haar blanke ma het haar grootgemaak. Sy erken dat haar ma lief was vir haar, maar toe sy volwasse geword het, het sy gevind daar was iets wat haar ma haar nie kon gee nie: “'n Kultuur wat by haar velkleur gepas het.”

Image

Jared Taylor

Deel op

Heather Green, 'n Kanadees uit 'n swart-wit ouerpaar, verduidelik haar eie omhelsing van swartheid:

“As ek enige iets minder doen as om my Afrika-identiteit – bewustelik, heelhartiglik en sonder illusies oor Afrika-realiteite – met alle waaksaamheid aan te gryp, kan ek weggesleep word, gekoöpteer, verteer en ingesuig in die Europese magstryd in… Met my identifisering as Afrika-vrou, 'n dogter van Afrika-mense en Afrika-voorouers, sweer ek dat ek nie enige deel is of ooit sal word van 'n waardesisteem wat daarna streef om ander rasse deur hulle lewenswyse te verpletter nie.”

Hierdie is 'n besondere ongenaakbare uitkyk op die “Europese” gemeenskap en is 'n algehele verwerping van helfte van haar ouerskap. Nietemin lê die aanvaarding dat kultuur in die spore van biologie volg, aan die wortels van die amptelike swart beskouing van aannemings oor rassegrense heen. In 1972 het die Nasionale Vereniging van Swart Maatskaplike Werkers (die een wat Swartes-alleenlik konferensies hou) amptelik die posisie ingeneem dat die aanneming van swart kinders deur Blankes “volksmoord” was. Die vereniging het aangevoer dat “swart kinders in blanke huise afgesny is van die gesonde ontwikkeling van hulleself as swart mense.”


 

Hulle het gewaag om te droom…

Suid-Afrikaanse Swartes stem saam. Onder wit heerskappy was dit onwettig vir Blankes om swart babas aan te neem, maar nadat die Afro-Nasionale Kongres in 1994 die bewind oorgeneem het, het hulle dié verbod opgehef. Die VIGS-epidemie en sosiale ontwrigting wat op die einde van apartheid gevolg het, het gelei tot groeiende getalle verlate swart babas, met honderde van hulle wat elke maand vir aanneming aangebied is. Blankes het sommige van dié babas aangeneem maar baie Swartes is met afgryse vervul en wil hê dat die verbod weer ingestel word. “Hierdie kinders, die volgende geslag, sal vir ewig besmet wees omdat hulle nie sal weet wie hulle is nie,” het een swart maatskaplike werker gesê.

Die noue band tussen swart ras en kultuur is op ander gebiede ooglopend. Ethiopiese Jode het oor die jare heen Israel toe geëmigreer. Alhoewel meeste van hulle nog nooit in die Verenigde State was  nie of selfs 'n Amerikaanse Swarte gesien het nie, is hulle hartstogtelike aanhangers van rap-musiek, hip-hop modes en “gangsta”-houdings en hulle toon geen belangstelling in Israeli-popkultuur. “Al die Ethiopiërs probeer om die (Amerikaanse) Swartes na te boots,” sê die 16-jarige Batya Tadela, ook van Ethiopië.

Dieselfde skakel tussen ras en kultuur is agter die skerms van die opkoms in die Verenigde State van twee onlangs swart bewegings: Kwanzaa en die Swart Moslems. Albei het uit die niet ontstaan en het nou miljoene ondersteuners en lede – in wese almal van hulle swart. Kwanzaa is in 1966 deur 'n swart aktivis genaamd Ron Karenga ontwikkel as 'n swart vakansiedag vir die Kersseisoen. Presidente van die VSA gee nou amptelike Kwanzaa-groete en die Posdiens reik Kwanzaa-seëls uit. Volgens 'n 2004-meningspeiling deur die Nasionale Kleinhandelstigting het 4,7-miljoen Amerikaners dié vakansiedag gevier. Kwanzaa sluit nie Blankes formeel uit nie, maar plaaslike organiseerders verbied soms nie-Swartes. Een verslaggewer het onlangs geskryf dat 'n groot viering in Buffalo nie 'n blanke verslaggewer wou toelaat om die gebeurtenis te dek nie maar het swart verslaggewers verwelkom. Selfs byderwetse artefakte kan gou genoeg uitsluitlik swart word.

Wat die Swart Moslems betref, hulle het uit 'n handjievol in die 1930’s gegroei tot omtrent 3-miljoen. Indien hierdie groeikoers gehandhaaf word, kan Islam 'n mededinger vir die Christelike geloof word in sekere stedelike gebiede. Swartes wat nie self lede van die Nasie van Islam is nie, het dikwels groot respek vir die anti-blanke leier Louis Farrakhan. Gebruikers van die internetfunksie van BET.com (Swart Vermaaktelevisie), het hom as die “persoon van die jaar” gekies in 2005. Mnr. Farrakhan is bo Oprah Winfrey, senator Barack Obama, Robert L. Johnson, wat BET begin het, en “die lydende slagoffers van Orkaan Katrina van Nieu Orleans.” Soos wat Retha Hill, BET.com se vise-president vir inhoud verduidelik het: “'n Oorweldigende persentasie van ons gebruikers het saamgestem dat Minister Farrakhan die positiefste uitwerking op die Swart gemeenskap oor die afgelope jaar gehad het.”

