Langpad oor Askham

Jeep Cherokee CRD Limited
Deel op

{jathumbnail off}

Jeep Cherokee CRD Limited

Die nuwe jaar het nogal met ‘n reis na die Kgalagadi-oorgrenspark afgeskop. Dit was die eerste keer dat ek die park sou besoek. My GPS het gesê die hek by Twee Rivieren is so 1050 km van Pretoria af.

Jeep het my verras met die Jeep Cherokee CRD Limited. Die voertuig ding mee in die kompakte sportnutsvoertuigsegment met ander motors soos die Hyundai iX35, Kia Sportage en Land Rover Freelander. Ek is nie ‘n groot voorstander van die ouer Amerikaanse motors nie en die Cherokee, alhoewel nie te lank op die plaaslike motormark nie, is al redelik lank verby sy vervaldatum. Vergelyk ‘n mens die Cherokee met sy mededingers, dan lyk en voel die voertuig oud. Ons leenvoertuig was vierwielaangedrewe met ‘n draaiskakelaar waarmee die aandrywing van hoëstrek na laestrek toe verander kan word.

Ons roete het ons vanaf Pretoria na Kuruman geneem, waar ons oujaarsaand oornag het. Net op ‘n ander noot: Dit is skrikwekkend om te sien in watter toestand ons nasionale paaie is. Veral die pad tussen Krugersdorp en Ventersdorp: die padwerke duur nou al vir meer as vyf jaar en steeds is daar dele waar ‘n mens heeltemal van die pad af moet ry om die gate mis te ry.

Ons Cherokee was vol gelaai met twee koelkaste vol kos, drie groot sakke met al ons klere, twee kratte vol droëkos en dan ‘n klomp noodtoerusting vir ‘n noodgeval. Die leenvoertuig was nie toegerus met ‘n sleepstang nie, dus moes alles agter die sitplekke gepak word. My verbasing was groot toe ons al die toerusting, voorraad en vier mense gerieflik in die Jeep gepak gekry het.

Ná Kuruman is ons die volgende dag deur Kathu na Vanzylsrus, ’n hele klomp harde grondpaaie met baie stof en los klippe en die voertuig het die stofpad sonder enige grille kaf gedraf. Ons oornagplek vir die eerste dag van die nuwe jaar was by Lochbroom-paradys in Askham, so 80km van Twee Rivieren af. Wat ‘n wonderlike plek in die middel van die Kalahari! Teen hierdie tyd het ons ook al bietjie die Januariehitte van die kontrei begin voel met die kwik wat net kort voor 40 grade bly hang het. Die Cherokee se lugversorging het behoorlik oortyd gewerk.

Op dag twee van 2012 is ons toe voort na die park, maar nie voor ons die linkeragterband met die volgroottenoodwiel moes vervang nie. Die klipperige pad het sy eerste tol geeis. Dit gedoen, het ons die stofpad na Twee rivieren aangepak. Die sand is so los dat jy skaars vinniger as 60km/u ry en dit met ‘n vierwielaangedrewe voertuig. Ons het besluit ons sal die pap band maar op Twee Rivieren laat regmaak. Dit was nog nie eers 10-uur daardie oggend nie, toe skuif die kwik verby die 40 grade en so het dit gebly tot aan die einde van ons drie dae lange kuier in die park. Een middag het dit selfs so hoog soos 45 grade opgeskiet.

Ons het beplan om drie aande in die park te oornag, twee aande in Twee Rivieren en een aand in Nossob. Tussenin sou ons die 50km/u-spoedperk moes handhaaf om alles te probeer sien wat ons kon. Ná ‘n baie vriendelike en doeltreffende verwelkoming by die park se ontvangs het ons die roete na Mata Mata geneem; met die plan om middagete daar te geniet en voor sononder weer terug te wees by Twee Rivieren.

Sommer vinnig hier by die kamp het ons ons eerste groot waarneming gehad; ‘n jagluiperdwyfie en drie welpies. Die kleintjies was al amper tieners en het ver van die ma af gelê. Sy het toe sy die motors sien een of ander geluid gemaak en binne sekondes toe was al drie die jongelinge by Ma onder die koelteboom, sommer hier reg langs die pad by die motor. Ons kon nie vir ‘n beter verwelkoming in die park gevra het nie.

Die dag verder het baie goed verloop met heelwat leeus en ‘n verskeidenheid bokke. Die pad Mata Mata toe is ongeveer 160km van redelike slegte grondpad. Met al die stilhou vir diere afneem,  spoedperk van 50km/u en die hongerpyne wat ons na ‘n piekniekplek laat soek het, het ons so 30 km voor Mata Mata maar besluit om om te draai. Daardie aand het ons heerlik gekuier in ‘n baie gerieflik chalet in die Twee Rivieren-kamp. Daar het selfs ‘n rooikat sommer hier langs ons huisie uit die bosse gehardloop toe daar ‘n motor verby ry.

