Susan Boyle II: Die las van vervulling

Deel op

Die een persoon wat onmiddellik die vervulling van ‘n droom herken het, daardie dag in Edinburgh, 2009, was Simon Cowell. Die oomblik wat die gesette vroutjie haar mond wyd getrek en begin sing het, het hy gewéét: Hier is goud! In hierdie onbeduidende, selfs koddige wesentjie, kan ware goud ontgin word, en die een skatkis waarin die meeste daarvan sou glimmer, was Simon Cowell s’n self. “Ek het ‘n droom gedroooom!” sing sy. Simon Cowell het niks teen die vervulling van drome nie, solank dit syne is.

Soos Cowell daar sit en luister, is hy ‘n skatryk musiekvervaardiger, maar hy is ‘n onvervulde sakeman, steeds honger, want die grootmassa van sy fortuin het hy nie in sy hoofbesigheid gemaak nie, maar as televisiepersoonlikheid. Hy het sy glinsterende maaltande in die vermaakindustrie geslyp as ‘n K&R-bestuurder vir groot platemaatskappye. Die Kunstenaar- en Repertoriumbestuurder het die uitsnuffel en werwing van nuwe talent as primêre taak. Cowell het matige welslae hiermee gehad, sy grootste sukses synde die handtekening van Siniita op die stippellyn, niks om ewige roem mee te vestig nie, maar genoeg om uiteindelik sy eie maatskappy, Syco Musiek, aan die brand te skop. Steeds het daardie een groot item, daardie bedryfomkerende kunstenaar, hom ontglip. Sy grootste vangs was die vroeg-ryp-vroeg-vrot borrelgomgroep, Westlife.

Syco Musiek het naderhand ‘n gleuf in die bedryf gevind toe Cowell betrek is as beoordelaar vir realiteits-TV se talentkompetisies soos X-Factor, Pop Idol en Britain’s Got Talent. Sy grootste deurbraak was as die siniese inkwisiteur – in elkeen van hierdie programme is daar een – op American Idols. Sy bruuske, wrywingrige persoonlikheid en bitsige kommentaar het goed afgespeel teen kunstenaars van wie die een noodwendig die kompetisie sal wen en vir Cowell so op sy neus laat kyk. Simon was so goed hiermee – deur waarskynlik die geykte raad te volg en net “homself” te wees – dat die vervaardigers van die reeks hom naderhand $20-miljoen per jaar aangebied het om kunstenaars wat deur hoop verteer is, sleg te sê. Hierdie verbintenis het vir Syco Musiek die eerste hap van die pastei gegee aan die einde van elke suksesvolle reeks.

Sy maatskappy, sonder ‘n werklike groot deurslag het voorts geld gemaak met sulke vername toevoegings tot die Westerse kultuur as die Teletubbies wat tjierietjierie op CD of ‘n album van liedjies deur rofstoeiers. Maar nou, hier voor hom op die verhoog, met die gehoor in haar pofferhandpalmpie na die eerste frase, is alles waaroor hy kon droom: ‘n Aspoestertjie met juwele in haar stembande, ongekunsteld, onbederf, met ‘n onweerstaanbare, ingeboude storie en ‘n algehele gewilligheid om sy leiding te volg.

Ons sien hom daar agter sy beoordelaarstoonbank terwyl sy sing: Sy uniform van swart jannas en swart trui, die regop kantiggekapte hare, die duur, wit tande; sit daar met sy elmboë op die blad voor hom gestut en sy hande teen mekaar en weggevou soos ‘n kelk vir sy ken om op te rus en tussen sy regterhand en –wang ‘n blou balpuntpen, van die soort waarmee die geilste kontrakte geteken word. Simon Cowell is in sy persoonlike ontwerp van die hemel. Hy het raak gedroom.

Die vervulling het in die volgende weke behoorlik binne die omslag van die droom se ballon ontplof. Die Youtube-video van Susan Boyle se oudisie het ‘n honderdduisend, toe ‘n miljoen, tienmiljoen, twintigmiljoen, honderdmiljoen gehaal. Voor die volgende rondte was sy in nuusbulletins, tydskrifte, koerante en in die volksmond. Sy was, voor die halfeindrondte van die kompetisie uitgesaai is, reeds die beroemdste deelnemer aan Britain’s Got Talent ooit. Die promosiewaarde wat Simon Cowell hieruit geput het, kon nie met miljoene ponde gekoop word nie.

Dit was nodig om hierdie droomvervulling te verpak en omstandighede het die volmaakte tema daarvoor verskaf: Susan Boyle se Droom. Die feit dat sy ‘n lied met die woord “Droom” in die titel gekies het, en dat dit hoofsaaklik wel oor ‘n droom gegaan het, het dit ‘n gegewe perd gemaak. Dat dit gesing is deur ‘n werklose vroutjie met ‘n beskeie herkoms uit ‘n onbeduidende dorpie, het dit soveel meer slaankrag gegee.

