Broodblik! Oorlog toe in ‘n Ratel

Deel op

Op ’n wintersaand, Junie 1983, steek ek op pad uit die kaserne in die deur vas. Op die klein paradegrond aan die oorkant is ses Ratels in ’n  halfmaanformasie, sulke kantige, dreigende masjiene in die penumbra van die aand. Hulle hoofligte glinster stip soos die oë van ’n  roofdier op wag en die kragtige soekligte wat bo-op gemonteer is, sweis deur die halfdonker van die nag. In die halfskaduwees van die aand is die gedaantes van die bemanning wat die masjiene diens en beheer sulke vlietende, doelgerigte figure, masjienagtige wesens in eie reg, oënskynlik sonder emosie in hulle toegespitsde bewegings. Die enjins luier in ’n  meganiese koor, laag en grommend.

Ek het nog nooit voorheen ’n  meer onheilspellende gesig gesien nie, ’n vertoon van apokaliptiese magte wat skaars bedwing kan word en op die kleinste voorwendsel in ’n orkaan van swael en vuur kan losbrand. Die instink om op die vloer te gaan lê met my arms oor my kop, was oorweldigend – en hierdie masjiene was aan mý kant!

Hierdie “vreesfaktor,” daardie eienskap waarna militêrevoertuigontwerpers streef, was in oorvloed in ’n  Ratel teenwoordig. Dit is buite perke verhoog in die bosse van Angola. Die terroris of FAPLA-soldaat, selfs die Kubaan, die Oos-Duitser en toevallige Rus, sou hulle hoor aankom – daardie snel naderende basgedreun, daardie waansinnige geloei van die turbo – maar dit is moeilik om vas te stel wáár die Ratels is en hoe gou hulle daar sou wees. En wanneer hulle uit die bosse bars en die 20-mils vlamvlamvlam en die lugspoorkoeëls skeur in teikens in en die brisantkoppe bars in vuur uit, is daar nie baie wat bly staan om die knelpunt te besleg nie. Dan gaan die deure oop en ’n  agttal veglustige troepe “stap uit” elke voertuig en vee vorentoe in ’n onweerstaanbare vuur-en-beweginggolf.

Hoewel die Grensoorlog nominaal in 1966 ontstaan het, was dit vir die eerste dekade ’n  lae-intensiteit- teeninsurgensiestryd. Die grootste deel van die werk is deur gemotoriseerde infanterie te voet of op Bedford-vragmotors gedoen. Die verskyning van Mercedes-Benz Unimogs het mobiliteit verhoog, maar selfs dié gedugte lorrietjies was sagtevelvoertuie – kwesbaar teen kleingeweervuur en veral landmyne.

Die Suid-Afrikaanse Weermag is in 1976 skielik in die diep kant van ’n  konvensionele oorlog gedompel toe marxistiese magte Angola in chaos omgedolwe het. Die ystermanne van Ops Savannah het Angola diep binnegedring in Eland-pantserkarre en Unimogs waarin sandsakke as koeëlwering en mynweerstand gepak is.

PW Botha se vaartbelynde krygstuigraad het die swakplekke in die beskikbare voertuigvoorraad nie net geïdentifiseer nie, maar verstommend vinnig aangespreek. Die opdrag het uitgegaan om ’n gepantserde personeeldraer te ontwerp en te vervaardig.

Die projekleier was ’n  jong generaal, Jannie Geldenhuys. Onder hom het ’n groep navorsers, ingenieurs, tegnici en vakmanne versamel. Die begroting, in internasionale terme, was karig en die span het gereeld asem ingetrek en die geduld van die telraamjokkies beproef.  ’n  Boer maak ’n  plan, natuurlik, maar ’n  Boer kan ook so vervlaks ambisieus met sy planne wees. Die oorspronklike konsep was vir ’n  vierwielaangedrewe, geslote voertuig, soort van ’n  gepantserde minibus met groot wiele. Maar die ontwerp het gegroei en gegroei, en toe nóg gegroei.

Geldenhuys is naderhand onttrek vir hoër diens as gebiedsbevelvoerder. (Die Ratelprojek het verhoed dat hy ’n  finale generalestafkursus doen, wat van hom, in sy eie speelse woorde “’n  ongekwalifiseerde generaal” gemaak het.) Roland de Vries het die projekleiding oorgeneem.

