Die Susan Boyle-effek

Deel op

Die Westerse vermaakbedryf het ‘n edele ideaal uit die konsep van Die Droom geskep. Dit is juis die onverantwoordelike aansporing om nie net te droom nie, maar om die vervulling van die Droom as ‘n burgerlike reg te aanvaar. Dis tyd om die neoromantiese konsep van die Droom onder die loep te neem . Vergun my om dit in drie dele te doen, met spesiale verwysing na ‘n ongeëwenaarde kultuurverwysing: Die Susan Boyle-effek

Susan Boyle het geweet, dié is duidelik.

Die wat haar geken het, het miskien kennis gehad; het beslis geglo. Maar net sy het gewéét.

Die ander deelnemers het nie geweet nie, en al het sy hulle vertel, sou hulle nie geglo het nie. Die beoordelaars, afgestomp deur die aanslag van ‘n duisend onbeholpe oudisies, het gedink hulle weet, maar hulle was ontsaglik verkeerd. Die gehoor wou niks weet nie. Die televisiekykers sou uitvind.

Wat sy geweet en die ander geglo of nie geglo of nie geweet het nie, het ‘n monument in televisiegeskiedenis geword, veral waar dit met die ander groot massavermaaksbedrywe, die internet en musiek, saamvloei. Die video van Susan Boyle se oudisie in die realiteitstalentkompetisieprogram, Britain’s Got Talent, in 2009, is al ‘n paar honderdmiljoen keer van Youtube afgetrek.

Die uittreksel begin met ‘n onbeduidende vroutjie op beeld, en sy knibbel preuts aan ‘n toebroodjie terwyl die ongesiene aanbieders iets kwetter van Glasgow wat op die kaart geplaas is. Die beeld wissel na ‘n nabyskoot van die vroutjie nou in staande posisie. Sy is regtig ‘n onaantreklike mopshondjie van ‘n persoon, met ‘n effense snor, ‘n boepmagie en ‘n yl tolbos droë hare wat ‘n nou bles vertoon. Sy giggelklets soos ‘n suiwere bakvissie.

O, beduie sy, sy sing al van ouderdom twaalf af, is nou 47 jaar oud en woon alleen saam met haar kat, Pebbles en is werkloos “hoewel sy nog rondkyk.” Sy was nog nooit getroud nie, “… nog nooit gesoen nie,” tjirp sy, “maar dís nie ‘n advertensie nie.” Giggelgiggelgiggel.

Sy wou nog altyd op ‘n groot verhoog sing en belowe selfversekerd dat sy “die gehoor gaan skud.”

Die vroutjie in haar outannierok om die karringmelkbeskuitjiefiguur en die dubbel ken neem die verhoog, en dit is ‘n oorweldigende vlakte, groot en met ‘n helderstralende banier van die program se logo – die Britse Unievlag wat in vonke uitbars – verskeie verdiepings groot teen die agterste muur. Sy verskyn maar dis opmerklik dat sy na haar posisie marsjeer; meer kordaat as koddig, soos iemand wat gekom het om te sien en te oorwin. Dié soort manhaftigheid is oorbekend op die Planeet Televisie se talentkompetisies. En die houding word met reëlmaat afgeblaas deur ‘n vyandige gehoor en ‘n sarkastiese beoordelaarspaneel.

Die eksaminatore in dié kompetisie is musiekbaron Simon Cowell, die koelste man op TV in sy eie beskeie oordeel, glansaktrise Amanda Holden en die hovaardige mediaman, Piers Morgan. Hulle sit agter ‘n toonbank heel voor in die ouditorium reg voor die verhoog.