Wat is dit wat mnr. Farrakhan in 2005 gedoen het om dié eer te verdien? Hy het daardie jaar net twee keer omvattende nuusdekking gehad daardie jaar. Die eenkeer was toe hy die teorie aangeblaas het dat Blankes die keerwalle by Nieu Orleans opgeblaas het om swart buurtes te vernietig. Die ander keer was toe hy 'n “Nog-'n-Miljoen Beweging” by die National Mall georganiseer het om die tiende herdenking van die Miljoen-Manne-Mars te vier. By daardie geleentheid het Michael Muhammed, Nasionale Jeugminister vir die Nasie van Islam homself uitgespreek: “Ek wil net vir ons jong broers in die Crips en die Bloods [gewelddadige jeugbendes] sê dat ons een familie is. Die ware vyand dra nie blou nie maar wit, selfs as hy poedelkaal is.”

Ayinde Baptiste, van kleins af 'n Nasie van Islam-spreker, het bygevoeg: “Ons is nou in die oorlog, hier in Amerika en regoor die wêreld…. Ons het soldate nou nodig. Ons het swart mannesoldate nodig, ons het swart feministiese soldate nodig, ons het Crips- en Bloods-soldate nodig…. soldate in die tronke, soldate in die strate.” Hy het nie nodig gehad om uit te wys teen wie hierdie soldate moes veg nie. Die Kongressionele Swart Koukus het die geleentheid geborg en vyf kongreslede het dit bygewoon.


 

Om swartheid aan te gryp, behels dikwels 'n diepgesetelde vyandigheid jeens inter-rassige liefdesverhoudings. Inter-rassige paartjies verklaar dikwels dat daar meer openlike venyn teenoor hulle van Swartes as Blankes is. Dit is derhalwe nie verrassend dat Interrace-tydskrif, wat vir gemengde paartjies uitgegee word, in 'n leserspeiling gevind het dat Detroit, wat oorweldigend swart is, die een groot stad in die V.S.A. is wat die minste ontvanklik is vir swart-wit paartjies. Atlanta was die ontvanklikste, maar gemengde paartjies het oor die algemeen ervaar dat blanke stede die mees verwelkomende is.

'n Groot hoeveelheid gemengde-ras mense het ook te vertelle dat toe hulle grootgeword het, swart kinders wreder as blanke kinders was. Een vrou onthou hoe Swartes haar “halfwit teef” genoem het of “halfwit aap.” 'n Ander sê kinders het haar 'n “witnerfkaffer” (honky nigger) genoem.

Party blanke mans reageer heftig wanneer hulle “hulle” vrouens met swart mans sien, maar Swartes is nou waarskynlik meer geneig om hulleself tot geweld teen 'n gemengde paartjie te wend. Rashard Casey was die sterspelskakel van Penn Staat se voetbalspan. In 2000 het hy en 'n ander swartman 'n nagklub in Hoboken, New Jersey, besoek en vererg geraak omdat hulle 'n swartvrou saam met 'n blanke man aangetref het. “Wat doen jy by hom?” het hulle gevra. “Jy behoort by ons te wees; jy’s een van ons.” Toe die witman, Patrick Fitzsimmons, die kroeg verlaat het, het die twee Swartes hom platgeslaan en hom bly skop totdat hy amper dood was. Mnr. Fitzsimmons het wat amper professionele redes genoem kan word, gehad om 'n swart dame te begelei. Hy was 'n verdraagsaamheidsintrukteur by die Hoboken Polisiedepartement.

Swartes verstaan dat om buite hulle ras te trou, 'n ernstige waagstuk daarvoor inhou om “nie swart genoeg” te wees nie. Omtrent geen Blankes het al van Tyler Perry gehoor nie, maar hy is een van Amerika se suksesvolste swart dramaturge en rolprentvervaardigers. 'n Kleinbegrotingrolprent wat van een van sy verhoogdramas verwerk is, “Die Dagboek van 'n Mal Swart Vrou,” het die bedryf verras deur as Nr. 1 by die loket te open en uiteindelik meer as $50-miljoen in te wen. “Afro-Amerikaanse vroue is die mees lojale ondersteunersbasis wat jy ooit sal kry,” verduidelik hy. “Net so lank as wat jy nie buite die ras trou nie, is jy in.”

Dit is 'n ou bekommernis. Niemand anders nie as W.E.B. Du Bois, die stigter van die moderne swart burgerregtebeweging, het verlief geraak op 'n Duitse meisie met die naam Dora Marbach, toe hy jonk was, maar hy het  besluit om nie met haar te trou nie. Hy het sy koers daarop ingeslaan om 'n leier van swart mense te wees en het geweet 'n Witvrou sou hom in onguns bring.

