Einde van ANC-hegemonie?

Deel op

Die hoofrede hoekom ek Mnr. Zuma geluk sou wens met sy beslissende oorwinning, is nie omdat ek dink hy ʼn goeie president vir die land sal wees nie, ook nie omdat hy die Afrikaner sg. “goedgesind” is nie, maar om ʼn geheel ander rede. Soos ek reeds in my vorige rubriek oor hierdie kwessie, Zuma-Mbeki-tweestryd kan tot konflik lei verduidelik het, hou die Mbeki-Zuma-tweestryd niks goeds in vir die ANC nie.

Vir my was Mbeki se nederlaag so soet soos die Skuimbokke, ag jammer Springbokke, se wêreldbekeroorwinning vir baie Suid-Afrikaners was. Vir ewig is daardie afgerekte depressiewe gesig van Mbeki, asof die planeet se swaartekrag ewe skielik verdriebubbel het, in my verstand ingeëts. Vir Zuma gee ek egter nie ʼn duit om nie en stellig dink ek net so min van hom as van Mbeki. Hy is beslis ʼn korrupte mens  wat  waarskynlik die beginsels van demokrasie nog swakker begryp as Mbeki. Sy poltieke denke volg waarskynlik tradisionele Afrikadenke, in die trant van: die sterkste man vat alles.
Deel op

Hy is ʼn charismatiese en opportunistiese politikus. Die man het geen beleidsbeginsels nie. Hy praat met almal en elkeen wat bereid is om na hom te luister. Sy bedmaats is kommuniste, die swart vakbondwese en die ekstremistiese ANCYL. Geen van hierdie partye is die Afrikaner goedgesind nie…inteendeel. Behalwe vir sy enorme etniese Zulu magsbasis het Cosatu, ANCYL en die SAKP gesamentlik hom van ʼn ietwat breër etniese magsbasis voorsien.

Selfs die verlinkse prof. Willie Esterhuyse het reeds voor Zuma se verkiesing vermeld dat Suid-Afrika beslis nou ʼn nuwe fase betree. Toegegee Esterhuyse is ʼn Mbeki-sikofant, maar Zuma het implisiet  aan sy vakbond- en kommunistiese vennote belowe om die tweede fase van die rewolusie te voltrek. Die Sowjetplan vir SA was nog altyd die tweefaserewolusie. Dit is waar die SAKP, wat die Zuma kamp se “dinkskrum” is, hul ideologie ontwikkel het.

Ten eerste was daar die Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) wat later deur die Sosialistiese Rewolusie (SR) gevolg moet word. Die NDR is dít wat sedert 1994 tot op hede plaasgevind het, naamlik bevryding van die wit “onderdrukker’’ met die gepaardgaande instandhouding van ʼn kapitalistiese ekonomie en die aftakeling van alle magstrukture van die onderdrukker (Afrikaner). Wanneer dit voltrek is (en dit is voltrek), volg die SR. Mbeki het hom onwillig getoon om tot hierdie tweede fase voort te gaan.

Die SAKP, ANCYL en Cosatu, wat Zuma heelwat bearbei en ondersteun het, sien hom as die man wat ons na die tweede fase gaan neem. Die SR is die fase waarin die nasionalisering van die ekonomie veronderstel is om plaas te vind en waar die blankes van die meeste van (of al) hul bates ontneem gaan word. Persoonlik dink ek dat Zuma hoogstens sal probeer om die SR ten dele uit te voer, bloot om sy kommunistiese bedmaats tevrede te hou. Hy sal nie potensiële vennote in Groot Besigheid wil vervreem nie; boonop verstaan hy die voordeel, finansieel en andersins, wat hierdie vennote vir homself en die ekonomie inhou. Die SR sal eerder, so glo ek, gereserveer word vir die blanke middelklas, boere, ens. Vinniger plaasonteienings, verregaande boedelbelastings of selfs boedelonteienings, die onteiening van persoonlike addisionele eiedomme soos ʼn tweede huis, nasionalisering van privaatskole ens., is waarskynlik wat mens kan verwag. Groot Besigheid, wat in so ʼn geval die meeste van hul persoonlike bates buiteland toe sal verskuif, sal hom waarskynlik nie hierin teenstaan nie.

Zuma se agenda is egter geensins ideologies, soos dié van die SAKP of Cosatu nie. Zuma se agenda is sy eie politieke ambisies en aspirasies. Deel daarvan is om RSA-president te word en ʼn aansienlike onderdeel daarvan sal beslis wees om die Mbeki-kamp van alle mag te stroop en selfs op persoonlike vlak te ruïneer.

Zuma se opportunistise en charismatiese aard is wat maak dat hy bereid is om beloftes aan almal vanaf die “regse” Afrikaner tot die SAKP te maak. Nogtans gaan dit oor homself. Hy tree in gesprek met almal wat siek en sat vir Mbeki is. Hy mog onlangs met ʼn  “hand van vriendskap” na die Afrikaner uitgereik het, maar ek sal geen hoop daarop plaas nie. Net ongeveer twee weke gelede het hy in ʼn onderhoud met ʼn Rapportjoernalis homself hierin weerspreek deur te sê dat onder sy administrasie daar nie meer Afrikanerskole of -universiteite sal wees nie. Nee, ek dink nie Zuma is ons hoop op outonomie of een of ander vorm van bevryding nie.

