Gansveer en perkament – dis Max!

Deel op

Max du Preez is die VHS-kasset van Suid-Afrikaanse politiek: Uitgedien en net vir gebruik in verouderde masjiene. Hy en die drie mense wat by geleentheid nog sy luisterlose politieke menings lees, het nog nie die nuus gekry nie: Die veldtog om die Afrikaner te kry om op te krul en die gees te gee, het misluk. Hierdie volk het nie net ’n politieke katastrofe en ’n  kollektiewe krisis om hulle identiteit te herontdek, oorleef nie, hulle gedy onstuitbaar en gesamentlik verrys hulle elke dag om ’n gedaante te word wat die  politieke trom elke dag net harder slaan.

Vir Max is dit ’n allesomvattende krisis. Hy het sy lewe en immerstotterende loopbaan daaraan gewy dat die Afrikaner soos water in die los, warm sand van ’n  eenvormige Nuwe Suid-Afrikaanse kultuur sou weg suig. Die uitsterwing van die Afrikaner, sy tradisies, sy taal en sy geskiedenis was in die Max du Preez-wêreldvisie nie net onontbeerlik vir die Mandelaïaanse utopie om te set nie, dit was ook onvermydelik, en hy sou die sterfbegeleier gewees het. So sou hy nie net homself met sy persoonlike neuroses versoen het nie, maar hy sou uiteindelik – welgeluksalig! – opgeneem gewees het in die boesem van die mense van die Afrikanerlose reënboog.

(Miskien, en nou word daar groot gedroom, miskien, uit erkenning, sou hulle ’n dorp – selfs net ’n  ou kleintjie, een soos Napier – na hom vernoem: Maxdorp! Uiteindelik sou daar rus vir hom wees. En die standbeeld – sien julle nou hoe vrekkens verleidelik is die droom – die standbeeld sal van ’n  vurige Max wees, nie een waar hy staties en statig staan  nie, maar waar hy met loshangende das en flappende baadjiepante en voorvinger wat soos ’n  sens swaai onder sy teenstaanders inklim; kortom, die Max van die Vrye Weekblad-dae soos ’n  Scorsese of ’n  Spielberg hom kon verbeel. Het ons al die fliek wat ongetwyfeld oor hom gemaak sou wees, genoem? Crowe? Clooney? Pitt?)

Enige iemand kon tog die edelheid van die ideale van Max du Preez insien, en niemand kan tog weier om die nederige offer daarvoor te bring nie? Behalwe die ellendige Afrikaner wat weier om in sy sterfbed te bly. Hoe regverdig is dít?

Dit verduidelik hoekom enige fluistering van Afrikanernasionalisme vir Max du Preez op skrif in harige vratte laat uitbreek. As daar een ding is wat die hele nobele droom kan laat verdroog, verpoeier en verdwyn, dan is dit enige viering van die Afrikaner, sy kultuur, sy taal, sy prestasies of sy geskiedenis. Met die geringste aanduiding dat so iets kan gebeur, gryp ou Max na sy pen; hy skryf koorsig, bewerig, onsamehangend… enige iets, enige iets… moet net skryf, moet net skryf, nie eers in ’n werklike hoop dat dit die Afrikaner van sy onbesonnenheid sal laat afsien nie, maar dat hy, Max, net vir ’n  oomblik die vals vrede kan ervaar dat hy iets gedoen het, dat daar ’n  oomblik van rus vir sy siel sal wees.

Max du Preez is ’n  ongelukkige siel. Mense keer hom voor, sê vir hom: “Max, ons het jou gesê!” “Dít,” natuurlik, is dat die Nuwe Suid-Afrika ’n  kolossale mislukking sou wees vanweë die gierigheid, onbeholpenheid en visieloosheid van die nuwe heersersklas. Max haat dit, hy háát dit, as mense dit vir hom sê, want hy het presies die teenoorgestelde verkondig.