Rassisme

'n Algemene aspek van swart rassebewussyn is die oortuiging dat alle Blankes onherroeplik rassisties is. Daar is ongetwyfeld Blankes wat nie van Swartes hou nie, maar die houding wat baie Swartes aan Blankes toeskryf, is niks minder as verspot nie. Rolprentvervaardiger Spike Lee, byvoorbeeld, het in 2004 aan Playboy-tydskrif verduidelik hoekom hy nooit na 'n geleentheid toe sal gaan wat aangebied word deur die Nasionale Vereniging vir Standaardkarwedrenne (NASCAR) [wat groot aanhang onder plattelandse Blankes het] nie: “Ek kan myself net een of ander Country-and-Western lied indink oor 'n luidspreker by NASCAR indink: ‘Hang daai kaffer hoog! Hang daai kaffer hoog!’ Ek sal nooit na geen NASCAR toe gaan nie.” Oscar-bekroonde akteur Denzel Washington verduidelik in dieselfde trant: “'n Hele spul mense in die land sal nie na 'n fliek gaan kyk nie net omdat ek swart is. Uit en gedaan.”

Soos in Deel I opgemerk is, glo 'n meerderheid van Swartes dat die regering van die V.S.A. vir hulle VIGS gee, so dit behoort nie verrassend te wees dat hulle ander dinge sou glo wat Blankes in 'n slegte lig sal stel nie. 'n 2004 BET/CBS-peiling het bevind dat net 41 persent van geregistreerde swart kiesers “baie” vertroue daarin het dat hulle stemme hoegenaamd in November getel sou word, en nie minder nie as 68 persent het met die stelling saamgestem dat daar “daadwerklike pogings is om Afro-Amerikaanse stemmery te ontwrig.”

In 'n peiling onder Swartes wat deur Oregon Staat se Universiteit en die Rand Korporasie ondersteun is, het een derde gesê dat mediese instellings minderhede as “proefkonyne” gebruik om nuwe geboortebeheermetodes uit te probeer. Amper 'n kwart het saamgestem dat “arm- en minderheidsvroue soms deur die regering gedwing word om hulle te laat steriliseer” en 22 persent het saamgestem dat “die regering se gesinsbeplanningbeleid daarop gemik is om die getal Swartmense te beheer.”

Net 36 persent van Swartes – in teenstelling met 61 persent van Blankes – ondersteun dokterbegeleide selfmoord. Eerwaarde James Perkins van Detroit se Groter Christus Baptiste Kerk sê dit is omdat hulle glo dat so 'n sisteem gemanipuleer sal word sodat Swartes “minder mediese sorg sal ontvang en meer gereeld geëlimineer sal word.” Mary Evans, een van twee swart lede op die raad van 'n nie-winsgewende groep wat voorbrand maak vir geneesheerondersteunde selfmoord verduidelik dat “mense in die swart gemeenskap waardigheidsdood sien as slegs 'n ander manier vir hulle om van gras af gemaak te word.”

Tydens noodlenigingspogings wat op Orkaan Katrina gevolg het, is dit wyd gerapporteer dat baie Swartes glo dat Nieu Orleans in die steek gelaat is omdat so baie van die slagoffers swart is. Sewentig persent van Swartes – en 30 persent Blankes – glo dit. En dit was nie net Louis Farrakhan wat aangedring het dat die regering Nieu Orleans se keerwalle opgeblaas het om swart buurtes te laat wegspoel nie. Daar is geen wetenskaplike peilings oor hierdie vraagstuk gedoen nie, maar 'n swart Washington Post-rubriekskrywer het verduidelik: “Ek was in Nieu Orleans verbyster oor hoeveel swart Nieu Orleansers my met ware oortuiging vertel het dat die breuke in die keerwalle op een of ander manier bewerkstellig is om die Franse Kwartier en die Tuinedistrik te red ten koste van die Laer Negende Wyk, wat omtrent geheel en al swart is… Hierdie was nie wilde-oog mense nie. Dit is redelike en nugter mense wat dit waaragtig glo.”

Wyle Carl Rowan was 'n gesindikeerde rubriekskrywer, hoof van die USIA, ambassadeur na Finland en het op die Nasionale Sekerheidsraad (NSC) gedien, maar dit is waarskynlik veilig om aan te neem dat hy onder dié sou gewees het wat dink dat swart Nieu Orleans opsetlik weggespoel is. In 'n 1996-boek getiteld Die Komende Rasseoorlog in Amerika, het hy geskryf dat Blankes so ingekanker rassisties is dat Swartes binnekort in massiewe geweld gaan losbreek. Hy het aangevoer dat “korporatiewe raadskamers, plaaslike regerings, opvoedkundige distrikte volgeprop is met magtige manne en vroue wat virulente dweepsiekes is” en hy het geskryf van “wreedaardige, dweepsieke retoriek wat die drinkwaterput van die Huis van Verteenwoordigers dikwels bevuil.” Alhoewel hy in gebreke gebly het om enige voorbeelde te verskaf, het hy geskryf: “So seker asof hulle Derde Ryk-propagandiste is wat die weg gebaan het vir blitzkrieg, sien ons die regse haatsmouse regoor die Amerikaanse media, wat die gif voortspoeg wat energie aan die wit suprematiste gee.”

Ellis Cose is 'n swart verslaggewer wat dikwels vir Newsweek skryf. Hy hou vol dat rassisme so allesdeurtrekkend is dat “ten spyte van hulle baie ooglopende voorspoed, verkeer 'n groot deel van Amerika se swart middelklas in folterpyn.” Hy voer aan dat “ordentlike Swartmense” met goeie, witboordjiewerke “self in 'n toestand van óf stilswyende bitterheid of diep-onderdrukte woede is. As 'n groep gesien, is hulle ten minste so ontnugter en pessimisties as dié wat op die buitewyke van die gemeenskap worstel.”


