Met skyfies, sonder uie

Deel op

Die Ou Suid-Afrika was nie ‘n land net van plase, blinkskoon stede en universiteitsdorpe nie. Daar was ook die bo-dorpe, onderdorpe en voorstede van nywerheidsgebiede en myndorpe soos in die Wes- en Oos-Rand, plekke met hulle eie atmosfeer, guitighede en soms verslete sjarme. Die nederigste daarvan was Brakpan, o Brakpan, tuiste van ‘n legendariese padkafee.

Vir ons Brakpanners was dit die Kasteel van Kos, die Parfait-Paleis, die Dasja van die Dagwood, die Katedraal van die Kaasburger, die Bastion van die Burger – ons eie, onoortreflike Casbah.

So, hef ‘n saluut saam met my aan vir die beste padkafee wat ooit daar was. Ek het al burgers geëet van Agulhas in die Suide tot Tsumeb in die Noorde; van Port Alfred in die Ooste tot Vredendal in die Weste, en meeste plekke tussenin. En hier is wat ek gevind het: Die ander eetplekke kon nooit soos die Casbah die verskil tussen gemorskos en kos wat morsig is, verstaan nie. Vir die ander is ‘n burger ‘n roetine; vir die Casbah was dit ‘n ritueel. Die Casbah was meer as net ‘n padkafee – dit was ‘n akademie van kunskos.

Ek het al fynproewers ontmoet wat geblinddoek die buitekant van ‘n wynbottel kan lek en summier vir jou die kultivar, die landgoed en die oesjaar kan noem – mét ‘n selfvoldane waardeuitspraak daaroor. Ek het ‘n ou passasierskipsjef ontmoet wat sewentien soorte seesout kon eien. Daar is kenners van oesters, knoffel, olywe en tweedehandse sigaarrook. Maar ons, ons van die ‘Panne, ons kan ons koppe hoog hou: Ons verstaan morsige kos.

Ek volg Masterchef op TV en snork minagtend wanneer die lat met die krawat so liries hyg oor smake. Wat weet hy as hy nog nooit ‘n Casbah Dagwood geproe het nie (en nie sal nie, want die Casbah soos ons die Casbah onthou, bestaan nie meer nie)? Wat weet hy van daardie bruinbrose, oliegeurige snye buitebrood? Van daardie rokerige speksmaak, die industriële botterigheid van die geprosesseerde kaas, die robuustheid van die platfrikkadel, die balanserende geurigheid van die eier, die knyp van die braaisous en die uitbarsting van die rou ui..? ‘n Smaaksimfonie, sê ek jou, maar in kulinêre terme ‘n Mozart-simfonie, vol harmonie maar met onderskeibare lae wat jy kan uitpluis en deurleef. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom kon een toebroodjie so baie vir soveel mense beteken nie.

Ek het, toe ek in die weermag was, ‘n kameraad, ‘n straatgesoute Johannesburger vir wie daar niks nuut onder die son was nie, aangery uit Mayfair vir ‘n Casbah Dagwood. Hy het al alles gesien, beleef en geproe, het hy nie? Hy het toe nie. Daardie pas het hy al sy danger pay uitgegee op die onoortreflike Dagwood. Ek weet van ‘n vriend wat dertig kilogram opgetel en suikersiekte opgedoen het weens sy getroue bywoning van die Casbah – en elke Dagwood sonder verwyt en met die grootste genoeglikheid onthou.

Maar die Casbah was nie ‘n ponie met net een toertjie nie. Dis die enigste padkafee wat die verskil tussen Arbei- en Framboosmelkskommels verstaan het, wat besef het ‘n Banana Split kort meer tekstuur as net roomys oor ‘n gekloofde piesang en dit gegarneer het met room, spuitroom en soetfrummels. Waar anders sou jy ‘n parfait raakloop met soveel lae soetheid en romerigheid in samesmaak en kontrapunt? As ek myself laatnag onderweg op ‘n donkerpad wil vermaak, roep ek tot die vermaak van my smaakbondeltjies die kerrierige sous van die Chicken Fry op, die manier waarop die hoendervel gekraak en souserige, skerpgeurige smaak vrygestel het, aan die rys wat amper tot ‘n samehorige koekie gepers is onder die halwe hoender…