Sy standaardantwoord is om te vra: Nou wat sou húlle voorgestel het ons moet doen? Wat hy hiermee bedoel, is dat dit sy begrip te bowe gaan dat daar mense is wat reken die Afrikaner kon beter gevaar het as om alle militêre mag, staatsgesag en ekonomiese beheer sonder slag of stoot aan ’n nydige nasie te oorhandig. Al die gemor oor ekonomiese verval en komende hongersnood en ’n  volksmoord hier of ’n  volksmoord daar. En steeds sê die mense: Ons het jou gesê, Max, ons het jou gesê.

Dit maak hom briesend, briésend! Wanneer dit gebeur wil hy net… hy voel… hy sal eenvoudig net om hom heen begin donder en bliksem. Of hy sal ’n  rubriek skryf.

In die naloop van sy teleurstelling dat die ANC hom nooit sy vyftien minute vir sy meelopery gegun het nie – hulle hét hom as ’n idioot beskou maar nie as ’n besondere bruikbare een nie – het Naspers se koerantredakteurs vir hom ’n been gegooi. Hulle was darem beïndruk met die beeld wat hy van homself geskep het. Hy is gesien as iemand wat roep in die wildernis – Vrye Weekblad, o Vrye Weekblad! – en toe skielik as ’n ghoeroe ontdek is.  

Henry Jeffreys, die raspaairedakteur van Die Burger, het veral vir Max rubriekruimte gegee. Nou ja, Jeffreys kan self nie ’n samehangende sin skryf nie en kan nie ’n goeie rubriek van ’n blerts op sy motorvoorruit onderskei nie. Nou nog, as die vrees vir die Afrikaner besonder akuut is, neem Max sy pen en papier – gansveer en perkament! – op.

Hierdie week gaan dit oor die immerirriterende Afrikaners wat ontevrede is met die manier hoe hulle geskiedenis aangebied word. Afriforum beplan ’n optog na die Uniegebou. Daar gaan hulle iemand soek wat kan lees en hulle gaan aan hom ’n eksemplaar van die boek wat oud-generaal Jannie Geldenhuys saamgestel het, Ons was Daar, oorhandig. Afriforum het voorts ’n video op sosiale media vrygestel waarin hulle minagtend snork oor enige iemand wat so kliponnosel kan wees om te glo dat die Suid-Afrikaanse Weermag nie die Slag van Cuito Cuanavale gewen het nie.

Wel, Max en sy gansveer sal remediërende onderrig aanbied voor dit te laat is. En, baie belangriker, hy sal histeries loei oor die roekeloosheid van die Afrikaners wat nie die insig het om suutjies te trap en fyntjies wind te breek nie. Hy begin deur donker te prewel dat Afriforum se pogings nie net vrugteloos sal wees nie – die liegbekke lieg vermoedelik met soveel volharding dat hulle hulle nie aan Afriforum se argumente of die waarheid sal steur nie – maar dat dit die Afrikaner nog meer ongewild onder die ander etnisiteite in die land sal maak.

Hy begin sy poging om die geldigheid van Afriforum se beswaar af te takel deur te erken dat Afriforum se beswaar geldig is. Maar Max, synde Max, probeer om, indien nie alles vir almal nie, iets vir die meeste te wees, so hy maak mense aan albei kante van die debat diep en deeglik die daalder in.

Eers waggel hy sy gansveer in die rigting van die ANC se gewapende aksie. “Een so ’n verspotte mite wat nou verkondig word,” skryf hy “is dat die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, ’n  groot bydrae gelewer het om die apartheidsbase na die onderhandelingstafel te dwing.”

En hy smaal meewarig oor Zuma wat gepraat het van die “oorwinning oor die magte van apartheid by Cuito Cuanavale”. Hy rapporteer dat hy sy kop geskud het, en natuurlik het hy alle rede tot dié hoofgebaar gehad.

So! Hy moes nou wragtagwaar die Afrikanerlesers oorgewen het met dié insig.

Nou klap hy met die kwas wat nog met dié meewarigheid drup deur die gesig van die Afrikaner en sy opvatting van sy geskiedenis.

