Dale Steyn vat vlam in Nieu-Seeland

Deel op
Wat staan ‘n Kiwi te doen? Hulle is die gashere vir die huidige toetsreeks en moet die kolfblaaie voorberei. O, hulle het keuses, die een so onbemoedigend soos die ander. Is die blad mak, slaan die Suid-Afrikaanse kolwers hulle boulers kis. Is die blad wild, boul die Suid-Afrikaanse boulers hulle kolwers kis. Hoe jy ook al daarna kyk, daar gaan in alle waarskynlikheid verrinneweerde Kiwi’s na die tyd wees.

Vir die tweede toets, wat vanoggend (beskaafde tyd) in Hamilton, Nieu-Seeland begin het, is verrassend genoeg ‘n blad met ‘n groen stoppelbaard onthul, een wat op die oog af bietjie knal in die bal sal sit. Graeme Smith het die loot gewen, en tot niemand se verbasing nie, die granaat bo die tak verkies en die Swartkepse laat kolf.
Dit was gou duidelik dat ‘n groen blad in Nieu-Seeland nie die manjifieke wip van groen blaaie in Suid-Afrika het nie. En daar is meer swaai in ‘n stalaktiet as wat daar op dié dek was, het Dale Steyn en Vernon Philander gou genoeg agtergekom. Die wedstryd het gedwee in ‘n baie voorspelbare rigting begin drentel. Eers het Philander aangehou om vir Rob Nicol uit te nooi om die bal buite die wegpen deur te streel na die handskoene agter die paaltjies. So gedaan met Nicol se telling op 2.

Steyn het daarna roetinegewys van Martin Guptill ontslae geraak deur ‘n handbreedte by die wegpen te boul en te wag dat die bal in die penne in gekap word. Dit het die Nieu-Seelander, na ‘n paar uitgelate grenshoue, gedienstig gedoen, met ‘n diagonale kolf wat soos ‘n blindeman se kierie gevoel-voel het vir die bal wat dit toe teen die onderkant getref het.

Brendon McCullum en Ross Taylor het, ewe voorspelbaar, bestendig gespeel, die dreigende balle uitgelos waar hulle kon, ander gekeer, onder kophoogte missiele weggekoes en die uitskotballe hard geslaan. Graeme Smith se planne het gou opgedroog en dit was asof hy tussen twee taktieke vasgeval en nie geweet het of hy moet aanval of verdedig nie. Die boulwerk, wat aanvanklik deurtastend en stug was, het begin uitrafel en vir ‘n heerlike tussentyd het die Nieu-Seelanders die bal diep en ver versend. Die boulers het ongeduldig geword en eerder as om die teenstander te probeer wurg, het hulle die kortpad slagaar toe gesoek met aflewerings op die beenskutte, en dis omtrent uitsonderingloos weggeslaan.

Ete het gekom en daarmee die Nieu-Seelanders se ou, bestendige bondgenoot: Reën. Die Suid-Afrikaners het die hele middelsessie, waartydens nie ‘n bal geboul is nie, gehad om gewoond te raak aan die gedagte dat die Kiwi’s goed op koers is na 300 eerder as 200. Maar blykbaar bring tyd regtig raad. Na teetyd het die boulers die aanslag op skutte en stokke gestaak en gekonsentreer om die lopies skaars te maak met kort aflewerings buite die wegpen. Veral Kallis en Morkel het die kolwers daar vir ‘n suinige rits boulbeurte gesmoor. McCullum en Taylor is darem kolwers met klas en het gaandeweg maniere gekry om die bal te smeer. Hulle het weer fluks gevorder totdat Kallis en Morkel hulle weer kon terugkatrol.

Dale Steyn het weer die bal gekry en voortgegaan met ‘n plan na McCullum. Eers boul hy kort en wyd buite die wegpen, vinnig genoeg om die lopievloei af te skakel, en dan wissel hy dit met ‘n opskietbal na die bolyf. McCullum se filosofie is om die bouler te verdruk en dit doen hy deur wat binne trefafstand is hard te slaan. Vroeër het hy sulke lyfballe suksesvol deur die grens getrek. Nou, in Steyn se een boulbeurt, was hy ‘n aks te stadig om so ‘n bal behoorlik in die tande te slaan en dit het afgekaats tot voor sy voete. Hy het homself openlik betig. Die feit is, die ware Dale Steyn, afwesig tot nou toe, was besig om op te staan. Daar was meer spoed en venyn in sy boulwerk.