Daar is meer as dit. Die Casbah was nie net die verskaffer van uitmuntende morsige kos nie, dit het vir ‘n belewenis gesorg van die oomblik wat pa se Valiant op sagte vere daar ingewieg het, of, in later jare, jy en die pelle daar ingesnork het in ‘n Volla of, net nog ‘n bietjie later, daar ingeskuur het in ‘n pel se nuwe tweedehandse Escort, was jy op, in Brakpanse terme, heroïese grond. Onthou net daardie nekke wat vorentoe gestrem het om onder die sonskerms deur die oorbekende spyskaart op die buitebord, so groot soos ‘n inryskerm, te lees. Daardie heerlike, martelende proses om die deugde van verskeie disse en hulle toepasbaarheid op sak, geleentheid en die dag se smaak te oorweeg. Dan, wanneer die innerlike en openlike debatte en opnames plaasgevind het: Die flikkerflik met die motorligte en die kelner kom aangeslenter, pet agteroor en skeef, vadoek wat voor hom hang, ingedruk in die voorrek van sy broek, A6-bestelboeke van koerantpulppapier met donkerpers deurslagvelletjies tussen die blaaie. En dan die uitgebreide onderhandelinge, verduidelikings en bestellings.

Nou is dit tyd om die wagtyd om te skerts, te klets en na die dag se vertoning van die klein mensedramas te kyk: Die klong wat meer wellustig as koslustig is en die pop gaandeweg in haar klein hoekie op die passasiersitplek bymekaar maak; die verwilderde ma wat lyk of sy ‘n stoeltjie en ‘n sweep kort om die kleuterhorde agter in die kar in toom te hou tot die kos kom; die motorfietsers wat gedenimbaadjie-en-jeans sysaal op hulle motorfietse voor by die afdakkie sit en knaag aan hulle hamburgers; die skoolseuns by die tafeltjies wat net genoeg geld gehad het vir een melkskommel en nou vurige détente voer oor hoe om dit te deel; die oujongkêrel wat homself op ‘n Blondie trakteer en wrang vir homself sê dis die naaste wat hy daardie aand aan die ander soort sal kom…

En dan kom die kos op geduikte aluminiumskinkborde en die kelner wink vir die bestuurder om die venster halfoop te rol en hy haak die kloutjies oor die venster en bring die enkele stutpaaltjie tot teen die motordeur en presenteer sy rekening met ‘n klap van die vingers, en terwyl daar groot groen R10-note, pers vyfrande, bruin eenrande en munte uitgetel word, word die eerste sjielinggrootte gepiekelde agurkies deur slu passasiers van die papieroortreksels oor die kos gegaps. Dan word die kos uitgeloot en melkskommels met somber waarskuwings aangegee.

Maar later, in die donker, soms, kom die kreature van die nag uit en dan word die terrein van die Casbah ‘n kryt op ‘n teerblad tussen mure met ‘n ruitpatroon daarop en reuse beton-Coke-bottels. Die gladiatore in hulle T-hemde, ritsleerbaadjies en noupyprekstofjeans, dronk van goedkoop brandewyn en testosteroon, beveg mekaar met dieselfde skinkborde vir skilde en gebreekte bottels vir kortswaarde. Dis vinnige skermutselings, wild en vol hygende geweld. Dit kan nie lank hou nie want die Casbah is ‘n dwarsstraat ver van die polisiestasie.

En ja, met presiese tydsberekening, die oomblik wanneer die geveg weggevaag het, kom die polisie met groot vertoon in hulle potblou Chevy C20 “Van” daaraan, al skrouende bande, twietende skokbrekers en lang, slap koringkriekagtige antennas wat met die skielike stopslag vorentoe sweep en dan sierlik agteroor wieg.

Die venster word afgeslinger.
“Waar’s die faait?” vra die rooigesigsersant.
“Nee, hy’s klar!” beduie die kelner.
“O?” sê die sersant met ‘n frons terwyl hy die nuwe inligting verwerk. Dan gluur hy na die kelner: “Vier hamburgers, toasted dagwood, een toasted chicken-mayonnaise, twee double-thick lime milkshakes en twee Cokes…. Take-away!”

In Brakpan had ons nooit ‘n Ritz, ‘n Delmonico’s of ‘n Waldorf-Astoria vir ‘n gourmet nalatenskap nie. Maar vir ons was daar die Casbah. Dit, saam met die Pan en die mynhope en die stadsaal en die duikweg en die sandsteenbiblioteek en die ou fontein in Voortrekkerweg het gehelp om ons te maak wat ons is. En dit, met of sonder uie, moet genoeg wees.

лобановский александр игоревич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.