Die Afrikaner se digitale hoofweg na vryheid

Die Afrikaner, en hieroor is daar geen twyfel, het in slawerny verval, en dit in ‘n uiters seldsame en bisarre vorm. Gewoonlik word slawe uit ‘n meerderheid getrek om ‘n sterker en skranderder minderheid te dien. In ons geval is dit net andersom. Die Afrikaner is die hardwerkendste, mees intelligente en suksesvolle volk in Suid-Afrika, maar hierdie klein getal moet vroeg opstaan as’t ware, en laat gaan slaap om ‘n onproduktiewe, onwillige, ambisielose meerderheid te dien.

Hier is die vreemdste van alles, die bitterste ironie van die saak: Die Afrikaner het die werklike mag in die land en hóéf nie onder die slawejuk te bly nie. Ons het die meeste geld in die land – Afrikaners besit 60% van die aandele op die effektebeurs. Ons beset die belangrikste strategiese poste in die land – as die Afrikaner basta! roep, sal daar nie ‘n gloeilamp in hierdie land skyn of ‘n trein loop of vliegtuig opstyg of ’n koppie mieliemeel in die wyer bevolking se pot prut nie. Ons is vindingryk, gehard en deesdae bedrewe in besigheid, entrepreneurskap, die akademie, navorsing, uitvindings…

So hoekom gebruik die Afrikaner nie hierdie slaankrag om vir hom ‘n redelike en regverdige en standhoudende posisie in die Nuwe Suid-Afrika te beding nie? Eenvoudig. Hierdie mag van die Afrikaner is dun en wyd versprei; dit is nie gekonsolideer nie. En die grootste agent van hierdie verwaaiing is die Afrikaanse pers van die dag, deur-en-deur liberaal en vyandiggesind teen enige vorm van Afrikanerhandhawing. Die grootste leemte in hierdie Afrikanermag is ‘n wyefront-, konserwatiewe Afrikaanse mediamaatskappy.

Die twintigste eeu het die hoogtepunt van een medium – die koerant – gesien, en die ontstaan en wasdom beleef van drie ander – rolprente, radio en televisie. Elke rewolusie van die twintigste eeu – hetsy maatskaplik of polities – het in hierdie media ontbrand en is daardeur aangevuur. In die laaste dekade van die eeu het daar ‘n vierde nuwe medium ontstaan, eers ongesien en toe ongeag, aanvanklik gereken as die eksklusiewe gebied van die asosiale feitepaap. Daarom het die Internet, sy blitsige verrysenis en oordonderende invloed daarvan, amper ongesiens, regtig soos ’n dief in die nag, ‘n bedreiging vir al die ander massamedia geword. Van die ou media is rolprente, radio en televisie kwesbaar genoeg. Maar dit is die koerantwese wat algehele en onherroeplike ondergang in die sleurstroom van die Internet in die gesig staar.

Die ou media is deur ’n klein groepie kapitaalmagtige besigheidsbaronne beheer, en die bedreiging wat die Internet inhou, is juis dat dit te vormloos is vir hierdie mediamagnate om dit te skaak. Dit is waarlik die medium van en vir die massas. En in Suid-Afrika is geen volk beter geposisioneer om deurslaggewend daaruit te baat as die Afrikaner nie.

As die Afrikaner hierdie Internet (en verwante industrieë) suksesvol kan inspan, sal hy dit waarvoor hy die meeste smag, kan bewerkstellig: Vryheid!

 

Die koerantwese is ‘n bastion vol krake. Die uitgee van ‘n papierkoerant, veral ‘n nuusdraende publikasie regoor ‘n nasionale front, is ‘n uiters kapitaalhongerbedryf. Deur die laaste twee eeue, en veral sedert die begin van die vorige, het koerante ontstaan, mekaar in ‘n oorlewingstryd gepak en is hulle uiteindelik opgeneem in massiewe uitgeeryke wat die mededinging oorleef het. Hierdie monstermediamaatskappye het gewoonlik veelvuldige publikasies op stal geneem, produkte met wyduiteenlopende inslagte, winsgewendheid en gemeenskapstatus. Teen die ‘negentigs was dit haas onmoontlik om ‘n nuwe koerant uit die stof te lig en winsgewend te maak.

