Is die herinvoer van die doodstraf ‘n wyse besluit?

Na aanleiding van regter Gerhardus Hattingh se uitspraak, begin die debat oor die herinvoer van die doodstraf so langsamerhand weer die botoon te voer. In ‘n meningsopname van Rapport blyk dit dat ‘n enorme 97% van die respondente ten gunste is van ‘n herinstelling van die doodstraf, met slegs 3% daarteen. Hoewel hierdie opname na my wete nie volgens die wetenskaplike riglyne van objektiwiteit geskied het nie, is die oorweldigende reaksie ‘n onmisbare aanduiding van waar die meeste mense se gedagtes oor hierdie saak lê.

Die reaksie is te verstane. Misdadigers maak ‘n bespotting van alles wat orde en wetmatigheid voorstel. Moord, roof, verkragting, vrees om soggens by die deur uit te gaan, oorvol tronke en gebrek aan geregtigheid is alles faktore wat die gewone wetsgehoorsame burger wanhopig maak. Enige land of volk wat met soveel geweld geteister word, sou dieselfde gereageer het. Daar is geen ruimte meer vir die linkse kranksinniges wat ons probeer oortuig dat die daders eintlik die slagoffers is en die slagoffers die daders nie.

‘n Mens is onder sulke omstandighede geneig om die etiek oor die doodstraf te berde te bring, met omtrent ewe goeie "wetenskaplik gefundeerde" argumente daarvoor as daarteen. Ten gunste van of teen die doodstraf is ‘n eindelose debat sonder uitkoms. Die pro-kamp bly oor die algemeen pro- en die teen-kamp bly meestal teen (hoewel dit lyk asof Suid-Afrika se teen-kamp eensaam begin word). Hoe kan ons desnieteenstaande die eindelose debat oor hierdie kwessie beslis?

Daar is ‘n mate van uitkoms… as ons soos kommuniste dink. Ons moet ons perspektief oor die saak wysig. In ‘n gewelddadige land soos Suid-Afrika moet ons maar ons etiekboeke en moraliteite by die venster uitgooi en kyk na die vereistes en taktiek wat deur die regering gevoer word. Dis per slot van rekening die ANC-regering wat teen die doodstraf is, terwyl hulle self barbaarse moordpraktyke en terreur gebruik het om aan die mag te kom, en nog steeds daartoe in staat is. Hulle sing ondanks alles voor in die koor dat hulle daarteen is. Die skynheiligheid is om van siek te word. Daarom moet ons ons woede temper en nugter kyk na wat hulle bekokstoof.

Die ANC is ‘n rewolusionêre organisasie en geen demokratiese party nie. Tydens rewolusies vind bloedvergietings nou eenmaal plaas. Dit is deel van die "oorgangsproses". Om aan ‘n rewolusionêre organisasie ‘n sanksie soos die doodstraf toe te vertrou, kan enersyds futiel en andersyds uiters gevaarlik wees.

Die doodstraf kan futiel wees in soverre dat dit geen effek kan hê nie. Slegs tussen 2% en 6% van alle misdadigers beland voor die regsbank en onder swartes heers daar ‘n kultuur wat misdade goedkeur maar dit veroordeel om gestraf te word. As jy gevang word, is dit jou verdiende loon: jy moet liewers nie gearresteer word nie. Die misdaad self is nie verkeerd nie. Selfs ondersoekers by die Institute for Justice and Reconciliation het al gewonder hoe dit is dat by swart volkere geen duidelike taboegrens bestaan of in stand gehou word nie. Hulle relativeer alles en skuif die oorsaak voortdurend op ander eksterne oorsake af. Die howe is nogal geneig om aan sulke oorsake die skuld te gee. Dit is ‘n wêreldwye tendens, waaroor die psigiater Theodore Dalrymple al dosyne artikels gepubliseer het om te argumenteer dat relativering misdaad juis in die hand werk.

Daarbenewens moet ons bewus wees van die omvang van misdaad in Suid-Afrika. Die kans dat die doodstraf misdadigers afskrik, is bedenklik. Moordenaars sien self moord, roof en verkragtings elke dag om hulle heen, en is net so maklik ‘n slagoffer van geweld as hul eie slagoffers. As iemand in die gevangenis van Pretoria-Sentraal tereggestel word, handel dit om ‘n sanksie wat buite die direkte beleweniswêreld van die moordenaars val. Hulle word veel meer afgeskrik deur hul mede-misdadigers as deur ‘n abstrakte wetlike uitspraak met ‘n enkele teregstelling of teregstellings per maand (dit lyk uiters onwaarskynlik dat die staat ‘n paar honderd duisend teregstellings per jaar sal uitvoer). ‘n Mens wil byna sê dat onder sulke omstandighede die doodstraf is soos om ‘n halwe parasetamol in te neem teen ‘n aggessiewe kanker.