Vir Simon Cowell het alles wonderlik uitgewerk. Sy Susan het wel nie die kompetisie gewen nie; onverwags bedees in die eindrondte met ‘n weergawe van “Memories” wat só weifelend uitgekom het dat sy op ‘n stadium haar magie vasgegryp het om die fluktuerende diafragma te steun voordat sy genoeg stoom in die middeldeel kon opwerk. Die wenners was ‘n straatdansgroep, Diversity, vir wie hulle ewige roem sal wees dat hulle die legendariese Susan Boyle geklop het. Maar in sekere gevalle is ‘n sege nie alles nie en haar debuutalbum – getiteld “I Dreamed a Dream,” wat anders – het reeds voor die einde van daardie jaar verskyn en vir haar vyfmiljoen pond gemaak, en dié moet julle weet, vir elke pond wat sy gemaak het, het Cowell twee of meer gekry.

So, Susan Boyle het ‘n lieflike droom gekry en die vervulling daarvan was volmaak, nè?

Die droom soos baie ander drome, lyk gaandeweg minder glansend hoe nader ‘n mens daaraan kom. Om die vervulling daarvan te beoordeel, moet daar gekyk word waarvandaan en waaruit dit kom. Daar is Susan Boyle uit die Westlothian streek in Skotland. Sy woon alleen, net met haar Pebbles-kat – in ‘n beknopte regophuisie met twee verdiepings. Elke dingetjie het sy plek, want dis hoe sy geleer is. Dis ‘n huis van klein roetines in die piepklein kombuis en in die beperkte ruimte van die sitkamer met die blokkiesmat so groot soos ‘n nie-baie-groot badhanddoek, die weggebinde strepiesgordyne en die televisiestel wat so na aan die gemakstoel is, dis asof dit in die kyker se skoot is.

Die tweede verdieping bevat die badkamer en die twee slaapkamers, beide skaars so groot soos die binneruim van ‘n mediumgrootte gesinsmotor.

Dit is ‘n ou huisie op ‘n posseëlgrootte lappie netjiese grond tussen ander ou huisies van dieselfde styl, met dieselfde klein werfies. Dis die naaste wat die werklike wêreld aan Tolkien se Shire kan kom; ‘n klein gebied vir klein mensies.

Susan Boyle ken elke vierkante sentimeter hiervan. Haar Ierse ouers het lank voor haar geboorte hier ingetrek. Sy was vir hierdie stoere Katolieke ‘n verrassing en is na haar ma se 48ste verjaarsdag gebore. Dit was ‘n bitter bevalling en ‘n suurstofgebrek het die babatjie van meet af belemmer. Susan sou met ‘n matige verstandelike gebrek grootword met leerprobleme en snelwisselende emosies as gevolg. Soos enige mens wat maklik verward word, was roetine en voorspelbare dae altyd belangrik vir Susan. Sy het gesukkel op skool en het daarna nooit daarin geslaag om ‘n vaste werk te kry nie.

Dis asof die natuur, so kil teenoor haar in een opsig, op ‘n ander gebied daarvoor wou kompenseer. Sy was nog altyd verstommend musikaal, nie net met ‘n kragtige, soepel stem met baie kleur en ‘n aangrypende timbre nie, maar met ‘n goeie oor en ‘n gevoel vir frasering. Die een gebied waarop sy haarself kon handhaaf, was in die musikale ruim. Van kindsbeen af het sy goeie, soliede musiekonderrig ontvang en het genoeg geleentheid gekry om in haar Katolieke Kerk-gemeente te sing.

Dis nie dat sy nie probeer het om haar sangloopbaan tot ‘n volgende vlak te voer nie. Sy het telkens probeer om oudisies vir ‘n televisietalentkompetisie, My Kind of People, te slaag, maar sonder sukses. ‘n Amateurvideo-opname wys haar in volle swang voor die mikrofoon terwyl die aanbieder, Michael Barrymore, agter haar rug kapperjolle vir die gehoor se vermaak uitvoer. In 1999 is ‘n snit van Susan wat “Cry me a river” sing selfs op ‘n saamgestelde album opgeneem.

Deur al die jare was dit asof die deurbraak net een optrede, net een musiekbedryfspesialis se teenwoordigheid, ver was. Maar dit het nooit gebeur nie en daarom tref ons haar op ouderdom 47 sonder werk en sonder vervulling van haar potensiaal aan. Sy leef steeds in haar ouerhuis wat sy nou besit. Sy en die kat Pebbles.