So het die Wolvaardt Trust, byvoorbeeld, in 2005, probeer om ‘n Sondagkoerant as teenvoeter vir Rapport op die been te bring. Die amper R10-miljoen wat daarop uitgegee was, was net genoeg om 12 uitgawes saam te stel en die Wolvaardt-familie betaal nou nog af aan hulle dapper probeerslag.

Hierdie aanvangskapitaalversperring het die gevestigde koerantmaatskappye net nog meer selfvoldaan in ’n waan van onaantasbaarheid gelaat. Boonop het hulle nie net verskans gevoel teen nuwe koerante nie, maar die pers het ook die aanslag van indringertegnologieë, van radio en televisie, afgeweer. Teen die einde van die eeu was hulle posisie as primêre inligtingskanaal en meningvormer onaantasbaar. Die koerantwese was baie selfvoldaan en dit het hulle verblind gelaat, nie teen die bedreiging van ‘n nuwe koerant nie, maar teen ‘n nuwe tegnologie van inligting – die Internet.

Die Internet het as tegnologiese verskynsel so vinnig, so groot geword dat alle belangrike waarnemers onkant gevang is. Selfs Bill Gates, die persoonlike rekenaar se hoogste priester, het nie van meet af die omvang, die mag en die potensiaal van die Internet geëien vir wat dit sou word nie. In sy selfaanbevole werk van 1997, “The Road Ahead,” meld hy nie eers die Internet as ‘n belangrike tegnologiese element in die toekoms nie. Stephen Naismith, die toekomskundige het megaberoemd geword met sy boek “Megatrends” waarin hy die tendense van lewe in die negentigs verstommend akkuraat voorspel het. Tog, in die opvolgboek, “Megatrends 2000” wat vlak voor die eeuwending verskyn het, trek hy sy skouers jeens die Internet op. Hy het inderdaad e-pos as die enigste handige element van die Internet gesien, maar dit as “hoë tegnologie” beskryf wat nooit veld sou wen teen “lae tegnologie” soos die faksmasjien nie. (Vir hoërskoolkinders wat nie weet wat ’n faksmasjien is nie, vra julle onderwysers.)

Die koerantwese se eie waardebepaling van die Internet was, indien enige iets, nog vrotsiger. Hulle was gekondisioneer om enige nuwe verskynsel te ag in terme van die inligting wat hulle daarop of daardeur kan stuur. Die Internet wat hulle aanvanklik teëgeloop het, was nog in lomp kinderskoene, stadig en wisselvallig. Die koerantwese se sentrale flater was dat hulle nie kon insien dat die Internet rekenaargedrewe was en dat rekenaartegnologie die vinnigste omvormende tegnologie van alle tye is nie. Hulle het, neutedopsgewys, nie ag geslaan op die twee basiese wette van Inligtingstegnologie nie: Moore en Metcalfe se wette.

Moore se Wet dui verstommend akkuraat aan dat die hoeveelheid transistors op ‘n silikoonskyfie, en die gepaardgaande verwerkingskrag, elke agtien maande verdubbel. Sedert die sestigerjare het die ontwikkeling in die bedryf grotendeels getrou gebly aan hierdie “wet.”

Metcalfe se Wet fokus spits eerder toe op die koers waarmee die Internet verbindings skep. Tradisionele media het van ‘n bo-na-onder verspreidingsmodel gebruik gemaak. Die koerant – of die televisie- of radiostasie – het die inligting versamel, geredigeer en ondertoe versprei. Die verbruiker het dit onvang en daar het die proses opgehou. In teenstelling met al hierdie media, is die Internet ‘n kanaal wat in twee rigtings vloei. Elke gebruiker is ontvanger maar ook sender.

Dit verduidelik die ontsaglike vermeerderingsvermoë van die Internet. As twee rekenaars op die Internet is, skep dit een verbinding. Voeg ‘n derde by en nou het jy drie verbindings (A met B, B met C en C met A,) want al drie rekenaars is gekoppel aan elke ander een. ‘n Vierde rekenaar skep ses verbindings (A met B, B met C, C met D, B met D, C met A, D met A,) en ‘n tiende rekenaar vyf-en-veertig verbindings. Teen die tyd wat daar ‘n honderd rekenaars in die netwerk is, is daar 5,000 verbindings.