Die Ratel wat in 1976 gedebuteer het, het die ontwerpspesifikasies heeltemal oorskry. Die uiteindelike produk was lank – 7,2 meter – , hoog – 2,5 meter, en wyd – 2,1 meter. Onbewapen het die kolos ingeweeg op 16 ton. Die standaardweergawe se skerpkant was ’n  20-millimeter, Frans ontwerpte snelvuurkanon en ’n  7,62-mm M19 Browning-masjiengeweer is koaksiaal gemonteer. Die wapens is gehuisves in ’n roteerbare toring. Die enjin van keuse was ’n 12-liter, 6-silinder, turboaangedrewe Büssing-masjien wat krag gelewer het na die wiele deur ’n  massiewe sesgang- outomatiese ratkas.  Die gewone Ratel het ’n  bemanning van drie gehad – kanonnier en bevelvoerder in die toring, en die bestuurder (“drywer” in weermagvaktaal) in die klein kajuit reg voor op die kort snoet. In die passasiersruim was sitplekke vir agt infanteriste wat elkeen oorkant ’n  roteerbare skietgat gesit het. Die Ratel het seswieldryfvermoë en ewenaarslotte oor al drie aste gehad.

’n Resitasie van statistieke doen niks om die indruk van die Ratel te beskryf nie. Dit is ferm geplant op die ses groot wiele aan drie aste en is die ene skuinsvlakke. Een van die faktore wat ’n  Ratel so dreigend laat lyk, is die feit dat die bemanning nie maklik van buite sigbaar was nie. Dit is so ’n  masjienagtige voertuig, asof dit bloot ’n  meganiese aanmekaarflansing met ’n kwaadaardige intellek is.

Die Ratel was met die eerste oogopslag net te groot om enige iets anders as lomp te wees, maar in die hande van ’n  bedrewe drywer was dit verstommend beweeglik.

Die “Broodblik” (een van die byname van dié kar) was ’n  oombliklike sukses in die Operasionele Gebied. Die potensiaal van die voertuig was gou duidelik en dit het van meet af aan die patroon van gemeganiseerde infanterieontplooiing verander. Hierdie was nie bloot ’n voetsoldaattaxi wat sy vrag skutters afgelaai en dan onttrek het tot die slag gelewer is nie. Hierdie voertuig het soveel slaankrag in die stryd bygedra, en was so bestand teen kleingeweervuur en mortiere, dat dit gereeld die profiel van ’n slag verander het. Die mobiliteit van die Ratel, die sig wat dit aan die toringbemanning gebied het oor bosse heen omdat dit so hoog is, die vermoë daarvan  om versperrings oor te steek of daardeur te breek, het die SAW die kosbare vermoë gegee om die front te verskuif en om om die flanke van die vyandelike magte te beweeg. In ’n  geveg kon dit ’n gordyn van dekvuur lewer terwyl die infanterie in posisie beweeg.

Mobiliteit, een van die hoogste aangeskrewe elemente van oorlogvoering, is tradisioneel gesien as behorende tot die vlaktes van Europa en die woestyne van Noord-Afrika. Die bos was ontwerp vir ligte infanterie wat ten beste op lugsteun kon staatmaak. Met die Ratel het die Suid-Afrikaanse weergawe van Blitzkrieg na die Operasionele Gebied gekom. Dit het die gevegsdoktrine van die vyand oorhoops gegooi tydens die groot oorgrensoperasies Protea, Daisy, Smokeshell en ander.

In 1983 is ek gekies om by die Hoof van die Leër se Peloton aan te sluit. Dit was ’n  eksklusiewe groep Ratel-drywers wat na goeddenke van die Leërhoof aangewend sou word waar daar ook al ’n behoefte vir bestuurders was. Vroeg in ons Bestuurs- En Onderhoudskursus ( B&O), is ons ter wille van oriëntering op ’n halfdosyn Ratels in die transportpark losgelaat. My oorblywende indrukke was hoe die binnekant, uitgeverf met ’n koel, dik lemmetjiegroen, en al die drukpype en kabels en hefbome, aan die interieur van ’n  duikboot herinner het. Dít, en die feit dat ’n Ratel aan die binnekant die ene skerp, harde hoeke is. Ek het nog  nooit voorheen of daarna my kop so baie gestamp nie. Ek het met ligte harsingskudding en groot bewondering vir die masjien daar weggekom.

