Susan Boyle III: Gevaar van die Moderne Droom

Deel op

’n Mens kan verstaan hoekom Susan Boyle die lied vir haar deurbraakoudisie gekies het. Dit pas goed in haar stem, veral in haar sterk middelregister en gee ook vir haar die geleentheid om haar vokale vaardighede behoorlik ten toon te stel. Daar is egter ook ’n skerp ironie aan die keuse, want dié lied gaan oor ’n droom ja, maar oor die verplettering eerder as die vervulling daarvan.

Aan die woord is Fantine, ’n rimpelkarakter in Victor Hugo se melodramatiese Les Miserables. Hierdie lied, “Ek het ’n Droom Gedroom,” is ’n rou kreet, in werklikheid Fantine se Weeklag, haar klagstaat teen die noodlot. Sy is ’n ongehude moeder, verlaat deur haar minnaar en in ’n desperate oorlewingstryd. Sy werk in ’n fabriek wat aan die voortvlugtende Jean Valjean – in die gedaante van sy alias, Monsieur Madeleine – behoort. Sy word onregverdiglik ontslaan en is nou hoopverlore, met geen manier om geld vir die onderhoud van haar dogtertjie te stuur nie.

Verbitterd mymer sy, in die aanloop tot haar groot musikale oomblik in die musiekdrama, oor vervloë dae toe “mense sorgsaam” en “hulle stemme sag” was, ’n tyd van opwinding en aanvaarding. Dan bars sy los:

“Ek het ’n droom gedroom in dae verby!

Toe hoop hoog geloop het,

En die lewe werd was om te leef.”

Sy het gedroom dat God genadig is en dat liefde nooit sal sterf nie. Sy was jonk en het behoorlik die murg uit die lewe gesuig.

“Maar die tiere kom toe in die nag.

Met hulle stemme sag soos donder

Wanneer hulle jou hoop verskeur

En jou hoop in skande verander.”

Dis nie goeie digkuns nie, maar dit is hoogs dramaties.

Fantine keer nou terug na ’n droom wat sy nie kan afskud nie; van haar minnaar wat na haar sal kom en die jare wat hulle saam sal bly.

“Maar,” herinner sy haarself, “daar is drome wat nie kan wees nie,” en bars dan uit:

“Ek het gedroom my lewe sal so anders wees

As hierdie hel waarin ek leef!”

Haar rouklag is ten slotte:

“Nou het die lewe

Die droom wat ek gedroom het,

Vermoor!”

Hierdie lied, dan, is nie ’n rasiekreet vir die konsep van die Droom nie. Fantine sterf verwerp en verlore in ’n klam tronksel. En al pas die titel naatloos in die toekomstige reklameveldtog van die middeljarige Aspoestertjie wat in ’n prinses omtower is, is daar min in Susan Boyle se lewe in die klein regophuisie in die platteland wat die woorde “die hel waarin ek leef” regverdig. Sy hoef nooit, soos Fantine, uit loutere wanhoop haar hangertjie, haar hare en uiteindelik haarself verkoop om haar dogtertjie in die lewe te hou nie.

Susan Boyle se droom, soos Simon Cowell en sy reklamespan dit presenteer, is ’n glinsterende een, van rykdom en roem, ’n regte eelte-tot-weelde suksesverhaal. Fantine se droom was baie meer prosaïes, maar ook nader aan ’n vroeëre inhoud van die algemene droom: ’n Versugting na ’n lewe sonder komplikasies. Indien sy deur die muur van tyd verplaas kon word, sou Susan se regophuisie en leefstyl Fantine se droom oormatig vervul het (net met haar dogtertjie in plek van Pebbles die kat om die huisie mee te deel.)

In rustelose tye in donker lande, is drome eenvoudig en klein. Groot drome vol swier en glans is vir tye van te veel voorspoed.