Omdat hulle afsonderlik, maar soos een, hierdie vermeerderingspotensiaal misgekyk het, het die koerante wêreldwyd ‘n enorme flater aan die begin van die Internetrewolusie begaan: Hulle het besluit om hulle publikasies op die Internet uit te gee – gratis. Hulle beredenering was verstaanbaar maar uiteindelik dodelik gebrekkig. Die Internet, het hulle gepostuleer, is die natuurlike tuiste van ’n piepklein troppie tegnofiele. Die toerusting om toegang daartoe te hê, was, volgens hulle, te duur. In dié tyd was verbinding hoofsaaklik per trae landlynmodems.

Dis nie dat hulle heeltemal ongetraak oor die Internet was nie. Daar was ‘n sekere prestige om op die ‘net ‘n teenwoordigheid te hê. En as hulle ‘n paar tegnofiele kon trek om die koerant aanlyn te lees, kon die mediamaatskappy darem ‘n paar advertensiekrummels daarmee opvee.

Gedryf deur Moore se wet – wat toegang soveel vinniger en meer vreugdevol gemaak het – en Metcalfe se wet – wat koppelings in ‘n massiewe swerm laat toeneem het – het Internetgebruik die koerante oorweldig. Koerantkopers het hulle geld in hulle beursies gehou en in troppe begin om die koerante op die Internet te lees. Die vraag wat hulle gesamentlik gevra en geen antwoord op ontvang het nie, was: Hoekom moet jy betaal vir inligting wat jy verniet kry, en dit sonder om jou skoene aan te trek om ’n koerant by die hoekkafee te gaan koop?

Geleidelik, en toe al hoe meer ingrypend, het die Internet koerantverkope begin wurg. Terwyl gedrukte koerantoplae gedaal het, was dit te laat vir die mediamaatskappye om te probeer om die rook terug te druk in die granaat. Sou ‘n koerant sy publikasie van die Internet afhaal, of amper ewe drasties, geld vir toegang tot dit te vra, skuif die lesers eenvoudig aan na ‘n mededinger se webwerf. Die enigste – algeheel onwerkbare – manier hoe die koerante dit sou kon vermag om die lesers te kry om regstreeks vir die stof te betaal, was vir hulle almal om volgens ooreenkoms op dieselfde tyd betaling te eis. Selfs dan is hulle gebogher, want die verspreiding van nuus was nou nie meer die eksklusiewe gebied van magtige, kapitaaldeurdronge mediaryke nie.

Soos wat Samuel Colt se rewolwer in die negentiende eeu mense fisies gelyk gemaak het, het die Internet die uitgee van nuus gedemokratiseer. Enige iemand met ‘n rekenaar en ‘n modem kan ‘n webblad tot stand bring om met die grootste, invloedrykste mediahuise mee te ding. Deesdae, om presies te wees, is dit private Internetnuusportale wat die pas aangee. Voorbeelde uit Amerika sluit The Drudge Report en die liberale kloon daarvan, The Huffington Post, in. Laasgenoemde is onlangs deur die kwynende Internetreus, AOL, vir meer as R2-miljard gekoop.

Intussen het die Internet reeds die grond onder ’n aantal magtige koerante uitgegrawe. Die Christian Science Monitor, byvoorbeeld, het na ‘n eeu sy drukperse vir die laaste keer afgeskakel en is nou net op die Internet beskikbaar. Selfs die prestigeryke New York Times het net-net oorleef, en dit net met die hulp van die skatryk Meksikaanse finansier, Carlos Slim. Regdeur die VSA, Europa en ander lande skarrel koerante desperaat om ‘n vastrapplek te kry in ‘n markomgewing waar papier kwyn en mediamaatskappye met ‘n swetterjoel energieke inhoudontwikkelaars moet meeding.

En in Suid-Afrika…

In Suid-Afrika is dieselfde verwerende uitwerking van die Internet op die papierkoerantbedryf gesien – sover dit die Afrikaanse pers betref. (Die Engelse papierkoerantbedryf het in die laaste anderhalf dekade geil gegroei vanweë die opkoms van die swart middelklas wat koerante koop maar wat nie juis ‘n rekenaarkultuur het nie.)