Die hoop wat Zuma aan die Afrikaner verleen, is dat hy die ANC verdeel het en gevolglik vorentoe die organisasie net gaan verswak, al glo hy dat hy die beweging gaan konsolideer en onder homself gaan versterk. Sy oorwinningseuforie en gebrekkige intellek sal hom nie die teendeel laat insien nie.

Met Zuma as ANC-president moet die hooghartige pseudointellektuele Mbeki, wat beleidskepping as sy alleenreg beskou, nou gehoor aan die nuwe partyleier gee. Die ANC-struktuur en grondwet vereis dat Mbeki geen beleid op sy eie meer kan maak nie. Waar Luthulihuis in die verlede Mbeki se instruksies gevolg het, keer die rol nou om. Mbeki se hande is vasgebind en hy kan niks doen as Zuma dit nie goedkeur of selfs as hy direkte instruksies aan Mbeki gee nie. Mbeki bevind homself nou in ʼn onhoudbare dilemma. Ek glo nie Mbeki het die sielkundige samestelling om dit te kan hanteer nie. Konflik tussen die Uniegebou en Luthulihuis is nou onvermydelik.

Kort voor Zuma se verkiesing as ANC-president het Cosatu en die ekstremistiese ANCYL beloof dat hulle geen rede sien waarom Mbeki nie sy oorblywende agtien maande as Republiekspresident kan uitdien nie. Hierdie stelling was egter blote goedkoop politiekery. ʼn Gedeelte van Zuma se ondersteuningsbasis, ʼn groepie Xhosas, die Sotho’s e.a., is swaaistemmers. Baie van hulle het ʼn lojaliteitsgevoel teenoor Mbeki, maar Zuma spreek tot hul basiese politieke behoeftes. Met die “kennis” dat Mbeki beloon word met sy regmatige en wettige uitdiening van sy termyn kon hulle hul gewete sus en dus in onskuld vir Zuma as ANC-president stem. Het hulle enige vooraf bevestiging of vermoede gehad dat daar ʼn kans is dat Mbeki uit die Uniegebou gedruk gaan word, sou hulle waarskynlik vir Mbeki gestem het. Dan was Zuma se kanse om te wen heelwat skraler en sou die SAKP, Cosatu en ANCYL se hoop op die sosialistiese rewolusie (SR) verskraal.

Die verdeling wat egter reeds in die ANC bestaan, is myns insiens onoorkombaar. Met Pietersburg is die paleisrewolusie teen Mbeki bykans voltrek. Die samewerking tussen Luthulihuis en die Uniegebou gaan op sy beste uiters problematies wees. Die radikaliste in die Zuma-kamp (waarvan daar baie is), om nie te praat van sy die nuwe NUK-lede met hul eie kabinetsambisies nie, sal die saak begin opper dat Mbeki en sy kabinet geen politieke mandaat meer het om die land te regeer nie. Druk gaan toeneem om die Uniegebou oor te neem reeds voor Mbeki en sy kabinet se wettige termyn verstryk.

Die ANC-kohesie is tot onlangs deur verekeie faktore in stand gehou. Een so ʼn uiters belangrike samebindingsfaktor tot kort na 1994 was blanke mag in staatstrukture. Die blanke hou egter geen meer bedreiging in nie en is effektief ontmagtig. Daardie kohesiebouende faktor het dus verdwyn. Mens sou dit kon vergelyk met die Gorbatsjoftydvak waarin die Koue Oorlog deur onderhandelinge tot ʼn einde gebring is. Die Weste was nie meer ʼn bedreiging nie. Toe die interne leierskrisis ontstaan, was daar nie meer die gemeenskaplike vyand om Sowjeteenheid te handhaaf nie; die magtigste moondheid ter wêreld het oornag uitmekaar gespat. Etniese faktore het ook vir die eerste maal ʼn rol begin speel. Die ANC-party en staat kan nou ʼn soortgelyke paadjie loop.

ʼn Moontlike scenario is dat hierdie ongeduld gaan deurslag vind by die voetsoolondersteuningsbasis van Zuma. Die Zuma-kamp sou dan met hul ongeduldige meerderheid beide die druk aanvoel en die selfvertroue begin ontwikkel om die Mbeki-regering te vra om te ontbind. Spanning gaan verhoog. Zuma sou selfs kon begin om van Mbeki se ministers met sy eie apparatsjieks te vervang. Dit kan die eerste poging wees om Mbeki reeds binne die regering te isoleer. Mbeki gaan dit beslis probeer teenstaan sou dit ter sprake kom.

In die geval van so ʼn scenario kan konflik verskeie vorme aanneem en Mbeki mog dit nodig ag om homself te wend tot die veiligheidsmagte om sy bewind in plek te hou. (Met die verhoogde spanning is daar die kans dat Mbeki uit vrees vir weerwraak (Afrika-styl) na afhandeling van sy wettige termyn dalk glad nie sy pos sou wou ontruim nie.) Tog dink ek dat die krisis voor die einde van die verstryking van Mbeki se presidensiële terwyn tot so ʼn hoogtepunt gedryf sou kon word dat die ANC in twee sou skeur met sekere faksies wat selfs heeltemal kon wegbreek. Mens praat dan eerder van ʼn verbrokkeling. Die krisis sou ook kon neerslag vind binne die veiligheidsmagte.

Indien so ʼn scenario sou uitspeel, sou die ANC se mag as party gebreek wees en die regering self sal sukkel om orde te handhaaf. Dit sou onvermydelik gewelddadig wees vir Suid-Afrika. ʼn Magsvakuum en wanorde sou noodwendig volg.поршневой компрессорпрокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.