Nog ‘n faktor wat die futiliteit van die doodstraf benadruk, is na aanleiding van ‘n Amerikaanse ondersoek wat uitgewys het dat die aantal moorde beduidend toeneem nadat ‘n teregstelling plaasgevind het. Die doodstraf mag selfs aweregs werk. Dit is onseker of dieselfde sal geld vir Suid-Afrika waar die meerderheid moordenaars as gevolg van bygelowe hul misdade bedryf. Met ander woorde: ons kan nie met sekerheid sê of swartes oor dieselfde oorsaak – gevolg opvattings beskik as Westerse mense nie. Navorsing sal kan uitwys hoe ons hierdie dilemma moet insien.

Die doodstraf kan andersyds uiters gevaarlik wees. Ek dink nie dit is verantwoordelik om die ANC ‘n wapen soos die doodstraf in diel hand te stop nie. Die regering bestaan self uit verkragters, rowers en moordenaars en hulle vrees dat hulle self die slagoffers kan word van hierdie beleid. Op die oog af lyk hierdie soos ‘n seën, maar met die oplaaiende konflikte tussen die Zoeloes en Xhosas mag die doodstraf van ‘n "verkeerde" stamgenoot die begin van ‘n nuwe Difaqane ontketen. Ek vermoed dat die haat wat die ANC teen blankes aanblaas ook ‘n poging is om die aandag van die sluimerende stamkonflikte af te lei, soortgelyk aan Iran wat Israel voortdurend beledig om die onderliggende konflikte in die Islamitiese wêreld te verberg.

Thabo Mbeki is ook besig om ANC-gesinde regters aan te stel en een van sy partygenote het al duidelik laat blyk dat minderheidsgroepe slegs ‘n bestaansreg het omdat Mbeki "ruimhartig" is teenoor hulle. Die howe – wat die laaste geregtelike versekering vir blankes bied – sal weldra hul beskerming vir minderheidsgroepe nie nakom nie en sal veroorsaak dat minderheidsgroepe oorgelewer word aan Mbeki se besluite. ‘n Paar jaar gelede het ‘n swart regter die ouers van ‘n verkragte baba met strawwe van nalatigheid bedreig terwyl hy die dader op borgtog vrygelaat het. Om die doodstraf onder sulke omstandighede te bepleit, is glad nie verstandig nie. Die ANC gaan dit gebruik om blankes tereg te stel. Gegewe die totaal gebrekkige manier waarop foreniese ondersoeke verrig of geargiveer word, kan ons nie verwag dat daar objektief met bewysmateriaal omgegaan word nie. Laat staan nog as ‘n aartsrassis soos regterpresident Hlope die saak sou verhoor.

Ons moet egter voor oë hou dat die ANC Suid-Afrika beskou as ‘n land wat nog steeds in oorgang is, en Mbeki begin al gedagtes opper vir ‘n tweede rewolusie. ‘n Debat oor die doodstraf kan eintlik slegs gehou word as daar politieke stabiliteit heers. Soos Erik van Ree – ‘n kenner van kommunistiese bewegings – gestel het, het kommuniste geen moraal nie. Hul moraal is beperk tot nut en skade vir die saak. Die ANC/SAKP-kliek sal die doodstraf slegs toelaat as hulle daar baat by het. By implikasie word hier geopper dat juis die afskaffing van die doodstraf tot hul voordeel strek.

As Suid-Afrika ‘n stabiele, welvarende demokrasie was, waar minderheidsregte meer werd was as bloot ‘n vergete artikel in die grondwet, sou die doodstraf soos ‘n geskikte manier gelyk het om ‘n einde te maak aan die uiterste barbarisme wat Afrika teister. Maar tot tyd en wyl, solank as wat die ANC Suid-Afrika bly teister, dink ek ons moet ‘n toontjie laer sing oor die doodstraf. Die pro-doodstrafkamp moet nie al te gemaklik en naïef glo dat geregtigheid onder die ANC sal geskied nie.

As iemand my voortaan sou vra of ek ten gunste van of teen die doodstraf in Suid-Afrika is, dink ek my antwoord is sonder twyfel: ‘n Eie onafhanklike, welvarende, stabiele demokratiese staat, los van die ANC se kloue! Daarna sal ek eers ‘n ja- of nee-antwoord durf waag.

светильники подвесныеФильчаков прокурор отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.