“Dit het my laat terugdink,” ritsel die gansveer, “aan P.W. Botha en Magnus Malan wat so graag gespog het oor hoe die SA Weermag Swapo in Namibië ‘die rug gebreek het’ of die Kubane ‘bloedneus gegee het’; aan die baie ministers en adjunkministers en funksionarisse en ooms wat in die dekades voor 1990 op veral Geloftedae uitasem geraak het oor die Afrikaner se militêre viriliteit oor die eeue.”

’n  Bietjie verder af in sy relaas, kategoriseer hy dié opvattings as “die wolhaarstories van willewragtags…”

P.W. Botha en Magnus Malan “willewragtags?” Ach soooo…

“Wolhaarstories”? Wel, het die SAW Swapo se rug in Namibië gebreek? Nie net gebreek nie, hulle het die stuiptrekkende liggaam gevat en oor die grens gesmyt. Van die vroeë tagtigs af was die Operasionele Gebied ’n  vakansieplaas. Ons het geweerloos en sorgeloos aan diens daar rondgery. Die weermag se uitmuntende komopsprogram het die harte van die plaaslike bevolking gewen. Met hulle heelhartige samewerking en die weermag se weergalose hakkejagvermoë is Swapo tot diep in Angola teruggedruk en daar is hulle voorradebergplekke en -linies genadeloos deur gemeganiseerde operasies vernietig.

En, ja, die SAW hét die Kubane “bloedneus gegee” volgens ’n bron waarmee selfs Max nie sal stry nie – Max du Preez self. Die SAW, skryf hy op ’n plek wat hy later van vergeet, “het baie beter gevaar as wat die Kubane verwag het of later bereid was om te erken.”  

Die SAW het nie net Castro se mannetjies nie, maar per uitbreiding ook hulle Russiese meesters genadeloos gekasty. Elke militêre doelwit van die Kubane is deur die SAW verydel. Die rimpeleffek, volgens Jannie Geldenhuys, het gehelp om die waan van Russiese onstuitbaarheid te prik en bygedra tot die uitrafeling van die ystergordyn.  PW en Magnus mag maar gespog het.

Du Preez kan ook maar sy minagting oor “die Afrikaner se militêre viriliteit oor die eeue” in sy sak plaas en daarop sit. Die Afrikaner se bloed is gemeng uit gedugte strome, uit die Nederlanders wat die oormag van Spanje vir dekades weerstaan en uitgemergel het, uit die Franse wat later onder Napoleon ’n magtige Europese ryk gevestig het, en uit Duitsers wat nog later onder Bismarck die vasteland militêr oorheers het. Elke volk wat gewapen teen die Afrikaner gekom het, is verslaan, en toe daar nie nog gekom het nie, het die Afrikaner aksie gaan soek. “Those magnificent fighting Boers,” het veldmaarskalk Bernard Montgomery hulle genoem, en hy sou weet, want dit was hierdie Boere wat die aambeeld was waarop Rommel se Afrika Korps uiteindelik by El Alamein flenters geslaan is. Nee wat, as daardie “ooms” by die Geloftedae uitasem geraak het, was dit met goeie rede.

Tot hier was Max seker van sy saak; verkeerd, maar selfversekerd. Nou begin die oëverblindery, maar dit is so ’n onbehendige woordgoëlery dat die gehoor moet wonder of hierdie ’n opregte politieke mening of blote lomp satire is. Wat ons gansveermusketier nou gaan doen, dames en here, is om vir ons ’n les oor geskiedenis aan te bied.

Enige iemand wat oor die jare heen homself gekasty het om deur Max se rubrieke te ploeter, sal een ding van die Spier van Napier weet: Hy smaak homself as ietwat van ’n historikus en, benewens, as ’n deskundige oor die teorie van geskiedenis.