Agter die beoordelaars is die hoi poloi, die gehoor, die kleinburgery. Laat daar geen onduidelikheid was nie: Hulle is hier om bloed te sien. Daar is nie meer Romeinse sirkusse om vandag se gepeupel mee te paai nie. In stede daarvan is daar iets veel bloeddorstiger, en dit is televisie se talentkompetisies. Want maak nie saak hoe klein en bedompig jou eie lewe is nie, as jy in die gehoor sit het jy mag oor die lewe en dood van die hedendaagse gladiator se drome. Dis jou – en die langs, voor en agter jou – se op- of afduimtekens wat sal bepaal of die stryder oorleef vir nog ‘n stryd in die arena, en of hy of sy nou onmiddellik voor jou onverbiddelike oë die toneel moet verlaat.

Op hierdie oomblik soek die burgery haar bloed. Hulle arena is vir hulle ‘n heilige terrein, al bulk hulle gereeld driftig hier vir die bloed van deelnemers. Dit is die verhoog en ‘n vrou wat die verhoog neem moet in haar persoon waardig wees; dit is ‘n optredevlak vir die aansienlike, die verruklike met langbene, wangbene, boudjies en borste. Dié wat kort is, wat ‘n rubberslang vet om die middel dra, wat tolboshare het, is die verhoog onwaardig.

Voor sy haarself op die genade van die omstanders werp, word sy deur Meneer Koel Platemiljardêr, Simon Cowell, self ondervra.

“Reg,” sê hy, terwyl hy die binnekant van een neusvleuel met sy duim vryf, “wat’s jou naam, Poplap?”

Sy sê wie sy is.

Wanneer sy vertel sy is van Blackburn, Wes-Lothian, naby Glasgow, en sy probeer om te verduidelik dat dit ‘n groepie dorpies is, haak sy vas omdat sy nie die woord “villages” kan onthou nie, wat oombliklik ‘n verergde uitjouery en ‘n sarkastiese wolwefluit uit die gehoor ontlok. Die beoordelaars is nie beïndruk nie; die oudisieproses het hulle iesegrimmig gelaat. Hulle sintuie is afgerem deur soveel wil-maar-wees kunstenaars van die lagwekkendste, die mees beroerde gehalte. Die aggressie jeens haar is dik, sluimerend, vol latente geweld. Sy probeer die luim negeer deur lighartigheid. “Ek moes dink daar, vir ‘n oomblik,” roep sy guitig uit.

Dan vra Cowell die gelaaide vraag: “En hoe oud is, jy, Susan?”

Sy probeer nie ontduikend wees nie maar vertel openhartig: “Ek is sewe-en-veertig.”

O, die vermetelheid! Om op afgeleefde ouderdom dit op die hooggeëerde oppervlak van die verhoogte te waag!, om dit met jou seniliteit te besoedel!

Cowell trek grootoë en kyk weg terwyl die gehoor haar uitjou.

Nou vir ‘n oomblik van absolute platvloersheid. Sy gryp haar middel vas met die hand wat nie die draadlose mikrofoon vashou nie, en roteer haar heupe in ‘n parodie van ‘n boepensvarkie wat ‘n paaldans doen.

“En dit,” roep sy guitig uit, “is net een kant van my!”

Om die mondhoeke van Morgan is daar ‘n trek van die uiterste afkeur en die gehoor jil vir haar bloed.

Cowell druk deur na die pit van die onderhoud: “Nou goed,” sê hy, “wat is die droom?”

Ja, die droom. Want dit is die een gemeenskaplike ding wat elke deelnemer, hoe karig hulle vermoëns ook al is, hoe verslons hulle aanbieding, na die verhoog bring: Die droom. Dáárdie onuitwisbare versugting sedert kinderdae, wat so geminag en gekneus is deur skeptisisme, twyfel en die rou werklikheid. Wat is die droom..?

“Ek,” sê sy reguit, “ek probeer om ‘n professionele sangeres te wees.”

