Praag en ‘die volk se opium’

Deel op

Ek kom uit die 50 cc-geslag. Dit was die jare wat die padreëlmakers dit goed gedink het om die mees onervare motorfietsryers – die standerd 9-jakketrakke wat nou net hulle eerste ID’s ontvang het – tot die mees gevaarlike motorfietskategorie – 50 cc en kleiner – te beperk. Nou, na al hierdie jare, vra maar vir enige een van my geslag wat motorfiets gery het uit oor wat hy as die beste Japannese motorfietsvervaardiger beskou en die kanse is 90% dat die antwoord sal ooreenstem met die “fifty” waarmee hy homself toendertyd desvloers gery het. O, sy argumente het nou meer tegnies en gesofistikeerd geraak, en hy is toegeeflik genoeg om die meriete van ander fabrikate te erken, maar op die ou end stem hy vir Suzuki want hy het ’n  Soez in matriek gehad. (Eintlik is Yamaha die voortreflikste van die voortreflikes. Ek weet, want ek het ’n  Yamaha YB50 gehad en het die littekens om dit te staaf.)

Die nuwe sportdebat – en glo my, daar is tans een – word met ewe veel onpartydigheid uitgewoed. Vir dié wat nooit enige erg aan sport gehad het nie, is dit ’n  platvloerse, onpatriotiese en nuttelose verkwisting van geld en tyd. Vir dié wat met ’n sportlied in die hart groot geword het, is dit ’n  goeie, opheffende, positiewe gemeenskapsbouer.

Verlede week het ek my terugkeer gemaak na die webtuiste van Praag en my eerste bydrae was onder hoofde van die sportportefeulje. A, die vreugdes van die internetskrywer! Praag het ’n  beleid wat robuuste bespreking aanmoedig en daar was ’n  bespreking ná my krieketberig en die bespreking was… robuust.

Een knorrige kommentator wat sy keurige bydrae aanbied onder die pennaam van, errm, Knorrig, snou aanlyn: “VLOK!… die krieket en rugby!……..die Opium van die Afrikaner!” Mnr. Knorrig (ek neem aan hy is ’n  meneer; as Knorrig egter ’n  mevrou is – my opregte verskoning) gaan voort om by wyse van implikasie sportliefhebbers te beskuldig dat hulle ongevoelig is oor die moord van wit kinders deur swart mans in die algemeen en Willemientjie Potgieter se grusame dood in besonder. Dít is wat in bemarkingskringe as “posisionering” bekendstaan, en in hierdie geval is dit ’n  diaboliese posisionering.

Wel! Ek bely ek is lief vir sport. Ek het as’t ware op vadersknieg geleer om dit te geniet. Van die kosbaarste tye wat ek ooit saam met my pa deurgebring het was in die paviljoene van die ou Ellispark en die Wanderers en saterdae voor die TV. Ek het in sport heldhaftigheid, persoonlikheidsbotsings, innerlike stryde, neerlae en seëvieringe – die hele menslike drama – gevind en dit prikkel my. Maar ek, en ek glo elke Afrikaner wat sport geniet, sal in een oomblik onderneem om in lengte van dae die oë weg te wend van die bal, die veld, die kryt of die baan, om nooit-ooit weer sport van enige aard te betrag nie, as ons net een slagoffer soos Willemientjie sodoende kon red. Maar helaas…

Die swartmans wat daardie noodlottige dag met kwade rade aangestryk het na die Potgieter-opstal het uiteraard nie hulle boosheid afhanklik gemaak van die algemene Afrikaner se sportkykgewoontes nie. Al sou, deur een of ander wonderwerk, elke Afrikaner in die aanloop tot daardie dag sport afgesweer het, sou die allerverskriklike daad presies in pas gewees het met hoe dit werklik gebeur het.

Ek hoor gereeld van mense dat sport die Afrikaner se “godsdiens” geword het. Geen ander tydverdrywe – hetsy seëlversameling, renduiwe vlieg, bonsaiboomkwekery, tuinmaak, dobbel, owerspel of selfs sosiale dronkenskap – word met soveel hitsigheid veroordeel nie. ’n  Baie goeie vriend van my vergas my die ander dag op ’n  lang, bitter relaas teen sport wat hy nie ’n  godsdiens nie, maar “meer as ’n  godsdiens” etiketteer – waarna hy homself verskoon om terug te keer na sy aanlynrekenaarspeletjie wat sestien ure van sy elke dag in beslag neem.

