O Grond!

Deel op

Die gronddebat het pas weer opgevlam en die vonke spat na alle kante. Maar soek hoe hard ek wil, ek kan net een praktiese voordeel daarin vind.

Daar is lonende maniere om ‘n mens self mee uit te put: Fietsry, touspring en draf, byvoorbeeld, bou spierkrag en stamina. Geslagsgemeenskap bevorder bloedsomloop.

Om met swartmense oor die eienaarskap en moontlike vervreemding van landbougrond te debatteer, het geen waarde nie. Dis ‘n gehap na skaduwees, ‘n poging om water met ‘n kantgordyn te skep.

Die nuutste rondte in dié rondomtaliegesprek het uitgebreek as naloop van Dr. Pieter Mulder se toespraak in die parlement waarin hy die blankes se aansprake op dele van die grondgebied in Suid-Afrika in die een afdeling verdedig het, en die swartes se eienaardige aandrang dat hulle histories die hele grondgebied beset het, in die ander afdeling bevraagteken het.

Heel onvermydelik en algeheel Pavloviaans het die opposisiepartye en die liberale media – met Naspers aan die spits – liters en liters se ink in dagblaaie, en gigagrepe data op die internet, begin kwyl. Mulder is ‘n rassis, het hulle gehyg sonder om dié rassisme uit te wys; Mulder kort ‘n geskiedenisles het hulle gekreun sonder om vir hom een aan te bied; Mulder se party het geen bestaansreg nie het hulle gefulmineer sonder om te bevestig wat dit is wat ‘n party die reg op bestaan in hierdie eienaardige demokrasie gee.

Mulder in repliek het openlik gefrons oor sy aanklaers se onvermoë om feite en logika eerder as emosie sentraal in die gesprek te plaas. Indien niks anders nie, het die bevolking darem ‘n sterk, selfversekerde stem in Mulder ontdek.

En tog is dit ‘n stem wat net in sy eie geledere, die Afrikanervolk, gehoor sal word. Vir die res – die ANC en hulle ondersteunersbasis, die hoofstroommedia en die liberale Afrikanerdom – is die gesprek afgehandel, nie deur die inhoud van Mulder se betoog nie, maar deur die blote feit dat hy oor grondsake wil praat. Vir die Bantoe en die liberalis is dit ‘n heilige aksioma dat swartmense vreedsaam in voorspoed oor die ganse Suid-Afrika gewoon het voordat die kil, inhalige blanke hulle uitoorlê en verdryf het. Om hieroor te wil praat is politieke kettery.

O, kyk, die liberaliste sal stry en sê dat hulle juis gereeld daarop aandring dat die verskeie kulture in hierdie land met mekaar sal praat. Oop gesprek is wat nodig is. ‘n Mens moet net verstaan wat “oop gesprek” in die verskuiwende leksikon van liberaaltaal beteken. ‘n Oop gesprek vir ‘n liberalis is ‘n geleentheid waartydens hy verduidelik hoekom hulle so deksels reg is en die ander skuifvoetend boete doen omdat hulle so verkeerd was. Vir ‘n uitruiling van gedagtes, opvattings en veral idees is daar nie ruimte in die linkse gesprekvoering nie.

Mulder dui aan dat die dryfveer vir sy toespraak juis was dat ons almal tot anderkant emosie kan vorder waar die saak uitgepluis kan word aan hand van betroubare geskiedkundige gegewens, redelikheid en logiese slotsomme. Ek vertrou dat hy nie regtig verwag dat dit sal gebeur nie en dat sy toespraak eerder ‘n gebaar is wat net nog ‘n formaliteit in die komende politieke herrangskikking kan aftik.

Die eenvoudige, onomstootbare waarheid is dat nie die ANC, die liberalis of die swart gemeenskap die minste in feite en statistieke belangstel nie. Hulle sien emosie nie as ‘n swakheid in die gesprek nie, maar eerder as die vertrekpunt, die reis en die eindstreep van die totale debat. Vergeet van die “30% grondgebied” wat teen “2014” aan swartmense oorhandig moet word. Hierdie is bloot getallesimbole om die momentum van hulle rewolusie mee te rig. En vergeet van die grondkwessie as iets wat oor blote grond gaan. Vir “grond” in die ANC se argument, lees “blanke plase.”

Die ANC stel nie belang in ‘n oplossing vir die grondvraagstuk nie. Sodra dit uitgeklaar is, verloor hulle hulle geldigheid in die oë van die mense wat hulle demokraties aan bewind hou. ‘n Rewolusionêre aktivisme-organisasies soos die ANC behou net hulle populistiese momentum deur uitspattige beloftes en die bereidwilligheid om ander mense namens hulle ondersteuners te beroof. Dit was na alles Robert Mugabe se laaste, wanhopige werp van die teerling gewees en het vir hom die tyd gekoop om ZANU-PF van ‘n gewaande demokratiese party te herontplooi as onderdrukkende diktatuur.

Die oomblik as die ANC sou aankondig dat die grondkwessie na hulle goedkeuring afgehandel is, verloor hulle geheel en al hulle aansien en geldigheid in die oë van die gierige swart massas. Die ANC se blote voortbestaan hang daarvan af dat hulle aan hulle verwerplike ideaal van grondonteieining sal vasklou. Sou hulle hulle verwronge interpretasie van die verlede laat vaar, gee hulle as party boedel oor. Hulle geldigheid lê nie in hulle voortreflikheid as regerende party of hulle rekord van prestasies nie. Hulle enigste aanspraak om die land te regeer is onlosmaaklik vasgekoek in die verlede en hulle presiese weergawe daarvan.

Die DA sal ook niks beter vaar nie. Vir hulle om ‘n lewensvatbare teenvoeter vir die ANC te wees, beteken noodwendig dit moet ‘n swart party word met ‘n swart bestuur en ‘n swart manier van dinge doen. En om enigsins volgelinge te werf, moet hulle grondhervorming – die finale aanslag op blanke plase – voorhou. As die simboliese 30%, volgens welke opmeting ook al, behaal word, sal hulle, ter wille van politieke oorlewing, onmiddellik begin betoog vir die oorblywende 70%. Die gronddebat sal ophou eers wanneer die hele land in puin en die samelewing onderworpe aan ekstreme hongersnood is.

Vir Mulder en die ANC om oor die grondgeskil te praat, is nutteloos. Dis soos vir ‘n blinde en ‘n dowe om ‘n rolprent te bespreek – nie een kan begryp wat die ander te sê het nie. Uit die debat kom daar dan uiteindelik een besef wat praktiese politieke waarde het: Die Afrikaner en die Bantoesprekende (soos Mulder hulle tereg genoem het) sal nooit gelyke oppervlakte vind waarop hulle ‘n werkbare saambestaan kan uitpraat nie. Die Afrikaner kan nie onderhandel as feite en logika nie die grondslag van die gesprek vorm nie en die ANC kan homself juis nie in terme daarvan uitdruk nie.

As enige iemand wil weet of hierdie twee kulture werklik onversoenbaar is, haal die gronddebat op.

Mulder het, in die oë van baie, uiteindelik sy politieke stem gevind en dit is ‘n welkome luide stem. Mag hy dit helder en driftig gebruik om die enigste oplossing vir die grondvraagstuk te verkondig. En daardie oplossing is ‘n federasie van state.

O, lei my na daardie Volkstaat!

Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.