Na ’n intensiewe teoretiese kursus, het die bestuursopleiding begin. Uiteindelik het ’n  kort korporaal, Moffat, op my beslag gelê. Hy het my na die Ratel agter in ’n transportparkloods begelei. Eers moes ek agterop die enjinluike klim en leer om die groot klappe op te tel en ’n “parade” – ’n  instandhoudingsritueel – te doen. Een van die Ratel se eksentriekhede was ’n baie lang oliemerkstok. Om daardie “diepsteek” in die piepklein gaatjie doer onder in die enjinkompartement te kry, is ’n  raaisel wat baie konsentrasie verg.

Die oomblik het aangebreek en ek is geïnstalleer in die vlak bestuurdersitplek met die GM-tipe skootgordel vasgeknip, die kopstuk oor my skedel getrek en die kommunikasiebeheer aan ’n band om my nek gehang. Moffat het my gewys hoe om die hoofskakelaar te draai en die twee batteryskakelaars op te klap. Dit was tyd. Ek het die groot ronde aansitterknop gedruk en iewers agter my het ’n  knormoergeloei ontstaan en oomblikke later het die magtige enjin begin dreun. Ons wag vir die naalde van die lugdrukmeters om te klim: Anders as burgerlike vragmotors het ’n Ratel ’n positiewe remstelsel en moet genoeg lugdruk hê voor die remme werk.

“Kom ons ry!” het Moffat beveel.

Die rathefboom was ’n kort, stewige stingel links van my en ek het dit uit neutraal teruggeskakel na trurat met my voet ferm op die rempedaal. Ek het my regtervoet van die rem verwyder en op die versneller geplaas en getrap. Vir eers het niks gebeur nie – ’n  Ratel is nie die Hilux-bakkie waarop ek my bestuurstande geslyp het nie. En toe… toe beweeg dit, asof die aarde self weggesleep word terwyl die Ratel stilstaan… maar nee, dit ís die voertuig self wat agteruit rol, en dis ’n  gevoel van verstomming, asof ek ’n  stadsaal geskuif het; die blote gedagte dat dit in gehoor van mý gier, mý besluit, mý voet se drukking op die pedaal is wat die massiewe Ratel beweeg.

Opleiding het versigtig begin, met ’n  paar katvoetrondtes om die ringpad om die 1 SAI-basis. Later het ons dorp toe beweeg en na ’n  paar sessies oor die volgende paar dae uit na die “koeikamp,” ’n opleidingsveld net buite die Tempe-basis. Dáár het ek uiteindelik die legendariese “treinbrug” ontmoet.

Op die kant van ’n plato tuimel die aarde weg teen ’n  steil afdraande af. Ek het, per instruksie, die Ratel daarin onder beheer van die lugdrukbeheerde “kruiprem” laat afskuifel. Die oomblik wat ons gelyke grond getref het, het Moffat se stem in my kopstuk gegil: “Trap hom!”

Reg.

Die Ratel storm vorentoe, die turbo loei en die aarde streep weerskante van my verby en voor my is ’n  oënskynlike regop wal wat my hele windskerm vul. Redelik seker dat ’n gedestabiliseerde korporaal ons dood gaan kos – maar wat kan jy maak? – hou ek die versneller in. Die oomblik voor die allerafgryslikste ongeluk neem die voorwiele die skuinswal en die snoet swaai op. Oomblikke later is die Ratel – die ganse, massiewe, seswielgedrog – in die lug. Vir ’n  oomblik is ons die bonkigste, dikvelligste vliegtuig in die planeet se atmosfeer, en dan stamp die agterwiele in, oomblikke later die middelwiele en dan dryf die voordele in die aarde vas.

“Draai! draai! draai!” gil Moffat en ek sleep die groot wiel na regs en die Ratel sleep in die draai in, in ’n  storting van stofwolke, grondsuile en klipreën. Ek gil soos ’n  Spartaan in die hitte van geweld. Die enjin snou en tel toere op en ons stormjaag oor die rou Bloemfontein-grond. In daardie oomblik word die rowerleerlingdrywer ’n  Ratel-man.

Dit het konsentrasie geverg om ’n  Ratel te bestuur, ongeag van hoe ervare jy was. Die geheelontwerpte bak het veroorsaak dat die voertuig teen spoed van kant na kant begin sweef het en dit het ’n delikate aanraking op die stuur geverg om die gevreeste “body roll,” ’n  drastiese swenk na links of regs, te voorkom.