Ter inleiding voer hy aan dat Zuma, aan die een kant, en PW Botha, Magnus Malan en ook Eugene Terre’Blanche se beskouing van gebeurtenisse in die verlede nie “geskiedenis” is nie, maar populisme en wolhaarstories. Nee, hulle is nie geskiedkundiges nie. Nou begin die naamsaaiery. O, Max is versot daarop om die name van skrywers en kenners af te rammel en om homself dan deur implikasie by hulle geledere te voeg. Hermann Giliomee, Christopher Saunders, Bernard Mbenga, David Welsh en Rodney Davenport, nou kyk, dáár is nou vir jou historici. Net sodra ons dink dat ons nou uiteindelik die gesag uit hierdie oorde kan vertrou, sê Max, nee-nee-nee-nee, dié uitgelese groepie, hierdie “gerekende historici” se boeke is ook nie “die geskiedenis nie”. Errmm. O. Hoekom nie? Want daar is ander boeke en artikels met ander perspektiewe.

Nou rammel hy name af dat dit klink soos hael op ’n sinkdak: Charles van Onselen, R.W. Johnson en Martin Meredith, die skrywers. Maar ook dáár is “die geskiedenis” nie te vinde nie. Max se koker name van geskiedskrywers is nou leeg, so hy reik maar vir die name van mense oor wié daar geskryf is, van Paul Kruger deur Koos de la Rey, Cecil John Rhodes langs, verby Jan Smuts en Robert Sobukwe anderkant Anton Rupert en Jannie Geldenhuys uit. Hoekom, sal die gemiddelde leser wil weet, word hierdie name genoem? Die biografieë is dan tog deur geskiedskrywers geskryf en ons weet dat boeke deur hulle ook nie “die geskiedenis” is nie.

Nou net voordat daar moedeloos aanvaar kan word dat “die geskiedenis” nie geken kan word nie, paradeer Max nou ’n  paar groot geskiedeniskanonne: Facebook, Twitter, Google, History Channel, BBC Knowledge en, les bes, Wikipedia. Hoera… maar ook nog nie heeltemal nie. Want nou blyk dit dat hierdie waardige bronne net daartoe sal lei dat daar meer as één weergawe van “die geskiedenis” sal wees. Vergeet van reg of verkeerd, as daar meer as een weergawe is, bestaan “die geskiedenis” nie.

Op grond van hierdie vernuftige uitleg, besluit Max toe dat Afriforum nie opreg was met hulle optog nie. Nadat hy herhaaldelik na Afriforum se promosievideo gekyk het, “was dit” vir hom “klokhelder duidelik: Dit gaan nie hier oor die geskiedenis van Suid-Afrika of die Afrikaner nie, dit gaan oor die oorloë wat die ou SA Weermag in Angola, Namibië en elders geveg het…” Sulke insig!

Dít, bevind Max, verduidelik die “Zuma/Cuito-kapstok” van Afriforum. Die adders!

Nadat Max eers vir twee paragrawe snedig was oor “’n jong knaap en drie oompies” wat “in die ‘browns’ van die ou SAW” geklee was, sak hy op die onderwerp van die Slag van Cuito Cuanavale toe. Die gemiddelde leser sal teen hierdie tyd weet dat die waarheid oor die slag nooit geken kan word nie, want daar is ’n  meningsverskil daaroor en Max het mos nou al so mooi verduidelik dat waar verskillende sieninge oor ’n  onderwerp is, “die geskiedenis” nie geken kan word nie.

Maar wag!, gemiddelde leser, die waarheid oor die slag kán geken word. Ons kan “die geskiedenis” te wete kom. Daar is, glo dit of nie, iemand wat weet wat die volle waarheid is, wat uniek toegerus is om die finale uitspraak te lewer. En daardie persoon is niemand anders as Max du Preez self nie! Hoe wonderlik is dit?

Die gemiddelde leser wil dadelik weet: Wie is reg? Die Suid-Afrikaners wat daar was of die Kubane wat daar was? Nie een van die twee nie!, grom Max triomfantlik. Hulle lieg almal, sommige erger as die ander. Die enigste een wat weet wat daar gebeur het, is Max (wat nie daar was nie). Ná ’n kort, baie konvensionele toer deur die feite, kom die draer van “die geskiedenis” tot ’n onverrassende gevolgtrekking; geen ander kon van Max verwag word nie.

