Die idee van vryheid, en ‘n simbool

Gebreekte Juk

 

Gebreekte Juk

Die ANC kan nou maar net sowel vir almal in die land ’n hoop sonde en ergenis spaar en meewerk om die reëlings vir ’n Afrikanervolkstaat te tref, want dit gaan met of sonder die regering se goedkeuring tot stand kom. Dit kan nie gestuit word nie want ’n idee kan nie vernietig word nie. Om ’n idee te vernietig is soos om ’n jeukplek te verwyder deur dit te krap. Hoe meer jy krap, hoe groter word die jeukarea en hoe meer intens die ongerief. Druk jy die lyk van ’n ideebehepte in die grond, slaan die idee gou-gou in kolle hier en daar en orals uit wanneer ander mense dit begeesterd opneem. En die idee wat die Afrikaner na selfbeskikking dryf is die sterkste, die mees onuitwisbare van alle idees: Vryheid!

Daar is ’n paar definisies van “idee” in die wysbegeerte, maar ek gebruik dit hier in die sin van ’n primêre gedagte, een wat nie van ’n ander gedagte afgelei word nie; ’n basiese instink wat met ’n natuurlike ideaal (’n volmaakte toestand) versoen is.

Die Afrikaner is geneties saamgestel om vry te wees. Sy voorouers was juis die Nederlanders – en later die Hugenote en Duitsers wat hierheen gekom het – wie se nekke geskaaf het onder die juk van dienaarskap in Europa. Die weerbarstigste van die weerbarstiges was die Vryburgers wat, nie lank na hulle aankoms in die Kaap nie, die grens binneland toe versit het, al hoe verder, om onder die dominerende hand van die Kompanjie weg te kom. Die Hugenote het liewers hulle tuiste opgegee as om voorgesê te word hoe hulle God mag aanbid en die Afrikaner se Duitse voorouers was dikwels manne wat versmoor gevoel het in ’n feodale Duitsland en probeer het om daarvan te ontsnap deur huursoldate te word.

Hierdie hardnekkiges wat alle aansprake op relatiewe gerief opgeoffer het vir ’n lewe op hulle eie, het eers begin rus vind toe hulle so ver teen die Ooskus op beweeg het dat die owerheid in die Kaap kwalik enige beheer oor hulle gehad het. Dit was net hulle en hulle gesinne, hulle geloof en vasberadenheid, in ’n verbete bestaanstryd in ’n wilde en ongenaakbare wêreld. En dit het hulle goed gepas.

Hierdie ruwe idille is deur die Britte verbreek wat ’n obsessie gehad het om alles binne en net buite hulle bereik te oorheers. Hulle brutale behandeling van die grensbewoners het die Boere se vryheidsideale van vooraf gestook en hulle is met hulle lomp, breekbare waens die binneland in waar hulle uiteindelik, na ’n halfeeu se avonture en tragedies twee republieke gestig het, vir eens op hulle eie, verantwoordelik teenoor niemand behalwe hulle eie mense en God nie. Vir ’n ruk was hulle arm, maar tevrede. Hulle was vry.

Die Britse nyd het egter opnuut en feller as ooit onvlam toe goud en diamante onder die aardkors van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje Vrystaat gevind is. Nadat die Boere heldhaftig vir hulle vryheidsideaal geveg het, en uiteindelik moes tou opgooi, was die juk opnuut oor hulle nekke en teenaan hulle skofte. Hulle drang na vryheid het aanvanklik gekwyn in die as van hulle Verskroeide Aarde, maar dit is nooit heeltemal uitgedoof nie en het later helder ontbrand in die verrysing van Afrikaner Nasionalisme.

Dit was op die golf van hierdie vryheidsdrif wat die Afrikaner eers polities en toe daadwerklik beheer oor sy lewe teruggeneem het, maar sy vryheid het ’n nuwe juk gebring: Die plig om vir miljoene ander mense te sorg. Sy poging om vryheid vir alle rasse te bewerkstellig, is teen hom gehou en die Afrikaner is onverpoosd gekasty daarvoor.

Die vryheidsideaal is met Republiekwording in 1961 vervul. Geen mens het ’n versugting vir wat hy reeds het nie. Daarom, en omdat die Afrikaner weer begin vergeet het wat die teenoorgestelde van vryheid is, het sy vryheidsidee weer begin kwyn. Om die skimprys van internasionale goedkeuring te wen, het hy uiteindelik sy vryheidsgeboortereg – waarvoor sy voorouers die hoogste offers gebring het – ingeruil.

