Ope brief aan die DA oor Pretoriase straatnaamsveranderinge

Deel op

In ‘n berig deur die dagblad ‘Beeld’ 29 Maart 2012, ‘DA stem nie oor name’ het mnr Johan Jansen volgens die berig gestel: ‘Mnr. Johan Jansen (DA) het gesê hy sou wou sien dat Kerkstraat eerder na Nelson Mandela-rylaan verander word.’

Die uitlating of standpunt kan nie sondermeer gelaat word nie en die Kerkraad van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria sal mettertyd ‘n amptelike skrywe hieroor aan die toepaslike persone/instansies rig.

In my persoonlike hoedanigheid beskou ek mnr Jansen se mening as onsensitief en ‘n ontkenning van die historiese waarde van die betrokke gemeente wat twee maande voor Pretoria se stigting , op 8 en 9 September 1855, onder leiding van ds Dirk van der Hoff gestig is.  Gedurende November 1855 het die Volksraad van die Z.A.R. besluit om die Republiek se hoofsetel na Pretoria te verskuif en tereg dui die navorser/argivaris, Dr HM Rex, dit met die titel van sy boek (1960) aan: Pretoria- Van Kerkplaats na Regeringsetel.

Teen dié agtergrond het die betrokke gemeente en lidmate ‘n rol in die ontwikkeling van Suid-Afrika gespeel ondermeer in die konstitusionele gang, onderwys, en infra-struktuur.  Ten opsigte van laasgenoemde word verwys na die eerste kerkgebou wat in 1857 op Kerkplein opgerig is, in 1865 is die kerkgebou vergroot en na ‘n verwoestende brand in 1882 is ‘n sierlike kerkgebou op 23 Januarie 1885 ingewy en hier het president S J P Kruger met geleentheid besoek by die Hervormers afgelê.

Die gebou het ‘n belangrike rol gespeel in die godsdienstige- en kulturele lewe van die Afrikaner en nadat dit deur die Britse owerheid gesloop is, is die vierde en huidige kerkgebou in Du Toit str gedurende 1905 deur Genl. Louis Botha ingewy. Tydens die geleentheid het die Nederlandse hoogleraar, prof P J Muller, die inwyding van die nuwe kerkgebou gepas met  die teks uit Openbaring 21:5 ingelui; die preekteks is voorhande in die gemeentegeskiedenis: Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria 1855-1955 (prof S P Engelbrecht).  Behalwe laasgenoemde, was die gemeente dekades lank ‘n geestelike tuiste vir Nederlandsprekende Suid-Afrikaners, trouens die gemeente was van die laastes wat Nederlands as kanseltaal gebesig het.

Die verbintenis met die Nederlandse minderheid in Pretoria strek egter ook na die slagveld en word bevestig deur die gedenkplaat vir Nederlanders wat tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog (1899-1902) gesneuwel het; onder andere Cornelius van Gogh (1867-1900), broer van die impressionis, Vincent Willem van Gogh (30 Maart 1853-27 Julie 1890). Die gedenkplaat is teen die Oostelike wand van die kerkgebou aangebring en gedurende sy besoek aan Suid-Afrika, het Prins Bernard van Nederland die verbintenis erken deur ‘n krans by die gedenkplaat te lê.

Die rol wat die Kerk/kerk, in die besonder die Hervormde Gemeente Pretoria, in die gang van Pretoria gespeel het, word deur ‘Kerkstraat’ gehuldig.  In die verband wil ons u, mnr Jansen en belanghebbendes nooi om die S P Engelbrecht-museum, wat tans op die Oostelike en Noordelike galerye van die Kerkgebou ingerig is, te besoek – en die betekenis van dié kulturele sieraad, soos dit in ‘Kerkstraat’ weerklink, ontdek.

Ek sien uit na u besoek.

Met dank,

Dr Christo Pretorius

Pastor loci

Ned Herv Gemeente Pretoria

лобановский александр игоревич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.