Dit is vir Blankes moeilik om “folterpyn” en “diep-onderdrukte woede” te verstaan as hulle aan geen blanke instellings en bloedweinig blanke persone kan dink wat beskryf kan word as iets of iemand wat Swartes vervolg. Drie swart maatskaplike werkers, Sekou Mims, Omar Reid en Larry Higginbottom, het hierdie probleem raakgesien en het 'n naam daarvoor: “Post-traumatiese slawerny-afwyking PTSA.” Mnr. Reid bedryf 'n ondersteuningsgroep vir swart mans wat met woede en angstigheid gevul is in weerwil van die feit dat daar geen ooglopende blanke onderdrukkers in hulle lewens is nie. PTSA, veroorsaak dit, sê hy. Daar mag miskien net 'n paar Blankes wees wat Swartes aktief onderdruk, maar onderdrukking van die verlede het nog al die tyd dramatiese gevolge. PTSA veroorsaak dus misdaad, buite-egtelikheid, dwelmgebruik en skoolmislukkings. “Swart mense as 'n geheel ly aan PTSA,” verduidelik mnr. Mims, wat hoop dat die afwyking as 'n amptelike mediese diagnose erken sal word.

Agterdog jeens Blankes begin vroeg. 'n Professor van opvoedkunde het die manier waarop swart en wit hoërskoolleerlinge verskil in hoe hulle verskillende bronne van geskiedkundige kennis evalueer, bestudeer:

“Toe hulle gevra is om die geloofwaardigheid van 'n reeks bronne in rangorde te lys, het blanke studente geskiedenishandboeke, geskiedenisonderwysers en biblioteekboeke as die drie betroubaarste aangewys… Swart studente het gesinslede, swart onderwysers en dokumentêre programme en video’s deur of oor swart mense, gekies. Hulle was van mening dat tradisionele onderwysers en handboeke ‘Witmense se geskiedenis’ verteenwoordig… Gesinslede en ander swart volwassenes is betroubaar omdat ouer mense en ander ‘wat werklik in die verlede gebeur het,’ oorgedra het.”

Kerkhoender

'n Swart skrywer, Patricia Turner, het 'n skille-van-die-oë-af boek geskryf met die titel Ek het dit oor die Riemtelegram Gehoor (I Heard It Through the Grapevine) wat handel oor die afgryslike dinge wat Swartmense glo Witmense aan hulle probeer doen. Sy vertel dat baie Swartes in die 1980’s geglo het Church’s ('n gewilde Amerikaanse kitskosgroep) se gebraaide hoender deurtrek is met 'n chemiese stof wat Swartes steriel sal maak. Sy skryf dat die toenmalige kongreslid, Jim Bates van Kalifornië, jou werklikwaar so ver gegaan het as om die Voedsel- en Medisyne Administrasie in 1984 gekry het om van die hoender deur gebruik van gaschromatografie en massaspektrometrie te toets. 'n Swart boikot het die ketting verswak en dit het met Popeye’s Chicken and Biscuits saamgesmelt. In die 1990’s moes 'n koeldrank met die naam Tropical Fantasy 'n lang, taai veldtog voer om dieselfde sterilisasiegerug plat te druk.

Mejuffrou Turner vertel dat een maatskappy heeltemal ondergegaan het, waarskynlik as gevolg van paranoïese gerugte. Die Troop Sport handelsmerk was baie gewild in die 1980’s onder Swartes alhoewel meeste Blankes nooit eers daarvan gehoor het nie. Volgens 'n maatskappywoordvoerder was 95 persent van die verkope aan Swartes en Hispane. Toe het die gerug ontstaan dat die Ku Klux Klan die maatskappy besit en dat Troop 'n letterwoord is vir “To rule over oppressed people (Om oor onderdrukte mense te heers.)” In die voerings was boodskappe soos “Dankie kaffer dat jy ons ryk maak” veronderstel om te wees. Troop het begin om anti-Klan advertensies in winkels aan te bring en het die swart musiekgroep Gladys Knight and the Pips gekry om die handelsmerk te bemark. Dit het nie gewerk nie; die maatskappy moes die deure sluit.

Haat

As mense regtig glo dat die regering hulle VIGS gee en keerwalle opblaas, dat maatskappye wat deur Blankes besit word, probeer om hulle te steriliseer en dat korporatiewe raadsale met “virulente dweepsiekes” gevul is, sal hulle – om dit prontuit te sê – 'n tekort aan doodgewone menslike emosies hê as hulle nie Witmense haat nie.

Uitdrukkings van uitdruklike anti-blanke haat kan teruggevoer word tot ten minste die tyd van W.E.B. du  Bois, wat op 'n tyd geskryf het: “Dit verg buitengewone opleiding, gawe en geleentheid om van die algemene blanke man enige iets anders as 'n oordonderende vark te maak, maar die mees doodgewone Neger is instinktief 'n ware heer.”