In sy volgende boulbeurt het hy die aanslagpatroon voortgesit. Buite die wegpen, buite die wegpen, na die lyf… Dié een het ribbehoogte opgestaan en McCullum kon dit omroer vir ‘n vier na skerpby. Weer hoog buite die wegpen en toe weer na die lyf. Dié keer, op byna dieselfde lengte, het die bal opgeskroei en daar was net geen moontlikheid dat McCullum, oorheers deur motief en spiergeheue, nie na die bal sou haak nie. Hy het, maar die bal was so hoog dat dit vir hom wetenskaplik onmoontlik sou wees om dit afwaarts te slaan. Die bobbejaanstertvlug van die bal het Jacques Rudolph op die middebaangrens gevind. Na die McCullum-Taylor-vennootskap van 89, was die Nieu-Seelandse telling 133, ‘n getal wat vir hulle baie gou pynlike betekenis sou kry.

Taylor, ontsenu deur die verlies van sy vennoot, en verwar deur Morkel se onttrekking uit die aanval en Philander se toetrede, het nie rekening gehou met die verskil in aflewering nie. Eerder as Morkel se opskietende kartetse, was dit nou Philander se geslepe dienste wat sy kant toe gekom het. Taylor het gestreel na ‘n bal buite die wegpen en is deur Smith in die glippe gevang. Die telling was steeds 133.

Dit was ook op 133 wat Steyn in die volgende beurt die nuwe kolwer, Williamson, se kolfbuiterand gevind het en Smith weer in besigheid was in die glippe. Minute later het Philander ‘n pad deur Daniel Vettori se skanse gevind en sy paaltjies verfomfaai met die Kiwi-telling op… 133. En steeds was die Suid-Afrikaners nie met die Swartpette op 133 klaar nie. Philander het vir Bracewell op daardie swart telling agter laat uitvang vir nul. En die groot totaal was steeds 133.

Dit het ‘n verloopte Suid-Afrikaner, Kruger van Wyk, geverg om die bloedvloeiing te laat stol. Hy het ‘n astrante, maar bedrewe 21 lopies aangeteken. Aan die ander kant het die bouler, Mark Gillespie, 27 lopies gekry, niks daarvan astrant óf bedrewe nie. Hy was ooglopend gretig om van die vuurfront af te kom en het wild geswaai na alles binne bereik. So het nie hy óf die Suid-Afrikaners gekry wat hulle gesamentlik gesoek het nie – sy paaltjie. Hy het selfs ‘n paar sesse geslaan, een van hulle met ‘n baie koddige poging. Hy het weggekoes van ‘n skokbal, heeltemal weggeswaai sodat sy gesig na skerpby toe gewys het. Fisika en fisiologie bepaal dat die kolf iewers heen moet gaan, en in die geval het dit toevallig die bal iewers in die vlug getref en dit het oor regby gesweef vir ‘n maksimum.

Selfs sulke beplande en onbeplande weerstand kon nie te lank duur nie. Imran Tahir, nie veel van ‘n breker teen die toporde nie, is genoeg van ‘n raaisel om die stertkant dronk te draai en hy het die laaste stuiptrekkinge van die beurt kortgeknip met twee paaltjies.

Die Nieu-Seelanders, op ‘n groen maar mak blad, was uit vir 185.

Die Suid-Afrikaners het 15 boulbeurte gehad om voor uitskeityd te absorbeer. Dis juis in sulke tye wat Graeme Smith op sy kwesbaarste is. Met sy voortdurende stryd om sy gebrekkige tegniek te bestuur, lyk dit soms te veel gevra dat hy vir kort tydjies moet konsentreer eerder as om homself deeglik vir ‘n lang skof in te grawe. Heel voorspelbaar is hy agter uitgevang, maar dit net omdat hy na die bal doer anderkant die wegpen gaan aankeer het.

‘n Konsentrasiebreuk in Protea-geledere het toegesien dat Dale Steyn op naguiltjiediens, ‘n goeie halfuur voor die einde verskyn om die nuwe bal te trotseer. Hy het dit vir ‘n volle vyf balle gedoen voordat hy uitgevang is.

Stem-in-die-bos Amla het gedoen wat hy minute tevore moes doen: Uitgekom en kom kolf. Hy en Alviro Petersen het die res van die aflewerings skadeloos gestel om Suid-Afrika op 27 vir twee te los.

Op ‘n blad soos hierdie, is dit redelik om te aanvaar dat die Suid-Afrikaanse kolwers in ‘n lopiekoors gaan maai. Hulle plan moet wees om genoeg lopies te kry om die hart uit die opvolgende Kiwi-kolfaanslag te ruk voordat Suid-Afrika vir ‘n tweede keer hoef te kolf.

Die beste nuus vir Suid-Afrika is die verskyning van Dale Steyn. Sy ou veglus is terug, en so ook, gaandeweg deur die dag, sy boulspoed. Op 136 km/u is Steyn so goed soos enige bouler in die wêreld. Op 152 km/u is hy verreweg die beste.

Александр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.