“Die SAW het waarskynlik die militêre oorhand gehad,” skryf hy, “maar die feit bly staan dat hy hom onttrek het sonder om sy militêre doel te bereik.”

Hy brei uit deur te sê dat “die P.W. Botha-regering en die SAW-generaals het die eerste keer regtig agtergekom dat hul militêre avonture in buurstate tot ’n einde sou moes kom. Dit was ’n keerpunt en het regstreeks gelei tot Namibië se onafhanklikheid in 1990 en die Kubane se onttrekking uit Angola.”

Sy gevolgtrekking is dat “dit nie juis iets is waaroor oudsoldate en Afrikaner-nasionaliste kan kraai nie. Hulle kan aandring op ’n korrekte weergawe van gebeure, ja, maar dit was niks om oor windgat te wees nie.”

O wel, duidelik verskil sieninge oor wat windgatheid regverdig. Daar is ander dinge waaroor ’n  mens regtig nie oor hoef windgat te wees nie, soos byvoorbeeld om ’n gehawende koerantjie uit te gee wat dwarsklappe uitdeel na ’n floumakouregering en om dan vir die res van jou lewe aan daardie droë speen te probeer suig.

Maar om ’n oormag in ’n reeks veldslae nie net te stuit nie, maar teen hulle elke voorneme in te laat terugkrabbel, hei, nou kyk, dít is ’n uitmuntende rede om windgat te wees.

Max se gevolgtrekkinge is bloot foutief. Suid-Afrika het sy militêre doelwit by Cuito Cuanavale oortuigend behaal: Hulle het die Kubane en Fapla verhoed om Unita in Jamba te vernietig. Dis die Kubane wie se oogmerke verydel is. Dit is ook nie so dat die militêre werklikhede die Suid-Afrikaanse regering gedwing het om na die onderhandelingstafel te skarrel nie. Hulle was reeds daar, bereid tot ’n skikking. Om presies te wees, dit was juis die politieke onderhandelinge wat die SAW verhoed het om die Kubane te omflank, hulle voorradetoevoer af te sny en die vasgekeerde mag te vermorsel.

Hy noem sy verslonste rubriek Halwe herinneringe & politieke foefies. Die halwe herinneringe is syne. Laat daar onthou word dat Kuba in Angola teenwoordig was om Unita namens Fapla te verslaan en om dan vir Swapo te help om Suidwes-Afrika met geweld oor te neem. Vir al hulle moeite, al hulle verspilde bloed en miljarde rande se verlore wapentuig, kry hulle ’n  vet ronde nul op die telkaart.

Miskien het daar tog iets van die waarheid en logika ’n wurmgat in die Du Preez-bewussyn ingevreet, want hy probeer nogmaals ’n steelhoubelediging inlê. Hy moes seker gedink het dat hy met ’n sekere vlugvoetige pypkan die valsheid agter die skans van die waarheid kon insmokkel, maar sy tegniek is lomp en gehawend.

Hy slaan eers ’n  half paaiende en o, so neerbuigende rigting in. “In die ou SAW,” skryf hy, “was baie ordentlike, professionele soldate. “ Wel, dankie vir die erkenning Max, maar…  “Daar was baie soldate, met inbegrip van dienspligtiges,” vervolg hy, “wat vas geglo het hulle veg teen die opmars van die kommunisme.”

Errr… ja, daar was diegene wat dit geglo het hulle veg teen die opmars van die kommunisme, en die hoofrede was dát hulle geveg het teen die opmars van die kommunisme. Of het Max nog nie die nuus gekry dat die MPLA, Swapo, die Kubane, Oos-Duitsers en Russe almal kommuniste was nie? En nie net het die SAW teen hierdie kommuniste geveg nie, hulle het die hamer-en-sekelbarbare gestuit en verdryf, soos wat Kommunisme harpuis laat ruik is in die twee ander warm streke van die Koue Oorlog – die Midde-Ooste en Afghanistan. Hierdie mislukkings het die Marxistiese koffers so gestroop dat die Sowjet-Unie as gevolg daarvan verbrokkel het.