Op 29 April 1994 het die Afrikaner homself weer formeel onder die juk bevind. Hierdie keer is die juk veral ongemaklik en knellend. Die Afrikaner besef toenemend dat, anders as in die verlede, hy in slawerny is omdat dit tans sy keuse is, of dan ten minste omdat hy nog nie sy keuse en sy reg om vry daarvan te wees, uitgeoefen het nie.

Die vlam van vryheid – of eerder, die vlammetjies van vryheid, want hoewel hulle klein is, is daar baie van hulle – begin al hoe meer sigbaar word. Dit het vir die eerste keer landswyd, opsigtelik maar vreedsaam, in 2007 tot uitbarsting gekom toe Bok van Blerk se “De la Rey” vrygestel is. Hierdie werk het gou oor die heinings uit die popmusiekkamp gespring om ’n volkskreet te word. Vir die eerste keer sedert 1994 het die Afrikaners opgehou om hulleself te probeer fop en het hardop en gesamentlik gewens vir ’n leier om hulle te lei om die juk te breek. Wat die Afrikaners veral verstom het, was dat hulle onderling uitgevind het hoeveel daar werklik is wat so voel. Hoewel die komponis en liriekskrywer dit nie kon beplan het nie, en die – ietwat liberale – sanger dit nie so bedoel het nie, het “De la Rey” gehelp om die Afrikanerversugting na vryheid soos ’n vulkaan te laat uitbars, en nou kan dit nie geblus word nie.

Vryheid is die sterkste van alle idees. Regdeur die geskiedenis het volke teen oorweldigende oormagte vir jare, selfs eeue, vir hulle reg om saam met hulle eie mense in hulle eie land te bly en hulle self te regeer, geveg. Wanneer ’n volk eers hierdie vryheidstrewe het, kan hy dit self nie aflê nie en kan sy oorheerser dit nie onbepaald onderdruk nie. Geen idee word so verhewe geag as vryheid nie en geen ander word so gevier nie.

Selfs in ons banale tye vind dit neerslag in die vermaaksbedryf, soms op werklik roerende wyse. Mel Gibson se Middeleeuse skop-en-kapmelodrama, Braveheart (raak beskryf as “Lethal Weapon” in kilts) het in die gemeenskaplike geheue vasgesteek vanweë die dramatiese behoefte en sentrale tema van die rolprent: Vryheid. Wanneer William Wallace se heldhaftigheid uiteindelik beloon word met verraad en gevolglike foltering, bulder hy tydens sy teregstelling uit: VRYHEID! Hierdie kreet het selfs in mense wat geen bevrydingsversugting gehad het nie, se gemoedere geresoneer.

Die wysste ding wat ’n onderdrukte volk met ’n hernude vryheidsidee kan doen, is om dit openbaar te maak. Hulle moet maniere vind om nie net met mekaar nie, maar ook met die onderdrukker daaroor te kommunikeer. Hoe meer gereeld en hoe eenstemmiger dit gedoen word, hoe meer takel dit die onderdrukker se vermoë om dit hok te slaan, af. Die geneurie van ’n persoon op sy eie trek min aandag, maar as ’n miljoene stemme dit gelyktydig doen, kan die dreuning daarvan regoor die wêreld gehoor word.

Italië was in die 1860’s nie net onderdruk nie, maar inderdaad beleër deur die magtige Oostenrykse keiserryk. Terselfdertyd was dit die wensbeentjie wat deur kontinentale magte soos die Franse, die Oostenrykers en selfs Brittanje, getrek is. Die Italiaanse volk se vryheidsug het egter nie uitgeflikker nie, maar toenemend helder gebrand. Hulle het dit aanhoudend onder mekaar en tot die verontrusting van die regering en die oorheersers aangeblaas. Die musikale natuurmag van die tyd was die komponis van groot operas in die styl van die romantiek, Giuseppe Verdi. Wanneer die Italianers “Va pensiero!”, die grootse koorlied van die Hebreeuse slawe uit sy opera, Nabucco, geneurie het, het dit nie vir hulle oor die vryheidsdrang van antieke Israel in die Babiloniese ballingskap gegaan nie, maar hulle eie vlak van slawerny onder Oostenryk. Dit het hulle veryster vir die naderende stryd om Italië onder die Koning van Sardinië, VictorEmmanuel II, te verenig. Deur net te sê of saam te skree: Viva Verdi! het hulle die vlam van vryheid aan die brand gehou, want in hierdie geval was VERDI ’n letterwoord vir “Vittorio Emmanuele Re D’Italia.” Viva Verdi! “Lank lewe Victor Emmanuel, Koning van Italië.”