Vroeg die volgende oggend is alles weer opgepak en ons het die sowat 170km na Nossob aangedurf. Weer was dit sommer vroeg-vroeg oor die 40 grade buite en diere was ook volop, baie leeus, jakkalse en roofvoëls. Kort-kort moes ons stop om van berghane tot aasvoëls af te neem. Ons middagete was weer soos gister by een van die doelgemaakte piekniekstilhouplekke. Dit is so snaaks: die piekniekplekke is op die pad sonder heinings en hekke en mens mag net daar uit die motor uitklim. Ek het nogal gewonder hoekom ‘n leeu jou nou juis by die piekniekplek sal uitlos, maar 100m verder in die pad sou opvreet.

Melkvlei was ons keuse vir middagete en ek het dan ook later eers die brief in Weg-tydskrif gesien waar ‘n leeu rustig onder die piekniektafel by Melkvlei skuil teen die son. Nossob se kamp is ook een van die nuutste kampe in die park. Weereens was ons verblyf vir die nag baie gerieflik, maar toe kom die slegte nuus. Daar is net elektrisiteit tot 10-uur in die aand. Wel, met die kwik op 42 grade en dít na sewe in die aand het ons nie baie uitgesien na die warm bedompige nag nie. Die chalet in Nossob het dakwaaiers gehad en soos die ontvangs ons meegedeel het, is die krag toe om 10-uur afgesit. Dit was regtig een van die ongemaklikste nagte van ons vakansie.

Die volgende oggend het ons vroeg opgestaan om bietjie die dierelewe by die watergat te gaan dophou. Al die kameras en verkykers is opgesaal en ons het voor vyf afgesit watergat toe, Ons was nogal teleurgesteld omdat ons geen diere daar gesien het nie. Tog het ons die heel tyd leeus daar hoor brul. Ons tweede laaste dag in die park het ons besluit om terug te ry Twee Rivieren toe, met ‘n alternatiewe roete wat weer aansluit by die Mata Mata-pad.

Die roete was baie stil wat ander voertuie aanbetref en dit was toe ook nie baie lank toe kom ons op vier jong leeuwyfies onder ‘n boom af. Hulle het sommer reg gelyk vir jag. By die aansluiting na Mata Mata wuif iemand van voor af ons tot stilstand en vertel toe dat daar twee luiperds net so ‘n paar kilometer vorentoe onder die bome lê. Baie opgewonde besluit ons toe om maar weer Mata Mata se kant toe te draai om die luiperds te gaan soek, want ons het tot dusver alles behalwe luiperds gesien. Ná so 30 km op die baie erge sinkplaatklip pad kom ons toe af op die luiperds, wat toe nie luiperds is nie, maar jagluiperds. Die arme goed het onder die koeltebome gelê en probeer om skuiling teen die skerp warm son te soek. Mens kon sommer sien hoe hulle koppe hang. Teen dié tyd was die kwik al weer hier by die 44 grade buite en die Chrokee se lugversorging het dit redelik gemaklik op 20 grade binne die kajuit gehou. Met bykans 1000 km wat ons grond- en stofpaaie gery het het daar niks, nie ‘n krieseltjie stof die binnekant van die Cherokee ingedring nie. Ons kon nie eens stof binne in die kajuit ruik nie.

Ons laaste nag in Twee Rivieren het ons heerlik in twee aangrensende, gemaklike chalets geslaap. Die aand langs die vleisbraaivuur het ek amper in die kole gespring toe ‘n lekker vet skerpioen oor my voet gehardloop het. Die wind het ons ou vuurtjie so plat gewaai en die donderwolke het baie onheilspellend gelyk, maar dit was heerlik om net te sit en ontspan.

Die volgende oggend het ons ná ‘n kort roetetjie afskeid geneem van die Kgalagadi-oorgrenspark en toe die pad Upington toe geneem. Die teerpad, wat in ‘n uitstekende toestand is, het weer hemels gevoel. Die geskud en gekap van die sinkplaatpad het my oor en oor laat dink dat ek nooit met my eie voertuig hier sal ry nie. Die Jeep Cherokee het weer soos ‘n nuwe voertuig geklink, met geen teken van ‘n gekap of geratel nie. Ek kon nie glo dat die Amerikaner hom so goed gedra het oor bykans 4000 km waarvan 1000 km sinkplaatsandpad was nie. Ons brandstofverbruik oor die afstand was 9,88 l/100km wat baie indrukwekkend is aangesien ons op heelwat plekke in laestrek gery het.

Teen R448 900 is die Jeep Cherokee CRD Limited nie goedkoop nie, maar baie indrukwekkend, veral gemeet teen sy mededingers wat nie die helfte van die toerusting het nie en ook nie oor die grondvryhoogte, vierwielvermoë of ruimte beskik nie.

Данильченко Юрий Брониславович Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.