In ons tyd het daar ’n verskuiwing in die inhoud, selfs die betekenis van drome gekom, (waar “droom” nie verwys na die vloei van inligting deur die onderbewuste tydens ’n mens se slaap nie.) Die goedkoop, ongenuanseerde postromantiek van die Hollywood-era dring by elke mens aan om ’n droom te hê, nie maar net ’n verdienstelike ambisie nie, maar ’n drang om iets te bekom wat die mens nie self kan bereik nie. “Volg jou droom,” is die mantra. “Droom groot.”

Onderliggend aan dit is die oorskatte waardering van die individu se belangrikheid. In ’n tyd van ongebalanseerde humanisme, van beklemtoning van die enkeling se regte en waarde bo dié van die gemeenskap, word nie net die reg om te droom nie, maar ook om die vervulling van die droom op te eis, vooropgestel. Die Verklarende Woordeboek definieer “lewensdroom” as “verbeelding omtrent dit wat die lewe kan, mag en sal bring.” Moderne mens het “moet” tussen die hulpwerkwoorde ingevoeg. Die droom móét vervul word.Wanneer die jeug aangespoor word om te droom, is die onuitgesproke instruksie dat hulle op vervulling daarvan deur die gemeenskap, die land, die wêreld, God of die heelal sal aandring. ’n Droom wat onvervuld is, is ’n aanklag.

Daar is voorbeelde waar hierdie versugting en hierdie aandrang gewerk het. Dit het vir Susan Boyle gewerk, en dit net na ’n verstommende sameloop wat al die teëltjies reg geval het om haar prentjie te voltooi. Maar vir elke Susan Boyle is daar vyfduisend teleurgestelde dromers wat nie vervulling in Britain’s Got Talent gesmaak het nie. Is dit omdat hulle drome minderwaardig was? Geensins. Hierdie mense volg die mitiese aanwysings om “groot” te droom met dieselfde klipharde intensiteit. En hulle glo met dieselfde onwrikbare oortuiging dat die vervulling vir hulle op daardie selfde verhoog wag.

Die een rede hoekom hierdie realiteits-TV-talentkompetisies so grillerig fassinerend is, is juis om hierdie arme siele in hulle misleiding te sien spartel. Hulle sal met die wêreld se bombasme op die verhoog verskyn, en aankondig dat hulle ook die “gehoor gaan skud,” waarna hulle in die ylste stemme sing, die mees onbeholpe toertjies uitvoer, die mees ondeurdagte kunsies waag… En dan word hulle uitgelag en terug na die buitenste duisternis gejou. Hulle drome is nie net onvervul nie, dit het ’n las geword en het hulle selfvertroue gekwes.

Dit keer nie elke drommel met ’n grinnik en ’n kitaar waarop hy vier basiese akkoorde kan speel om te droom van sterrelewe nie. Hy is maar net getrou aan die instruksie van vandag se gemeenskap; dieselfde gemeenskap wat hom gaan uitlag daarvoor. En as hy struikel, val sy naaste saam met hom. Met die oudisies vir ’n reeks van Suid-Afrika se “Idols” verklaar ’n tienerbruidegom wie se tienerbruid opgedaag het vir die oudisies dat hulle mooi daaroor besin het. Hulle weet dat haar sukses ’n aanpassing in hulle gesinslewe sal verg. Daar is toere, opnames, optredes, onderhoude en die bestuur van ’n gesonde klein fortuin om aan te dink. Maar, hou hy vol, hulle is reg daarvoor. Hulle hoef nie te gewees het nie, want vir haar oudisie sing sy Abba se “Thank you for the music” in die krakerigste gekrys wat ooit die senuwees rougerasper het. Wat het verkeerd geloop? Hulle het gedroom en selfs gewaag om die droom te volg? En nou is hulle klein heelal heeltemal van sy as af.

In Peter Weir se rolprent, “Dead Poet’s Society”, redekawel die ontnugterde Latyn-onderwyser met die fliek se wysgeer oor drome. “Wys vir my ’n man wat onbelas is deur onsinnige drome, en ek wys jou ’n gelukkige man,” sê hy.

“Ah,” sê die ghoeroe (Robin Williams,) “maar net in hulle drome is mense werklik vry, dis hoe dit altyd was en so sal dit altyd wees.”