Simbole van hierdie aard is so kragtig, dit kan die status quo skud. Dit versamel mense en spoor hulle aan. Dit het ook ’n uitwerking op die onderdrukker. Dit maak hom senuweeagtig en breek die spoed van sy arrogansie. ’n Onseker onderdrukker is geneig tot die soort flaters wat sy greep op die onderdrukte volk laat glip. Die Oostenrykse administrateur in, sê nou maar Napels, moes swaar gesluk en oor sy skouer gekyk het as hy “Viva Verdi!” teen ’n muur gekrabbel gesien of iemand gehoor het wat “Va Pensiero!” fluit.

In die 1960’s het die Amerikaanse Burgerlike Regte-beweging rondom slagliedjies versamel. “We will overcome!” het van hulle betogings ’n heilige kruistog gemaak. Hulle het die oorgelewerde sosiale stelsel van hulle voorouers omvergewerp onder ’n simboliese weergawe van die semafoorteken vir “Kernontwapening.” Die teken het die welombekende en omstrede “Vredesteken” geword. Die feit dat dit Christene, al was dit onder ’n misverstand, afgestoot het, het hierdie nuwe gemeenskapsrebelle gepas. Hulle hét ’n kloof tussen hulle nuwe hedonisme en die Christelike karakter van hulle gemeenskap gesoek. Dat hierdie opstand tot sosiale chaos en die wegkalwing van die Westerse Beskawing in Amerika gelei het, is in ons argument onbelangrik, want wat dit beklemtoon is die krag van idees vervat in eenvoudige, treffende simbole.

’n Idee, veral die vryheidsidee, al is dit in geen simbool verpak nie, is onvernietigbaar. Tog sal dit kortsigtig van ons wees om die momentum wat simbole aan idees gee te ignoreer. Die Afrikaner moet gereed wees om simbole wat spontaan, of per gelukkige ongeluk, ontstaan, in te span. Ons kan selfs probeer om self simbole vir ons stryd te skep. Ons het reeds slagliedere: “Die Lied van Jong Suid-Afrika,” Die Stem en, ja natuurlik, “De la Rey.” Ons het selfs ’n magtige visuele simbool: Die Oranje-Blanje-Blou.

Mense wat wriemel onder die juk en wat smag na die geleentheid om deel te neem aan die stryd, hoef nie die dramatiese of die gevaarlike te oorweeg nie. Ons moet bloot ons simbole sigbaar en hoorbaar maak. Solank ons stemme afgesonder is, sal dit onhoorbaar wees, en niemand reageer op ’n aandrang wat hy nie kan waarneem nie. Die teendeel is ewe opvallend. Die reaksie op “De la Rey” het meer gedoen om die Afrikaner nasionaal op die voorvoet te kry as twintig jaar se parlementêre toesprake.

Elke keer wat die Prinsevlag vertoon word, elke keer wat ’n blougeverfte man met ’n ring deur sy neus en beeshorings op sy hardehoed oor televisie vanaf Loftus verskyn, elke keer wat ’n boer “De la Rey” kliphard op sy Fortuner se klankstelsel speel vir die hele wêreld om te hoor, word die Afrikanersaak duideliker. Dit is ’n klap in die regering se gesig en ’n regering wat genoeg in die gesig geklap word, begin naderhand luister.

Dit sal help as ons ’n eenvoudige, kragtige visuele simbool het. Laat ek een voorstel: Die Gebreekte Juk. Dis maklik om aan te bring, kan in enige beeldende medium gedoen word en die simboliek is onmiskenbaar. Die ontwerp is eenvoudig: Twee diagonale lyne wat die balk van die juk wat gebreek is, voorstel, en twee strepe loodreg daaroor wat die skeie verbeeld.

As ons landwyd begin, met spreikannetjie, vetkryt, merkpen, verfroller en plakker om dit op mure, straatoppervlakte, padtekens, tonnelwande en motorruite aan te bring, sal dit die ANC eers laat kopkrap, dan om die mond laat skuim en dan laat luister.

Ag ja, dit sou lekker gewees het as ’n De la Rey sou verskyn om ons te lei, en miskien, wie weet, miskien is daar nou reeds een wat besig is om te lendene te omgord en wat eersdaags in die nasionale oog sal verskyn. Maar tot dan, laat ons aan die werk wees. Ons het nie, soos in die barbaarse voorstel, vuurhoutjies en buitebandhalssnoere vir ons bevryding nodig nie; ons doen dit sommer met ’n klankstelsel en ’n verfkwas.

Ter wille van Vryheid!

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.