Dit is te veel vir die gehoor en hulle sidder hoorbaar van verontwaardiging. ‘n Professionele sangloopbaan is die uitsluitlike gebied van die piepklein troppie werklike goeie kunstenaars, miskien selfs van die mindere gode. ‘n Kort pokkelvroutjie wat nie kan onthou waar dit is wat sy vandaan kom nie, het géén reg om daartoe te aspireer nie. Géén reg nie. Op hierdie oomblik sny die kamera ‘n meisie in die gehoor uit; glad van haar, keurig gegrimeer, duidelik geregtig om goed- of af te keur, en nou keur sy af. Sy fluister duidelik die woorde “professionele sangeres” na haar vriendin, en bewe ontsteld.

“En hoekom het dit tot dusver nie uitgewerk nie, Susan?” ondervra Cowell.

“Ek is nog nooit die kans gegun nie,” sê Susan Boyle; dis wat hulle almal sê, “maar hier is aan’t hoop dat dit sal verander.”

“En soos wie sal jy suksesvol wil wees?”

Dis ‘n gelaaide vraag, maar sy is onkundig oor die heiligskennis, die aantasting, die laster wat sy nou gaan pleeg: “Elaine Page,” sê sy reguit en sonder aarseling.
Dis dit! Dis die onvergeeflike!

“Sy is geen Elaine Page,” prewel ‘n gewalgde meisie in die gehoor vir haar vriendin.

Nou kan daar nie langer iets tussen haar en haar lot wees nie. Sy moet sing en sterf.

“Wat gaan jy vanaand sing?”

“‘Ek droom ‘n droom’ uit ‘Les Miserables,'” kondig sy aan.

Die skeptisisme is nou so dig en swaar soos ‘n baksteen.

“Nou maar goed,” sê Cowell, “dis ‘n groot lied.”

‘n Groot lied. Moes sy nie eerder maar haar pak verdra het met ‘n outydse deuntjie soos “I walk with God” of “Bless this House,” daardie uitstaande gunstelinge by al wat ‘n kunswedstryd is nie? Die aanmatiging, om voor hierdie bloeddorstige gehoor, voor hierdie uitgelese beoordelaars, op die televisiestelle van ‘n hele volk, ‘n “groot lied” te sing! Dit slaan die asem weg!

Terwyl Piers Morgan ‘n snedige glimlag bêre begin die begeleiding, ‘n lae golwende dreuning van strykers, gemerk deur die getrippel van ‘n harp.

Die pokkelvroutjie maak haar mond oop, die presiese vierkant met die geronde hoeke soos ‘n goedafgerigte sanger. En sy sing:

“Ek droom ‘n droom van ‘n vervloë tyhhhhd!”

En dit was dit. Met daardie een frase het sy gekom, sy het die arena geneem, die bedreiging getrotseer, en oorwin. Want die stem is welluidend, die frasering presies, die afsluiting daarvan met net die regte vibrato gemaskeer. Dis die stem van ‘n godin wat in ‘n tempel gehoor moes word maar wat uit ‘n vervalle herdershut kom. Dis die stem wat ‘n beeldskone vrou – met langbene, wangbene, boudjies en borste – paslik sou uiter.

In daardie enkele oomblikke oorrompel Haar Vaalheid die gehoor, die aanbieders – “julle het dit nie verwag nie,” jubel een reg in die kamera – en die beoordelaars.
Amanda Holden trek haar voorarms oor haar kop en haar mond val letterlik oop. Sy is nie meer die skeptikus nie. Sy wat die langbene, wangbene, boudjies en borste het om met reg die verhoog te neem, het ‘n aanbidder geword. Piers Morgan se sarkastiese glimlag het omgevou in ‘n oopmondlag van suiwer skok en genot. Simon Cowell wys duur, wit tande en die dollartekens roteer onbeskaamd in sy oë.

Sy het gekom, sy sing. Sy besit die gehoor. Hulle kom op haar voete en klap hulle hande dat dit gloei.

Dit is ‘n emosionele vertolking, gedrewe, met goeie frasering en uitstekende diksie waarmee sy die lirieke ontgin en saam met die begeleiding die melodie aandryf. Dit ís, in blyspelterme, werklik ‘n groot lied, wat vir die kunstenaar baie geleentheid gee om die vokaalware uit te stal.