Ek was eers in sy kamp maar het gedros na die Latyn-onderwyser s’n. Onsinnige en onnodige, uitspattige drome kan net die lewensgang belemmer. Hoekom is dit nie meer genoeg om voor die spieël of vir jou gesin of vriende te sing nie? Is jou sang van gener waarde as dit nie in ’n ouditorium voor vyfduisend mense uitgevoer word nie?

Waar kom hierdie moderne aandrang op droomvervulling vandaan? Dit is hoofsaaklik ’n baksel van ’n bemarkingsbedryf wat onophoudelik agiteer teen ’n normale lewe en die mens wat nie uitsonderlike geluk en voorspoed behaal (deur die regte produkte aan te skaf) nie, verraai homself. Die moderne mens se begrip van die onderskeid tussen planne, ambisie en drome het vervaag. Hy het vergeet dat die vervulling van ’n droom ’n onverdiende geskenk is wat hy nie self kon bewerkstellig nie. Ambisie is ’n ideaal wat, met oorweging van vaardighede en geleenthede, deur harde werk, opoffering en toewyding behaal kan word. ’n Plan is die teoretiese ordening van middele en metodes om die ambisie te vervul. Die mens van die Weste het ’n beskawing gebou deur eers te droom, toe die nodige ambisie te ontwikkel en die regte planne te ontwikkel wat dan met geduld en sweet uitgevoer is. Maar moderne mens het nie meer geduld met ambisie, planne of harde werk nie. Hy dring aan op die vervulling van roekelose drome.

Hierdie onverantwoordelike dromery is nie net ’n krisis van individue nie; dit het die ellende van ’n land geword. Die ANC het die vakuum wat deur De Klerk se oorgawe gelaat is, vervul met die kordaat belofte dat hulle ’n hele nasie se drome sal vervul. As droomvervulling – die onverdiende bereiking van ’n ideaal – in aantog is, is geduld, harde werk en beplanning onnodig. Daar is ’n hele geslag swartmense wat Fantine kan parafraseer. Die ANC het hulle lewensdroom vernietig en die mense is verpletter, al was dit ’n leëdopdroom van motors, groot huise, onafgebroke vloei van kontant en duur klere. Die ANC het hulle droom vermoor, maar erger nog, dit het hulle van gesonde ambisie beroof. Die swart tiener wil nie op die plaas werk nie, al is dit ’n goeie lewe van geborgenheid, met sekuriteit, voordele en aanvaarding in ’n hegte gemeenskap. Harde, eerlike handewerk was goed genoeg vir hulle voorouers, maar nie vir hulle nie. Die droom is om ’n ingenieur, ’n ouditeur, ’n uitvoerende hoof van ’n multinasionale korporasie te wees. En as hy daarvoor moet werk, aandag op skool moet gee, moet leer, opgelei moet word, dan het hý dit maak gebeur, nie waar nie, en is dit geen vervulling van ’n droom nie. Hy wil sy droom hê! Nou!

Fantine het sonder hoop in ’n hoekie van ’n tronksel gesterf. Die swart jeug, vervreem van hulle droom, gaan nie in ’n hoekie opkrul nie. Hulle gaan – is alreeds besig – om verwoed om hulle te slaan na die windverkopers wat hulle verraai het. Die trillings van hierdie argwaan word reeds gevoel. Dit dreig om ’n golf te word en wanneer dit omskakel na onstuitbare branders, moes ons witmense onsself reeds beveilig het.

Is ’n droom dan altyd nutteloos? Geensins nie. ’n Droom roep mense, maar om daarheen te gaan verg ambisie, planne en harde werk.

Ek, en honderdeduisende soos ek, droom van ’n Volkstaat waar die Afrikaner na homself kan omsien en in vrede, veiligheid en voorspoed kan woon, goeie bure vir die state naas hom en ’n aanwins vir die hele streek. Hierdie is ’n edele droom. Daarom verdien dit al ons ambisie, beplanning en ywer. Dít verduidelik die bestaan van Praag.

Kom saam. Dit gaan ’n groot avontuur wees.

Александр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.