Dis ’n Benz, en ja, dit is Kuns

Benz Cabriolet
Deel op

{jathumbnail off}

Benz Cabriolet

Vertoef ‘n oomblik om saam met my die hoed te lig vir een van die twintigste eeu se uitstaande kunstenaars – Paul Bracq. Dis Bracq, nie Braque nie. Ek het onlangs weereens die uitsonderlike vreugde gehad om een van sy kunswerke vir ‘n paar kosbare oomblikke te sien. Dit was in die Noordelike pelse-en-pondevoorstede van Johannesburg, ná ‘n halfdag se rondry, akuut verveeld om net nóg ‘n Lamborghini, net nóg ‘n 911 Porsche, net nóg ‘n Audi R8 te sien, om van BMW M5’e, Range Rover Malemas en allerlei rooi Ferrari’s nie te praat nie. En daar was dit, statig swewend uit ‘n systraat: ‘n Mercedes Benz W112-koepee, ivoorkleurig. So grasieus en solied soos Roger Federer se agterbaanspel en so elegant soos… ûh soos Roger Federer. Of soos Hugh Grant.

Dié, as stylbewuste pierewaaier, het een gery in The Diary of Bridget Jones. Dit was nie die W112 se enigste filmerkenning nie. Justin Bartha se karakter het een geleen by sy aanstaande skoonpa in die onlangse ribkrakerkomedie, The Hangover. Die motor was die onbetwiste ster van die rolprent.

“Benze word gery deur dokters en slagters,” word daar in Beiere gespot. (Hou net in gedagte dat die “B” in BMW vir “Beierse” staan.) Mercedes-Benz het ongetwyfeld, en het vir talle dekades nou al, die reputasie dat dit goedontwerpte en wonderlik vervaardigde motors is – maar dat dit bietjie tekort skiet in die panache-afdeling. Wat ‘n gruwelike wanvoorstelling van die feite! Mercedes-Benz het nog altyd die vermoë gehad om die wêreld se asem weg te slaan met flambojante nuwe aanbiedinge, soos die legendariese meeuvlerkkoepee van die 50s of enige van die SL-modelle. Dis net Benz wat ‘n SLK-karretjie se enjin ruim sal volstop met ‘n knoorse V8 soos hulle befaamde 6,3-liter. En sê wat jy wil van 2005 se CLS “vierdeurkoepee” – dis baanbrekend en sal oor vyftien jaar nog net so vars en uitspattig as tans vertoon. Panache! Ga! Ja! En debonair en suave en elke ander Franse uitdrukkings vir hierjy! waaraan jy kan dink.

Die Daimler-Benz-manne het boonop die vermoë gehad om nie net iets vars uit niks te maak nie, maar om ‘n bestaande motor met ‘n paar vlugtige hale van potlood en gradeboog in iets nuuts en besonders te verander. Die tweedeur-W111/2 het geensins nuwe tegnologie na die vertoonkamer gebring nie. In 1959 het die Stuttgarters ‘n groot outomotiewe sprong met die W111- en W112-sedanmotors gegee. Hierdie motors was wonderlik geskape, in die beste Benz-tradisie, maar hulle was ook heel vernuwend, met ‘n eenheidsbakontwerp met frommelstroke en versterkte passasiersruimtes vir ongeëwenaarde veiligheid, en die laespilpuntswaai-as vir die agterste suspensie wat hulle by die legendariese SL300 geleen het. Die uitstaande uiterlike ontwerpselement was die twee kattebakvinne wat die vlerkies was in die sogenaamde vlerkies-Benz.

Die gewigtige denkers in Daimler-Benz se agterkamers het teen hierdie tyd die agterkant van hulle potlode gekou oor ‘n vroeëre verskynsel. Hulle het opgemerk dat een manier om ʼn Mercedes-Benz meer begeerlik te maak, is om twee van die deure weg te vat. Dié taak is oorgedra aan ʼn jong nuwe ontwerper wat Citroen in 1957 vir Benz verlaat het: Dieselfde Paul Bracq waarvoor ek so flussies my hoofdeksel verwyder het. Hy was vir die vlerkies-Benz wat Edward Scissorhands vir ‘n struik was en het begin deur die vlerkies van die Benz te verwyder. Wat oorgebly het, is ‘n lang, slanke horisontale staaf, ‘n motor van sulke onderbeklemtoonde swierigheid, sulke eenvoudige sierstyl, jy moet kyk, en weer kyk, om die suiwer elegansie daarvan in te neem. In koepeegestalte is die motor sjarmant; as cabriolet is dit verruklik.