Daar is net een nasionale Afrikaanse koerantmaatskappy en dit is Naspers. Dit is die spruit van die Nasionale Pers wat in die 1920’s, tesame met die nuusblaaie D(i)e Burger en Volksblad, met die ingesamelde pennies van die verarmde Afrikanervolk gestig is. Die volledige stal hedendaagse Naspers-koerante is Beeld, Volksblad, Die Burger, die geelperskoerant Die Son, die skinderblad Sondag, en die Sondagkoerant Rapport, wat die vlagskip is.

Die Nasionale Pers het sy wa aan die Nasionale Party-lokomotief gehaak in die 1940’s. Dit het naderhand, in die tyd wat die NP die land regeer het, as die party se de facto mondstuk geageer. Die koerante se invloed het inderwaarheid toegeneem toe die Nasionale Party politieke selfmoord gepleeg het met die Oorgawe van 1994. Waar die party vergaan het, het die koerantgroep oorleef, en dit deur netjies lojaliteite te verwissel. Die groep het homself ontkoppel van die party en die vurigste voorspreker vir die Nuwe Suid-Afrika geword. (Etlike jare voor die Oorgawe is die hoofbestuurder van Naspers, Ton Vosloo, gevra wat sou gebeur as die party en die koerant sou bots. “Die party sal vergaan,” het hy ewe ernstig verklaar. Hy was reg.)

Die Interneteffek het Naspers in die nuwe eeu getref. Al die Naspers hoofstroomkoerante is gratis op die Internet beskikbaar. Die lesersgetalle van die papierkoerante het begin kwyn, soveel so dat Naspers ’n ruk gelede ‘n dramatiese bestuurskommeling gemaak het. Tim du Plessis is agter Rapport se stokke uitgehaal en na Beeld gerangeer. ‘n Onervare liberale joernalis, Liza Albrecht, is dramaties uit die niet gepluk as Rapport se nuwe redaktrise. Daar was fluisteringe in die bedryf dat haar werklike funksie was om Rapport se papierkoerant “af te bestuur,” dit wil sê, te sluit. Naspers se verbouereerdheid het duidelik geblyk toe hulle ’n oënskynlike ommeswaai gemaak het. Hulle wil en dan wil hulle nie meer nie. Me. Albrecht is uitgeskuif en Tim du Plessis is opwaarts gedribbel as hoof van Naspers se Afrikaanse koerante.

Naspers is duidelik onseker wat om met hulle Afrikaanse koerante te doen. Die maatskappy is deesdae veel meer as ‘n koerantgroep; dit is ‘n reuse internasionale mediagroep. Verreweg die grootste deel van hulle inkomste is van satelliettelevisie en Internetbedrywe, vernaamlik in Sjina. Sy Afrikaanse koerantstal is nie onmisbaar vir Naspers nie; dit kan selfs vir hierdie kosmopolitiese maatskappy ietwat van ‘n albatros om die nek in die boordjie wees. Boonop maak Naspers ‘n aansienlike wins uit sy nuuswebblaaie, veral nadat die redaksionele prosesse tussen die vier koerante gekonsolideer is. Dit is so, Naspers se papierkoerante bloei lesers, maar die groep kan dit verwerk. Naspers het sy smaak vir Afrikaanse koerante verloor. In ’n relatiewe klein bedryf is daar min geheime en dit is ’n algemene opvatting in koerantkringe dat Rapport, Beeld, Die Burger en Volksblad ongelukkige koerante met omgekrapte werknemers is. Die koerante kwyn en dit sou nooit gebeur het as dit nie vir die opkoms van die Internet was nie.

Maar die Beeld-Volksblad-Burger-Rapport-leviatan staan nie net lesers aan die Internet af nie. Naspers is skuldig aan die hubris van ‘n oënskynlik onaantasbare maatskappy en sy Afrikaanse koerante het lankal reeds voeling met die grootste massa van sy lesers verloor:

Naspers is gekant teen tradisionele Afrikanerskap.
Die Afrikaner vind sy heenkome in tradisionele Afrikanerskap.

Naspers staan ‘n liberale Christenskap, of selfs suiwer ateïsme, voor.
Die Afrikaner is toenemend gelowig op ‘n Bybelse grondslag.

Naspers is ‘n vurige ondersteuner van multikulturalisme.
Die Afrikaner is vurig nasionalisties.

Naspers is die Nuwe Suid-Afrika se vurigste kampvegter.
Die Afrikaner voel toenemend verstote in die Nuwe Suid-Afrika.