“Met hulle stemme sag soos donder,” sing sy en dan, laag, laer, diep-diep in haar onderste register uitgegrawe: “Wanneer hulle jou drome verskeur.” En die gehoor gil verruk.

Dan styg die stem uit die lae register, deur die middelste en tot ‘n oopkeelkreet in die hoë register:

“Terwyl hulle jou droom verdraai in skande!”

Die beoordelaars vibreer in ekstase, die aanbieders gil bewonderend en die gehoor is op die voete.

In ‘n pose, terwyl die orkesbegeleiding voortdreun, is dit daar vir almal om te sien: Die glimlag, die kopknik, nou heeltemal regaal, die gesigsverklaring van ‘n koningin wat haar plek kom opeis en nou ingeneem het. Die slag is gelewer.

Met die rou uitroep, “Nou het die lewe die droom wat ek gedroom het, vermoor!” sluit sy af.

Die koningin, so skielik in haar eie reg gekom, draai skerp links en stryk aan van die verhoog af.

Die beoordelaars roep verbaas na haar, want die formaliteite – die kroning van die oorwinnaar – is nie afgehandel nie. Die aanbieders, buite die verhoog, wapper hulle hande vir haar om om te draai en sy maak ‘n omkeer. Wanneer sy nou die verhoog neem, dieselfde arena wat minute tevore haar nie gegun is nie, is dit in triomf, ‘n keiserin in haar segeviering.

Die eerste beoordelaar om te praat is Piers Morgan.
“Dit was, sonder twyfel, die grootste verrassing wat ons nog gehad het in die drie jaar van hierdie vertoning,” sê hy. “Toe jy daar gestaan het, met jou astrante glimlaggie en sê jy wil soos Elaine Page wees, het almal vir jou gelag. Nou lag niemand meer vir jou nie.”

En kyk na die vrou op die verhoog. Sy is nou op ‘n vlak bo kritiek of kompliment. Daar is ‘n toegeneende glimlaggie op die lippie, die uitdrukking van ‘n verhewe persoon wat die onderdane hulle skalkse oortredings vergewe en hulle verwelkom in die wêreld van kennis van haar.

Amanda Holden giet woorde soos ‘n gebarste emmer: “Ek is so getintel,” sê sy, “want ek weet almal was teen jou. Ek dink eerlikwaar ons was almal baie sinies gewees, en hierdie was die grootste wakkerwordoproep ooit. Ek wil net sê dit was ‘n volslae voorreg om hierna te luister.”

En die waardige hoof op die verhoog knik statig en aanvaar die verskoning, die uitroep om vergifnis, die aanprysing met die mees koninklike grasie.

Cowell, egter, is te nonchalant om die hoof te buig, ongeag die persoonlikheid bo hom op die verhoog. “Susan,” sê hy, “ek het geweet, die oomblik wat jy op die verhoog verskyn het, dat ons iets besonders sou hoor.” Die gehoor en Piers Morgan lag hom nou uit, en in daardie oomblik is die oorwinnaar maar net Susan Boyle van Blackpool, “O, Simon!” kraai sy en kekkel ‘n hekselaggie.

Wanneer dit kom om te stem, ontvang Susan Boyle die drie “grootste ja’s ooit,” om woorde by Piers Morgan te leen.

Susan Boyle verlaat die verhoog, en selfs wanneer sy agterna saamspeel en haarself laf en oorstelp hou, is dit nie oortuigend nie. Sy het gekom en sy het gewen; dáárin is geen verrassing vir haar nie.

Sy het gewéét.

Is die verhaal van Susan Boyle die volmaakte voorbeeld van ‘n droom en die vervulling daarvan? Volgende keer loop ons reg rondom die droom, die vervulling en die gevolge daarvan, en ons bekyk dit deeglik.

данильченко юрій броніславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.