By 'n ander geleentheid het hy soortgelyke gevoelens in 'n vers uitgedruk:

                   Ek haat hulle, O!

                   Ek haat hulle deeglik,

                   Ek haat hulle, Christus!

                   Soos wat ek die hel haat!

                   As ek God was,

                   Sal ek hulle doodsklok lui,

                   Hierdie dag!

Daar kan aangevoer word dat in Du Bois se tyd, toe segregasie wyd toegepas is en diskriminasie nog algemeen was, sulke gevoelens verstaanbaar was. Deesdae vind baie Blankes hulle minder geregverdig, maar hulle mag meer algemeen as ooi tevore wees. Amiri Baraka, oorspronklik bekend as LeRoi Jones, is een van Amerika se beroemdste en mees geagte swart digters. Sy werk krioel met anti-wit animus soos in hierdie reëls van “Swart Dada Nihilismus:”

                   Rig jouself op, swart dada nihilismus.

                   Verkrag die wit meisies

                   Verkrag hulle vaders.

                   Sny die moeders se kele.

In “Leroy” skryf hy: “Wanneer ek sterf, laat ek die bewussyn wat ek dra na aan swart mense. Hulle mag my uitmekaar haal en die bruikbare dele gebruik, die soetvleis van my gevoelens. En los die bitter, kak, vrot wit dele uit.” Mnr. Baraka is in Julie 2002 aangestel as eredigter van New Jersey, maar het eers kritiek verduur toe hy aangaande die 11de September-aanvalle geskryf het: “Wie het 4,000 Israeli werkers in die Twin Towers aangesê om daardie dag by die huis te bly? Waarom het Sharon weggebly?”

Opmerkings in die verbygaan deur Swartes toon houdings wat Blankes nie eens vermoed het bestaan nie. Op 10 Maart 2004 het twee polisiemanne in 'n skietgeveg by die Stapleton Houses in New York City gesterf. Amper almal wat in dié behuisingsprojekte woon, is swart. Grace Watkins, 'n 18-jarige inwoner, het verduidelik dat toe mense van die moorde uitgevind het, het hulle gedink die polisiemanne het hulle verdiende loon gekry. “Ek dink 'n spul mense hierso was nie bekommerd [oor die skietery] nie omdat hulle gedink het dit was wit polisiemanne, maar toe hulle hoor die polisiemanne was swart, het hulle houding heeltemal verander,” het sy gesê. “En toe begin hulle om besorgdheid vir die polisielede se gesinne uit te druk.”


 

Toni Morrison is 'n gevierde swart skrywer wat die Nobelprys gewen het, maar haar blanke aanhangers kan deur haar opvattings verras wees: “Met bloedweinig uitsonderinge voel ek dat Blankes my sal verraai; dat in die finale analise hulle my sal uitlewer.” “Dit is net 'n soort konstante waaksaamheid en bewustheid wat maak dat hierdie verhoudinge [vriendskap met Blankes] net so ver kan gaan.” Sy het ook verduidelik hoekom daar geen blanke hoofkarakters in haar romans is nie: “Wat my interesseer, is wat in hierdie gemeenskappe aangaan. En in hierdie gemeenskappe is daar geen blanke hoofspelers nie.”

Die skrywer Randall Robinson het na jare tot die gevolgtrekking gekom dat “in die herfs van my lewe ek oorgelaat is om blanke mense, voordat ek hulle individueel leer ken, met nimmerkwynende agterdog en dowwe afkeur bejeën.” Hy skryf dat dit hom vreugde verskaf het dat toe sy pa sterwend was, hy 'n blanke verpleegster geklap het en haar aangesê het om nie “haar wit hande op hom te lê nie.”

In Junie van 2006, het Professor Leonard Jeffries van die Stadsuniversiteit van New York by 'n “Eenheid in Diversiteit”-forum by die New York Stad se Departement van Behuisingsbewaring en Ontwikkeling gepraat. Hy het die 100 of so, meestal swart, stadswerkers vertel dat Swartes te veel blanke denkwyses geabsorbeer het: “As elke blanke persoon in die wêreld dood neerslaan, sal die stelsel [wat julle onderdruk] voortgaan want dit is nou binne-in julle.” Te midde van goedkeurende gebrul, het hy verduidelik hoe Swartes hulleself moet reinig van blanke denkwyses: “My basiese benadering is om te sê bly weg van dinge wat wit is. Neem die witheid uit julle gedagtes, of neutraliseer dit ten minste met swartheid.” Professor Jeffries sê Swartes behoort wit melk, witbrood en wit suiker te vermy en dat koffiedrinkers dit “swart moet neem.” Vir meer as 'n uur het hy Blankes uitgekoggel en verkleineer.

Khalid Abdul Muhammed, 'n assistent van Louis Farrakhan, het op 'n slag opgemerk:

“Hollywood word besit deur hierdie sogenaamde Jode. Kyk net na die rolprente wat hulle van ons maak, Swartmense wat Swartmense doodmaak. Kom ons maak rewolusionêre rolprente waar ons Blankes in die flieks doodmaak. Moor hulle so hard dat jy jou springmielies moet toehou vir al die bloed wat uit die skerm spuit.”