Spoed was nooit ‘n oorweging nie en hierdie tweedeurkoetse is aanvanklik rustig aanbeweeg deur ‘n onderpresterende 2,2-liter wat 100 kilowatt vir die 220SE W111 ontwikkel het, en ‘n drieliter-, 134-kilowatt- reguitses vir die 300SE W112 (wat ook met lugsuspensie gepronk het). Die 220SE het later die 250SE geword en toe die 280SE wat een van die beroemdste enjins van alle tye, Mercedes-Benz se klassieke 2,8-liter, enkelbonokas, bevat het. ‘n 3,5-liter-V8 is later bygevoeg en dié variante is raaiselagtig genoeg die 280SE 3.5 genoem.

Selfs met die tweederdedosyn onder die vel, was die W111/2’s nooit blitsmotors nie. Maar die rygenot, en meer nog, die ferm knusheid waarmee jy daarin ontvang is, was prima gehalte. Dit het die diep duursame genot van ‘n hereklub verskaf, die skimp van duur whiskey en duurder sigare, van gedempte klassieke musiek en onverganklike letterkunde. Dit bring ‘n vertroue in die soliditeit daarvan, ‘n verwondering oor die duursaamheid en ‘n onaantasbare gevoel dat jy betyds sal wees vir al die belangrike afsprake van jou lewe, al haas jy jou nie.

Daar is ‘n presiesheid aan die groot motors, en ‘n verbasende gewillige ratsheid. Wys hom waar om te gaan, en hy gaan. Ek het die buitengewone vreugde gehad om een ‘n bietjie swaarvoet te gee oor Ou Kaapse Weg met die M3 langs in De Waal-weg in tot in die middedorp van Kaapstad. Dis ‘n swaar voertuig maar het baie asem en as hy eers op spoed is, verslind sy die pad in ‘n moeitelose vaart. Daar is geen sug en sak deur die draaie nie; die kinkels word eerder met ‘n soort minagting uitgestryk. Die vierspoed- outomatiese ratkas kliek nie geruisloos soos Chrysler se Torqueflite van dieselfde jare oor nie, maar met ‘n netjiese, presiese knik. En wanneer jy die hokaai inskop, gryp die uitstekende remme vas en die groot motor stop met ‘n verstommende gedienstigheid op die daad.

As ‘n mens mag droom, laat ons hieroor droom: In die tydvak van die W112 was die klein V8 wat hulle gebruik het nie die enigste een in Benz se pakstoor nie. Hulle het ‘n monsterenjin, die 6,3-liter wat in hulle 600-limousine gebruik is, tot hulle beskikking gehad. ‘n Betreklik kranksinnige eksperimenterende ingenieur, Erich Waxenburger van D-B, het een daarvan in ‘n W109, wat nie veel van die W112 verskil het  nie, ingeknars. Dié motor was bekend as die 300 SEL 6,3 en was die vinnigste sedan van sy tyd wat die 100 km/u-kerfie in net oor die sewe sekondes kon afransel. Daar is natuurlik kenne gevryf en gepeins of hulle dieselfde guns vir die W112-koepee sou doen. Maar daar is daarteen besluit. Netnou vang ‘n Benz-eienaar iets so onbesonne aan as om ‘n Jaguar E-type daarmee op ‘n knop te jaag en dit sou net te vulgêr gewees het. Maar ai…

Niks se ge-ai nie. Die  motor het dit nie nodig nie. Met ‘n groter enjin sal jy jou bestemming gouer bereik. En gegewe die rygenot van die W112-tweedeur, wat is die sin dáárvan?

Prost, Herr Bracq! En dankie vir die vreugde!

лобановский александр дети

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.