Maar nou ja, Max hét ’n toegewing gemaak, en nes hy dink die gemiddelde leser kyk weg, probeer hy dié algehele vals aantyging tussen hakies vermom en insmokkel. Skryf hy: “(Daar is ook aaklige menseslagtings en onuitspreekbare wreedhede gepleeg – ek was daar, in Angola en Namibië in daardie jare, ek wéét.)”

A, nou kyk die verraderlikheid. Natuurlik was daar sulke barbaarse vergrype. Baie van ons was daar – en nie net om kiekies te neem en dan te onttrek na die kroeg nie – en ons wéét ook van hierdie wreedhede, almal daarvan deur die Kommuniste gepleeg. Maar dis nie wat Max wil hê ons moet glo nie. Sy hele aanbieding is ontwerp om die SAW-lojaliste tot skaamte te dryf vir gruwels  wat hulle nie gepleeg het nie. As hy weet van “aaklige menseslagtings en onuitspreekbare wreedhede” wat deur die SAW uitgevoer is, laat hy voorval, plek en datum noem of vir ewig sy mond hou.

En nog is hy nie gedaan nie, waarskynlik omdat hy weet dat hy in sy aanklag misluk het. Ja, erken hy, daar is nog mense wat glo  dit “was werklik ’n  legitieme oorlog wat hulle in Angola, Namibië en elders gevoer het”. En wie is hierdie mense wat dít glo? “Naïewes en ideologies-gedrewenes,” noem hy hulle. As Max hulle so noem, dan weet ons dat hulle inderwaarheid nugter, goed ingelig en reg is.

Nou ja, ons weet dat wat Max se binneste uitkalwe nie die wenners of verloorders van ’n veldslag is nie. Daar is een ding wat hy vrees bo alles: Die herrysenis van Afrikanervolkstrots. Hy erken dit gedeeltelik.

“AfriForum,” sê hy, “maak ’n  gevaarlike fout as hy ’n  nuwe nostalgie, ’n  nuwe trots op die militêre avonture van die laaste apartheidsregerings wil aanwakker… Dit gaan ons nog almal duur te staan kom.”

Max se idee van die bedinging van regte binne ’n multikulturele samelewing is vir die blanke om soos ’n babahondjie op sy rug te gaan lê en sy pensie nat te piepie. As ons in gedagte neem dat die regering byvoorbeeld vandag ’n  beslissende stap geneem het om Afrikaans uit die staatsdiens te verban, hoe werk dít vir Max?

Ja, ja, ja… maar mag die Afrikaner tog net nie ooit weer trots op enige van sy prestasies wees nie.

Wees bang, Max, wees baie bang.

Daar is ’n  geluid, as jy mooi luister kan jy dit hoor, en dit is van voetstappe; die voetstappe van Afrikaners wat onkeerbaar op pad is na selfbeskikking. Tot onlangs toe was dit nog ’n sagte voetval en min mense het geloop. Maar een het by die ander aangesluit en die twee van hulle by nog ’n paar. En oral, regoor die land hoor jy dit. Nog twee, nog vyf, nog tien, twintig, honderd, duisend… Die voete maak saam ’n gedruis; dit word ’n magtige dreuning, die donderende landskuddende stormgedruis van ’n Volk op pad na vryheid.

En my vriend, wanneer jy saam met my in daardie onstuitbare falanks marsjeer, en voor jou sien jy ’n bewerige ouman wat sy ideologiese skuifraam een kort stootjie op ’n  slag versit, en sou jy in die mars na Volksoorlewing hom omstamp, wees tog deernisvol, draai om en hurk by hom, kyk hom in die oë en plaas ’n hand op sy skouer en laat jou woorde aan hom wees:

“Max, ons het jou gesê, Max…”

лобановский александр харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.