Rugby: Cheetahs vang die Hurricanes

Deel op

Dis nou maar eenmaal hoe ’n jagluiperd jag: Hy laat die prooi glip en dan haal hy hom van agter af in. Die gevolglike hoëspoedbotsing is so ontsenuend dat die slagoffer verdwaas en verwilderd gelaat word, reg vir die finale wurgslag. Wel, dit ís ’n metode, maar die sukseskoers is wisselvallig want soms as die prooi voor is, bly hy voor. Maar vanoggend (Boeretyd) kon die Hurricanes nie lank genoeg, ver genoeg voor die Cheetahs bly nie en het hulle tot hulle groot skok getuimel.

Die Vrystaters het deesdae hulle eie eenvoudige wedstrydplan – wat ontsaglike vaardigheid en finesse vat om uit te voer: Hulle val bloot aan. Hulle is soos Genghis Kahn se ruitery. Van orals kom hulle, vinnig en dodelik, uit verrassende hoeke, met skokgeweld. Die Vrystaters het ’n onweerstaanbare vermoë om die verdediging heen en weer tot op die uiterste te rek asof dit kougom is en dan, wanneer die gate daarin val, klop hulle daardeur. Hulle het ook die behendigheid om keer op keer te hamer teen ’n verdedigingsmuur totdat daar ’n sagte plek in ontstaan en dan wen hulle meters veld.

Dit is ’n totale aanslag, maar met voluitaanval is daar een risiko: Verloor die bal en jou eie verdediging is uit posisie en ongestruktureerd. Johan Goosen het vir ’n sekonde afgewyk van die plan en het die bal veldop geskop waar die regtervleuel Corey Jane dit gevang het. Die Hurricanes is een van die beter spanne op die teenoffensief en binne sekondes was hulle op volle vaart diep in die Cheetah kwartgebied en die terugskarrellende Cheetahs kon nie Polyfilla gou genoeg in al die krake smeer nie. Die Hurricane-haker, Dane Coles, elke vierkante sentimeter ’n moderne nommer twee, het gestorm, gepypkan en gedruk.

Die Cheetahs het nie die kop gekrap nie; net die tande gekners, die bal afgerokkel en van vooraf aangeval. Hennie Daniller se strooptogte teen die linkerflank af het die Hurricanes se verdediging daar gekonsentreer en hulle yl aan die regterkant gelaat en toe die bal daarheen is na ’n losgemaal voor die pale, was dit eenvoudige, skoon, vernuftige hand-tot-hand sake en Andries Strauss het oor die laaste verdedigers getuimel vir ’n drie (wat, as dit nie vir kykweertegnologie was nie, waarskynlik nie toegeken sou wees nie.)

Strafskoppe gewissel tussen losskakels Goosen en Barrett het die Hurricanes op ’n 10-8 voorsprong gelaat.

Die Cheetahs het met hulle manier van dinge voortgegaan, eenvoudig beslag op die bal gelê en van bakboord na stuurboord en terug na bakboord gedryf en toe, net so eenvoudig, die bal in die vyandelike kwartgebied aangeslaan. Die Hurricanes het die sneller getrek en het deur die flarde van die Cheetah-verdediging gehardloop en dit was die vroomgesiglosskakel Beauden Barrett wat op ’n uitgerekte kurktrekkerlopie gegaan en self gaan druk het. Die Hurricanes het die bal skaars twee keer in besit geneem, maar was nou 17-3 voor.

Die terugslag het binne minute ’n noodtoestand geword. Na nog twee langafstandaanvalle wat gelanseer is na hanteerfoute van die Cheetahs, het die Hurricanes drieë deur heelagter André Taylor en Peranara, die skrumskakel, gedruk. In teenkanting was daar slegs ’n Goosen-strafskop en met tien minute in die helfte oor, was die Cheetahs se prooi doer, ver voor hulle met die telling 32-11 in die Hurricanes se guns.