Swart rap-kunstenaars druk gewoonweg haat en veragting vir Blankes uit. Hier is slegs 'n klein proesel uit 'n groot hoeveel anti-blanke lirieke wat in opnames gevind is:

“Hulle het ons laat breinspoel om die minderheid te wees, maar wanneer ons hulle gaan uitwis gaan ons die meerderheid wees… as die Blankes uitpraat, sal ek my mense lei, want twee verkeerde dade maak nie een goeie een nie maar dit maak ons deksels seker gelyk; Ek blaas oproere aan, so kom ons begin die plundery… in hierdie rewolusie verag ek my vyand…”

“'n Geveg, 'n geveg, 'n Kaffer en 'n Blanke, as die Kaffer nie wen nie, ploeg ons almal in… en brand [vermoor] al Amerika se Witseuns…”

“Ek moor 'n duiwel ['n Blanke] hier en nou uit… Ek sê moor Witnerf hele naggie lank uit… Ek sal 'n Bleeksiel gratis uitmoor, net vir die fokken plesier daarvan… Dreigbende moor 'n Witnerf uit; verbrysel hulle nog gouer… vang daardie duiwel wat weg wil glip; blaas sy fokken brein weg.”

“Duiwels [Bleeknerfies] vrees hierdie splinternuwe kak… Ek tap hulle bloed volgende keer wat ek hulle sien… Ek teer op hierdie duiwels… maak hom vol met lood, hie-ha; Bleeksiel in my pad; kerwend, kloof sy keel oop; kyk hoe sy lyf ruk en pluk; dis hoe ons dit doen in die moederfokken [San Francisco] Baai…”

Fantasieë oor die uitwissing van blankes is nie beperk tot die “gangsta”-onderwêreld nie. Die jazz-musikant Miles Davis het eenkeer gesê: “As iemand my sou vertel dat ek net een uur oor het om te leef, sal ek dit deurbring deur 'n wit man te verwurg. Ek sal dit mooi stadig doen.” bell hooks, 'n swart professor in Engels aan die Stadskollege van New York, wat daarop aandring dat haar naam sonder hoofletters gespel word, het op 'n keer geskryf: “Ek skryf hierdie opstel terwyl ek sit langs 'n anonieme Witman wat ek smag om te vermoor.” Demond Washington, 'n atletiekster by Tallassee Hoërskool, Alabama, het in die moeilikheid beland omdat hy oor die skoolinterkom gesê het: “Ek haat Witmense en ek gaan hulle almal uitmoor!” Hy het later gesê hy het dit nie bedoel nie.

Iemand wat dit waarskynlik wel bedoel het, is dr. Kamau Kambon, 'n swart aktivis en voormalige besoekende professor van Afrika-studies by Noord-Carolina se Staatsuniversiteit in Raleigh. In 2006 het professor Kambon 'n paneel by Howard Universiteit se Regsfakulteit vertel dat “ons [swartes] in 'n oorlog gewikkel is” en dat Witmense dit as 'n “internasionale plantasie” vir Swartes bekonkel het. “Witmense wil ons doodmaak,” het hy bygevoeg. “Hulle wil julle doodmaak omdat dit deel van hulle plan is.” Dr. Kambon se oplossing? “Ons moet Witmense van die aangesig van die aarde af uitwis om hierdie probleem op te los.”


 

Maak Witnerfie dood

Dit mag wees dat prof. Kambon buitengewoon was bloot in die feit dat C-SPAN [Amerika se regeringstelevisie] dit uitgesaai het. In 2005 was ek op 'n radioprogram met James “Jimi” Izrael, 'n swart redaksionele assistent vir die Lexington, Kentucky, se Herald-Leader, om oor prof. Kambon te praat. Ek het ander beroemde swartes wat in die openbaar daaroor gefantaseer het om Blankes uit te wis, genoem, en mnr. Izrael het begin lag. “Luister,” het hy gesê, “Ek lag omdat, as ek 'n dollar kon kry vir elke keer wat ek 'n swart mens daaroor gehoor [praat het] om iemand wit dood te maak, sou ek 'n miljoenêr gewees het, so omtrent een of twee keer 'n week.”

Vir party is die doodmaak van Blankes nie 'n blote fantasie nie. Alhoewel die pers tjoepstil oor dié aspek van die storie gebly het, het die twee sluipskutters wat Washington, DC, in 2002 geterroriseer het, 'n spesifieke rassemotief gehad. Lee Malvo het getuig dat sy genoot John Muhammad, deur sy haat vir Amerika gedryf is vanweë dié se “slawerny, skynheiligheid en buitelandse beleid.” Sy plan was om ses Witmense elke dag vir dertig dae dood te maak.

Menere Malvo en Muhammad het nie baie ver met hulle plan gevorder nie. Die Swart Moslems agter wat as die Sebramoorde bekend geword het, was meer suksesvol. Vir 'n tydperk van 179 dae in 1973 en 1974 het 'n groep “Doodsengele” die stad San Francisco in 'n toestand van paniek gehad toe hulle dosyne, willekeurig-uitgesoekte “blou-oogduiwels” doodgemaak het. Uiteindelik is 71 sterftes aan hulle toegeskryf. Vier van 'n geskatte veertien Doodsengele is skuldig bevind aan moord in die eerste graad. Meeste Amerikaners het nog nie nooit van die Sebramoorde gehoor nie.