Naspers ondersteun homoseksuele huwelike.
Die Afrikaner glo die huwelik is ‘n verbintenis tussen man en vrou.

Naspers promoveer integrasie.
Die Afrikaner weerstaan integrasie heftig teë.

Naspers steun die regte van vroue ten opsigte van aborsie.
Die Afrikaner is hewiglik gekant teen aborsie

Naspers pleit voortdurend vir kerkvereniging.
Die Afrikaner reken kerkvereniging is ‘n politieke foefie.

Naspers is snedig teenoor die Afrikaner se geskiedenis.
Die Afrikaner is trots op sy geskiedenis.

Hierdie verskynsel van ‘n koerantgroep uit voeling met sy lesers word op sy duidelikste gedemonstreer in die kommentaar wat lesers na die koerantberigte op die Internet kan gee. Die algemene neiging daarvan was in so ‘n regse koers dat Beeld hierdie funksie omtrent deurgaans afgeskakel hou. (Die koudste emmer water in Beeld se gesig was die 72% lesers wat op ‘n aanlyn-Beeld-peiling gereageer het deur te sê hulle sal in ‘n volkstaat gaan woon.)

Dit is ’n redelike aanname dat as die Internet in sy huidige gedaante in 1992 bestaan het, FW de Klerk se misleidingsreferendum ’n dawerende “nee!” sou gebaar het en dit sou die fatale daaropvolgende onderhandelinge gestuit het voor dit enige stoom kon opwerk.

Naspers se koerantkrisis is dat die maatskappy nie enigsins van redaksionele hoek kan verander nie. Hulle ander, massiewe, belange hou hulle gyselaar en die losprys is om ’n liberalisme wat wêreldwyd van Westerse koerante verwag word, vol te hou. Die algehele verdwyning van die Afrikaanse koerant, selfs Afrikaans, is vir hulle ’n aanvaarbare teenprestasie om internasionaal besigheid te kan doen. Naspers se eerste lojaliteit is teenoor homself en dan teenoor die Nuwe Suid-Afrika. Op hulle prioriteitslys kom die Afrikaner in die veraf laaste plek.

Voordat die Afrikaners enigsins ’n gesaghebbende aanspraak op selfbeskikking kan maak, sal hulle ekonomiese slaankrag gemobiliseer moet word. Die ANC sal net op die Volk ag slaan wanneer die Afrikaner sy voet neersit op die deksel van die nasionale koffer wat hy gevul hou. Die Internet bied vir ons ’n weergalose geleentheid om die Volk te mobiliseer sodat daar daadwerklik en deurslaggewend opgetree kan word.

Die Afrikaner sal die eerste mylpaal op die roete na sy vryheid bereik die dag wat ’n alternatiewe, Afrikaner-mediamaatskappy by Naspers oorneem as die primêre nuustoevoer na die volk. Ek het persoonlik verskeie loopbaanopsies en elkeen van hulle is, vir ’n skrywer wat lank en hard daarvoor gewerk het, woes opwindend. Maar na jare se persoonlike navorsing en gedrewe ambisies vir my Volk, het ek die gevolgtrekking gemaak dat daar een organisasie is wat die strukturele grondslag en intellektuele slaankrag het om te groei tot die een organisasie wat Naspers se Afrikaanse uitgeeryk kan troef, en dit is die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, PRAAG.

Praag is onaantasbaar want dit kom uit die Volk en is vir die Volk. Om ’n volkseie mediamaatskappy te bou, bly duur, al is dit op die Internet, maar die Afrikaner wie se voorouerhand in die 1920’s oop was om Nasionale Pers te bou, is deesdae baie meer welvarend en sy oorlewing is baie meer regstreeks in die gedrang.

Met die Internet kan ons die oë en ore van elke Afrikaner, van Pietersburg tot Perth, van Ohrigstad tot Auckland, van Boksburg tot Brussels bereik. En ons kan elke Afrikanerstem, so onhoorbaarbaar op sy eie, versamel, en die klank daarvan versterk tot ’n dawerende gedreun wat onmoontlik langer geïgnoreer kan word.

Wanneer die res van die gemeenskap vassteek om na hierdie dreuning te luister, dan, my vriend en vriendin, is die dag van ons bevryding naby.

Vir die Afrikaner begin die opmars na vryheid waarlikwaar met die klik van ’n muis.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.