Dit het nie gevorderde calculus geverg om te besef dat die Vrystaters 21 punte en dus drie doele agter was nie. Maklik. Druk drie drieë en laat Goosen hulle vervyf. En jou wragtag, dis toe presies wat hulle nog voor die halftydfluitjie doen. Met die eerste aanval waarin hulle nie die bal afgestaan het nie, is genoeg ruimte vir Hennie Daniller geskep om sy lang lyf deur te dryf vir ’n vyfpunter. Dit kon nie iemand meer verdienstelik toegekom het nie. Die groot heelagter was die hele eerste helfte vernietigend op die aanval. Hy het meters ruimte in verkeersknope gevind en het die vermoë om die aanvalshoek vinnig en venynig te verander. Dis veral aan die linkerkantse steelkant wat hy die Hurricanes oorbluf het en na hartelus diep tot in hulle gebied gehardloop het.

Minute later was dit die Hurricanes wat nie gou genoeg sandsakke in die rivierwal kon kry nie en Rayno Benjamin het laag gevlieg en hard gedruk vir nog ’n drie wat Goosen vervyf het.

Weer het die wit golf gekom en verstommend genoeg het die Cheetahs nogmaals ’n front op die Hurricane-doellyn opgestel. Hulle keuse vir die deurslaggewende aanvaller was die kolossale Coenie Oosthuyzen en die loskop het sy direkte verdediger met al die grasie van ’n Bariesjnikof gepypkan en oorgedonder vir die Cheetahs se vierde en gelyktrekkende drie.

Na die frenetiese harwar van die eerste helfte, sou die tweede helfte aansienlik makker wees. Die Hurricanes sou nie weer in die Cheetahs se doelgebied teenwoordig wees nie. Sonder afrokkelbesit het hulle niks gehad om die Vrystaters mee te kasty nie en die Cheetahs het die bal onbeskaamd gemonopoliseer. Hulle het nog twee drieë gedruk, een elk vir die stutte, en met Goosen se strafskopbydrae was hulle met tien minute oor 47-38 voor. Hulle het doeltreffend verdedig en dit was uiteindelik die finale telling.

Die Vrystaat is nou eenmaal die Frankryk van Suid-Afrikaanse rugby. Hulle kan toor op die aanval en dan verstom met die ongeërgdheid waarmee hulle punte afstaan. Die opponerende span kan nooit seker wees dat hulle gewen het of dat hulle verloor het nie. Die Cheetahs kan groot agterstande uitwis, maar ook ewe maklik groot voorspronge laat vaar.

Coenie Oosthuyzen het die volkome wedstryd vir ’n stut gespeel. Hy het die verdediging telkens met kort, harde lopies verskuif, goed geskrum en kop gehou vir twee drieë. In die laaste minute het hy sy lyf Heinrich Brüssow gehou en ’n onheilspellende Hurricane-aanval ontlont toe hy die bal by hulle geroof het. Brüssow self bewys nou elke naweek dat hy, benewens sy besitafrokkelry, sy werk as flank baie goed verstaan. Hy het ’n onverbeterlike instink vir die verwisselinge in die spel. Hy verdedig dodelik en is altyd ’n faktor naby ’n bal op die grond. Wat werklik beïndruk is die skakelwerk wat hy tussen voorpak en agterhoede vorm. Hy is die een wat dikwels die rathefboom van dryfaanval tot agterlynoffensief stoot. Hy is vinniger as wat hy lyk en hy ken die kortpaaie op die veld en is daarom gedurig in die hoogoond van die aksie.

Om die jagluiperd in volle vaart op die jag uit te sien, is altyd opwindend. Die Cheetahs, as hulle vir die grootste deel van ’n wedstryd dinge reg doen, kan enige span klop. Maar hulle speel hoërisikovoetbal en wanneer dinge verkeerdloop kan hulle teen enige span verloor.

Watter Cheetah-span gaan in hulle volgende wedstryd opdaag? Weet nie, maar ek kan nie wag om te sien nie.

 

Данильченко

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.