Alhoewel daar algemeen in verband met Amerikaanse rasseverhoudinge aanvaar word dat dit Blankes, en nie Swartes is nie, wat rassevenyn koester wat dikwels in geweld losbars, is rasgedrewe moord op Blankes deur Swartes aansienlik meer algemeen. Moorde soos dié van James Byrd, wat in 1998 deur Blankes doodgesleep is, word deeglik van verslag gedoen, maar rassemoord deur Swartes kry weinig publisiteit.

Byvoorbeeld, in Wilkinsburg, naby Philadelphia, het die 29-jarige Ronald Taylor drie mans in 'n 2000-moordtog waarin hy net van Blankes die teiken gemaak het, vermoor en nog twee gewond. Op 'n slag het hy 'n Swartvrou uit die pad gestamp en gesê, “Nie jy nie, suster,” en daar is gehoor hoe hy sê, “Ek gaan nie Swartmense seermaak nie, ek is net daarop uit om al die Witmense te vermoor.” Op een punt het hy 'n vuurwapen op 'n Witvrou gerig en, wat die pers 'n “rassebelediging” noem, gegee en toe gesê: “Nee, ek dink ek gaan jou net nog 'n rukkie terroriseer.” Gelukkig het hy haar nie geskiet nie.

Die polisie het anti-Blank haatskrifte in sy woonstel gevind maar het enige moontlike rassemotief versigtig weggepraat. Die dorp se polisiehoof het verduidelik: “Daar’s 'n hoop woede en venyn in hierdie persoon, so ek dink dit is ietwat voortydig om hierdie eenvoudig net as 'n rassevoorval te definieer.”

Daardie selfde jaar het Obie Weathers berserk geraak in San Antonio, Texas. Hy het twee bejaarde  Blanke mans aangeval maar nie daarin geslaag om hulle om die lewe te bring nie. Later het hy die 82-jarige Norma Petrash in haar huis aangetref en haar doodgeslaan. Al drie blankes – binne 24 uur van mekaar aangeval – het in 'n sesblokradius van mekaar gewoon, maar dit kom nie voor asof die moordenaar hulle geken het nie. Een speurder het gesê dat mnr. Weathers hom vertel het: “Ek haat alle Witmense.”

Ook in 2000 het 'n Swartman genaamd Gregory Devon Murphy in 'n stil woongebied in Alexandria, Virginia, ingestap en ewe ongeërg die keel van 'n agtjarige wit seuntjie wat in sy voortuin gespeel het, afgesny. Toe die polisie die man se besittings deurgesoek het, het hulle 'n nota gevind waarin staan: “Maak daardie rassistiese wit kinders buitendien dood.” [Die spelling in die oorspronklike Engels was erg verwronge: Kill them racceess whiate kidd’s anyway.] Mnr. Murphy het reeds tronkstraf uitgedien vir 'n aanval wat hy sonder uitlokking op 'n blanke man uitgevoer het waarin hy hom met 'n hamer geslaan het.

In 2005 het Philip Grant, wat swart is, Concetta Russo-Carriero in 'n winkelsentrum se parkeerterrein in White Plains, New York, doodgesteek. In 'n videobelydenis, verduidelik hy hoekom hy haar vermoor het: “Ek het haar nog  nooit vantevore gesien nie, en ek het nie omgegee nie. Al wat ek geweet het, is dat sy blonde hare en blou oë gehad het en dat sy moes sterf. As ek 'n vuurwapen [daardie dag] gehad het, sou daar 'n spul dooie Witmense op die strate van White Plains gewees het.” Hy het bygevoeg: “Ek was van die gedagte dat ek die eerste persoon wat ek daardie oggend sou sien wat wit gelyk het, ek sou hulle doodgemaak het. Ek het geen berou hoegenaamd nie want sy was wit.” 'n Jurie het hom aan moord skuldig bevind.

Dit is veilig om aan te neem dat indien die rasse in hierdie gevalle omgeruil was – as Blankes Swartes vir rasseredes doodgemaak het – sou daar aansienlik meer nuusdekking gewees het.

Vandat die ernstige oproere in April 2001 uitgebreek het, het Cincinnati gebuk gegaan onder rassespanning wat gereeld in anti-Blanke geweld losgebars het. In 2002 het die polisie 'n groot skare gelok toe hulle 'n geveg tussen twee Swartvroue opgebreek het. Die skare het in 'n kwaadaardige massa ontaard en begin om Blankes wat verbyry met klippe te bestook. Gary Landers, 'n fotograaf vir die Cincinnati Inquirer, het die gebied ingevaar op soek na nuus maar het weer daar uitgevaar toe iemand vir hom geskree het: “Kry jou wit gat hieruit. Ons behoort al julle wit (vloekwoord geskrap) uit te moor en ons sal nie meer probleme hê nie.”