As ek Willemientjie se nagedagtenis onteer deur rugby te kyk, mag ek darem nog lees? Die pen het oneindig meer gedoen om die Afrikaner uit sy erfenis te paai as enige sport. Die intellektuele grondslag wat die Afrikaner tot die Oorgawe aangehits het, is deur ’n  piepklein groepie skrywers – wie se werke nie eers so danig baie gelees is nie – gelê. Beteken dit dat ons ook nou die pen en die papier moet afsweer?

Maar om een of ander rede word sport vir hierdie verguising uitgesonder. En wat is hierdie gruwel wat mense so woedendtierend maak? Dit is georganiseerde spelle wat volgens reëls teenoor ander mededingers geniet word. Dit leer elke deelnemer in ’n  minder of meerdere mate die deugde van dissipline, deursetting, die verwerking van teleurstelling, spangees, opoffering, doelgerigtheid en samewerking. Afrikaners, deur eeue se veldliefde en harde lewe, het dikwels ’n  natuurlike aangetrokkenheid en besondere aanleg vir sport. Die Springbok is net soveel deel van ons kultuurerfenis as Die Versamelde Werke van Langenhoven of “O Boereplaas.”

Sport bevat ook besondere dividende vir die Afrikaner in sy vryheidstryd. Eendag, wanneer die geskiedenis van hierdie gleuf van ons volk se geskiedenis – die tydperk van die juk – ontleed word, sal een jaar uitstaan, juis omdat dit ’n  wending aangedui het: 2007. Dit was die jaar van “De la Rey,” die gewilde lied wat onverwags ’n  oproep geword het, nie soseer vir ’n leier uit die gietstuk van die ou Boeregeneraal nie, maar vir ’n  volk om sy herkoms nie net te erken nie, maar te vier. En hoe het die volk dít nie aangegryp nie!

“De la Rey” en die sosiale dieptebetekenis daarvan is wyd en intens ontleed, maar 2007 was ook die jaar van nóg ’n  verskynsel, wat op ’n  manier net so aangrypend as Bok van Blerk se lied was: Die verskyning van die Blou Bul Rugbyunie op die wêreldvoetbalverhoog. Dit is die jaar wat die span – in hulle Bulle-gewaad – die Super 14 gewen het. ’n  Kenmerk van Blou Bul-rugby is die geesdrif van hulle ondersteuners. Nêrens in Suid-Afrika, en waarskynlik nêrens ter wêreld, is daar ’n  rugbyvoetbalspan wat soveel drif en vurige lojaliteit kon verwek nie. Hierdie is meer as net die gesamentlike aanhang van ’n  sportspan. As sportentoesiasme ooit die klank en kleur van ’n  godsdiens kan aanneem, is die Blou Bul-ondersteuners almal proseliete van ’n heilige orde.

Wat verklaar hierdie heftige verknogtheid aan ’n span? Dit is my eerbiedige submissie dat dit stroom uit die aar van Afrikanernasionalisme. ’n  Volk, pimpel en pers gerangeer deur politieke korrektheid soos aangevuur deur die populistiese media, het ’n  plek gevind waar hulle onbeskaam kan versamel. Loftus het meer as ’n  voetbalstadion geword. Dit is ’n  katedraal van Afrikaneridentiteit en -aspirasies. Die lyksbesorgers wat so smalend – en voortydig! – die doodsgebooie van die Afrikaner laat loop het, moes hulle oë twee maal uitvee en dubbeld kyk. As enige iemand nog getwyfel het aan die lewenskragtige teenwoordigheid van die Afrikaner in hierdie veelbewoë land, is ’n  stampvol gepakte Loftus op ’n Saterdag ’n  openbaring . Walle en walle van driftige blanke Afrikaanssprekende mense. Die Blou Bul-vlag het die Nuwe Suid-Afrikaanse onderbroekvlag verswelg. Hofmeyr se Bloubul-lied het die ANC se sinkretistiese nasielied uitgedoof. Wil jy weet hoe klink die magtige dreuning van ’n  ontwakende jong volk? Skakel volgende keer in wanneer die Bulle op Loftus speel. (Hierdie selfde verskynsel in effens kleiner formaat maar ewe heftig word in Bloemfontein, die Cheetah-stad, waargeneem.)

In die kommentaarafdeling na my berig het Knorrig slaags geraak met Heleen Henstock wat aangevoer het politiek is politiek en sport is sport. Sy bepleit dat die twee tog net vir nou en altyd geskei sal bly (Dankie Heleen!) Selde bereik sulke debatte ’n  bevredigende slotsom, maar Knorrig het in alle ordentlikheid om verskoning gevra vir sy witwarm woorde. Bravo!