Dit is dan die Susan Boyle wat op haar merkie op die groot verhoog staan om haar droom aan Simon Cowell te verduidelik; die inhoud van die droom, soos deur haar uitgelê, is veelseggend. Sy droom nie van roem of geld of om weg te breek van haar ouerhuis nie. Sy wil op ‘n groot verhoog sing. Sy wil ‘n beroepsangeres word. Soos Elaine Page. Dis redelik om te aanvaar dat sy, as die mistastinge weggestroop is, net wil… sing. Susan Boyle, so ongemaklik met verandering, droom nie daarvan om die wêreld te sien, van duur hotelle en sikofante en gloeiende opskrifte nie. Sy wil net sing waar baie mense haar kan hoor.

Dit het vir haar gebeur ja, die groot verhoog en die baie mense wat haar wil hoor. Tog is droom vir ‘n jongmens. Die blote feit dat haar deurbraak in haar middeljare gekom het, is reeds ‘n miskenning van die droom. Indien niks anders nie, sal sy nooit in die fleur van haar vermoëns vir al hierdie mense sing nie. Sy is lankal nie meer die sangeres wat sy was nie.

Haar deurbraak met Claude-Michel Schönberg se “I Dreamed a Dream” uit sy Les Miserables was hoofsaaklik vanweë die openingsfrase wat nie net dramaties, nie net roerend is nie, maar nommerpas in haar middelste register geplaas is. Dis moeilik om aan ‘n ander lied te dink wat vir haar die geleentheid tot so ‘n effek sou bied. Dit was ‘n baie gelukkige keuse.

Die waarheid is dat sy drie uiteenlopende stemregisters het, elkeen met sy eie klank en die oorgange tussen hulle is strak. In haar lae register is daar nie veel borsklank nie, eerder ‘n geluid wat in die kake gesoek word – die “pelikaankakebeen” waarvan sangonderwysers praat –; dus is haar lae note ‘n stram fluisterklank. Haar hoë register het ook die glans van jonger jare verloor. Ons weet dit op grond van haar 1999-opname van “Cry me a river.” Dáárin vertoon sy ‘n soepelheid, nou verlore, en ‘n soetheid in die hoë register wat sy nou, gedwing deur ouderdom, vervang met ‘n metaalagtige oop klank. A, as ons meer van La Boyle as ‘n jong sangeres kon hoor!, want sy het ‘n ware gawe vir jazz, met ‘n heerlike buigsame legato, ‘n versoeting in die afsluiting van frases, ‘n kleurwisseling tussen note en ‘n gemaklike frasering. Maar vir die luisteraar, en dus vir Boyle die kunstenaar, het die vervulling te laat gekom.

Daar sou gewag en gesien moes word of rykdom en roem goeie kompensasie sou wees. Nou lyk dit na klatergoud. Susan, ewig onwillig vir groot aanpassings, bly steeds in dieselfde klein, regop huisie. En hoekom nie, as sy hier beskut en tevrede is? Sy hét saam met Elaine Page gesing – “I know him so well,”- uitgestryk en blinkgevryf van haar, haar ongewenste bulte gladgetrek deur ‘n lang, koningsblou satynrok. Dit was allermins ‘n onvergeetlike vertoning met die ouer Page wat elegant maar bewerig van stem is en Boyle wat ontuis in haar teenwoordigheid lyk.

Die geld lyk na die grootste las deur haar deurbraak op haar gelaat. Sy het die tipiese Skotse ontsag vir ‘n pennie en is duidelik huiwerig om gemaklik te spandeer. Daar is onheilspellende fluisteringe van wrywing met haar familie wat heel verstaanbaar gretig genoeg is om haar te help om die geld uit te gee.

Susan Boyle leef alleen met haar kat Pebbles in die hoë, regop huisie. Met die onderhoud voor haar legendariese oudisie, het sy dit bekla dat sy nog nooit eens gesoen is nie. ‘n Mens sou reken dat soveel geld en roem ‘n sekere sappige skyn aan haar lippe sou verskaf, maar blykbaar nie. En, om eerlik te wees, dit is moeilik om te sien hoe sy haar lewe kan verbuig om ‘n minnaar, of selfs ‘n man, te bevat.

Susan Boyle het op ‘n groot verhoog gesing. Sy het vir baie mense gesing. Sy het saam met Elaine Page gesing. Sy ís ‘n beroepsangeres… soos Elaine Page. En wanneer sy die deur van haar huisie toemaak en alleen met Pebbles binnebly, kan sy nie meer van hierdie dinge droom nie, want vervulling is die dood van die droom. Miskien is dit al wanneer ‘n mens ware rus kry: Na die vervulling van die Droom.

Soms, meer dikwels as wat ons wil weet of aanvaar, is Droomvervulling meer vloek as seën.

En volgende keer het ons dit oor hoe drome werklik kan vernietig.

Данильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.