Hoewel hy nie moord gepleeg het nie, onthou die Washington Post-joernalis Nathan McCall in sy outobiografie Dit Maak My Lus om te Skrou [Makes Me Wanna Holler] 'n voorval uit sy jongjare:

“Hierdie latte en ek het een middag op 'n straathoek rondgehang toe die vreemdste ding gebeur. 'n Wit seun… kom ewe ongeërg op sy fiets deur die buurt gery… Iemand het hom raakgesien en wys hom vir die res van ons. ‘Kyk! Wat vang dié moederfokker aan om hier deur te ry?! Is hy kranksinnnnnig?!…’ Ons vang hom toe op Cavalier Boulevard en stamp hom van sy fiets af… Terwyl ons die verbygaande karre ignoreer, vertrap ons hom en skop hom. My bendelede het hom in die kop en in die gesig geskop en gekyk hoe die bloed uit sy mond spuit. Ek het hom in die maag en in die knaters geskop waar ek geweet het dit gaan seermaak. Elke keer wat ek my voet in sy knaters ingedryf het, het ek beter gevoel… een lat het aangehou om hom te trap, asof hy berserk geraak het… Toe hy klaar was het hy die fiets gevat en opgetel, dit so hoog as wat hy kon bo sy kop gelig en dit hard op hom neergekap… Ons het weggeloop terwyl ons lag en spog en meeding vir grootpraatregte oor wie die meeste skade aangerig het.”

Mnr. McCall het geen berou vir sy brutaliteit uitgedruk nie

Baie Blankes het geen regstreekse ervaring van die aktiewe haat wat baie Swartes jeens hulle koester nie. Frank Ahrens skryf in die Washington Post oor hoe hy deur 'n lewendige deel van Washington, DC, loop en die musiek van 'n swart sypaadjiesaxofoonspeler bewonder. Net toe hy die man wou komplimenteer, sê die man vir hom: “Na 42 jaar in hierdie lewe, het ek een ding geleer: Blankes is gemors!” Mnr. Ahrens het later gekyk hoe 'n Witvrou 'n noot in die man se saxofoonkas gooi net om met 'n snouende rassebelediging gegroet te word. “Sy het in reaksie gesteier, asof sy gestamp is,” skryf hy.

'n Veralgemeende haat vir Blankes is nie tot Amerikaanse Swartes beperk nie. Faraday Nkoane, leier van die Oehoeroe kultuurklub in Pretoria, Suid-Afrika, het 'n jong gehoor op 'n Menseregtedagviering vertel dat om van die Blankes te steel “die regte ding is om te doen.” Hy het voortgegaan:

“Hou op om van Swartmense te steel… Die Blankes het van ons gesteel van 6 April 1652 af. Ons voorouers se beeste, skape, hoenders en die res is in die hande van die Blankes terwyl ons met niks gelos is nie… Om van Blankes te neem is nie 'n misdaad nie want jy neem net terug wat aan jou behoort. Maar maak seker jy word nie gevang nie.”

Amiri Bakara, eredigter van New Jersey, het dieselfde gevoelens jare voor dit uitgedruk en selfs in dramareëls geplaas:

Jy kan niks van die Witman steel nie, hy’t alles klaar

gesteel hy skuld jou

enige iets wat jy wil hê, sy lewe selfs. Al die winkels

sal oopgaan as jy hierdie towerwoorde sê: Op teen

die muur moederfokker hierdie is 'n roof!

Robert Mugabe, die president van Zimbabwe, het vir homself 'n naam as 'n Witmenshater gemaak. Hy het die blanke boere sistematies van hulle plase verdryf en het 'n oproep gemaak vir die verbanning van alle Wittes. “Ons party moet aanhou om vrees in die hart van die Witman, ons ware vyand, in te dryf,” het hy eenkeer vir 'n partykongres beduie. “Zimbabwe,” sê hy, “is vir Swartmense, nie Witmense nie.” Die verdrywing van Witmense, wat 'n baie suksesvolle ekonomie bedryf het, het sy mense in diep ellende gedompel, maar dit het hom baie gewild gemaak onder Swartes wat nie in Zimbabwe woon nie. Die oorweldigend swart lesers van die Britse tydskrif New Africa het hom as die derde grootste Afrikaan van alle tye aangewys, net na Nelson Mandela en Kwame Nkrumah, die eerste post-koloniale Afrika-leier (Martin Luther King, Jr. was sewende en Malcolm X negende).

Party Amerikaanse Swartes is ewe beïndruk met mnr. Mugabe. Op 12 September 2002, het hy vir die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York Stad 'n begeesterde verdediging van sy beleid om blanke boere te verdryf, aangebied. Daardie middag, in New York Stad se raadskamer, het hy die Stadsraad se Swart en Hispaniese Koukus toegespreek. Charles Barron, 'n Brooklyn-stadsraadslid en voormalige Black Panther wat mnr. Mugabe uitgenooi het Stadsaal toe, het hom omhels en sy hand hoog gehou soos 'n seëvierende bokser s'n.

Mnr. Barron het ongetwyfeld 'n sielsgenoot in mnr. Mugabe gesien. By 'n samekoms vir skadevergoeding vir slawerny het hy eenkeer gesê hy wil na 'n Witman toe loop en sê: “Jy verstaan dit nie, dit is 'n swart ding,” en hom dan “dik klap net ter wille van my geestesgesondheid.” 

Uit die Engels vertaal deur Gustav Venter

how to promoteАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.