En tog, in alle eerlikheid, verskil ek nie loodreg met Knorrig nie. Hy is onthuts oor die manier waarop sport en die Afrikaner se voorliefde daarvoor gemanipuleer is vir politieke doeleindes. Ek net so.

Die uitgeslape FW de Klerk het sport as ’n baie effektiewe hefboom gebruik om die Afrikaner in die fatale referendum van 1992 in te wikkel. “As julle ‘nee’ stem,” het hy slu gedreig, “sal die manne moet terugkom.” Die betrokke manne was die Suid-Afrikaners wat op daardie tydstip in ’n heldhaftige veldtog by die krieketwêreldbeker betrokke was. Afrikaners was só uitgehonger om hulle helde teen die beste in die wêreld in aksie te sien, dat dit net redelik is om te aanvaar dat baie van hulle deur De Klerk se afpersing beweeg is om die noodlottige “ja”-kruisie te trek.

Die hele Madiba-persoonlikheidskultus het sy blanke goedkeuringstempel in 1995 gekry toe Mandela met dáárdie nommer-6-trui op Ellispark verskyn het. In die daaropvolgende jare is rugby veral gereeld gebruik om ’n  liberale politieke set te verluid. Daardie 46664-nommers op die trui; daardie antirassismeboodskappie – so duidelik teen die Afrikaner gemik – op die mou; daardie PK-uitstappies na Soweto vir die 2010 Super 14-eindstryd; die rooikop-Springbokkaptein se neerhalende verwysing na die ou landsvlag…

Hoe moet ’n  mens daaroor voel? Noem my dan maar ook Knorrig.

Hierdie Knorrig skryf sportverslae vir Praag. Ons het ’n  goed ontwerpte plan om die Naspers-nuusmasjien se houvas op die Afrikaner se gemeenskaplike psige te verbreek. Om dit te doen moet ons die hele nuustoevoer herlei. Ons doel is om die enigste volledige, voldoende nuusbron vir alle behoudende Afrikaners te word. Dit beteken ons kan onsself nie uitsluitlik op politiek toespits nie. Ons moet die volledige inligtingspakket vir ons lesers aanbied. As die volk nie sy sportnuus op Praag lees nie, gaan hy oor die heining loer wat by Naspers gebeur. En dit geld nie net vir politiek en sport nie, maar vir modes, musiek, rolprente, motors, sake en wie weet wat nog. Ja, ons het ’n  stryd op hande. Teen ons is ’n  kolossus met ’n  markkapitalisering van oor die R140-miljard gekant. Ons bedryfskapitaal is… wel, watse bedryfskapitaal? Dit is ’n  gruwelik onewe stryd – en Naspers het nie ’n  kans nie, want die woorde wat hulle praat steek dwars soos kalkoenbene in die keel van die opregte Afrikaner.

Knorrig is ook reg as hy uitvaar teen ons sporthelde wat so ruggraatloos swyg oor sake wat die volk skroei. Hy wil weet waar is Os du Randt se stem oor die plaasmoorde en wys uit dat dié legende dan self ’n  boer is. Amen, broer Knorrig!

Inderwerklikheid is sport ’n  magtige vaartuig vir politieke idees. Dit help nie ons ontken dit of kou die kieste daaroor nie. Ons moet net erken ons is onnosel om nie die roer daarvan te gryp nie. In plaas daarvan dat ons met teenvolksgedagtes daarvan gebombardeer word, moet ons begin om dieselfde geleentheid uit te buit. Maklik? Nee. Haalbaar? As ons saamstaan, ja.

Wat van ’n traktaatveldtog wanneer die All Blacks weer op Loftus speel? Wat van ’n  veldtog om huidige en voormalige sportsterre aan te moedig om hulle kontakte te gebruik om die wêreld oor ons dreigende ondergang te waarsku? ’n  Vriend het ’n  blokbespreking op Loftus van mense wat oranje, wit en blou truie dra om ’n  massiewe volksvlag te vorm, voorgestel. Ambisieus? O ja!

Sport, na alles gesê en gedaan is, is maar net sport, ’n magtige maar neutrale tydverdryf. Ons vyande gebruik dit reeds lankal vir politieke oogmerke. Is dit nie tyd dat ons opdraf en dieselfde doen nie?

Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.