In ander gevalle, in diep sand op die Kaplyn, moes jy die stuur vasgryp, jou duime sorgvuldig bo-op en nie om die stuur nie. Dan hou jy vas, dryf die voertuig met mening aan en hy sal jou met baie opwinding beloon.

Twee maande later word ek met eerstelig wakker. Ek lê op my sy, toegewoel in ’n  bruin weermagslaapsak in ’n loopgraaf. Twee meters van my af is ’n hoë regop wiel en ek kan die massiewe kronkelvere en die skokbrekers sien. My oë vee teen die lengte van die voertuig af en dis ’n  oomblik van groot verwondering, selfs ongeloof, vir my. “Jou wonderlike, manjifieke masjien!” dink ek. En dit is alles myne.

Selfs nou, wanneer ek dit met my ou krygsmakkers bespreek, erken hulle dieselfde gewaarwordinge, dat die Ratel, enige Ratel, húlle s’n  is. Wanneer ek iemand anders ’n  Ratel sien bestuur, is ek verontwaardig, asof iemand my sportmotor sonder my toestemming gebruik.

Vir ons – vir almal – wat vir maande in ’n  Ratel moes opereer, het dit meer as ’n  kar geword. Jou hele leefwêreld het tussen daardie ses wiele bestaan. ’n  Ratel het goed na sy passasiers gekyk. Twee watertenks het 200 liter water deur die handige krane verskaf. Dit was dig genoeg om storms te weerstaan, en as hulle moes, het die troepe, regop in hulle sitplekke in die voertuig geslaap. Meeste van die tyd het jy so veilig gevoel in ’n  Ratel, wetende dat daardie skuins pantservlakke ongelooflik baie slae kon verwerk.

Die Ratels het die troepe gevat waar hulle nooit gedink het hulle sou kom nie. Ek onthou hoe ek eenkeer met laaste lig bo-op my Ratel gesit het, diep in Angola, tussen die lae bosse langs ’n rivier. Ek het op die spaarwiel gesit en ’n lou Lion-bier uit die blikkie gedrink. Die sonsondergang was ’n skouspel: Laag op laag van vlammende geel, oranje, rooi en wit. Ek was maer en bruingebrand en heeltemal seker van my plek in die organisasie. Op my Ratel. Alles was wel in my wêreld.

Die Ratel het wêreldwyd militêre doktrines omvergewerp. Generaal Jannie Geldenhuys sê in ’n onderhoud met my dat dit “’n  heilige, wiskundige reël” was dat tenks deur tenks gestuit moet word. Dit het verander tydens Operasie Askari – waaraan die Hoof van die Leër se Peloton met onderskeiding deelgeneem het – toe Ratel 90’s (Ratels met die 90-mm grofgeskut wat die hoofwapen van die uitgediende Eland-pantserkar was) die vyand se T54-hoofslagveldtenks slae gegee het. Die beweeglike Ratels het die tenks bekruip, houe geslaan en onttrek.

In 2003 en die jare daarna het ou Ratel-soldate hulle kop in ongeloof geskud toe hulle sien hoe die Yanks probeer om Irakese insypelaars en rebelle mak te maak met sagtevel- Humvee-voertuie. Die koers waarmee dié karre uitgedelg is, was skokkend. En dít terwyl hulle maar net kon kyk wat die Boere met die Ratel gedoen het. Nou eers begin hulle Stryker – ’n  peperduur teenvoeter vir die Ratel – operasioneel sy merk maak.

Die Ratel is geskeduleer om hierdie jaar deur ’n  nuwe infanteriegevegsvoertuig vervang te word. Dit is in wese die Ratel II, maar dié naam is polities giftig, so nou noem hulle dit… die Badger. Nou ja toe. Dit lyk na ’n gedugte voertuig, met agt wiele en ’n hipermoderne vuurbeheerstelsel vir die vreesaanjaende 30-mm Bushmaster-kanon. Ek is uitgenooi om een te toetsbestuur en sal dit met die eerste geleentheid graag doen. Ek verwag dat dit ’n  wonderlike voertuig sal wees. Maar gee eerder vir my ’n Broodblik.

Eenmaal ’n  Ratel-soldaat, altyd ’n  Ratel-soldaat.

Фильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.